Dis Ekke

My vreugdes en frustrasies

Dis Ekke

‘n Dans en ‘n perd wat hamburgers vreet

“Nou wil almal dans” het ekmyselff aangekondig en daar is ‘n datum en ‘n tyd vasgestel waarop die bloggers moet dans. Ek het die saak so ‘n bietjie bedink en besluit dat ek nie op my ouderdom lus het om myself te knoop en ‘n paar bene te breek nie. Maar ek wil darem ook deelneem, al is dit in die rol van ‘n muurblommetjie en dus gaan ek uitsit om ‘n dansstorie vertel.

Hierdie storie loop nou baie naby aan die waarheid verby en ek gaan baie versigtig moet wees – ek gaan nie plekname noem of te veel besonderhede uitlap omtrent die mense in die storie nie. Ek moet ook onthou dat my kinders my blogs lees.

Baie jare gelede in ‘n klein dorpie het so ‘n halfdosyn van ons jongklomp besluit om te gaan jol by ‘n dansplek op ‘n plaas daar naby. Dit was nog in die dae van die twist & shake, wat beteken het dat jy maar net op een plek kan bly staan, òf met albei voete op die grond, òf so al hoppende van een beentjie na die ander, solank die ritme van die tromslae net pas by jou bewegings.

Die dansplek was ‘n ou plaasskuur met ‘n gladde sementvloer wat vol buitebandsaagsels gestrooi is. Die proses van retreading van buitebande was destyds algemeen en het tot gevolg gehad dat daar altyd ‘n klomp los saagsels uit die proses verkry kon word. Dis nou wat op die dansvloer gegooi is. Die rede daarvoor? I’m clueless. Ek weet net dat jy liewer jou skoene uitgetrek en in die kar gelos het, want jou voete kan jy immers weer skoon gewas het voordat jy huis toe gaan. Geruïneerde skoene was egter ‘n probleem, want hoe verduidelik jy dit vir jou ma? Dans was ‘n groot sonde.

Daar was nie ‘n eetplek nie en ook nie ‘n drinkplek nie – jy moes maar jou eie spys-en-drank saamneem. Daar in die dorp waar ons gebly het, kon jy die heerlikste, yslike groot hamburgers koop vir vyf-en-twintig sent een by die Corner Café. So is daar ‘n groot papiersak met hamburgers in die kar gelaai om later die aand te eet en ‘n kleiner papiersakkie met ‘n bottel anysbrandewyn. Laasgenoemde was vir die drie jongmans, want ons meisies het toe nog nie geleer om te drink nie.

Op die plaas aangekom het ons die Cortinatjie tussen die dansskuur en die perdekamp parkeer (ja, met goeie beplanning kon jy destyds ses mense met gemak in so ‘n ou rydingetjie laai). Die mak perd wat oor die draad gestaan en loer het, het nie ‘n woord hieroor te sê gehad nie.

Nou moet ek net gou verduidelik dat ek die Saterdagoggend by die tandarts was waar hy twee stukkies goud in my ondertande gesit het. Ek het die vorige week met behulp van ‘n coffee toffee (daai plat bruines wat so kliphard geword het op die kafee se rak) twee tande reg voor in my mond gebreek.

So met die geskud en geritteltit saam het my goud begin pyn. ‘n Wortelkanaal- proses was seker nog nie bekend in daardie dae nie. Dit was later so erg dat dit gevoel het of die tandsenuwees tussen my kakebeen en my stuitjie aan die brand geraak het. En kan jy glo, nie een enkele persoon op die oorvol dansvloer het soveel as ‘n disprin gehad om vir my aan te bied nie. Dit was in die dae voordat dagga en verdowingsmiddels bekend geraak het op die dorpie. Ons het toe nog gedink om een pakkie Rembrandt Van Rijn sigarette per week te rook was gewaagd.

Iemand het my aangeraai om ‘n bietjie van die brandewyn op my tande te drup en sowaar, dit het gehelp vir die pyn, maar net so vir ‘n halfuur op ‘n slag. Dan moes ek weer die druppel-behandeling toepas. So na die vyfde of sesde druppel-behandeling het my kop effens begin draai en ek was naar. Ons konsensus was dat ‘n hamburger nou net die ding sou wees om die naarheid te oorkom, so toe die band hulle ruspouse vir die aand aangekondig het, is ons op ‘n streep uit die skuur uit om die hamburgers te gaan eet.

By die Cortinatjie het ons een van die mans in ons groepie aangetref, diep in gesprek met die perd daar in die kamp. Dit was duidelik dat hy ook sy anysbrandewyn-medikasie goed ingespan het. Van die hamburgers was daar geen teken nie. Op navraag het hy verduidelik dat hy honger geword het. Maar daar was nege hamburgers, twee vir elke man en een vir elke meisie? Ja, maar die perd het so honger gelyk en hoe moet ‘n man dan nou … ?

Laat ons maar volstaan met die volgende feite: Eerstens het ek by die huis ingesluip met pikswart voete (ek het nie die krag gehad vir voete was nie), vreeslike tandpyn, en die begin van my eerste en enigste babelaas ooit. Tweedens is die geheim nou uit: hierdie gebeurtenis is die rede waarom ek nie mosbolletjies met anys eet nie en ook hoekom ek nooit geleer drink het nie.

 

Follow Dis Ekke

31 Comments

  1. Dankie hiervoor. Ek lê soos ek lag, en hierdie storie gaan ek lekker uithaal en weer belag terwyl ek daar oorkant is!!

    • HesterLeyNel

      Dankie Una, ek is bly jy het dit geniet.

  2. Lekker ou dae!

  3. Oooo jy kan darem lekker stories vertel… Dankie hiervoor.

  4. Anonymous

    Ai jai jai… lekker tye
    Ek kan dink die tand en die babbelas saam was nag. Ek het lekker gelees. Dankie vir jou deelname.

  5. Eet jy darem nog hamburgers?

    • HesterLeyNel

      Ja, ek was mos darem nie kwaad vir die perd nie 😄

  6. Wat ‘n wonderlike storie – die lewe was nogal so lekker toe ons jonk was in die dae van min komplikasies.

    • HesterLeyNel

      Dit was Anne, veral op die platteland.

  7. Dankie vir jou deelname. Was nou n lekker storie. Ai die ou dae was darem net anders. Ja tandoyn en babbelas saam kan nie maklik wees nie.

    • HesterLeyNel

      Dankie vir die uitnodiging om saam te dans.

  8. Lekker storie! Ek kan die hamburgerkouende perd en sy goedhartige vriend sien!

    • HesterLeyNel

      Dankie 😄 Dis natuurlik nou snaaks, maar daardie aand het ek dit nie vreeslik prettig gevind nie.

  9. Lols

  10. Lekker storie Hester!!! Jy kan bly wees oor daardie tandpyn…. dit het jou weggehou van die drankgogga. Daardie perd moes gedink het dit is krismis 😊

  11. Nou kom jou sondes uit!

  12. Dis hoe ek beglin rook het. Altyd vreeslik tandpyn gekry en te bang vir die tandarts. Dan het my vriendin ook altyd gese vat ‘n trek van my sigaret en hou die rook in jou mond. Dit sal help vir die pyn.” Glo my, dit het. Maar dan moet jy ook kort kort herhaal.

    • HesterLeyNel

      Dis seker die hitte van die rook wat ‘n verskil gemaak het. Ek het sommer begin rook omdat dit cool was, maar kon agterna myself skop.

  13. kielie kielie, ek kan maar net glimlag…

  14. Hiehiehie Jou humoristiese storie maak my dag

    • HesterLeyNel

      Dankie Wolfie, ek geniet dit om so nou en dan ‘n ou herinnering uit te grawe en oor te vertel. Jy weet, daardie “in my dae …” soort stories, haha.

  15. Ag, dit was nou heerlik, dit bring soveel herinneringe terug, pragtig geskryf.
    Hier verkoop hulle nie Disprin nie, maar ons noem nog steed ‘n hoofpyn pil, ‘n Disprin 😉

    • HesterLeyNel

      Dankie Linda. Ja, dis nogal snaaks hoe sulke name vassteek, partykeer lank nadat die oorspeonklike brand al verdwyn het. Ons kry darem nog disprins hier.

Leave a Reply

Theme by Anders Norén

Back to Top
%d bloggers like this: