My vreugdes en frustrasies

My eiers

Lê-Jou-Eier: Kersfees en Nuwe Jaar

Trifle pudding for Christmas

Hierdie week se Lê-Jou-Eier onderwerp Die Feesseisoen.

Op my ouderdom dink ek dis onvermydelik dat ‘n mens hierdie tyd van die jaar sal terugdink aan die viering van Kersfees en Nuwe Jaar in jou kinderjare. Die kerk en sondagskool se vieringe het natuurlik ‘n groot rol gespeel, maar die lekkerste was die bymekaarkom van familie en vriende op hierdie dae. Ons was altyd deel van ‘n groot groep gesinne wat Kersfees en / of Nuwejaarsdag saam deurgebring het. Ek onthou die kostafels wat gekreun het onder die gewig van die verskillende eetgoed wat almal bygedra het, die bontblink krismispapier en die kaartjie of plakker met die ontvanger se naam op die geskenkie (daardie afwagting!), die speletjies in die namiddag wanneer die grootmense ‘n bietjie gaan skuinslê het.

Gedurende ons kinders se grootwordjare was daar natuurlik die werkspartytjies (vir grootmense en kinders apart), maar as ‘n gesin het ons hierdie dae mettertyd begin beskou as net nog vakansiedae en dit stiller begin deurbring. Om die waarheid te sê, vir my was dit ‘n irritasie.

Kersfees het weer herleef in ons huis toe my ma by ons kom woon het in 2007. Ons het as gesin saamgespan om dit vir haar spesiaal te maak en in die proses het ons ook weer iets van die ou opgewondenheid begin beleef totdat haar gesondheid begin agteruitgaan het. Die laaste jaar wat sy saam met ons was, was eintlik hartseer omdat ons besef het dit gaan die laaste keer wees wat sy hierdie dae saam met ons sou vier.

Kersfees 2015 was spesiaal omdat dit ook die dag was wat ons ons enigste kleinkind in lewende lywe ontmoet het 😍

Daar is net een tradisie wat deur al die jare nog getrou gevolg word – die trifle het gekom om te bly. Die leuse vir beide Kersdag en Nuwejaarsdag is deesdae “doen so min as moontlik; eet soveel as moontlik” en “Ma, onthou die trifle!” Die dag voor Kersfees word al die kos voorberei vir ‘n koue ete en die trifle word laat op oukersaand gemaak. Daarby word ‘n bevel uitgereik: “geen vingers in die trifle nie, asseblief!” Tevergeefs. Die eerste aanval op die trifle begin so teen vyfuur op kersoggend terwyl ek nog slaap. Teen die tyd wat ek wakker genoeg is om uit die bed te klim en tot by die yskas te wandel, sal ek gelukkig wees om ‘n soet lekseltjie onder in die bak raak te loop. Dis my grootste glas-kosbak. Ek sê maar net. Die res van die dag help elke persoon homself aan koue vleis en slaaie soos wat die gier hom beetpak. Nuwejaarsdag word daar gewoonlik vleisgebraai.

Dis dan ook presies wat ons beplan vir hierdie jaar. Ons gaan nie weg met vakansie en ry nie rond oor hierdie tydperk nie. Mits dit ‘n lekker dag is, sal ons dalk ‘n bietjie tyd op die strand deurbring, andersins sal dit kosmaak, eet en rondlê voor die televisie wees.


Om die inskrywings van verskillende bloggers in Lê-Jou-Eier te geniet of om self ‘n eier te kom lê wat ons kan uitbroei en grootmaak, klik op die paddatjie of die InLinkz skakel net daaronder:

http://www.inlinkz.com/new/view.php?id=752602

Vir die reëls van hierdie eier-boerdery, om raad te kry oor hoe om deel te neem en om elke week se aankondiging van die nuwe onderwerp te sien, besoek die volgende skakel by Dis Ekke. Onder hierdie kategorie, kyk na die blogposte Lê-Jou-Eier: Reëls (2017-08-22) en Lê-Jou-Eier: Hoe neem ek deel? (2017-08-22).

Follow Dis Ekke

Please find information about the coronavirus here SA Coronavirus South African Resource Portal

38 Comments

  1. Storieklong

    Nee!!! Asseblief nie weer trifle nie. Ek belowe ek sal soet wees. Ek sal enigiets doen.

    • Comment by post author

      Hester Ley Nel

      Nou wat is verkeerd met die moer-by poeding?

      • Storieklong

        Ek het oordoseer in my grootwordjare, en net soos Brusselse spruite vermy ek dit waar ek kan. Daardie tekstuur van koek en jellie en vrugte laat my gril tot in my tone

  2. It looks definitely delicious!

  3. Ek sit en drool oor die poeding!!!

  4. Janee my bek water ook…

    • Ek wil ook trifle hê.
      Hester ek kannie op ‘n ander plek kommentaar lewer nie…. dit wil my nie laat tik nie. Miskien is ek net te moeg…. sal weer kyk na my middagslapie.

      • Comment by post author

        Hester Ley Nel

        Dis omdat jy die eerste kommentaar op hierdie site as “Kameeltjie” gedoen het. Ek dink as jy my unfollow en dan weer follow, behoort dit reg te kom.

    • Comment by post author

      Hester Ley Nel

      Te soet. Ek is ‘n salty crack persoon. Soms bak ek sommer my eie kraakbeskuitjies om dit saam met sop te eet, maar ek is nie altyd so fluks nie.

  5. Ek love trifle, veral die met baie brandewyn of sjerrie in. On 2nd thought – skrap die koek en jellie en gee maar net die sjerrie en pekanneute

  6. Wat leuk om te proberen jouw afrikaans te begrijpen. Ik moet nog een beetje oefenen en oh ja…trifle is geloof ik niet aan mij besteed, zoals de meeste zoete spijsen niet 😀

  7. Hester – Ek kan nie my comment sien nie, is ek verban na die spam toe?

  8. Ek het ‘n grootouma gehad, war gesê het, dat oor die Kersseisoen, kan ons maar koek vir ontbyt geniet. Lekker koekstruif!!

  9. Ek kan nie met Storieklong saamstem nie. Ek is oon nie ‘n soetttand nie maar Trifle is spesiaal – ook ‘n tradisie maar ek hou van die kombinasie en koop die ook op bazaars waar moontlik. Maar bazaar trifle is koekstruif lite. Op Kersfees word moeite gedoen.

    • Comment by post author

      Hester Ley Nel

      Ja, my een seun is ‘n chef en hy het altyd gesorg dat daar vir hom tuisgemaakte koekstruif gebêre word as hy op Kersdag moes werk, want die tuisgemaakte een het meer om die lyf 😄

  10. Ek is in 😊 Onthou ek soek die laaste leksels van die trifle bak!!!

    • Comment by post author

      Hester Ley Nel

      Jip, ons moet die laaste krummeltjie uitlek – dis die moeite werd. Ek is bly jy is nou weer hier; ek was baie bekommerd dat al my followers skielik gaan verdwyn, maar die oordrag was bo verwagting suksesvol.

  11. Ook bly om te sien dat die migrasie na jou nuwe domein suksesvol was. Sien ook dat op die Reader jou stats nou verdwyn het. (hoeveelheid likes en kommentare van die posts wat op die ou domein was.

    • Comment by post author

      Hester Ley Nel

      Ja, dit sal weg wees en nooit weer terugkom nie 😭 maar ek het gelukkig ‘n goeie volger-basis wat saamgekom het en ons sal gou-gou weer spoed optel. Hier het ek meer vryheid om uit te brei en my eie SEO te versorg. Ek kruip nou oor elke pos (amper 300) om te kyk vir foute.

  12. Sug… as mens darem by die see bly, is dit heeljaar Kersfees

    • Comment by post author

      Hester Ley Nel

      As mens by die see bly, reën dit elke dag op jou parade of die wind waai jou in ‘n nuwe bloedgroep in, of jy krepeer van die koue. Hierdie slegte weer kom al saam met ons van Meimaand af en ek ly aan vrotpootjie, maar ek voel skuldig wanneer ek kla, want ek weet daar is baie plekke wat sal bid vir 100ste van ons reën.

  13. Tog te lekker!

    Tradisie!
    Ons het ons Suid Afrikaanse maniere saam gebring Ierland toe! Ons het ook altyd die kos gemaak op die 24ste. Ek het die boude gebraai en dan het ons Kersdag onder die bome gesit en vreet! Die laaste paar jaar voor ons hierna toe gekom het sou ons laat middag at see toe, met twee borde kos vie die strand wagte wat heel dag daar gesit het!
    Ek braai nou nog elke Kersdag! Bittir koue kan nie tradisie troef nie! Ons doen nie kalkoen nie!
    Gewoontlik twee lamsboude (sukkel om skaap te kry) en ‘n lekker groot varkbout!
    Ek bery gewoontlik al die grounte, gebak in die oond.
    Vir poedding maak ons vrugteslaai! En room/ roomys!
    Ons dink dit gaan hierdie jaar nat wees toe gaan koop ons gister ‘n party tent!
    Vleis is bestel, en my bek begin al water! Ons het die jaar skaap gevind… wel, ons slagter het! My bek water!!

    https://ouchmybackhurts.wordpress.com/2011/12/24/busy-days-and-christmas-traditions/

    • Comment by post author

      Hester Ley Nel

      Ag dit klink te heerlik. Jy het vergeet om die wyn te noem! Ons kry ook nie ordentlike skaapboude hier rond nie – die vleis is so maer, dit lyk of die skaap gevrek het van die honger.

      • Die wyn! Ja… hoe kon ek vergeet het? Dom-onosel! Ek het spesiale wyn die jaar. Ek het 3 bottels Pinotage/ Blackberry wyn gemaak! Die bottels “mature” nou al ‘n paar maande! Ek gaan lekker op my oor rondloop… in my party tent!! 😉

        • Comment by post author

          Hester Ley Nel

          Haha, ons soek fotos nè? Jou eie wyn, hmmm – jy is ‘n man van vele talente.

        • Daar sal fotos wees… tot omtrent agt in die aand! Dan is ek moeg, vrek moeg!! 😉
          Dit was ‘n eenvoudinge resep wat ek op die i-net gekry het… ek het net gesorg ek gebruik Pinotage… hoe anders? 🥂🤪😂

        • Comment by post author

          Hester Ley Nel

          Ek vat jou woord daarvoor. Met die kennis wat ek van wyn het (zilch tot zero) kan ek ‘n nuwe wyn-handboek skryf.