My vreugdes en frustrasies

Dis Ekke

Die lekkerste deel van die vakansie

Toeka-Tokkel: Vakansie

Hier in ons deel van die wêreld is die lekkerste deel van die vakansie natuurlik wanneer die amptelike vakansie-tydperk oor is. Dis nou wanneer die vakansiegangers en jolytmakers huis toe is en die plaaslike munisipale werkers dae lank geloop en gemors optel het op die strande en ‘n salige stilte heers.

Niks verkeersknope in die dorpe nie, geen samedromming in die winkels nie, geen sirenes wat skreeu of motorfietse wat brul op die hoofweg nie, geen klappers wat ontplof nie, geen plastieksakke / babadoeke / gebreekte bottels op die strand of onnoembare items wat in die getypoel ronddryf nie, geen oorverdowende musiek nie en die vakansiepryse vir gebruiksartikels daal met ongeveer 50% – dis Paradys.

Dis nou nie te sê dat vakansiegangers nie welkom is nie (ons ekonomie baat daarby; so 50% meer as gewoonlik), maar dis op hierdie punt wat die inwoners begin vakansie hou.

Dan vat jy jou visstokkie, sit jou hoed op, maak seker dat jou fotograaf jou sak met ekstra klere, skoene en waterbottel op die rug het …  en dan loop jy myle langs die strand af sonder om ‘n vreemdeling in die oë te kyk. Miskien loop jy darem so hier en daar ‘n inwonende visserman of ander geesdriftige skulpversamelaar raak en knoop ‘n geselsie aan.

Ifafa

Dalk koop jy vir R40 by die Chinese winkeltjie vir jou ‘n paar krokkedille wat in die vakansietydperk R80 gekos het en gaan klouter op die rotse rond. Ons “krok op” sê ons, want hierdie skoeisel klou vas aan die rotse. Die skurwe skulpies en plantegroei op die rotse maak kaalvoetloop onmoontlik. As jy per ongeluk sand in jou krokke kry, swaai jy jou voet rond in ‘n rotspoeletjie om daarvan ontslae te raak.

Mtwalume Flat Rocks (2)

Op ‘n baie warm dag bly sit jy sommer daar in die rotspoel – wees net op die uitkyk vir krappe wat onder die rotse wegkruip en moenie, nee moenie jou rug op die see draai nie; daar kan miskien net ‘n onbeskofte brander oor jou kop breek.

Mtwalume Flat Rocks

So teen die aand se kant wanneer dit begin koeler word, gaan lê jy eers ‘n bietjie op die sand en laat rus die moeë bene. As jy gelukkig is, mag daar dalk net ‘n trein verbykom wat vir jou fluit. Dit gebeur gewoonlik wanneer die fotograaf reeds die kamera uitmekaar gehaal en gebêre het; die trein het nie ‘n vaste rooster nie, loop net wanneer hy wil.

Mtwalume beach lake

Laataand sit jy op jou balkon, smeer lyfroom aan die rooigebrande vel en beplan jou staproete vir die volgende dag. Dis hoe ons vakansie hou hier by die see.

 

Follow Dis Ekke

Please find information about the coronavirus here SA Coronavirus South African Resource Portal

22 Comments

  1. Jis jy het my nou behoorlik groen van jaloesie hoor!

    Ek wil nog my hele lewe lank by die see woon. (so tussen my en jou, ek is eintlik ‘n undercover meermin…)

    • Comment by post author

      Ek is sommer net ‘n eend. Kan jy glo ek het in die barre Namakwaland grootgeword? Ek sal in 2 duim water swem as dit moet.

      • Hehehehe, lekker smaail ek nou vir jou eend! (Ek verbeel my ook ERG lekker met die meermin-storie hoor. Dink meer ek lyk soos ‘n pokkeltjie rob of iets! Lol!)

        😉

  2. Klink en lyk te lekker…maar wat van so ‘n glasie rooie as die skemer oor die water begin loer?

  3. A nee a dis darem te onregverdig om so te spog! Klink heerlik

  4. Pragtige fotografie en jou mooi woorde skets maak my nou verlang na ‘n lekker strandloop vakansie

  5. Ek beny jou die myle se stap. Hier by ons wens ons ook maar later die vakansie (tyd) om. As die vakansiegangers huis toe gaan, kry die straatsmouse weer maniere.

  6. Ek kan my indink dat jul kan vakansie hou as die vakansiegangers weg is. Salig en rustig. Stem saam met daardie krokke skoene! Dankie vir jou deelname. Waardeer dit baie.

  7. Ag hoe salig – sonder die “mal Transvalers”!

  8. My vriendin vertel my toe hoe lank dit hulle in vakansietyd vat om kerk toe te ry. Ek het my verstom. Jou lewe klink soos wat sy my van hulle s’n vertel het. Sy en haar man vang baie vis.

  9. Ooh DIT lyk nou na die lewe om te he!

  10. Sonel

    Ja, ek weet wat jy bedoel met die toeriste en ons mag seker nie kla nie Hester. 😀

    Pragtige foto’s en ek kan sien jy is dankbaar vir die stil tye. Ek sal ook wees. Is daar enige plek langs die kus wat nie toeriste trek nie? Ek sou so plek verkies het. Dalk sommer net my eie eiland koop en dit omring met haaie. 😆