My vreugdes en frustrasies

My eiers

Lê-Jou-Eier: Manhare maak nie die man nie

Manhare is onder bespreking in hierdie week se Lê-Jou-Eier uitdaging. Ons praat hier van kophare, borshare, gesigshare en alle ander hare wat mans deesdae onderwerp aan “manscaping”. Dis nou die stilering van hare op ‘n man se liggaam vir kosmetiese doeleindes.

In my prille jeug, wat blêddie lank gelede is, was manhare van geen belang nie. Mans het kort hare gedra, hulle borshare was bedek en hulle was skoongeskeer, soos my pa. Hy het altyd so ‘n bietjie olie aangewend om die hare mooi plat te stryk en het dieselfde haarstyl, asook die meeste van sy hare, behou tot hy oorlede is op ouderdom 88. Op die fotos hier onder is hy onderskeidelik 40 jaar oud en iewers in sy middel 70’s.

In die middel 60’s egter, net so by die aanvang van my tienerjare, het die Beatles op die toneel verskyn en manhare het baie belangrik geword. Al die pa’s van hormoonaangedrewe missiele in hulle tienerjare, het ballisties geraak oor die “langhaargedrogte”. Ek kon nooit verstaan wat die probleem was nie, want die hare was wel ietwat langer as waaraan ons gewoond was, maar dit was netjies gestileer, blink, skoon en netjies gekam. Geen teken van baard, snor, borshare of enige ander soort hare nie. Lyk hulle nie te oulikies in die eerste foto hierbo nie?

Daarvandaan het die hele harekwessie, wat my pa aanbetref, net afdraand gegaan. Lang hare tot op die skouers, snorre, baarde en borshare het oral op straat gepryk. Ek moet toegee dat ek self so nou en dan lus gehad het om ‘n bottel sjampoe en ‘n skeermes weg te gee. Iewers in die 80’s het ek my ietwat vervies vir my manlike kollegas wat elke oggend laat by die werk opgedaag het omdat hulle haardroërs buite werking was, of omdat hulle tyd nodig gehad het om die besembosse onder hulle neuse en die luislere op hulle wange te versorg. Andersins het die hele manhaar-effek my aandag ontsnap, totdat ek verneem het van manscaping. Nou sien ek hare net waar ek kyk.

Die eienaardige ding is dat ek skielik anti-haar geraak het. Ek gril vir lang los hare, veral as die hare my kos kom bedien in ‘n restaurant. Poniesterte of man buns is oukei. Persoonlik verkies ek kort- of kaalgeskeerde koppe.

Ek hou van netjiese volbaarde en sal selfs ‘n goedversorgde snor verdra, maar ek verkies nog steeds die skoongeskeerde gesig. Stoppelbaarde moet net wegbly van my vel af.

Wat van die nek af tot onder by die tone gebeur, trek nie juis my aandag nie.

MAAR, nou moet ek ook sê, die hare (of gebrek daaraan), maak nie die man nie. Baie jare gelede het ek in ‘n klein gespesialiseerde afdeling in die bank gewerk. Ons het ‘n kliënt gehad wat alle teorieë oor voorkoms en aantrekkingskrag tussen geslagte heeltemal verkeerd bewys het.

Hy was aan die korterige kant, het definitief bakbene gehad, die drie hare op sy op was altyd deurmekaar en hy het net so nou en dan by ‘n skeermes verbygeloop.  Tog, wanneer hy so een keer ‘n week oë gewys het in ons kantoor, het al die vrouens skielik gaan sit. Jellie-knieë, sien? Niks te doen met sy hare of bankbalans nie. Dit was daardie vonkel in die oog.

In my soektog na inligting oor die hedendaagse modes vir manhare, het ek afgekom op die volgende video waarin hulle ‘n klompie haarmodes van die afgelope eeu bymekaar gegooi het. Geniet.


Om die inskrywings van verskillende bloggers in Lê-Jou-Eier te geniet of om self ‘n eier te kom lê wat ons kan uitbroei en grootmaak, klik op die paddatjie of die InLinkz skakel net daaronder:

http://www.inlinkz.com/new/view.php?id=761578

Vir die reëls van hierdie eier-boerdery, om raad te kry oor hoe om deel te neem en om elke week se aankondiging van die nuwe onderwerp te sien, besoek die volgende skakel by Dis Ekke. Onder hierdie kategorie, kyk na die blogposte Lê-Jou-Eier: Reëls (2017-08-22) en Lê-Jou-Eier: Hoe neem ek deel? (2017-08-22).

Follow Dis Ekke

Please find information about the coronavirus here SA Coronavirus South African Resource Portal

32 Comments

  1. Dit is nou ‘n video om nooit te vergeet nie. 😉 Ek dink my man moet maar sy hare laat groei sodat hy dit elke dag voor my kan vasmaak. Hehehehe!

  2. Ek het my nou ook verkyk aan al die verskillende haarstyle! Soveel herinneringe teruggebring, Hester.

  3. En dat ek net byvoeg, jou pa was ñ baie aantreklike man. Ek sien defnitiewe trekke van hom in jou.

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Dankie Una, ek het ook so gedink, hoewel ek eers gebore is toe hy al 50 was en ek hom dus net in sy latere lewensjare geken het. Ek is nogal ‘n goeie mengelmoes van my ma en pa, maar twee van my kinders (tweede seun en dogter) lyk baie na hom.

  4. Sjoe Hester, die was nou baie interresant, veral die video. Jong ek geniet hierdie uitdagings te veel. Dankie

  5. Ek glimlag nou so liggies oor jy ook die term, manhare, gebruik.

  6. ‘Skoon’ is my enigste voorwaarde

  7. Jou pa was ‘n aantreklike man. Dis vir my interessant hoe ons verskil in ons smake. Jy sou nie van my Simson se lokke gehou het nie 😕 My ouers het al die horries by Elvis gekry…. en ek was mal oor daardie hare van hom. As die mense oor mans se hare gekla het toe die gepoeierde pruike in was, sou ek dit beter verstaan het.

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Ek was mal oor die hele Elvis, van kop tot tone! My pa het hom ook verpes, maar onwetend het hy baie na Elvis se gospel songs geluister. Nee, ek het nie regtig iets teen lang hare nie; ek wil dit net skoon hê en weg uit die gesig. My kinders het al drie die pragtigste hare, maar my seuns sny hulle s’n stomp af ter wille van gerief. Ek het nooit gekla oor hulle lang kuiwe nie.

      • Elvis was van kop tot tone ook my held. Dat die man mooi was is darem nie te betwyfel nie…. daardie skewe glimlag van hom…. en dan nog daardie stem ook.

  8. So sluit jy n “ongewone” opwindende eier lêery af! Brill-cream(spelling?) wat ouens vroeër jare aan daardie kuiwe gesmeer het. My swaer het goeie bos hare gehad en daardie gesmeerde kuf was net die in-ding. Ek self was nie rêrig n Elvis van nie. Wat van Jimmy/James Dea en Tommy Steele? Ai hier beweeg my hart maar weer na die blonder hare!

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Ek moet erken dat James Dean nooit my snare geroer het nie. Soveel wroeging! Ek het saam met drie broers grootgeword en hulle nukke en grille was my klaar oor. Tommy steele was weer aan die anderkant van die skaal – te soet, soos Cliff Richard.

      • Ek verstaan dit goed. Ek het nie broers nie so de seuns nukke ken ek nie regtig nie. Ek het van ou Cliff vergeet, hy was my sanger. Ons he n engelse onderwyser in hoërskool gehad. Hy was n bachelor. Met ons bokkesport het ons geurig Bachelor Boy gespeel oor luidsprekers. Arme man.

  9. Eish! Ek het baie k@K gehad met lang hare, ok nie so lank nie, net langer as short back and sides. In my M-jaar op Kovsies moes ons by registrasie eers ‘n haretoets slaag, kan jy glo. Ek het loshande gepluk. My pa was ‘n streng militaris, en my haarstyl het aanleiding gegee tot menige kopstampe. Daarby had ek ‘n moerse volbaard.Resep vir moeilikheid in ‘n konserwatiewe gemeensakp,

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Hemel, al die ou reëls en regulasies wat ons moes deurleef. Selfs toe my kinders op skool was, het hulle gereeld deurgeloop omdat hulle hare aan die skoolhemp se kraag geraak het. Ons familie het almal korterige nekke en ‘n baie lae haarlyn aan die agterkop, maar kry dit in ‘n onderwyser se kop. Ek het eenkeer op ‘n skoolhoof gegil dat die akademiese vlak van die skool veel meer skandalig was as my seun se nekhare wat ek toe letterlik elke week moes skeer. Gelukkig het ons kort daarna getrek.