Die onderwerp van hierdie Lê-Jou-Eier uitdaging spreek ‘n leemte in my lewe aan, eintlik ‘n afgrond, maar ek weet eerlikwaar nie hoe om dit te oorbrug nie. Ek het ook die probleem dat ek graag gee, maar vreeslik agterdogtig raak as iemand my uit die bloute ‘n geskenk gee of ‘n guns doen waarvoor ek nie gevra het nie. Ek het immers al geleer dat sommige mense net hulle hande uitsteek wanneer hulle iets terug verwag. Boonop is dit wat terug verwag word soms iets wat ek werklik nie kan bekostig nie of hulp wat ek nie sonder baie stres kan verleen nie. Ek hou nie daarvan om onder verpligting te wees nie en ek sal my nie laat “omkoop” om iets teen my sin te doen nie.
Ek wil graag die kortverhaal deur Elise Muller, Blommetjies vir Bella (1952) *** hier deel, omdat dit so mooi saamvat hoe mense (en eintlik die hele gemeenskap) geraak kan word deur so ‘n lewensbeskouing:
Die storie begin met die nuwe intrekkers in die dorp, Tant Wiesie en haar man, wat besig was om hulle meubels af te laai en die huis in orde te kry. Soos dit die gewoonte in daardie jare was, het een van die inwoners, Tant Bella, vir hulle ‘n mandjie eetgoed vir die oggendtee laat aflewer.
Doen mense dit nog deesdae?
Verras met die gulle verwelkoming, het Tant Wiesie in dieselfde mandjie ‘n dankie-sê biltongetjie teruggestuur aan Tant Bella. Tant Bella het effens gebelgd gevoel oor Tant Wiesie se reaksie, want sy het mos nie iets terug verwag vir haar vriendelike gebaar nie.
Met haar eerste persoonlike besoek by Tant Wiesie aan huis, het Tant Bella ‘n gehekelde kraledoekie vir gebruik in die nuwe huis saamgeneem. Tant Wiesie het ‘n paar dae later daarop gereageer deur die skenking van ‘n kooksel waterblommetjies aan Tant Bella. Van daar af het ‘n ongesonde tipe wedywering tussen die twee tantes ontstaan om elke geskenk van die gewer af op te volg met ‘n “teen-geskenkie”. Om die ewewig van gee en ontvang te herstel, kan ‘n mens amper sê.
Die dorp se gemeenskap was eers onbewus van die stryd tussen die twee mededingsters, maar toe die tantes later die wedywering uitgebrei het na die lewering van liefdadigheiddienste in die gemeenskap, was die dae toe die linkerhand nie geweet het wat die regterhand doen nie, vir goed verby. Geen opoffering of moeite deur enige van die twee mededingsters was te groot nie, solank as dit maar beteken het dat die een ‘n voorsprong bo die ander behou het. Die gemeenskap het gou genoeg besef dat die twee teenstanders albei geraadpleeg en toegelaat moes word om te help met nuwe projekte, om die bolangse skynvrede te bewaar.
By Tant Bella se afsterwe, het sy £25 aan Tant Wiesie nagelaat “vir haar dienste”, in ‘n poging om finaal die oorhand te kry. Tant Wiesie het egter ‘n uitweg hieruit gevind deur voor te gee dat die bedoeling van die nalatingskap was om te sorg dat daar gereeld blomme op Tant Bella se graf geplaas sou word. Hierdie diens het sy later uitgebrei deur blomme ook op die ander grafte in die begraafplaas te sit, maar haar gemoed is vertroebel deur die feit dat Tant Bella se nalatenskap eintlik die oorsprong van hierdie goeie dade was.
Die verhaal beklemtoon dus dat die onderliggende faktor in hierdie verhaal die onvermoë is om ‘n vriendskapsbewys te ontvang en sodoende aan die ander persoon die gawe te skenk om die rol van die gewer met blydskap te vervul.
*** “Blommetjies vir Bella” is ingesluit by die kortverhaal bundel Die vrou op die skuit en ander verhale deur Elise Muller wat in 1957 die Hertzogprys ontvang het. Dit was die eerste keer wat hierdie prys toegeken is aan kortverhale. Die boek was herhaaldelik voorgeskryf vir skole en ek is gelukkig genoeg om in besit te wees van ‘n kopie van die elfde druk uitgegee deur A.A.Balkema / Kaapstad – Amsterdam
Om die inskrywings van verskillende bloggers in Lê-Jou-Eier te geniet of om self ‘n eier te kom lê wat ons kan uitbroei en grootmaak, kliek op die volgende InLinkz skakel:
Vir die reëls van hierdie eier-boerdery, om raad te kry oor hoe om deel te neem en om elke week se aankondiging van die nuwe onderwerp te sien, besoek die volgende skakel by Dis Ekke.
Toortsie
Wat ‘n mooi skrywe. Ek raak ook gespanne as ek weet die oersoon verwag iets terug. Maar dis ook ‘n kuns om sommer net iets te ontvangven hartlik daarvoor te bedank. Want is dit nie hoe dit veronderstel om te wees nie? Gee met geen gedagte om terug te ontvang nie?
Kameel
Jy praat nou oor iets wat amper ‘n groot twis tussen my en my twee dogters veroorsaak het verlede Vrydagaand. Hoop ek kan dit in my gedagtes agtermekaar kry om daaroor te skryf. Ek was sommer in die gesig gevat dat hulle nie my hart agter die ding kon raaksien nie. Lekker gelees dankie!!!
HesterLeyNel
Dankie 😀
travel460
Hester, weet jy, hierdie onderwerp laat my altyd ongemaklik voel. Want iets hier binne is bang vir die ontvang deel. Oor die jare het ek geleer dat dit ok is as Bertus en een of twee vriendinne vir my iets gee. Maar vir die res. Dit bly lekkerder om te gee as om terug te ontvang. Hoekom op die aarde sal ń mens so raak!!! Dis net die kleinmensies wat hierdie ouma se hart 100% ontvanklik kry vir hulle geskenkies.
HesterLeyNel
Ek weet wat jy meen en ek het ook al gewens dat ek ‘n beter ontvanger kan wees, al is dit net ‘n glimlag of ‘n kompliment wat na my kant toe gegooi word.
travel460
Ek het vanaand onder die stort tot ń besef gekom waar my probleem begin het. Brand om nou daaroor te blog, maar manlief soek geselskap! So môre vertel ek bietjie.
HesterLeyNel
Manlief is belangrik! Ons kyk uit na môre se vertelling.
Levensjutter
Oh verschrikkelijk… altijd ‘beter’ dan de ander willen zijn met een wederdienst… treffend verhaal! En ik laat me hier ook niet meer door gestrest raken. Ik kan inmiddels dankbaar in ontvangst nemen en met lege handen maar een vriendelijk hart terug komen, en geven zonder iets terug te willen. Is soms baie moeilijk, maar het lukt! 🙂
HesterLeyNel
Ek werk hard aan my gesindheid sodat ek ook kan ontvang sonder om agterdogtig te raak oor die skenker se bedoeling.