Vandag is nie regtig ‘n goeie dag om hierdie blog te skryf nie, want my gemoed en my humeur harmonieer nie baie goed met die donderweer, reënbuie en onstuimige wind wat om die huis se hoeke huil nie. Dit is die derde week wat die weer ons letterlik vaskeer in die huis en nou begin my jammer-‘bersie deurskuur. Dis nou die soort ‘bersie wat jy om jou skouers hang wanneer die lewe druk en jy so ‘n heerlike jammerte vir jouself ervaar.
Die eerlike waarheid is dat daar nooit ‘n goeie dag sal wees om hierdie blog te skryf nie, want ek het soveel verkeerde besluite in my lewe geneem dat ek verkieslik nie daaraan wil terugdink nie. Sou ek graag van hierdie besluite wou verander en probeer om beter besluite te neem? Ja, maar nie op hierdie ouderdom nie. Ek wil liewer glad nie meer besluite neem as ek dit kan verhelp nie, want ek is te bang ek doen dit weer verkeerd, of die uitkoms is nog erger as die eerste keer se bôlsap.
Nou wat wil ek dan nou liewer doen?
Ek wil liewer gaan swem gedurende die hooggety wanneer die branders oor my kop slaan en ek liters soutwater sluk. Wanneer ek halfpad versuip is en iemand my lewe kom red deur my aan die hare op die sand uit te sleep, wil ek teruggaan vir nog.
Ek wil liewer kaalvoet met min (of geen) klere in die son rondloop en voel hoe my vel gloei.
Ek wil liewer met my voete in ‘n rotspoeletjie sit terwyl die klein vissies aan my tone knibbel.
Ek wil liewer buite in die tuin sit, braaivleis van die rooster af eet en luister na klipharde rock ‘n roll musiek.
Ek wil liewer op die naat van my rug lê en kyk na ‘n blou lug sonder wolke en dink oor die lekker tye wat ek beleef het, die mooi herinneringe wat ek saam met my gebring het en die goeie lewe waaraan ek nog steeds deel het.
Dit alles wil ek doen omdat ek liewer in hierdie dag wil leef en nie rondsit en wonder hoe my lewe sou verloop het as ek maar liewer … Ek wil nie sit en tob oor presies waar my lewe verkeerd geloop het, of hoe ek daarop sal kan verbeter as ek weer die kans kry, en of ek dalk dankbaar moet wees dat ek tog heel aan hierdie kant uitgekom het nie. Dis nou ‘n bietjie laat daarvoor.
Do not take life too seriously. You will never get out of it alive. Elbert Hubbard
Om die inskrywings van verskillende bloggers in Lê-Jou-Eier te geniet of om self ‘n eier te kom lê wat ons kan uitbroei en grootmaak, klik op die volgende InLinkz skakel:
Vir die reëls van hierdie eier-boerdery, om raad te kry oor hoe om deel te neem en om elke week se aankondiging van die nuwe onderwerp te sien, besoek die volgende skakel by Dis Ekke. Onder hierdie kategorie, kyk na die blogposte Lê-Jou-Eier: Reëls (2017-08-22) en Lê-Jou-Eier: Hoe neem ek deel? (2017-08-22).
Net Ek
Amen!
Jis die see klink darem so lekker.
En jou klipharde nusiek? Ons het Dinsdagaand (ek en my man) so random spur of the moment Beatles & Brandy aand gehad. En ons drink nie eers brandewyn nie 😆
HesterLeyNel
Haha, toe drink julle maar wyn?
Net Ek
Nee! Ons het brandy gedrink.
Ons het ‘n bottel brandewyn in ons huis ontdek. Super vreemd. Maar toe vat ons maar so paar ou kappies. ek blameer dit op die hitte. Dis asof die hel se deure oopgelos is hier.
HesterLeyNel
En hier bibber ons nog steeds. Die weer is my regtig oor – ek verstaan dit nie meer nie.
Net Ek
Ja en gister het dit weer begin sneeu by die Lootsberg Pas. Dis baie vreemd. ek sê juis gister vir my man, as dit so aanhou het ons een van die jare wit kersfees.
En so gepraat, ons het nie meer Lente en Herfs nie. Dis of bleddie warm, of bleddie koud. Niks tussenin.
HesterLeyNel
Dis waar.
travel460
Jou skrywe ruk aan my hart want ek ‘voel’ elke liewe woord saam met jou.
HesterLeyNel
🙂
ekmyselff
Ek hou van hoe jy dink.
HesterLeyNel
Dankie 🙂
ekmyselff
Ek hou van hoe jy dink. Ek wil ook nie dink wat as nie. Die verlede is die verlede
HesterLeyNel
Dankie. Ek dink ek is maar ‘n “coward at heart”. Dis beter om gedagtes wat my ongelukkig maak liewer net weg te vee – dis nie asof ek nou iets daaraan kan doen nie.
Kameel
Ek kan net my kop instemmend knik oor die bôlsaps, en ek wil ook weer deur die wilde branders rondgegooi word, en op die strand lê….. en en en. Nou goed ek moet erken ek het maar weer gelag vir jou koddige sêgoed. Mag jou gemoed ligter word Hester.
HesterLeyNel
Dankie Kameel, maar die sêding is: “Mag die son warm skyn en die wind ophou waai!”. Haha.
Kameel
Lekker laat jy my lag. Mag die son warm skyn en die wind ophou waai Hester. 😊
HesterLeyNel
Dankie Kameel 😊
Tannie Frannie
Myns insiens is dit baie dapper om die ongelukkige gedagtes weg te vee. Mens kan tog so lekker in die modder van “as ek maar liewer…” rondvroetel.
HesterLeyNel
Dis net … jou gedagtes spring so elke nou en dan ongevraagd in daardie rigting.
Tannie Frannie
Ag, ek weet…
perdebytjie
Ek hou van Elbert Hubbard se gesegde…dis so waar. Baie goed en vol lewenswysheid geskryf, Hester!
HesterLeyNel
Dankie Perdebytjie 🙂
trommeltjies
Hester dis my setiment ook. Soms gaan my gedagtes na “as ek maar liewer”, dan besef ek die futiliteit daarvan. Ons kan nie die verlede verander nie.
HesterLeyNel
Nee, en dis seker oor maar beter.
rondomtaliedraai
Sug…
HesterLeyNel
Ja, ek hoor jou.
Mignon
Netso Hester. Ek sê ook moenie tob oor die gisters nie, vandag is al wat saakmaak. Ek wou graag deelneem die week maar die blikbrein het die gees gegee.
HesterLeyNel
Ai tog en sonder die goed voel ‘n mens deesdae verlore. Ek is bly jy isterug op die lug.
scrapydo2.wordpress.com
Waar wat jy sê. Ek het nie lus gehad vir as ek liewers nie. Sou dit regtig anders kongewees het as….? Ek twyfel, positive thinking is beter as maybe if.
HesterLeyNel
Dis waar, hoewel ‘n mens tog maar soms wonder, nè?
scrapydo2.wordpress.com
Mens kan so maklik in n groef raak as mens gedurig aan as dit maar liewres was bly dink