My vreugdes en frustrasies

Dis Ekke, Reis, Travel

Skaduwee oor Legoland

View from an airplane of Gauteng landscape ten minutes to touchdown at OR Tambo Airport, Johannesburg

Ek haat dit om te vlieg (omdat ek nie die vliegtuig self kan bestuur nie – ek is ‘n slegte passasier) en ons ry gewoonlik met die motor wanneer ons Gauteng moet besoek. Woensdag moes ons egter inderhaas op ‘n vliegtuig spring om ‘n vergadering te gaan bywoon. Johannesburg is in elk geval nie my gunsteling keuse vir ‘n bietjie ontspanning nie; ons verwys na die oorbeboude areas as Legoland. Verskoning aan die Jozi-inwoners, maar na amper drie jaar se woon in die bos , is Johannesburg net te … tè.

Ons woon ver van die lughawe af en het Durban se spitsverkeer trotseer vir amper twee ure om daar te kom. Teen die tyd wat die motor veilig in die hande van die valet service was, ons bagasie ingeboek en die nodige laaste draaie by die dogtertjie-kamer gehardloop was, moes ons vinnig suiker om aan boord te kom.

Ons het net ons sit gekry voordat die loods begin het met sy aankondigings en die grappie wat al hare het van ouderdom: “This is your captain … on my first solo flight”. Hoekom val ek elke keer daarvoor? Ek het net my hartklop weer in pas gekry en my naarheid onder beheer, toe ek die bekende steekpyn in my ore voel. Dêmmit, ek het vergeet van die verandering in lugdruk oor die Drakensberge en nou is ek in pyn.

Met ‘n vinger in elke oor stamp ek teen Karen se skouer en sy haal vinnig ‘n Airwave beechie uit haar sak. Hoe paslik. Ek val geesdriftig in met die kou-sluk, kou-sluk ritme wat gewoonlik vinnig verligting bring, vingers nog steeds in my ore. Binne enkele minute kom ek agter dat die beechie dalk nie ‘n goeie idee was nie. Die oorpyn het darem bedaar, maar teen die spoed wat ek gekou-sluk het, het die ding nou warm geword en my winkeltande klou aan mekaar vas.

Hoe nou gemaak? Die vliegtuig is tot kapasiteit gevul met passasiers en ek gaan wragtag nie in die gangetjie vol dopwaentjies af huppel toilet toe nie. Op watter ander ordentlike manier kan ek my tande bevry? ‘n Lugwaardin kom vra iets wat ek nie kan hoor nie, neem aan sy wil weet of ek graag ‘n versterkinkie wil hê en ek skud my kop, elmboë al swaaiend saam met die ore vol vingers. Die ander passasiers begin my suspisieus aangluur en ek lê oor na Karen se kant toe om te maak asof ek baie belangstel in wat buite die venster aangaan.

Vir die res van die vlug het ek die wolke en later die landskappe onder my belangstellend dopgehou en terselfdertyd my tong ingespan om die beechie op ‘n bondeltjie teen my verhemelte vas te druk. My dogter het haar min gesteur aan haar ma se predikament en net voortgegaan om fotos te neem. Ek dink sy was heimlik bly dat my mond gesnoer was, want ek hét nogal die gewoonte om deur haar videos te praat.

Kyk hieronder is ‘n filmpie van die landing. Hou die eerste kwadrant (regs bo) dop vir die skaduwee van ons vliegtuig, sigbaar na ongeveer 15 sekondes, wat saam met ons pas gehou en op die einde reg onder die vliegtuig ingeseil het.

Nog ‘n paar fotos van die landskap, almal geneem sowat tien minute voor die landing by OR Tambo. Mooi, nè? Mynhope en al.

Die tande? Ja, ek het by die naaste geriewe nat toiletpapier ingespan om dit te probeer skoonmaak, maar het met so ‘n taaierigheid en enkele frummels toiletpapier in my mond by die blyplek aangekom. Ysblokkies! Dis wat jy nodig het in sulke omstandighede.

Follow Dis Ekke

Please find information about the coronavirus here SA Coronavirus South African Resource Portal

33 Comments

  1. O genade! Kyk, ek lag vir jou, maar al my simpatie met die tande situasie. Ek kom ook soms sulke dinge oor. Veral as ek ń slaappil in het vir die lang Bali vlug. Dink ek moet daaroor blog.🤔🤔🤔

  2. Bly om te siem dat die vliegtuig nie met sy alter ego verenig is. Ek veronderstek as mens teen spoed van lig vlieg vlieg jy vir jou skaduwee weg.

  3. Hehehehe jy moet maar die regte koutjie gereed hou want die soort wat kleef is sleg vir jou ego!

  4. Ek is ‘n Pretorianer en Johannesburg is te tè vir my ook!

  5. Ek neem aan die vlug terug het meer spraaksaam verloop? Dit is mooi… die video met die skaduwee van die vliegtuig!!!

    • Comment by post author

      Dankie 🙂 Jy meen die terugvlug? My seun het ons teruggebring met die motor, want hy is hier met 14-dae vakansie. En ja, dit was spraaksaam genoeg, want in plaas van die gewone 5½ ure wat hy ry, het ons ‘n volle 12 ure kuier-kuier op die pad gebly 😀

      • Geniet jou seun se kuier!!! Het julle Midlands teruggery? Dis wat ek en my man doen…. so kuier, kuier deur die mooie natuur, en oulike plekkies.

        • Comment by post author

          Nee, nie hierdie keer nie. Daar was ‘n groot ongeluk net voor Harrismith en ons moes omdraai om deur Warden / Kestell terug te kom op die pad. Ons het daar bo van Durban Noord af begin kuier tot hier onder in Toti voordat ons huis toe gekom het.

  6. Vliegen is ook niet mijn hobby. Als het niet hoeft dan liever niet. Raar eigenlijk want is een ook vaak zo mooi wat je ziet zoals in je filmpje de schaduw van het vliegtuig.
    Ik leer hier leuke dingen. Een luchtwaardin, tja dat is precies wat hun taak is, het klinkt zo leuk in mijn oren. Veel leuker dan stewardess .

    • Comment by post author

      Hier sê ons in Engels “air hostess”. Ek dink dis al die moeite wat saamgaan met die vliegery wat my kwaad maak nog voordat ek op die vliegtuig klim – die ry tot by die kughawe, parkering van die motor, die gesukkel met die bagasie en die lang wag voordat jy aan boord kan gaan. Ek geniet dit baie meer om self te ry oor korter afstande.

  7. Dis ‘n pragtige video, laat my sommer verlang na vlieg…

  8. Storieklong

    ‘n Mens kan dit nie mooi sien op jou foto’s nie, maar het jy opgemerk daardie dik swart laag roet wat soos ‘n kombersie oor Sodom en Gomorra drapeer is? (Dis hoekom ek die plek die Big smoke noem). Dis hoekom Gautengers so kwaad is. Ons asem daai goed in en blaas swael en vuur uit.
    Ek is mal oor vlieg, selfs al mag ek nie self die levers trek nie, maar daai proses van mense inryg soos sardiens irk my tot in my siel, en daardie aantrek karretjies wat jy op die lughawe te huur kry! Daarom ry ek ook eerder 14uur om te kom waar ek moet wees as om 2 ure te vlieg.

    • Comment by post author

      Die swart lug pla my ook nou en jy moet weet, ek het twaalf jaar in die Vuil Driehoek gewoon voordat ons hierheen getrek het. Ek bederf vreeslik vinnig. Die klein karretjies pla my nie – ek ry meesal met ‘n klein Panda. Ek is glo baie ongeskik op die pad wanneer ek die Ford Fokkas bestuur; so sê my dogter.

      • Storieklong

        Dis nou nie oor ek iets teen klein karretjies het nie, ek pas eenvoudig nie in die goedjies nie. Daai ongeskiktheid lyk my is ‘n siekte, jy moet die van Helsdingen poppie sien as sy die dag met my Hilux ry!

  9. Wat n tameletjie ondervinding met die tande. Lekker gelag.
    Ek is mal oor vlieg en lughawens. Al is dit die l-a-n-g vlugte Kanada toe.

    • Comment by post author

      Baie mense hou blykbaar van die hustle & bustle en die gevoel van opwinding in ‘n lughawe (ek neem aan vakansiegangers!), maar ek het dit nog altyd verpes. Op so ‘n lang vlug sal my siel uitdroog en inkrimp.