My vreugdes en frustrasies

My eiers

Jy leef net een keer – dans ! dans!

Dans - Dirty Dancing party scene

Ek het grootgeword in ‘n omgewing waar dans as gròòt sonde beskou is, gewaagd, naam-weggooi onsindelik, ‘n duiwelse tydverdryf. Boonop het ek getrou met ‘n man wat net sy been sou hoog opskop as daar ‘n rugbybal betrokke was; dans was nie vir hom nie. Geen wonder dus dat ek tot nou toe nog nooit die vreugde van ‘n lekker loslit dans ervaar het nie.

Ek droom daaroor om net een keer in my lewe te dans totdat die sweet my afstroom, totdat my spiere seer is, totdat my asem blaas soos ‘n stoomtrein, totdat ek bly lê van moegheid en opgetel moet word. Ek wil ook nie net gewoonweg dans nie, nee ek wil my oorgee aan ‘n dansorgie, verval in ‘n euforie waar daar geen ag geslaan word op die alledaagse lewe nie, waar die tyd gaan stilstaan solank as wat die musiek aanhou met speel.

Diegene wat die fliek Dirty Dancing gesien het (ek dink ek ken elke toneel daarin so goed dat ek al die rolle kan vertolk) sal onthou van die toneel waar Baby met ‘n waatlemoen in haar arms by die personeel se partytjie inloop. Haar 17-jarige mondjie het oopgehang toe sy die eerste keer sulke wulpse, uitspattige, meevoerende dansbewings gesien het. My 66-jarige bek hang nog elke keer oop en ek kwyl my bors nat as ek na daardie spesifieke snit kyk.

Dìt is die soort dans wat ek wil dans. Net vir daardie paar minute wil ek ook ‘n Patrick Swayze voor (en agter en rondom my) hê. Ek wil wieg saam met sy ritmiese bewegings, my lyf laat sus op sy heup, teen hom uitklim soos ‘n klein katjie teen ‘n skurwe boomstam. Ek wil in die rondte gedraai en geswaai word totdat ek lighoofdig word. Dan wil ek soos ‘n slang teen hom afseil en my lyf om hom kronkel soos ‘n koesister wat eers later, heelwat later en met groot moeite, losgeknoop kan word.

Die musiek moet meeslepend, oorweldigend en oordonderend ritme hou met my polsslag, totdat ek doof word vir alles om my en my ledemate ‘n lewe van hulle eie aanneem. My lyf moet so lig en vloeibaar raak dat ek deur die gleuwe van die plankvloer kan seil of bo teen die plafon kan hang sonder hoogtevrees. Ek wil in daardie oomblikke bly vir ‘n baie lang tyd.

Ja, en wanneer ek nou klaar gedans het, kan iemand asseblief ‘n ortopeed en ‘n kardioloog bel? Gee sommer daar ‘n paar bloeddrukpille ook aan.

Hierdie een was geïnspireer deur Lewies se inskrywing vir hierdie onderwerp – rip roaring stuff! – dis waaroor ons moet droom.


Om die inskrywings van verskillende bloggers in Lê-Jou-Eier te geniet of om self ‘n eier te kom lê wat ons kan uitbroei en grootmaak, klik op die paddatjie of die InLinkz skakel net daaronder:

http://www.inlinkz.com/new/view.php?id=751225

Vir die reëls van hierdie eier-boerdery, om raad te kry oor hoe om deel te neem en om elke week se aankondiging van die nuwe onderwerp te sien, besoek die volgende skakel by Dis Ekke. Onder hierdie kategorie, kyk na die blogposte Lê-Jou-Eier: Reëls (2017-08-22) en Lê-Jou-Eier: Hoe neem ek deel? (2017-08-22).

Follow Dis Ekke

Please find information about the coronavirus here SA Coronavirus South African Resource Portal

50 Comments

  1. Ag heerlik! Die uwe was ‘n langarm-voordanser op haar dag.

  2. 😆

    hulle sal my met ‘n helikopter met evac na so sessie hoor. En dalk ‘n paar skokke toedien ook.

    Kyk nê, ek sal wat gee om met Patrick Swayze te kan dans, ek sal hom tot uit die water lig as ek moet. Ek sweer ek ken elke liewe woord, oogtrek en asemsnak in daai fliek. Ek was in st1 toe my ma-hulle dit gekyk het, ek moes natuurlik buite gaan speel.

  3. Hier staan ek nou op aandag en salueer jou, Hester! En ek gaan sommer bly staan terwyl ek wag dat die liedjie kliphard begin speel, hy is nommer twee op my foon se playlist… Dan gaan ek ñ paar ‘moves’ hier agter die toonbank uitvoer met my toe oë… Ek ken ook elke liewe beweging van spesifiek daardie liedjie.

  4. Ag nee, my hart huil vir jou, juis omdat ek net so baie van dans hou.
    As studente het ons in die middestad van Pretoria by Topaz gaan dans, as jy voor 20:00 ingegaan het was dit gratis ons het gewoonlik so 2:30 weer daar uitgestap en gedans dat die tone seer is, amper geen plaat uitgesit nie, lekker houtvloere. Dit het 2 maal n week gebeur

    Toe trou troue ek X het meer gehou van n dans met n “dop”

    Na die egskeiding ek en n vriendin is in dieselfde jaar geskei en die dans het weer begin, die keer was dit Presleys in Pretoria, ons sou so 20:30 daar aankom en 5:00 die volgende oggend weer daar ry, weer word daar nie uitgesit nie, dans word gedans al is dit losdans… dan word daar gestop vir n garage pie en dan word die 75km huistoe aangedurf, gewoonlik by die huis gekom, gebad en geslaap, totdat die kids se pa’s hulle weer 14:00 afgelaai het. Heng nee, my voete hou van dans. Dit maak my kop skoon.

  5. Jy is nooit te oud om danslesse te neem nie Hester!!!!
    Ek is lief vir dans en het ure der ure op ‘n dansbaan deurgebring. Toe ek een aand dood moeg by my baas se voete neerplof na ure op die dansbaan, sit hy sy hand op my kop en sê so ewe; “A party is not a party without you girl, you are the life of the party” Een aand by ‘n night club in Durban dans ek en Ken ons harte uit…. toe ons weer sien is ons twee alleen op die dansbaan en die res staan as toeskouers en toekyk. Ai, jy het my nou aan die dink.

    • Comment by post author

      Ai, hoe romanties. Nee wat, ek glo nie ek kan nog danslesse ook inpas in my kort dae nie en buitendien, ek glo dis iets wat jy in jou jongdae moet aanleer – soos om te leer klavier speel. Maar ek kan droom.

      • Jy moet net vir jou ‘n ander ridder kry. Patrick is nie meer met ons nie!!! My favourite bly maar Elvis…. al is hy ook weg 🙁

        • Comment by post author

          Ek het nog niemand anders raakgesien wat so kan wikkel nie *sug*

        • Lyk my jou wilde dans en my wilde brander wat ek nog net eenkeer wil uitry strand toe gaan net drome bly. “SUG”

        • Comment by post author

          Wel, dis mooi drome. Ek sal ook nie op ‘n branderplank klim nie – my ego sal moer seer wees as ek val. Wat van ‘n body board? Kry twee lifeguards om saam te swem.

        • Hester ek gesels sommer so vinnig hier. Het nou kliphard gelag oor ons kommentare op Abrie se blog. Indien dit in dieselfde volgorde is as hier by my gaan lees dit gerus tot waar jy sê dit pas goed by die tema Abrie. Miskien is dit net my sin vir humor… maar ek het dit nou geniet.

        • Comment by post author

          Haha, jy’s reg, dit is snaaks. Dit gebeur knaend met my dat ek sommer op ‘n ander persoon se blog by die kommentare inspring en saamgesels. Nou het WP nog die mode om die goed so snaaks te sorteer ook 😀

  6. You could have been writing about me! I echo your thoughts exactly.

  7. You go girl <3

  8. Oeee maar jy miet dans! Sit daai video op en dans saam!
    Ek en my man het baie gedans in ons kewe, maar helaas, nie heeltemal soos jy hierbo beskryf nie. Laat tannie Toortsie nou vir jou sê, dans is nie sonde nie! Daar is darem seker wel ‘n bietjie perke aan, maar komaan, dans en geniet dit.

  9. I love your energy and your sense of humor. It’s not too late to experience the joy of dance. Just make sure a defibrillator is close by! 😀

    Enjoyed your post. 🙂

  10. Sjoe! hyg ek terwyl ek die sweet van my voorkop afvee. Dis mos dans! Die uwe is gebore met twee linkervoete, en skuifel-skuifel maar noodgedwonge saam as dit moet.

  11. Sjoe Hester my ore het rooi geword toe die katjie klim en die slang seil. Dit wil so al voorkom of jy talent vir ‘n hygroman het.
    Dans deur die lewe

  12. Ek droom nog altyd om ń tango te kan dans. Helaas het jy n dansmaat nodig en myse man is nou nie daai ene nie. Nee wat, kom ons maak soos “Greys anatomy” se meisies en dans wild op ons eie. Sommer so uit die sorge en dinge uit.

  13. Genade mensdom, my asem jaag soos ek dit geniet het om saam met jou te dans. Selfs die kommentare is opwindend genoeg om n ekstra episode te gee. Ek is ook nie n groot danser gewees nie. My swaer was n doring as dit by dans gekom het. Ou jaars aand dans het ek altyd saam met my suster en swaer gegaan. Ou swaer het beurte met my en my suster gemaak. Hy was n groot drinker en na mate die voggies gewerk het het sy bewegings al meer wilder geraak. Lekker ou danse!

  14. Ek dink nie daar is iets meer bevrydend as dans nie. En as dit saam met iemand is wat kan, ai. Die nuwe liefde doen nie eintlik die dans ding nie, maar gee darem nie om as ekke dans nie. Kan net nie die katjie-klim of slang-seil doen nie, glo nie hy gaan dit geniet nie. Die lewe is te kort om nie te dans nie