My vreugdes en frustrasies

Dis Ekke

Dis oorlog, die tenks ry weer en die skote klap

Nintendo Battle City - Ma en Pa maak weer oorlog

Daar is alweer oorlog in hierdie huis, die vrede is verby, maar ek het mos voorspel dat die onvrede op een of ander stadium gaan hervat. Kyk maar in my vorige blogpos van drie jaar gelede Ma wil nie grootword nie. Ek dink ek is met die helm gebore.

Met hierdie veranderde weersomstandighede aan die Suidkus kon dit natuurlik nie anders nie; ek moes krapperig raak. Ek meen te sê, verlede jaar het ons nie juis ‘n somer gehad om van te praat nie; daar was sowat drie maande wat amper leefbaar was. Hierdie jaar het ons onophoudelike reën, koue en ‘n snerpende wind van Aprilmaand af. Daar is ook geen teken daarvan dat die weer gaan verbeter nie. Hier sit ek vandag (die 11de Desember) nog steeds met ‘n dik sweetpak aan.

Oei, en ek is verveeld. Ek is moeg vir my gewone tydverdrywe en niks stel my tevrede nie. Ek kla aanhoudend. Tweede seun daar in die Kaap besluit hy gaan die saak beredder en vanoggend vroeg kry ek ‘n SMS van Postnet af – daar is ‘n pakkie vir my, al die pad van die Kaap af. Krismis breek vroeg aan. En in die pakkie? ‘n Nintendo tv game console met al die ou speletjies wat ons voorheen gespeel het.

Dit het net ‘n paar minute geneem om die stelsel aan die gang te kry en siedaar – oorlog. “Jy skiet my! Ek is daai groen tenk, moenie op my skiet nie. Dêmmit!!! Dis ek daai, HOU OP OM MY TE SKIET!”

Gelukkig is ons bure amper nooit hier deur die dag nie. Ons kan laat waai en lawaai. En so nou en dan ‘n onlekker woord uitspoeg.  Dit reën buite dat die water spat, maar ons kom niks agter nie, want ons speel Battle City.

Dankie aan ons Kaapse kinders 😍

Follow Dis Ekke

Please find information about the coronavirus here SA Coronavirus South African Resource Portal

26 Comments

  1. Hahaa, lekker Hester!

  2. Haha! Kajuitkoors se moses!

  3. Anonymous

    Hello…

  4. Bedagsame Kaapse kinders!

  5. Anonymous

    Hester, ek huil sommer. Hoekom word ek spamboks toe gestuur! My hele ellelange kommentaar is ook weg. Ok, dis nou verby, sal weer probeer. Ek wou dadelik ń vliegtuigkaartjie koop toe ek by jou begin lees…julle het oorlog! Ek moet gaan help! Gelukkig lees ek toe klaar. Drie hoeras vir jul Kaapse kinders. Hulle ken hulle ma.🤣💐

    • Comment by post author

      Hester Ley Nel

      Jip, jy’s weer in die spambox. Is dit net op my blog of gebeur dieselfde met ander mense se blogs?

      • Anonymous

        Dit is net op jou blog.

      • Moenie sleg voel nie anonymous…. Hester het my sommer uitgeskop. Gedink dis die Kaapse weer…. ag bedoel die Suidkus se weer, se skuld. Gelukkig het sy my weer met ope arms terug verwelkom na haar nuwe adres toe.

  6. Waar is die dae? Julle sn is weer terug met die ou speletjies. Hier is alles mine craft waarvan ek geen kop of stert van weet nie. Die kinders is mal daaroor, sal ure sit en speel.

    • Comment by post author

      Hester Ley Nel

      Ek het daai een ook gespeel, maar het hom verloor met een of ander Windows update.

      • Tot die heel kleintjies speel dit as hul n kansie kry. Ons het 8 ipads en n PSF . Daar is elke middag n gehardloop om eerste op lysie te kan kom.

        • Comment by post author

          Hester Ley Nel

          Oei, hoe beny ons julle. Hier sukkel ons om potlode, penne, uitveërs en liniale bymekaar te maak vir die kleintjies wat volgende jaar skool toe gaan.

  7. Ek dink ek kry nou weer by jou geskryf.

  8. Waar was ek die jare toe die speletjie gespeel is? Ken hom van geen hoek of kant nie. Bly jy glimlag weer daar waar jy in jou sweetpak sit en speel. Of skyn die son vandag?

    • Comment by post author

      Hester Ley Nel

      Battle City? Dis deel van die standaard tv games van nintendo (so 1984). Onthou jy vir tetris? Die son is so effentjies en die wind waai, maar dis ‘n bietjie warmer. Ons het nou-net afgedraf strand toe vir oefening. Die endorfiene het ingeskop en ek smaail weer. 😄

  9. Hier kom die Mother of all Battles!!

  10. Ag hoe wonderlik. Die jong man is ‘n man so na my hart!