My vreugdes en frustrasies

My eiers

Sê dit in Afrikaans: Hy het weer alwyn getap

Aloe in Sea Park, KwaZulu-Natal

My bydrae vir hierdie week se Lê-Jou-Eier uitdaging Sê dit in Afrikaans het ontstaan toe ek gehoor het iemand gebruik die gesegde: “Hy het alweer alwyn getap”. Vir my was hierdie uitdrukking heeltemal onbekend en op navraag het die spreker verduidelik dat dit beteken die persoon is dikbek of verbitter.

(O ja, en natuurlik het dit my ook die geleentheid gebied om weer een van my pragtige fotos op te laai van alwyne wat wild groei hier langs die kus. Ek belowe dis die laaste foto van hierdie blom wat ek hier sal plaas. Hierdie seisoen 😄 Njannies-kapêla!)

In elk geval, terug by die alwyn-tappery. My eerste gedagte was dat die verduideliking nie lekker reg klink nie, want ek sou dit natuurlik nou weer verklaar het as dat die persoon sy elmboog ‘n bietjie te hoog gelig het. My man sê dat ek altyd mense daarvan verdink dat hulle suip, rook of erger sodra hulle net so ‘n bietjie “af” lyk.

Ek het die webtuiste Gelofteland waar Afrikaanse idiome en gesegdes verklaar word, gaan besoek en sowaar, daar staan dit: “Hy het weer alwyn getap (hy is in ‘n slegte bui”). Toe moes ek nou teen wil en dank vir mev. Google gaan raadpleeg oor die oorsprong van die uitdrukking en hier is die storie agter die storie:

Die Aloe ferox, ook bekend as die Kaapse alwyn of bitter alwyn is inheems aan Suid-Afrika en groei wild, sonder veel sorg, op plase of oop stukke grond in die veld. Die plant se vlesige blare bevat ‘n bitter sap wat afgetap word en dan verwerk word vir medisinale en kosmetiese doeleindes. (Dink veral aan lakseermiddels!).

Om die sap uit die blare te tap kos harde, vermoeiende hande-arbeid. Die spesifieke alwyn groei baie hoog, blykbaar tot 10 meter, en in een groeiseisoen word net die onderste blare se sap afgetap sodat die boom weer verder kan groei. Rondom die stam word ‘n laag plastiek neergelê, dan word die onderste blare een vir een teen die stam afgesny en in ‘n sirkel rondom die stam gelê, sodat die sap uittap op die plastieklaag.

Die alwyn hier op my foto is nie die aloe ferox sover ek weet nie, maar die nabyskoot van die blare hier onder sal jou ‘n idee gee van hoe moeilik dit moet wees om dit te sny en te hanteer vir aftapping en verwerking.  Kyk net na daardie doringagtige riwwe en die skerp kante wat jou hande flenters kan sny.

Close-up of the fleshy aloe leaves

Die donkerbruin sap smaak nie net bitter nie, maar verniel jou vel in die verwerkingsproses en die reuk klou soos dié van kakiebos. Niks hiervan kan goed wees vir jou humeur nie. Dit verklaar hoekom ‘n persoon wat alwyn getap het in ‘n bitter slegte bui sal wees.

Dit is vir my ‘n voorbeeld van ‘n uitdrukking wat in die volksmond gegroei het uit die oogpunt van voorgeslagte se alledaagse lewe en handelinge (en wat nog steeds toepaslik is, want alwynsap word tot vandag toe nog op hierdie wyse getap). Hoeveel van ons was voorheen onbewus van hierdie stukkie volkstaal? Kan ons bekostig dat sulke sêgoed uit ons taal verdwyn?

In die vervolg gaan ek nie meer vra “hoekom is jou bek dik?” of “hoekom sleep jou lip op die grond?” nie. Nee, ek gaan vra: “Het jy alweer alwyn getap?” As die aangesprokene nie verstaan wat ek bedoel nie, het ek mos nou ‘n hele storie waarop ek kan uitbrei om die geselskap op te kikker 😄


Om die inskrywings van verskillende bloggers in Lê-Jou-Eier te geniet of om self ‘n eier te kom lê wat ons kan uitbroei en grootmaak, kliek op die volgende InLinkz skakel:

 

Vir die reëls van hierdie eier-boerdery, om raad te kry oor hoe om deel te neem en om elke week se aankondiging van die nuwe onderwerp te sien, besoek die volgende skakel by Dis Ekke.

Nuwe onderwerpe word aangekondig elke Donderdag om 12:00 en sluit outomaties na een week.

Follow Dis Ekke

40 Comments

  1. Dit is nou so interessant!!! Ook nog nooit hierdie gesegde gehoor nie. Ek stem Hester al die pragtige gesegtes is net te kosbaar om sommer so te laat verdwyn. My kleinkinders verstaan klaar nie wat ek met tye kwytraak nie…. gaan hierdie een op hulle probeer. 🙂

  2. Ek het nou iets interessant geleer – dankie.

  3. Hester, ek sal skryf!! Met my winkel trekkery vat ek nie grond nie. Gaan môre of oor die naweek iets opsit. Maar. Die res, nadat ek geskryf het, daarmee gaan jy moet help!

  4. Welgedaan

  5. Ek is gek hieroor. ken ook nie die gesegde nie, maar dit is eintlik skreeusnaaks. Sal dit nie wonderlik wees as ons op hierdie manier ñ paar onbekende gesegdes kan begin gebruik nie.

  6. Ha ha, die een is ook onbekend vir my! Baie interessant. En geluk met jou eerste “uitsending” Mag dit van krag tot krag gaan.

  7. Ek het hierdie al gister gelees Hester net nie by kommentaar uitgekom nie (te besig om oor vleeslike dorings te skrywe). Orals waar ek lees word die eier le-ery genoem. Hoop nog meer gaan sit hulle eiers neer anders is hulle aalwyn tappers…

  8. Dis nou regtig’n idioom om te gebruik. Hoe ek hierdie inskrywing gemis het, kan ek nie verstaan nie.

    • Comment by post author

      Ek het al ‘n paar keer agtergekom dat ek inskrywings miskyk op my Leser en dis eienaardig, want ek kyk na elke blog wat verbykom, al is dit soms eers ‘n dag of twee later.

      • Nee nan, ek is heeltemal bewus van hierdie bloginskrywing, maar was so besig om my eie idioom te skryf dat ek nooit besef het ek het hom nue gelees nie. Dis nogals uets wat my pla, dit viel vir my ook of daar blogs verlore gaan op die leser.

  9. Een beetje moeilijk te begrijpen 😉🍳

    • Comment by post author

      Ah yes, it would be difficult for a non-Afrikaans speaking person to follow. Let me explain in English.

      This is a discussion that deals with old idioms and slogans in Afrikaans that are not used in the present-day period, because the history context in which it originated is not known to today’s young people. Nevertheless, we do not want the historical language to be lost, precisely because it is part of the history of our country and ancestors.

      The gist of it is this: The bitter juice of the aloe plant in South Africa is drained from the thorny fleshy leaves for medicinal and cosmetic products. (This is still the case today as it was in ages past). The drainage process is exhausting manual labor that is made worse by the bitter smell of the juice. Such work makes the worker tired and puts him in a bad mood, and that’s where the very old idiom originated: “he has been draining aloe juice again”. This means that the person is bitter (like the juice) or in a bad mood.

  10. My Afrikaans is te power om deel te neem! However, ek het op Toortsie se blaai gewonder of die ou bos gesegde – “vasbyt, mindae kom vanself” nog waarde het? Ek dink ek moet gaan kyk op daai skakel wat jy gedeel het!
    (Nee… ek hen nog nooit die gesegde van alwyn aftap gehoor nie!) 😉

    • Comment by post author

      Ek het gehoop een van die grensvegters van destyds sal bietjie van die gesegdes met ons deel, maar hulle is bietjie sku. Ons weet nog almal van vasbyt en min dae, maar ek glo nie dit word meer so algemeen gebruik nie.

      • Daar’s ‘n storietjie van ‘n jong mannetjie wat dit vir sy ouma gesê het… “Vasbyt ouma, min dae kom vanself!” 😉

        • Comment by post author

          Nee man, hoe laat jy my nou lag. Maar kom ek vertel jou een. My ma het jare, eintlik dekades lank, altyd gesê “hierdie sal seker my laaste krismis by julle wees”, tot my man afgehaak en gesê het: “Ma, jy gaan nou al 30 jaar lank dood, kry nou maar einde. As ons jou wil dood hê, sal ons jou met ‘n lang klip moet doodslaan.” Ons het ons amper vrek gelag en my ma was die een wat die meeste gegiggel het.

  11. Toe ek so 6 jaar oud was het ek ‘n alwyn getap, maar nie hoe jy dink nie. EK het in ons buurman se tuin geloop en DIe Skepper van alle alwyne allen weet, het ek ‘n stuk alwynblaar afgepluk, gaan was onder die kraan soos mamma my geleer het en summier dit in my mond gesit. DIt was so bitter dat ek summier opgegooi het daar en dan, en ek was siek vir twee dae. Ek het op my manier ‘n alwayn se sap getap, geeet en gedrink en ‘gesuffer’ soos ant Stienie van Agter Elke Man sou sê