Dis Ekke

My vreugdes en frustrasies

My eiers

Lê-Jou-Eier: As jy bang is vir spoke

Image by http://clipart-library.com

Vir hierdie week se Lê-Jou-Eier uitdaging moet ons ‘n spookstorie vertel. Nou wag, laat ek my regskuif vir hierdie een. Dis ‘n ware storie oor spoke, niks aangedik nie, niks bygelieg nie.

Verlede maand het ek by my tweede oudste broer en sy vrou aangedoen vir ‘n vinnige kuiertjie. Hy is ses jaar ouer as ek en sou loshande kon wegloop met ‘n medalje vir “die klein sussie se grootste nagmerrie op aarde”. Hy het my al my hel gegee in ons kinderdae en elke oomblik daarvan geniet.

Ons was ‘n groot gesin (ek was die laatlam) en my pa het ‘n groot huis gebou om ons amal te huisves. Ons het ook ‘n voortdurende toeloop van kuiergaste gehad, gewoonlik besoekende predikers en gemeentelede vanuit die distrik, wat tot gevolg gehad het dat ons kinders heel dikwels ons kamers moes afstaan vir die duur van die kuier. Daar is dan vir ons afgeskorte slaapplekke gemaak op die toegeboude sonstoep wat jy slegs kon bereik as jy deur een van die twee groot slaapkamers aan die regterkant van die gang geloop het.

My ouma en oupa het in Desember 1957 by ons kom kuier. My ouma het onverwags siek geword en kort daarna by ons aan huis gesterf. Soos wat die gebruik in daardie dae op klein dorpies was, is ouma uitgelê in haar kis in een van die slaapkamers. My oupa het by ons aangebly na haar dood, totdat hy ook twee jaar later oorlede is en volgens gebruik in sy kis uitgelê is in een van die ander kamers. Dit was my eerste direkte kennismaking of bewuswording van die dood en die finaliteit daarvan. Ek was onderskeidelik ses en agt jaar oud op daardie stadium.

Na ouma en oupa se dood het my broer natuurlik groot genot daaruit geput om my te vertel hoe dit in ons huis spook, veral in die twee slaapkamers en die aangrensende gang. Die spookstories het my werklik bang gemaak.

Nie lank na oupa se dood nie, het ons gedurende ‘n Desembervakansie weer ‘n huis vol kuiergaste ontvang. Oujaarsaand het die grootmense die middernagdiens gaan bywoon (my pa was die hoofouderling), maar ons klompie kinders het by die huis gebly. My broers het vroegaand reeds beplan om wakker te bly en die nuwejaar in te sien. Tot my verbasing en blydskap is ek ook toegelaat om wakker te bly en te deel in die vreugde. Ek was gewoonlik nie ingesluit by hulle doenighede nie en het by hierdie geleentheid sô bevoorreg gevoel. Ek moes van beter geweet het.

Ons het soos gewoonlik in die kombuis rondom die groot tafel gekuier. Die kombuis was aan die einde van die einste lang, donker gang waar die slaapkamers was. Dit het egter nie saak gemaak nie, want die kombuis was helder verlig en die geselskap vriendelik … totdat die groter kinders begin spookstories vertel het.

“Ja”, vertel my martelaar met groot smaak, “julle weet mos dat ons ouma hier in die huis dood is op ‘n oujaarsaand. Nouja, dis die rede hoekom al die portrette van ons voorgeslagte van die mure afval wanneer die klok twaalfuur slaan op ‘n oujaarsaand. Wag net ‘n bietjie, dan sal julle sien.”

Ek kon voel hoe die spoeg in my mond droog word soos stof en my blaas het so bietjies-bietjies begin … afblaas, maar die badkamer was aan die ander kant van die donker gang en ek het net daar bly sit, versteend van vrees. Ons het nog daar gesit en die spookstorie oordink toe die horlosie twaalfuur geslaan het. Die volgende oomblik hoor ons ‘n helse slag en die geluid van brekende glas van die gang se kant af. My eerste gedagte was dat my broer weer besig was om my ‘n poets te bak, maar toe ek so rondom die tafel kyk, sien ek my broers sit ook daar soos soutpilare, doodsbleek en met starende oë. Toe verloor ek algehele beheer oor my emosies en my blaas. Ek was in so ‘n toestand dat my oudste broer my skoon aangetrek het en met my op sy rug, volspoed deur die dorp gehardloop het tot by die kerk op die oorkantste heuwel.

Ek kan nie onthou watter een van die voorsate so ontydig besluit het om van die muur af te val nie, maar ek onthou die skrobering wat ons gekry het omdat ons dit gewaag het om oor sulke “nonsens” die kerkdiens te onderbreek. My ma was veral ontsteld omdat ons dit gewaag het om “met die dood te spot” en ek, die slagoffer in die saak, het ook nie die straf vrygespring nie. Ek onthou ook dat ons almal, my brawe broer inkluis, nà daardie aand maar taamlik lugtig was om alleen in die gang rond te sluip na donker. (Ek het jare agterna eers uitgevind hy het boonop gelieg oor die tydstip waarop my ouma dood is.)

Dit was egter nie die einde van die storie nie. Ek het vir baie lank nà hierdie episode nog vreeslik nagmerries gekry en het soms die helfte van die nag regop gesit, heeltemal te bang om te slaap.

Een nag het ek sulke nagmerries gehad dat ek myself nie kon help nie, ek moes eenvoudig ‘n slaapmaatjie soek om die nare drome hok te slaan. By my ouers se slaapkamer het ek nie durf aanklop vir hulp nie en die naaste slaapplek aan my waar ek dalk geholpe sou kon raak, was by my grootste treiteraar. Ek het dus stilletjies na sy bed toe gesluip en by die voetenend gaan lê.

Dit was winter en na ‘n rukkie het ek begin bewe van die koue, maar ek het vergeet om my komberse saam te vat en niks sou my beweeg om terug te gaan en dit te gaan haal nie. Dus het ek so stilletjies sy komberse so ‘n bietjie afgetrek na die onderkant van die bed toe. Na ‘n rukkie het ek gevoel hoe trek hy weer die komberse op. Dit sou nie deug nie, want nou het ek regtig begin koud kry en ek het net gewag tot ek gedink hy slaap weer, toe trek ek weer die komberse so stadig af na my kant toe. En hy pluk dit terug. En ek trek dit geduldig weer af. Die volgende oomblik het hy met ‘n paar gedempte kragwoorde uit die bed gespring en die lig aangeskakel. Ons was alweer in die moeilikheid.

Baie jare daarna, net na ons ma se dood, het my broer tydens een van ons kuiers met geur en kleur vertel van die aand toe die “spook” hom in sy bed besoek het. Toe, vir die eerste keer, het hy erken hoe bang hy daardie nag was en hoe die bloed amper in sy are gestol het elke keer as hy gevoel het hoe sy komberse afgetrek word. Dit was vir my ‘n openbaring om te besef dat hy as kind maar met dieselfde vrese as ek saamgeleef het. Ons het heerlik gelag, want gelukkig is ons darem nou verby die stadium waar ons bang is vir spoke, maar ek kon nie help om met groot lekkerkry te glimlag oor die feit dat ek hom dalk ook so ‘n bietjie emosionele pyn besorg het nie. Net so ‘n bietjie terugbetaling vir al die treitering.


Om die inskrywings van verskillende bloggers in Lê-Jou-Eier te geniet of om self ‘n eier te kom lê wat ons kan uitbroei en grootmaak, klik op die volgende InLinkz skakel:

Vir die reëls van hierdie eier-boerdery, om raad te kry oor hoe om deel te neem en om elke week se aankondiging van die nuwe onderwerp te sien, besoek die volgende skakel by Dis Ekke. Onder hierdie kategorie, kyk na die blogposte Lê-Jou-Eier: Reëls (2017-08-22) en Lê-Jou-Eier: Hoe neem ek deel? (2017-08-22).

Follow Dis Ekke

38 Comments

  1. Moer… nou’t ek lekker gehuil van die lag… of, het ek gelag van die huil?? Dankie!! Dis so lekker vertel dat ek amper nie eers gesukkel het met die lees nie!! 😉

  2. Fantastic – WHAT a laugh!

  3. 🙂 🙂
    So jou broer het ook die donker Afrikaans ding gedoen.
    Ek onthou hoe ek altyd as ek in die lang donker gang terug vanaf die toilet na my bed gestap het hoe ek my verbeel het dat mense my volg of wil skiet of vang. Dan harloop ek die laaste paar tree en as ek onder die komberse was was ek veilig. Wat sou ek gedoen het as die komberse – my veiligheid – van my afgeklim het!

  4. O toggie, dit het ek nou geniet! Ek is bly jy het hom darem ook bietjie laat voel hoe spookstories met mens maak. Ek kannie ophou lag nie.

    • Dankie Scrapy. Ja, ons lag ook deesdae daaroor, maar in ons kinderdae was dit VREES met hoofletters.

      • Dit is, mens kon so maklik opgesweep raak deur daardie grootpraters. Hul het ook presies geweet wanner die tyd reg is om spookstories te vertel.

        • O ja. Deesdae se kinders met hulle televisie en fliek kennis, lig nie eens ;n wenkbrou as hulle van spoke hoor nie. Vir ons was dit iets vreesliks.

        • Dis dieselfde met grillerige flieks. Vandag se kinders geniet dit hoe slymeriger hoe beter vir hulle.

        • Ek is ook nie mal oor slym en bloed nie.

        • Gril sommer as ek daaraan dink. Hul het juis n slymerige ding wat kinders self maak en elke tweede een het n hand vol daarvan by die skool op oomblik!

  5. Janee, boetie, kry vir jou! Foeitog, Hester, jy het omtrent les opgesê! Ek sien hoe jy deur die dorpstrate kerk toe geabba word…

    • Ja, ag siestog Frannie, my oudste boetie was presies die teenoorgestelde van die ander. Hy het so ‘n sagte hart gehad en hy het altyd mooi met my gewerk. Hy was nege jaar ouer as ek en het net soos my pa gelyk. Hy is in 2000 oorlede aan kanker na ‘n uitgerekte lyding en ek verlang …

  6. Haha! ja nee, karma is ‘n bleksim!

    • Sibbe kan ‘n euwel wees in jou kindertyd. Snaaks, deesdae kom ek en hy goed oor die weg en hy is die enigste in die familie wat ek nog mee kontak het.

      • G’n sibbe gehad nie, alleenkind gewees. 🙁

        • Dit moes rustig gewees het. Ek was van standerd ses af ook die enigste kind in die huis en dit was voorwaar ‘n seëning.

  7. Lekker het ek nou jou spookstorie geniet!

  8. Boetie of te nie, dit klink of jy in ‘n lekker familie grootgeword het. Dit was nou ‘n lekker storie!!!

    • Uhm, nee, Kameel, ongelukkig was dit nie ‘n gelukkige familie nie. Hierdie broer is die enigste met wie ek regtig kontak het. Ek is so dankbaar dat my drie kinders so geheg is aan mekaar en goeie vriende gebly het.

      • Jammer om dit te hoor Hester. Dit is vir my ook belangrik dat die klomp van my in vrede saamleef…. wat nie aldag gebeur nie. Jou storie het my nou aan my rooi skildery laat dink. Gaan dit sommer weer plaas. Skyn die son al op jou?

        • Ons het gister en vanoggend die mees fantastiese weer gehad (en goed gebruik gemaak daarvan!), maar die wolke begin nou weer saam trek.

  9. Dis nou ‘n lekker storie!

  10. My oë makeer duidelik iets. Ek sien die hele geskriffie, maar die paddatjie sit nie daar nie. Ook nie by Kameel se storie nie.

  11. Om die inskrywings van verskillende bloggers in Lê-Jou-Eier te geniet of om self ‘n eier te kom lê wat ons kan uitbroei en grootmaak, klik op die volgende InLinkz skakel:

    Vir die reëls van hierdie eier-boerdery, om raad te kry oor hoe om deel te neem en om elke week se aankondiging van die nuwe onderwerp te sien, besoek die volgende skakel by Dis Ekke. Onder hierdie kategorie, kyk na die blogposte Lê-Jou-Eier: Reëls (2017-08-22) en Lê-Jou-Eier: Hoe neem ek deel? (2017-08-22).

  12. Ek het nou lekker gelees.

Leave a Reply

Theme by Anders Norén

Back to Top
%d bloggers like this: