My vreugdes en frustrasies

Dis Ekke, Travel

Suidkus vakansiegangers het deursettingsvermoë

Holidaymakers camping out in the empty tidal pool

Holidaymakers camping out in the empty tidal pool

Vakansiegangers, veral die soort wat ons hier aan die Suidkus ontvang, is mense wat volhard met hulle voorneme om vakansie te hou, in alle omstandighede. Vakansiegangers sal enigiets trotseer om hulle vakansie te geniet: wind, koue, reën, die feit dat drink- en badwaterwater nie oral vrylik beskikbaar is nie, vakansieverkeer, vakansiepryse, sonbrand … Hulle het deursettingsvermoë.

Die beste voorbeeld van hierdie uithouvermoë het ons ‘n paar dae gelede gesien toe die dorp se getypoel skoongeskraap is net voor die groot vakansiedae. Vakansiegangers het hulle nie laat afskrik deur die feit dat die poel geen water in gehad het nie, hulle het doodeenvoudig in die leë poel gaan sit en wag vir die water. Almal weet immers dat ‘n getypoel opgevul word gedurende hooggety.

Vir diegene wat nie bang is vir die branders nie, is daar altyd die klein baaitjie wat dopgehou word deur lewensredders.

Met die koms van die hooggety was ons op die strand om te gaan kyk hoe die getypoel opvul. Die water was effens bruin en modderig omdat die riviere al teen die kus af deurgespoel het in die see. Ons (en die vakansiegangers) weet egter dat die slik en modder gou-gou wegsak en die getypoel silwerskoon laat. Kyk maar na die foto heelonder – dis soos wat dit gewoonlik lyk; ‘n heerlike swembad waar ons (en die vakansiegangers) heerlik in die water ronddryf.

Kyk hoe mooi lyk ons nou!

Southport Beach tidal pool

Southport is een van die Suidkus se Blue Flag strande en baie moeite word gedoen om na die vakansiegangers se welstand om te sien. Daar is ‘n pragtige strand, ‘n uitstekende familie-restaurant en koeltebome waar die vakansiegangers vleis kan braai. En kàn hulle braai! Enige tyd van die dag brand die vure hoog en die mense kuier. Te lekker.

Ek gaan nou saam vakansie hou.

Follow Dis Ekke

Please find information about the coronavirus here SA Coronavirus South African Resource Portal

20 Comments

  1. Glimlag ek vir die vakansiegangers wat in leë poel gaan sit en wag 😊 Hou lekker vakansie…. lyk my die weer het ‘n bietjie gedraai!!!

  2. Jaaa! Ons het onsself altyd “die mal Transvalers” genoem as ons so prettig in die koue branders rondspring.

  3. Ek het al self heerlik in daardie gety poel geswem. En die krappies bekyk. As mens soms meer as ‘n jaar spaar vir daardie rukkie by die see, beter jy elke dag benut.

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Dis waar. Ons locals skinder natuurlik heeldag oor die enorme hoeveelhede geld wat die vakansiegangers uitgee op ete en drinke 😄 Die besighede is baie gelukkig hieroor. Ons dorp is nou weer dag drie sonder water, maar die vakansiegangers kom dit skynbaar nie eens agter nie.

      • So dankbaar as wat ek is vir elke druppel wat hier bo val, so seer kry ek vir die Kapenaars wat smag na water. Swem maar in die see en beskou dit as ‘n bad….

        • Comment by post author

          HesterLeyNel

          Eish! Seewater brand jou vel en is so taai dat jy aan jouself vasplak. As jy klaar geswem het, smag jy na ‘n stort. Maar dis okei, ons is ekspert badders met ‘n sponsie en ‘n emmer vol water uit die opvangtenk.

  4. Julle moet sekerlik soms op julle tande kners oor die vakansiegangers

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Ja, want ons is nie gewoond aan so ‘n gedrang in die winkels nie. Ons sorg almal dat ons koskaste vol is en alle besigheid in die dorp afgehandel is voordat die vakansie aanbreek. Ons gee nie om om die strande te deel nie – daar is genoeg plek vir almal.

  5. Lekker!

  6. Waar ‘n wil is, is’n weg, en as jy wil vakansie hou, wil jy vakansie hou. 😁

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Werkende mense is geregtig op hulle vakansies en rustydjies en ons probeer dit aangenaam maak vir hulle. Ons ken die stiller strande waarheen ons kan wegsluip 😄

  7. Die baie vakansiegangers in onse dorp sorg vir ‘n lekker lewendige feestelike atmosfeer. Maar mens moet weet parkeerplek is onbekombaar en Checkers is ‘n nagmerrie. Maar met ‘n bietjie beplanning leef almal lekker saam!

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Ek veronderstel dit sal die geval wees in ‘n kleiner gebied waar alles en almal saamleef op ‘n bondel (so to speak). Maar hier by ons is die vermaaklikheidsplekke uitgesprei al langs die kus af en almal jaag van die een strand of dorp na die ander om alles te sien en te doen.

  8. ‘n Wêreldwye verskynsel, oor Desember. Ons hoef ons gelukkig nie meer daaraan te steur nie nie, gaan wanneer ons wil. Brasilië se strande, en die binnelandse plekke, hier langs die riviere, almal oorvol.

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Ek is hierdie jaar regtig jammer vir die vakansiegangers. Ons weer raak elke jaar net slegter. Dis twee dae voor die einde van Desember en ek sit hier met ‘n dik baadjie aan. Dit reën sonder ophou en wanneer die reën skietgee, waai die wind tot 70km ‘n uur. Ek woon loopafstand van die strand af en het hierdie seisoen nog net een keer geswem. Kan jy dit glo?

  9. Die weer wat ons gehad tydens dievakansie by die see was wonderlik. Ek het o.a. fotos genee, van Heroldsbaai se 2 getypoele.