My vreugdes en frustrasies

Dis Ekke

Wat is slaap ‘n wondersoete ding!

Toeka-Tokkel: Droom

Ek kry nou nie juis tyd om snags te droom nie, want ek deel my slaapkamer met ‘n Slapelose Siel, een wat nooit deur die nag slaap nie, hoewel hy skynbaar geen probleem het om bedags ‘n uiltjie te knip nie. Die Slapelose Siel rinkink enige tyd van die dag of nag, totdat hy moeg genoeg is om te gaan slaap.

Ons slaap nie in dieselfde bed nie, om verskeie redes wat verband hou met gesondheidstoestande, ouderdomspyne, verskillende slaappatrone en so aan. Ons het wel twee beddens wat langs mekaar staan, net buite raakafstand, of klapafstand of spoegafstand, wat ookal die bui is wat op ‘n bepaalde oomblik in die slaapkamer heers, maar dis nou nie waaroor hierdie storie gaan nie.

Of dalk gaan dit juis daaroor.

Ek is ‘n slaper van formaat in diè opsig dat ek binne ‘n breukdeel van ‘n sekonde wegdommel, die oomblik as my kop die kussing slaan. Ongelukkig word ek net so maklik weer wakker as iets my pla en as jy my wakker maak, beter dit vir ‘n baie goeie rede wees, want ek is nie ‘n vriendelike ontwaker nie. Die Slapelose Siel het nog nooit hierdie konsep onder die knie gekry nie, vandaar die skeiding van die beddens – terwille van sy veiligheid.

Ek wil slaap wanneer dit donker is, maak nie saak hoe laat dit donker word of hoe laat die son opkom nie; as dit donker is, wil ek slaap.  Slapelose Siel sit tot wie weet watter tyd van die nag en bingo speel op die internet of hy kyk hierdie raserige flieks wat my dwing om met ‘n ipod en oorfone te slaap om te verhoed dat geluide van buite my skedel binnedring.

Klokslag tien minute nadat ek my lig afgeskakel het, wat ‘n duidelike teken behoort te wees dat die okkupeerder van die kamer nou slaap, storm die Slapelose Siel die badkamer binne om te stort en te skeer. Hy doen dit ook nie stilletjies nie, nee, hy skuif die vensters tussen die badkamer en die slaapkamer oop, rol die blindings op en begin gesels in ‘n vreeslike vrolike stemtoon oor die fliek wat hy besig is om te kyk. Hy het net gou kom stort voordat ek slaap, want anders pla hy my dalk. Nè? Hy loop op dun ys.

Uiteindelik raak dit stil en ek slaap weer.

‘n Uur later is die fliek verby en die Slapelose Siel is nou moeg genoeg om te kom slaap. Hierdie keer gesels hy nie met my nie, maar wel met Genis, die majestueuse oorgewig hond. Hy maak seker dat Genis onder my bed inkruip en homself toerol in my muskietnet, sodat die muskiete hom nie pla nie. Die feit dat ek nou nie genoeg muskietnet oorhet om te sorg dat daar nie op my bloed ge”wine” en ge”dine” word nie, is nie van enige belang nie.

Uiteindelik weer – salige stilte. Ek raak weer aan die slaap.

‘n Uur later doen die natuur ‘n beroep op my en ek moet opstaan. Dis nie regtig vir my ‘n probleem nie, want ek kan daai dêng afhandel met toe oë, sonder om wakker te word. Ek kan in die middel van die nag kombuis toe loop met toe oë, ‘n piesang afskil en eet (ek is altyd honger in die middel van die nag) sonder om regtig wakker te raak. Ek slaap-loop terug bed toe, en net wanneer ek my lyf omdraai om te slaap, wil die vreeslike vriendelike stem weet wat ek eet; hy wil ook hê.

Okei, nou is ek wakker, maar ek maak of ek slaap en begin liggies snork in die hoop dat die Slapelose Siel sal besef dat sy gehoor geen aandag gee aan hom nie. ‘n Halfuur later kom die Slapelose Siel terug van sy eie middernagfees af en bied ewe vriendelik vir my ‘n skeppie van sy roomys aan. Hy skaats nou op ys met krake in.

Uiteindelik het ons weer stilte, maar nou kan ek nie my lê kry nie. Ek rol diekant toe en daaikant toe. Ek kan nie op my rug lê nie, want my toonnaels is skielik te lank, ek gooi die warm duvet af, net om dit ‘n minuut later weer op te trek, my bek raak al hoe dikker en ek begin droom van moord. Nie ‘n slaapdroom nie, ‘n oopoë droom met bloedstollende wraakgedagtes.

In die vroeë oggendure begin ek so wegsweef op ‘n welkome slaapwolkie. Nie ‘n rustige slaap nie. Ek roei en stoei met die beddegoed. Met dagbreek word ek wakker en maak my oë oop. Groot fout. In hierdie slaapkamer moet jy liewer nie jou oë oopmaak nie.

“Môre”, sê die vreeslike vriendelike stem, “ek het darem wraggies lekker geslaap. Jy sal nooit raai oor wie ek gedroom het nie!” Nee, ek sal nie. As jy weet wat goed is vir jou, sal jy ook nie jou droom oorvertel nie.

Ek benader die dag met moeë tred en ‘n kromgetrekte rug. Sit ek so half deur die slaap voor my lessenaar met my kop gestut in my hande, en hoor hierdie aardige geluide. Draai om en kyk na die Slapende Siel wat toe-oë agteroor op sy stoel sit en hierdie ploffende snorkgeluide uitstoot. En ek sink weg in ‘n oop-oë droom …


Image by WorldArtsMe

Follow Dis Ekke

Please find information about the coronavirus here SA Coronavirus South African Resource Portal

34 Comments

  1. Korrelkop Kahuna

    Ons sukkel met dieselfde probleem, oftwel die van Helsdingen poppie sukkel en die uwe is salig onbewus. Volgens my is ek so stil soos ‘n muis as ek snags in die huis ronddwaal.
    Die van Helsdingen beweer een mooi nag gaan ek nog “selfmoord” pleeg deur myself 48 keer in die rug te steek met ‘n kombuismes. Hoe moet ‘n man dan nou aan die slaap raak?

    • Comment by post author

      Bwahaha, daardie “selfmoord” klink na ‘n goeie droom. Is dit nie eienaardig hoe die naguile en die daguile altyd besluit om saam nes te bou nie? Dit is mos net moeilikheid soek.

      • Korrelkop Kahuna

        Wanneer die van Helsdingen vra of ek soek vir moeilikheid antwoord ek altyd nee. Ek het mos klaar vir moelikheid gekry die dag toe ek haar getrou het? Sy dink nie dis snaaks nie, en met dievolgende oopoë droom sit sy nog ‘n meswond by my “selfmoord”

      • Korrelkop Kahuna

        Dis presies wat sy ook sê ja

  2. Ai ek het darem lekker gelees Dankie vir die lekker glimlag.

  3. Ha ha die prentjie stel ek my goed voor sonder om my oë toe te maak. My ouers het ook elk hul eie bed gehad wat langs mekaal gestaan het. Elkeen het hul eie beddegoed gehad sodat daar geen ooptrekkery was nie, My pa was ook die nagwolf terwyl my ma betyds gaan slaap het. Mes kan nogal goeie geweldradige drome droom as mens so gesteur word. Dankie vir jou bydrae, dit was nou n kleurvolle vertelling.

    • Comment by post author

      Baie dankie. Ons het lank probeer om op een bed te slaap, maar dit het net veroorsaak dat ek merendeels op die dagbed in die sitkamer gaan slaap het. Gelukkig is ons albei vroeg wakker in die oggend en as my oë eers oop is, kuier ons lekker totdat my dogter later opstaan.

      • Dit het beslis sy voordele. My man het skofte gewerk en nagskof was vir my die beste tyd, dan kon ek deurslaap tot hy 6 uur tuiskom. Hy was ook n nawolf gewees.

  4. Haha,Hester,jy het ‘n wonderlike manier van vertel!Ek het dit nou so geniet!😂😂

  5. net buite raakafstand, of klapafstand of spoegafstand

    Lekker gelag Hester. Jy is glad nie so kwaai as wat jy partymaal voorgee nie – as ek slapelose siel se dade in my huis sou eggo het ek al lankal die tydelike met ewige verwissel…

  6. Dit klink so gaaf “net buite raakafstand, of klapafstand of spoegafstand” maar dis nie buite snork afstand nie. Goeie geeftag, soos homer darem kan snork. Dan le ek met wawyd oop oe en droom ook. Glo my, ek het al in die middel van die nag die bed met hom en al omgekeer. Maar hy snork steeds.

  7. Dankie vir lekker vertelling. Wat gaan aan met die mans dat hulle so ronddwaal in die nag? Gisteroggend kom ek uit kamer en sak moedeloos op my seun hulle se rusbank neer. Ek vertel hulle toe van my man se nagtelike lig aanskakelry…. aantrek… om net weer ‘n uur later voordat ek aan die slaap kon raak .inkom…. lig aanskakel en met grote lawaai weer uittrek,, vir my vra “kan jy ook nie slaap nie?” Sy kop op die kussing neerlê en snork dat die biesies bewe. En ek ? Ek lê toe tot ligdag wakker… en drink toe ‘n ontspanningspil.

    • Comment by post author

      Joune ook? Nee, ek weet nie wat in daai koppies aangaan nie.Dan sê hulle vrouens is onverstaanbaar.

      • Dan sit hulle deur die dag en slaap sommer in die russtoel dat die spoeg so loop. Daardie gestoei met die beddegoed is net so bekend 🙁
        Lyk my ons is weer in vir ‘n koue naweek. Gister was ‘n heerlike dag…. kon sommer so op die stoep sit en met vêrkyker die wêreld bekyk. Mooi dag vir jou!!!

        • Comment by post author

          Ek hoor ons is weer in vir nog ‘n storm. Die see hier voor ons is die ene modderwater. My man is eergister in die hospitaal opgeneem (hulle vermoed hy het ‘n bloedklont in die been) en ons het nou-net teruggekom van Port Shepstone af – die wind op die N2 waai dat dit bars.

        • Jammer om te hoor van jou man. Ons het vandag by vriende van ons anderkant Port Shepstone gekuier. Netnou toe ons kar toe stap waai daardie wind my hele hairdo wild en wakker. Op watter strand bly julle nou weer?

        • Comment by post author

          Ons is in Elysium, so ‘n stil strandjie langs die Mtwalumerivier, Sowat 8 kilometer noord van Hibberdene.

  8. Ek het lekker gelees.
    Maar… DIE sal my teen die mure uit he as dit ek moes wees…

  9. 😀 jou vertelling baie geniet Hester. My oorlede man was ook ‘n slapelose siel wat nie omgegee het wie hy saam sleep in sy slapeloosheid wanneer, hy glad nie saggies, in die kombuis rondkrap nie!!!

  10. Dit het ek nou baie geniet. Sjoe ek sal mal word as ek so ‘n slaap patroon moet hê lol

  11. El snik nou snork snork saam… lekker slaap vanaand! Mag die maanskyn sy edele die Slapelose Siel se drome spoedig sterre to dra… ek hoop daai piesangs smaak lekker!!
    (I battle wading through “die Taal” but it’s always rewarding! You tell it so well!! Thanks!! 😛 )

    • Comment by post author

      Dankie 😀 I’m always happy to encourage the use of Die Taal. It is one of the things that still keep our hopes up for a brighter future.

      • I love speaking the Taal but alas, my lisdexia doesn’t help my reading! Het op skool gesukkel met die lees… altwee tale, maar veral Die Taal! 😉

        • Comment by post author

          Afrikaans is ‘n moeilike taal, so moenie sleg voel nie. My man het ook daai lexia; dis hoekom ons so baie geld spandeer aan oudioboeke. Sy geheue is fenomenaal; hy kan alles wat vir hom voorgelees word verbatim onthou. Snaaks.