My vreugdes en frustrasies

Dis Ekke

Die taalgoggatjie in my gat

Taalgoggatjie

Clipart image

Ek het die laaste paar weke heelwat tyd op Facebook spandeer. Die rede daarvoor is nou nie hier ter sprake nie, maar wel die feit dat ek tot in my diepste wese geïrriteerd is met mense se taalgebruik en spelfoute (beide Afrikaans en Engels). Die groot grap is natuurlik dat ek geen taalkenner is nie en beide tale besig op ‘n wyse wat die akademici na sooibrandpille sal laat gryp, maar ek probeer darem.

‘Darm probeer ek’ is toe presies die laaste strooitjie wat die kameel se rug gebreek het en toe skel ek verwoed op die facebooker wat nie kan spel en nie haar taal ordentlik kan praat nie. My dogter, wat teen hierdie tyd al gewoond behoort te wees aan hierdie soort tirades, het seker ook nie ‘n goeie dag gehad nie, want sy weet my te vertel (en ek haal aan):

As daardie taalgoggatjie die dag uit Ma se gat klim, sal die lewe hier rond heelwat meer relaxed wees.

Ek is nog steeds besig op Facebook, maar die lesery gaan nou baie stadig, want ek probeer om nie te gil as ek ‘n taalvergryp raaksien nie, MAAR nou kan ek nie verby die swak taal of die spelfout kom nie. Ek haak net vas soos ‘n gekrapte ou grammofoonplaat en staar na die irritasie, knyp my lippe styf toe en dink aan die taalgoggatjie. Ek kan voel hoe bou die druk op, maar ‘darm’ probeer ek.

 

Follow Dis Ekke

Please find information about the coronavirus here SA Coronavirus South African Resource Portal

62 Comments

  1. Storieklong

    My naam is Plaasie en ek op soek na werk. Ek kan enage ieds doen van sekeriteid tot lorries bastuur. My vooragge onderfunding sluid in stoorman en konstriksie. Ek kan Afrikans en Engils vlod praat en het eie virvoer.

  2. Menz raak ook anaal oor spelling op Facebook, so daar is ‘n paar goggatjies in die omtrek … 😀

  3. Jy moet my asseblief dadelik reghelp met spelfoute, Hester. Ek is nogal nie bang vir goggas nie.

  4. Haha ek is ook nie ‘n taalkenner nie en skryf ook maar lekker soos my gat partykeer. Ek belowe jou dit is erger wanneer jy op singles groepe is en almal daar kan jou post sien. Indien jy diplomaties probeer wees en iemand sê dat hulle nie kan spel nie (of partykeer nie eers logiese sinne bymekaar kan sit nie), verstaan hulle jou nie. Wanneer jy dit reguit sê dink die res jy is ‘n biatch. No win. So nou knoop jy jou vingers inmekaar en sê liewers niks, kners op jou tande en scroll verby. Dis erg

  5. Kielie, kielie – jy laat my lag, ek dink dit is oor die tyd van die jaar dat die taalpuris in jou aan die gil gaan – almal van ons se nerwe is mos maar redelik dun geskaaf, danksy verskillende eksterne faktore waaroor ons geen beheer het nie! Ek hoop my spelling is 10/10 ek was nou gefokus daarop 😉

    • Comment by post author

      Nee weet jy, ek het gisteroggend my belasting-verklaring ingedien en SARS se webtuiste wil mos niks weet van Chrome nie (of andersom). Ek het my byna doodgesukkel voordat ek Internet Explorer probeer het en onmiddellik reggekom het. Wie werk nog op IE vra ek jou met trane in my blou oë? In elk geval, dis net daarna wat ek en facebook toe deurmekaar geraak het, so ek was ietwat gatvol nog voordat ek begin lees het.

      • Verstaanbaar, ek het nou net so gesukkel met my kantoor se “uif” vir Okt 2017 en laasweek met die EMP 501. “MORAL OF THE STORY – lees niks nadat jy gefrustreerd is met ons regering se sisteme 😉😉😉🤗

  6. chillax vir my sou my en raak vir my rustig – dit is wat my jongste vir jou sou se…
    Moet se as dit hier een en daar een is iriteer dit my nie so nie maar as dit heeltyd DIESELFDE iemand is raak ek ook geiriteerd.

    • Comment by post author

      Juis. En dis gewoonlik die mense wat die meeste te sê het en sommer ook die minste weet van die onderwerp waaroor hulle so driftig raak.

      • Skies ek het van die selfoon af gestuur ek wou se my jongste sou vir jou SO gese het.

        • Comment by post author

          Oef, dis nou een rede waarom ek nie selfone gebruik nie behalwe in noodgevalle (daai klein sleuteltjies), maar ek het darem verstaan wat jy wou sê en dis wat belangrik is. Kinders het deesdae pittige sêgoed – as ek darem dekades terug voor my ma gepraat het oor haar gat-goggatjie, sou ek by die dood omgedraai het.

        • Ja nee, ons is gesien maar nie gehoor – ek se gereeld vir haar: “Jy is n regte muisdrol in die peper” Sy se dit nou al vir ander kinders as ek my oe trek vir hulle ongevraagde opinies.

        • Comment by post author

          Haha, ek moet daai uitdrukking opskryf op my lys van Afrikaanse sêgoed!

        • Deel bietjie daar jou lys met ons. Sal oulik wees.

        • Comment by post author

          Dis ‘n Excel spreadsheet (2013) van die Stigting vir Bemagtiging van Afrikaans. Jy kan dit aflaai by hierdie skakel sbafrikaans.co.za/wp-content/uploads/2015/06/Idiome-SBA-webtuiste-1.xlsx

  7. My troeteltreiter (pet hate) is die sg Tante Betje steil : Bv Dit is so pragtig hier in Italie en gaan ons sommer lekker kuier.

    🙂

    • Comment by post author

      Dit klink goor ja, maar verduidelik vir Tant Betje – ek ken haar nie?

      • Het die “steil” by jou verby gegli of is jy net te ordentlik om my daarop te wys?
        DieTante Betje styl (sic!) kom in Nederlands voor en het na Afrikaans migreer. Gerrie Pretorius wat die TV -program Leef jou Reis aanbied is nogal skuldig daaraan.

        • Comment by post author

          Ek het gou eers gaan google oor die “tantebetjeconstructie”. Dis ‘n interessante webtuiste daardie; ek moet meer gaan kuier. Nee man, hoekom sal ek nou stert swaai as jy ‘n spelfout het? Weet jy hoeveel keer kom ek op foute af as ek my ou blogs lees? Taalgebruik pla my net as dit galsterig is soos ou botter.

        • Dit was doelbewus! Ek gaan ook nou die tante google.

  8. Ek het nogal gewonder hoekom is my rug seer vandag.
    My grootste frustasie is dat ek so goed kon spel… en nou kort-kort moet kyk hoe ‘n woord gespel word. Partykeer is ek net nie lus nie, en laat dit maar verbygaan. Ek stem daar is mense aan wie se spelling ek my verwonder. Darm is dit nog leesbaar 🙂

    • Comment by post author

      : D Chrome het spellyste beskikbaar in Afrikaans en Engels. Ek het nog nie sover gekom om die Afrikaanse een af te laai nie, maar gebruik lankal reeds Grammarly vir Engels.

      • Ek dink my laptop…. of laat ek skootrekenaar sê, het die Engelse een. Dit verander gedurig van die Afrikaanse woorde na Engels toe. Skryf oor Afrikaans het my nou tot meer bewus gemaak van my taalgebruik.

  9. Hehehe … lekker gelees veral aan die kommentaar.

  10. Doen maar my bes om die foute mis te kyk, want anders was ek lankal van my verstand af.

  11. Die spel goggas loop in oormaat by die jongmense. Klein maklike woorde word totaal verkeerd gespel. Bv breek en breuk.
    Ek dink nie daar word meer spelling toetse geskryf nie.
    Verskoon my foute, ek is nogsteeds aangewese op my selfoon, dis al waar my blog wereld werk. Het jou link al probeer Hester, maar kom nie reg nie.

    • Comment by post author

      Ek het al vergeet om te vra – het jy toe met WordPress Support gepraat oor jou probleem? Ek het vir jou die skakel waar jy probleme moet aanmeld per e-mail gestuur, ‘n hele rukkie gelede al. As hulle nie kan help nie, sou ek voorstel dat jy ‘n tweede blog oopmaak en die eerste een se blogs “import”. Ek het dit ook al gedoen met een van myne.

  12. Die redaksie van die WAT, Woordeboek van die Afrikaanse Taal, nader my gereeld en vra of ek die nuutskeppinge wat veral my kommentare hoogty vier, wil borg. Realiteit is my tikwerk laat veel te wense oor en by die blogs self lees ek dikwels wat daar moet staan as ek dit oorlees en nie wat wel daar staan en bly die tikfoute en spelfoute ongestoord. In hierdie kommentaar het ek verskeie tikfoute reggemaak. Ek het ongelukkig nooit geleer om na die skerm te kyk wanneer ek tik nie en staar na die sleutelbord.

    • Comment by post author

      Haha, dis my probleem ook – die tikwerk. Ek tik my hele lewe lank net met een vinger (taamlik vinnig, hoor?), maar sien eers agterna wat op die skerm aangaan. Ek lees altyd alles deur voordat ek publiseer, maar ‘n mens sien mos nie jou eie foute raak nie!

  13. En helaas is daar steeds ‘n taalfout hierbo. Ek is natuurlik ‘n professionele fout raaksiener die oomblik wat die send knoppie gedruk word, ook by werk (in my kommentare)

    • Comment by post author

      Jy moet verstaan dat ek nie soseer kla oor ‘n ou foutjie hier en daar nie; dis immers menslik. Ek spreek my uit teen die onafgebroke verkragting van die taal wat eintlik wetlik strafbaar behoort wees.