My vreugdes en frustrasies

Dis Ekke

Dis Tradisie! Aartappels vir krismis en nuwejaar

Aartappeloes

Ek het geen idee hoe hierdie tradisie in ons familie ontstaan het nie, maar vir jare reeds plant ons elke jaar ‘n aartappel, want vir kersfees moet ons aartappelslaai eet – gemaak van ons eie aartappels uit die tuin.

Sommige jare het ons aartappeloes weinig opgelewer omdat die snywurms die knolle aangeval het of omdat die bosbokke die jong plantjie tot op die grond afgevreet het. Daar was min jare wat ons regtig ‘n aartappeloes gehad het. Hierdie jaar was ‘n uitsondering. Karen het vroeg al die grond begin bemes met haar bokashi-kompos en die aartappel is in lekker sanderige grond geplant.

Die aartappelplant het so welig gegroei dat ek gevrees het vir my bougainvillea, wat pas sy rankies begin uitstoot het. Die plant het begin blom en tot my verbaasde ontsteltenis het dit skielik op ‘n dag klein tamatietjies aangehad. Volgens my man is dit ‘n algemene verskynsel dat tamaties en aartappels so “kruis”, maar ek was baie ongelowig en het besluit om te wag en te sien wat onder die grond uitkom.

Tamaties aan die aartappelplant Tamaties aan die aartappelplant

Twee dae voor kersfees het Ouboet en Ma begin aartappels uitgrawe. Ek kan nou getuig dat tamaties wel aan aartappelplante groei. Die tamaties het in die slag gebly, maar die aartappeloes was bo verwagting baie goed.  Om aartappels te oes is nogal groot pret!

Die aartappelplant groei welig Aartappels word uitgehaal Aartappels word opgegrawe Aartappeloes Aartappeloes Aartappeloes

Ons sou aartappelslaai hê vir krismis. Toe nie! Twee dae voor krismis en ‘n hele paar dae daarna, het ons nie water in die krane gehad nie. Ons moes weer eens staatmaak op vriende in ander dorpe om ons uit te help met badwater en wasgoed was. Ek het nie kans gesien om vuil skottelgoed rond te ry nie en die krismis-ete wat ons beplan het, is afgestel.  Die aartappelslaai-tradisie sou moes oorstaan vir nuwejaarsdag.

Oujaarsdag het ons net begin om reg te maak vir die volgende dag se groot eet (tradisie moet voortgesit word!), toe word my man siek en beland in die hospitaal. Ons het oujaarsnag in die ongevalle-afdeling deurgebring en nuwejaarsdag omgeslaap. Totsiens tradisie!

Het ons ooit die aartappelslaai geëet? Nee, maar die aartappels is in ander disse gebruik. Nou is hulle op en ons weet dat krismis en nuwejaar amtelik verby is. Ons probeer maar weer volgende jaar.


2018.01.14 BELANGRIKE BYVOEGING Lees asseblief die blog Moenie die (tamaartappel) “tamaties” eet nie, dis dalk giftig!

Follow Dis Ekke

Please find information about the coronavirus here SA Coronavirus South African Resource Portal

37 Comments

  1. Nou het julle my behoorlik ge-inspireer! Ek gaan ook aartappels plant. Baie. Want ek hou mos nou so baie van dié kossies. Maar tamaties aan die plante, dit het ek glad nooit geweet nie, Hester!

  2. Wat ‘n fantastiese idee!

    Ai, ek hoop volgende jaar is daar bakke vol aartappelslaai op julle tafel!

  3. Og, julle is flukse mense!

  4. Niks kom by so ‘n vars aartappel uit die grond nie! Ek hoop dit gaan beter daar by julle, met jou man en die waterstories ook.

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Ja dankie Perdeby, ons het water in die krane vir bad en wasgoed, tenkwater vir die tuin, maar die drinkwater koop ons liewer. My man is beter, maar nog baie moeg. Dit gaan tyd vat om te herstel.

  5. Aardappelplanten en tomatenplanten zijn familie van elkaar.

    Dat jij dus de vruchten herkent is duidelijk.
    Bij een tomatenplant zal je alleen geen aardappels vinden …

    Waterschaarste lijkt mij vreselijk!

    Ik wens jullie komende kerst betere omstandigheden.

    Vriendelijke groet,

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Ek het nooit geweet hulle is familie nie. Dis ‘n lekker verrassing vir my. Water bly maar ‘n probleem, ja. Dankie vir die goeie wense – ons sal weer probeer hierdie jaar.

  6. Wat leuk, mijn dochter kweekt wel eens aardappels in een pot. Gewoon omdat het leuk is. De kleinkinderen zijn altijd heel trots als de aardappels van eigen kweek op tafel komen.

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      My buurman, ‘n afgetrede boer, kweek sy aartappels in ‘n sak. Elke keer as sy plantjie lekker bo die grond uitsteek, gooi hy nog grond by. Die plant maak dan aartappelknolle die hele sak vol. Dis vreeslik interessant om te sien. Ek sal wel glo dat die kinders trots sal wees op hulle oes. Dankie vir die inloer Eveline.

  7. Ons oes binnekort ons aartappels en tamaties ook! Dit is ‘n oulike tradisie*

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Dankie Sonell, ek wens julle ‘n goeie oes toe. Ons het voorheen in Gauteng ‘n lekker groot groentetuin gehad, maar hier in Natal vreet die ape en die wildsbokke lustig saam. Ons moet hier tuinmaak op die skelm manier. Die meeste van ons kruie en slaaiblare groei sommer in bakke op ons toegemaakte sonstoep!

  8. Nou ja, daar het jy dit nou. Uit die perd se bek! Tamaties groei aan aartappel plante! Jy het nou heerlike, insiggewende stuk gekryf en nog fotos ook daarby. My man was ook n tuinman. AArtappels is versorg soos klein kindertjies. Opge-erd op sy tyd en ons het aartappels vir Afrika gehad. Die tamatie ding is besonders interessant. Veral ook soos die een ou sê tamaties aan aartappelplante maar nie aartappels aan tamatieplante nie.

  9. Het daardie tamaties ryp geword sodat mens dit kon eet?
    Sjoe, dis interessant. Ek doen uitstekend met tamaties, maar aartappels laat my swel. Nou pluk jy hulle sowaar van dieselfde plant af!

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Nee, die aartappels was gereed vir oes voordat die tamaties ryp was, maar presies dieselfde soort tamaties het ryp geword aan my buurman se tamatiebos. Het jy geweet beide tamatie en aartappel is verwant aan deadly nightshade belladonna (baie giftig)? Ek het dit gaan google nadat Rob gister gesê het hulle is familie.

  10. Ek wil dit ook doen, plant jy die aartappel in vol son? Anders gaan ek dit sommer in ‘n pot plant. Maar weer is dit ‘n enkele aartappel wat so groot oes opgelewer het?

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Ja, dit was net een aartappel. Die tuintjie hier agter kry net son in die oggend en dan skaduwee in die namiddag. Ons son is bitsig en in die stegie is daar ook nie wind wat die plant verniel nie. Aartappels in ‘n pot met lekker los grond sal werk. My buurman plant sy aartappel onder in ‘n sak en elke keer as die plantjie so ‘n paar duim bo die grand uitsteek, gooi hy nog grond by. Dit vat hom ‘n paar weke om die sak op te vul tot bo, maar wanneer hy die sak oopmaak, is dit van onder tot bo gevul met aartappels.

  11. Ai Hester dat julle tradisie nou so moes platval. Hopenlik dié kersfees wat kom is dinge meer normaal!!! Vertrou jou man is elke dag sterker!!
    Ek gaan nou moet grawe vir aartappels. Daar het uit die bloute ‘n tamatieplant hier opgekom. Die ding rank oor my ander plante… dra ook sulke klein tamatietjies. Mooi dag vir jou.

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Ek is jammer om jou te moet meedeel dat jou tamatieplant nie aartappels sal dra nie. Daardie is ‘n liefdesverhouding wat net van een kant af werk 😄 Dit gaan beter met my man en ek hoop dat die peste en plae ‘n rukkie sal wyk sodat hy sy liggaamskragte kan herwin.

      • Dankie…. dit spaar my om die tuin om te dolwe. Hopenlik hou die plant êrens op met rank; Hy laat my aan Jack se boontjierank dink. 😀😀😀

        • Comment by post author

          HesterLeyNel

          Tamaties moet moes rank – bind hulle op want as die tamaties op die grond lê word hulle vrot. Behalwe myne. Myne het nie tyd om vrot te word nie want die ape vreet dit op.

        • So julle kannie ‘n regte groentetuin aanlê nie…. of is die ape kieskeurig wanneer dit by groente kom. Lag ek nou vir ‘n prentjie in my kop; Ons kamp saam my ousus hulle…. sit lekker onder die boom en gesels. Volgende oomblik kom ‘n aap met haar papaja by die karavaandeur uitgeloop. Hoekom lyk “papaja” nou vir my so verkeerd?

        • Comment by post author

          HesterLeyNel

          Papaja is reg, maar toemaar, ek noem die ook paw-paw. Ape is BAIE kieskeurig oor hulle groente, vrugte en kruie. Hulle eet al ons knoffel, uie en grasuie op as ons dit buite sit, maar raak nie aan die pietersielie of seldery nie. Hulle eet ook nie green peppers, paprika, peppadew of chillies nie. Hulle verkies piesangs, papajas en mangoes bo sitrusvrugte.

  12. Ek sal verstaan as daar appels aart(appels) of ertjies (ert)appel aan groei, maar tamaties!!

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Wat doen jy in my spamboks? Ons het ook vreeslik bespiegel, maar op die ou einde het ‘n bietjie google navorsing die verskynsel verduidelik: https://hortnews.extension.iastate.edu/2004/7-2-2004/tomatopotato.html “Occasionally gardeners are surprised to find small, round, green, tomato-like fruit on their potato plants. These fruit are not the result of cross-pollination with tomatoes. They are the true fruit of the potato plant. The edible tubers are actually enlarged, underground stems.” Nou weet ons – daar is iets soos ‘n aartappelvrug en dan die aartappelknol wat ons eet. Die aartappelvrug is nie algemeen nie en word nie geëet nie.