My vreugdes en frustrasies

Dis Ekke

Dassiepis stink, dis al, dit stink!

Ek is ‘n ou tannie met ‘n vieslike humeur en baie slegte maniere. Dis al. Sorrie. Nee, nou lieg ek ook sommer, ek is gan niks sorrie nie. Ek gaan nou ‘n bietjie lelik praat oor die urine van ‘n dassie, oftewel, ‘n Rock Hyrax in Engels.

Daar is twee dinge waaraan ek ‘n absolute hekel het en een daarvan is mense wat dieselfde vraag oor en oor vra. Die ander ding wat my so omkrap, is ‘n storie vir ‘n ander dag.

Ek het ‘n hele ruk terug al geskryf oor die google search terms wat klokslag op my blog opduik. So het ek byvoorbeeld ‘n blog geskryf met die titel van Om te hond of nie te hond nie waarin ek geskimp het op ‘n ander simpel ou vrou wie se parfuum gestink het soos dassiepis. Nou kry ek al om die ander dag iemand wat, met komplimente van google, hier op my blog opdaag om te kom vra “waarvoor word dassiepis gebruik?” of “waarvoor is dassiepis goed?” of “is dit waar dat dassiepis ‘n vrou vrugbaar maak?”.

Nou – my oorwoë mening was nog altyd net dit: Dassiepis stink. Dis al. Dit Stink. Vreeslik. Maar ek het dieselfde ding gedink van kakiebos (Tagetes minuta as jy nou fênsie wil wees). Toe, so twee dekades gelede het ‘n boer daar van die Noord-Kaap ons genader om hom te help met die uitvoer van kakiebos. Uitvoer? Waarheen voer ‘n mens sulke stinkende onkruid uit? Frankryk toe, waar hulle dit gebruik in die parfuum-industrie. Die Franse gebruik die kakiebos se essensiële olie-tagette oor die olie daarin wat so vasklou, sien? Dan haal die Franse die stink uit en voeg die olie by die parfuum sodat die lekker reuk kan vasklou aan die vrou se polse en ander plekke wat lekker moet ruik.

So, nè, toe ek nou so aanhoudend die navrae sien oor die dassiepis, toe spring ek op die google-trein en so wragtig: dassiepis word gebruik om parfuum te maak. Dit word ook gebruik vir medikasie vir die voorkoming van epilepsie. Loop lees dit maar self op google – soek vir Hyraceum Dassiepis (dis nie ek wat so lelik praat nie, dis die naam waaronder dit bemark word). Dis vrek duur ook, want dit neem glo ‘n honderd jaar om ‘n soliede massa te vorm wat dan in poeiervorm verkoop word. Loop lees dit maar self. Ek wonder nou ook hoeveel dassies moet nou op dieselfde plek pis vir een honderd jaar lank om genoeg klipfossiele te vorm om parfuum te maak. Nou begin ek ook wonder oor die duur parfuum wat my dogter vir my gekoop het.

Maar in elk geval, om die storie af te sluit, moet ek nou erken (want ek is die eerlike onbeskofte soort): dassiepis stink, ja, maar dis nie al nie. Dis by verre nie al nie.

Image compliments of ClipArts

Follow Dis Ekke

Please find information about the coronavirus here SA Coronavirus South African Resource Portal

39 Comments

  1. En nou gaan die google-maatjies lekker almal hier kom lees. ALLES wat hulle wil weet van ‘n dassie se piepie. Dassies is ook draers van hondsdolheid, sover ek weet, en dís baie erger! Ag, hulle is te dierbaar daar op die klippe in die son, maar dis waar hille maar eerder moet bly. Nou die dag was daar een by my hond se hok. Ek dink hy het kom hondepille vreet. Kan jy jou meer!

    • Comment by post author

      In Namakwaland waar ek grootgeword het, is daar troppe van hulle in die klipkoppies. Ons het selfs ‘n mak dassie by die huis gehad, so stout soos ‘n kind. Hy het altyd die bure se groente gaan opvreet (nooit ons eie tuin nie), maar hoe my pa ookal probeer het om hom in te kamp, het hy altyd ontsnap, homself dikgevreet en rustig teruggekom huis toe. Oor sy ontsnapkuns het my pa hom Houdini gedoop.

  2. En toe gaan google ek en inligting word opgegoël dat dassie nie net alleen Hester lekker laat ruik nie maar ook die naaste lewende familielid van die olifant is!! NB – nee Hester aar eindig die vergelyking, ek beweer nie dat daar enige assosiasie tussen jou en oifant is nie.
    Maar as Dassie lekker laat ruik, moet olifant mos in grootmaat lekker laat ruik. Daar word nie meer in melk gebad nie maar miskien kan olifant ‘n heerlike lou skoonheidsstort gewild maak?

    • Comment by post author

      Haha ja, hoe sal so ‘n lekker gesondheids-modderbad wees waarna ‘n olifant jou kan afspuit met water uit die dam? Ek het nogal geweet van die olifant-dassie-verbintenis, weet nie waar ek dit gehoor het nie, dis net die soort useless information wat gewoonlik in my kop vassit. Maar het jy afgekom op die advertensies vir die medikasie?

  3. In Homer se familie verwys hulle na deoderant as dassiepis. Nie sonder rede nie ne. Ja, ook geweet van die kakiebos wat vir parfuum gebruik word, dansy tannie Verna se vertelling toendertyd op Radio Suid Afrika. Daar was egter ‘n vangplek, toe het ek geweet waarvoor kakiebos gebruik word, maar nie geweet wat dit was nie. Laat my nou wonder oor die mense wie nie gereeld bad of stort nie. (Jigggggg) Maar miskien hoop hulle die reukie wat aan hulle kleef kan ook vir parfuum gebruik word. Mens, parfuum is een van my bederfies, laat ek maar eerder gebruik soos bedoel was en nie wonder wat laat dit lekker ruik nie.

  4. Ek het dit nou nie gegoogle nie maar erens, lank gelede, gelees dat dassies net so al om die wee weke pie, G’n wonder dan dat dit so lank vat om daai dassiepisbank te bou nie.
    Hier in onse dorpie is die dassies by die ou hawe ‘n groot aantrekking vir die toeriste, en dis asof die outjies weet hulle word afgeneem, pose behoorlik. Hulle klim ook in die vullishouers en aas wat daar te ete is. Al te ougat.

    • Comment by post author

      Hulle is né? My seun woon op ‘n koppie by Glen Vista (Gauteng) wat oor ‘n golfbaan uitkyk en hy plaas altyd vir ons die mooiste dassiefotos. Almal in hulle kompleks voer die dassies en hulle is natuurlik hondmak. Net raserig, volgens hom.

  5. Alle pis stink!

    Hier is ‘n paar limericks op die tema:
    http://www.vuurklip.net/index.php?level=5&id=22

    • Comment by post author

      Ek het nou so lekker gelag. De Aar se pissoir het my laat verstik in my teetjie en toe moes ek natuurlik Deel 1 tot Deel 5 klaar lees. Hoekom bring jy nie so ‘n bietjie oor van jou webblad af na WP toe nie? Ons kort soms ‘n lekker lag hier.

  6. Ek wil net sê dat ek nou baie lekker gelag het. Google gaan my nooit kan vermaak soos wat ek dit nou geniet het om die stuk te lees nie. Dankie, jy het my dag gemaak 🙂

  7. Wil jy nou meer?!

    😆

    Nee kyk, daar is sulke troppe dassies by my kinders se hoërskool (vandaar die Dassie Ser), en ons het op die koppie waar ons bly, maar ek is doodbang vir hulle!

    • Comment by post author

      Ek het nou gewonder wat is Dassie Sêr en toe spring ek op google (natuurlik!). Ek het ‘n klompie videos gekry op You Tube. Die kinders is kreatief en kunstig. Lyk asof daar ‘n lekker gees heers by die skool?

      • Ons skool is maar BITTER klein, omtrent so 600 leerders in die hele skool, maar ons skool is rerig fantasties, en ja, die kinders het gees hoor! Ek kom oorspronklik van Jhb af, maar ek verkies dit om kinders hier groot te maak.

        • Comment by post author

          Ons was ook sowat 600 kinders in die skool (van Sub A tot matriek) en in my matriekklas was daar net 20 leerlinge. My arme kinders was nie so gelukkig nie.

        • My man het in Albertinia groot geword, en hulle was iets soos 16 in hulle matriekklas! Dis vir my vreemd, want ek was in groot skole. Maar die klein skole ken almal almal, en jou kinders DINK nog net aan aanjaag, dan weet jy dit klaar!

          🙂

        • Comment by post author

          Goeie nuus vir ouers, maar nie altyd vir die kinders nie!

  8. Sonel

    Ag, hoe lekker lag ek nou! Jy het so oulike manier om iets te sê Hester. Kyk, as ek by jou moet kom kuier sal ek lag van die oggend tot die aand. 😆

    Gelukkig gebruik ek glad nie parfuum nie – nie met my sinus allergie nie. Al wat ek wel gebruik is Essential oil (Lavender). Is naaste wat ek aan parfuum kom. My man noem die sterk parfume ‘Kattepis’ en selfs hy kry hooikoors en sinus van daai reuke.

    Ek het gesien hoe iemand al op FB gevra het oor die raad en of die dassiepis mens kan swanger maak. Kan jy dit glo? Darem is dit nie renosterhoring nie. Snaaks hoe mense sulke dinge kan glo of dink dat so iets kan werk vir kwale. Ek wil ook nie weet hoe stink dit nie. Kan net dink. Dan liewers kakiebos. Die veearts by wie ek gewerk het, het kakiebos sjampoe gemaak vir die dierekinders en selfs ek het van die reuk gehou. Vlooie en bosluise natuurlik glad nie. 😀

    • Comment by post author

      Nee kyk, hierdie alternatiewe medisynes begin nou handuit ruk. Ek kan nie besluit of mense dom of desperaat is wanneer dit by sulke goed kom en of ek dalk regtig die pot mis sit nie. Ek hoop net die daar iewers is ‘n paar ouens wat werklik ‘n dassieboerdery bedryf nie, want ek kan my net voorstel hoe sit ‘n klomp dassies op ‘n ry (soos lê-hoenders) en word aangemoedig om die hele dag te pie. Kakiebossjampoe – interessant en dit behoort te werk ja.

      • Sonel

        Ek stem hoor. As jy lees hoe hulle vertel dat Dandelion onkruid is, maar hul gebruik dit om medisyne mee te maak. Ek dink meeste mense is desperaat en dan maak dit hulle dom hoor.

        hahahaha! Ja siestog! Dit wil ek nie sien nie. Nes die hoenders wat hul opgekrop in ‘n hok hou sodat hul net eiers kan lê. Dit is so wreed vir my. Duidelik sal hul daardie dassies hope water moet gee dan. LOL!

        Dit werk beslis hoor en snaaks genoeg hou ek van die reuk van kakiebos. Duidelik sal ek dit verkies bo die reuk van die duur dassie en katpis wat party vrouens aan hulself spuit. 😆

        • Comment by post author

          Ja, dit kan soms oorweldigend word. Meng dit met die reuk van vars naelpolitoer en dis nag. Og, en dan die rokers se klere en asems! Ek het op die 23ste vloer van ons kantoorgebou gewerk en glo my, teen die tyd wat die hysbak vol mense daar bo gearriveer het, het ek al siek gevoel vir die dag. Maar wag, ek beter stilbly voor die mense (veral die rokers 😀 ) my stenig.

        • Sonel

          Nee dankie. Dan ruik ek liewers heeldag kakiebos. 😀

          Ek kan nie sien dat hul dit sal wil doen nie. Ek is self ‘n roker en ek rook nie by mense wat nie rook nie, rook nie in ons huis nie en dink dis reg dat daar nie in werksplekke gerook moet word nie. As jy dan wil rook, gaan doen dit iewers waar dit nie ander kan pla nie. Maak nie saak wat mens in die lewe doen nie, doen dit so dat jy respek kan hê vir jouself en die mense om jou. 😀

        • Comment by post author

          Ons geboue was almal rookvry, maar daar was rookareas en jy weet wat doen sigaretrook? – dit trek in jou hare en jou klere in, veral waar so baie mense in een area rook. Ek het ook gerook en ek dink dis hoekom dit my deesdae so irriteer. Jy weet mos, die wraak van die bekeerde nie-rokers!

        • Sonel

          By ons ook en ja, dit doen. Selfs ek wat rook kan dit nie hanteer as daar sulke rookwalms hang nie.

          LOL! Ek hoor jou. 😀

  9. Hier het ek nou al te lekker gelees aan jou blog en die kammentaar!

  10. “Ek is ‘n ou tannie met ‘n vieslike humeur en baie slegte maniere. Dis al.”

    Dit klink dan half asof ek die kon geskryf het. Ek like jou. Dis al.

  11. Oë gonna… ek gaan nou die heel dag rondloop met ‘n prentjie in my kop… van ‘n ou antie wat dassiepis smeer op pekke wat moet goud ruik!!! 🙂
    NS – Wat het geword van die boer? Het julle hom gehelp ryk word? 😉

  12. Vuilbek… en besmeer haarself met dassiepis! SIES!!
    Net so by the way… ek het lekker gelag, dankie!
    Ook gewonder… het julle toe vir kakiebos boer help ryk word?

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Ja, daai ou het hope geld gemaak. Ek dink hulle voer nog steeds uit. Dankie vir die gesels – my internet is nog steeds af, maar ons wag in groot hoop om weer aanlyn te kom.

  13. Lekker maak jy my glimlag op hierdie dag!

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Jy’t op my ou blog afgekom! 😀 Lekker om jou hier te sien.

      • Ek sukkel met al die hooi op my vurk om by dit wat saakmaak uit te kom.

        • Comment by post author

          HesterLeyNel

          Is dit die huisbouery wat jou so besig hou? Net solank dit goed gaan met jou en en Lanie; ek wonder soms hoe dit gaan.

        • Dankie Hester – ek gaan nie ingaan op die bouery nie, maar die oomblik wat dit af van my “to do” lysie is, sal ek stap vir stap aan mense verduidelik hoekom bou glad nie ‘n goeie idee is nie.
          Met Lanie gaan dit goed, ek het gedink haar rapportjie gaan wys dat die aanpassing moeilik is – maar toe nie – sy is weereens een van die 10 tien leerlinge van haar graad. Al lê sy 9de. Ek was verstom en moes haar pa-hulle die krediet gee en vir haar sê dat sy beslis trots op haarself kan wees vir haar harde werk wat sy die kwartaal bemeester het. ek is baie dankbaar daaroor.

          Dankie vir jou omgee en goeie hart teenoor my xxx

        • Comment by post author

          HesterLeyNel

          Ek is bly dit gaan goed!