… sal ek darem wragtag die bliksem in wees.
Daar is eenvoudig net nie nog ‘n taal waarin ‘n mens jouself so gevoelvol kan uitdruk in so min woorde nie. In Afrikaans kan jy uiting gee aan enige emosie deur ‘n paar goedgekose woorde te gebruik.
Vat nou byvoorbeeld wanneer jy kwaad word. My pa het stilwit woede te kenne gee deur sy hande in sy sye te plant en te sê: “Maar my maskas!” (Dalk ‘n verwerking van magtag?) Hy het nooit lelik gepraat nie, maar my pa se maskas het gemaak dat jou boude gate vreet in jou broekie. Maskas het gemaak dat jy deur die vloerplanke gesyg en onder die huis se fondamente ingesypel het.
My ma het ook nooit lelik gepraat nie, maar as sy ‘n storie nie geglo het nie, is dit doodeenvoudig afgemaak met ‘n “Ag, stront!” Ons kinders het liewer nie vir ma gelieg nie, want haar stront het jou laat bloos en stotter selfs wanneer jy die waarheid gepraat het.
Snaaks, is dit nie? Ek bedoel die feit dat mense van daardie tyd nie eintlik gevloek het nie. Dit was nie nodig nie, want ons Afrikaanse woordeskat was groot genoeg om te beskryf hoe ons voel. Ons het nie nodig gehad om van k@k (ekskuus Storieklong) te praat nie en daai woord wat Storieklong met ‘n kierietjie F skryf, was onbekend. Nou is dit ingelyf by Afrikaans en almal gebruik dit. Ek ook. Maar daar is ook sulke ander lekker woorde soos donner, wetter, die-double-ou-s en so aan wat ek ander padvarke kan toevoeg. As Afrikaans sou uitsterf … sal ek nie meer weet hoe om iemand uit te skel nie.
Wat is nou lekkerder as Afrikaanse musiek? Wat is meer k@k (ekskuus Storieklong) as Afrikaanse musiek met gouestroop-soet lirieke wat jou wil laat kots? Maar ek praat nie van laasgenoemde nie. Ek praat van:
Maar hier moet jy jou nimmer laat bind
want so lui die ou, ou sprokie my kind,
As jy geluk en vreugde wil vind
soek die neonboog se punt – Koos du Plessis (Sprokie vir ‘n stadskind)Ons sit in die son, drink wyn,
Ons survive met ‘n helse lot pyn in hierdie land, ja
Kom ons drink op die een wat sy drome oorleef,
Op die een wat kry what hy vra, ja – Johannes Kerkorrel (Hillbrow)
As Afrikaans sou uitsterf … wie sal dan my hartsnare speel soos ‘n kitaar?
Wie onthou nog die ou klingel van daar doer in die jare sewentig: “Braaivleis, rugby, sonskyn en Chevrolet”? Dis nou amper vyf dekades later en ek meen nog steeds dat hierdie woorde sowat 80% van die Afrikaanse bevolking haarfyn beskryf. Die ander 20% hou nie van rugby nie en ry met Fords. Ek is een van die 20%, maar ek sing nog lustig hierdie deuntjie op dae wat die lewe my goed behandel. As Afrikaans sou uitsterf … sal ek dan nog my lus vir braaivleis en die Afrika-son uit volle bors kan besing?
Afrikaanse benaminge van mense, die omgewing, asook die fauna en flora, vat die koek. Daar kan in geen ander taal sulke nommerklas beskrywings wees nie. Hierdie blog gaan te lank word as ek alles moet noem waarin ek my oor die jare verkneukel het, dus sal ek volstaan met hierdie plantname wat algemeen bekend is aan Namakwalanders. As Afrikaans sou uitsterf … wat gaan ons dan die volgende veldplante noem?
- Pietsnot (sien die foto hierbo). In Engels vertaal sou dit SnottyPete wees of dalk BoogerPete.
- Hondepisbossie. Dogpeebush. Dogweebush. Dogpisbush.
- Katpielietjie. Catdickie. Catwillie.
Net om mee af te sluit: na aanleiding van die heel eerste Lê-Jou-Eier uitdaging waarin ons Afrikaanse idiome bespreek het, moet ek net ‘n paar “nuwe” sêgoed ophaal wat ek intussen bygeleer het:
- Ek laat my nie deur hom aankwispel nie = sy kruiperige manier flous my nie.
- As jy aan die aas roer, stink dit = laat vuil sake rus.
- Hy kook aasvoël in die geselskap = hy maak onwelvoeglike aanmerkings.
As Afrikaans sou uitsterf … sal ek hierdie kleurvolle manier van praat mis.
LOS MY TAAL UIT. Nee, moenie dit uitlos nie, gebruik dit, praat dit, sing dit, skryf dit, dig dit, laat dit bloei en groei.
Ek herinner bloggers en hulle lesers net weer daaraan dat al die inskrywings van die vorige Lê-Jou Eier uitdagings steeds beskikbaar bly op InLinkz vir almal om te lees – dit word nie afgehaal of toegemaak nie. Klik hier op Onderwerpe waaroor ons reeds geblog het om te sien watter bloggers deelgeneem het en volg die skakels onder hulle fotos om die blogs op hulle eie webtuistes te gaan lees.
Photo Credit: By Winfried Bruenken (Amrum) – Own work, CC BY-SA 2.5, https://commons.wikimedia.org/w/index.php?curid=1022155
Om die inskrywings van verskillende bloggers in Lê-Jou-Eier te geniet of om self ‘n eier te kom lê wat ons kan uitbroei en grootmaak, klik op die volgende InLinkz skakel:
Vir die reëls van hierdie eier-boerdery, om raad te kry oor hoe om deel te neem en om elke week se aankondiging van die nuwe onderwerp te sien, besoek die volgende skakel by Dis Ekke. Onder hierdie kategorie, kyk na die blogposte Lê-Jou-Eier: Reëls (2017-08-22) en Lê-Jou-Eier: Hoe neem ek deel? (2017-08-22).
Storieklong
En hoe sou ‘n mens nou sê daai spietkop was heel onkantig vanmore toe hy my aftryk. The traffic officer were lopsided?
of hy kook nie sag nie. He doesn’t cook softly?
Of erdman (Meerkat) Potteryman?
Namakwalands sal Afrikaans moet bly, want in enige ander taal sal dit eenvoudig nie sin maak nie
HesterLeyNel
Dis nou presies net so, Storieklong 😀 Daar is goed wat net nie vertaal kan word nie.
perdebytjie
Fantastiese skryfsel,Hester! Uit die boonste rakke,hoendervleislekker griffel uit jou pen!
HesterLeyNel
Dankie Bytjie, dis ‘n lekker onderwerp om oor te skryf 🙂
Kameel
Jy het my nou laat lag Hester….. kan sien jy is deur en deur ‘n Afrikaner. Weet nie of ek hierdie week moet deelneem nie…. ek het so verbaster dat tot my ingelsman sug oor my Afrikaanse spreektaal. Ek wil nie deur ‘n klomp volbloed Afrikaners gestenig word nie. 😄
HesterLeyNel
Nee werklik nou! Hulle kan ons nie fouteer op die feit dat ons graag wil probeer en entoesiasties is omtrent ons taal nie. Sulke ongeskiktheid sal ons nie hier duld nie.
Kameel
O my gatta Hester… jy het definitief nog nie my blog gelees nie.
HesterLeyNel
Nee – ek was mos weg vir ‘n paar dae en toe was ek sonder internet vir twee dae. Ek gaan vandag inhaal op alles wat ek nog nie gelees het nie.
Kameel
Gewonder hoekom is jy so stil.
Kameel
Hester, jy veroorsaak moles in my huis!!! Het my dogter en man vertel van jou pa en sy “mapstieks”. Nou mapstieks Ken ook. Het tot gaan opkyk wat beteken dit. Die betekenis “By Jove,” maar hy hou van die mapstieks.
HesterLeyNel
Mapstieks! Ek het vergeet van daardie een (my pa het maskas gebruik en ek dink nie daar is ‘n vertaling daarvoor nie). Dis interessant Kameel, ek het nooit geweet wat mapstieks beteken nie; dis mos maar net ‘n alledaagse woord wat ‘n mens gebruik sonder om daaroor te dink. Daar leer Ken my toe iets 🙂
Kameel
Ai ek het jou storie verkeerd oorvertel, nogal met hande in sye maar die verkeerde woord. Wel nou het ons ‘n nuwe woord in ons huis ryker geword.
HesterLeyNel
Dis wat lekker en belangrik is! Haha, selfs my pa sou hieroor gelag het.
travel460
Hester, dit is baie goed geskryf! Ek het letterlik oor elk van jou punte gesit en dink, en die waarheid van jou stellings besef.
HesterLeyNel
Dankie Una. Ek het ‘n passie vir hierdie taal. Ek is besig om my gebruik daarvan af te stof en te poets na al die jare in die korporatiewe wêreld waar Engels meesal hoogty vier.
Anne
Ha ha! I LOVED this and agree whole-heartedly. As the Engelsman here I have to add my sixpence and say that there is NO English equivalent for that wonderful Afrikaans word, MOS!
HesterLeyNel
And that is the honest truth! 😀
Spokie sny spoor
Hie-hie. Heel oorspronklik! en goed gesè.
HesterLeyNel
Dankie Spokie 🙂
rondomtaliedraai
hehehe … lekker gelees Oulike voorbeelde
HesterLeyNel
Dankie, ek is vrek nuuskierig om die ander bydraes te lees, maar vanaand moet ek vroeg in die bed kom. Ons het laat by die huis gekom. Ek sal môre opvang met die lees.
rondomtaliedraai
Ja ek lees ooki hierdie tyd van die dag
Nikita
Ek stem saam – 110% LOS Afrikaans HEELTEMAL UIT!!
Nikita
Ek stem 110% saam, LOS Afrikaans HEELTEMAL UIT!!
HesterLeyNel
Jip, ‘n mens lol nie met ‘n resep wat werk nie 🙂 Dankie vir die inloer en kommentaar Nikita.
trommeltjies
So goed gegriffel Hester, ek het geniet om dit te lees en dit bedink. Waardevolle bydrae.
HesterLeyNel
Dankie Trommeltjie 🙂
Eveline Lenderink
Er verdwijnt al zo veel moois, laat dit gewoon blijven alstublieft
HesterLeyNel
Dankie, Evelyn. Die Afrikaanssprekendes veg hard om die taal lewend te hou en ons moet net aanhou.
Abrie Joubert
Hi Hester het dit geniet; die skakel na onderwerpe waaroor ons reeds geblog het gee vir my ‘n “page not found” fout
HesterLeyNel
Oeps – ek gaan kyk en regmaak.
scrapydo2.wordpress.com
Dis nou goed geskryf. Ek onderstreep elke woord. Ek vertel juis in my skrywe hoe lekker ek soggens loop en droom oor die onderwerp.(Eintlik al die onderwerpe) Ek wou nog byvoeg van “met ander man se kallers ploeg” dis wat ouens op oomblik hier by my doen! Ek stel iets voor en hul ploeg dit in die gemeenskap in asof dit hul eie is. Beter kan mens dit nie stel as in Afrikaans nie.
HesterLeyNel
Ag jy moet so iets maar aanvaar as ‘n (onderduimse) kompliment jong. Dit wys darem dat die mense dink jou idees is goed.
scrapydo2.wordpress.com
Ek smile maar en dink ja wat die ou “boertjie” is nie te stupid nie.(skuus vir mengsel!)
Lewies Mymer
Baie netjies en raak saamgevat-hoe kan onse moedertjietaal ooit uitsterf as mense dit met sulke passie praat. En naruurlik het taal bietjie kruie nodig!
HesterLeyNel
Dankie Lewies en jy is reg oor die kruie 😀