My vreugdes en frustrasies

Dis Ekke

#BlackMonday #SwartMaandag

Unhappy face

Wat hier volg is my persoonlike opinie en as jy nie daarvan hou dat ander mense ook opinies het nie, hou net verby.

Ek moet eerlik wees en erken dat vandag se proteste teen plaasmoorde my met onrustigheid gevul het. Aan die een kant stem ek 100% persent daarmee saam dat “genoeg nou genoeg is” en dat die regering moet wakker word en aksie neem in verband met hierdie situasie. Aan die ander kant is ek bevrees dat die proteste vandag nog meer tweespalt en rassewoede in die land kon veroorsaak het.

Hoekom sê ek so? Ek hou al heeldag die sosiale media dop en sien die reaksies op die fotos en ek lees wat die gewone burgers sê. En moenie vir my vertel dat Faceboek en Twitter (plus ‘n menigste ander platforms) van geen belang is in hierdie hele debakel nie. Sodiale media is hedendaags sekerlik een van die magtigste wapens in die wêreld – vra maar die Trump-regering.

Sommige mense het heeltemal tereg gevra of die proteste, behalwe vir die plaasmoorde op wit boere, ook geweld en misdaad teenoor ander persone insluit, byvoorbeeld swart boere, plaaswerkers, inwoners van voorstede, swart dorpsgebiede en informele nedersettings. Wat van geweld teen vroue en kinders vra ‘n ander?

Daar was oor en weer versekerings dat die protes alle soorte geweld en misdaad insluit, maar kyk byvoorbeeld na die bewoording van die memorandum wat aan die Midvaal Burgemeester oorhandig is: dit verwys slegs na die veiligheid van blankes. In reaksie hierop sien en lees ek opinies en beskuldigings wat rondgeslinger word en wat by die minuut meer beledigend, aftakelend en dreigend word. Die een party wil nou meer spiteful as die ander wees en gifspoeg is aan die orde van die dag. Van my voorstoep af lyk dit soos ‘n bom wat dreig om te ontplof.

Die een ding wat my behoorlik irriteer, soos gewoonlik, is die verregses met hulle “oorlog”-praatjies. Mense, oorloë word lankal nie meer op ‘n slagveld beslis met manne wat gewere, kanonne en bajonette (of assegaaie) ronddra nie. Met wat wil julle in elk geval oorlog maak? Die oorgrote meerderheid burgers besit nie eens meer wapens nie. Die beste wat ek kan aanbied is om iemand met vrot tamaties te gooi of in koesisterstroop te versmoor. Sò mors ek nie met kos nie en oorlogvoering is nie my gunsteling tydverdyf nie.

Vergeet ook maar die idee dat Amerika of Europa sal intree en (wat doen?) as ons hard genoeg skreeu en lawaai. Daar is niks in hierdie land wat hulle interesseer nie – geen goud, diamante of olie wat hulle beskermingswaardig ag nie. Hier is ons op onsself en op mekaar aangewese en hiermee bedoel ek die mense van die land – ons regering het geen belang by enigiets anders as om hulle eie sakke te vul nie.

Ek sê nie dat die proteste nie moes plaasgevind het nie; dit het beslis die doel bereik om aandag te vestig op die probleem, hoewel die persoon wat nog nie bewus was daarvan dat plaasmoorde ‘n probleem is nie, doofstom, blind en stoepit moet wees. Ek is net nie so seker dat om die paaie te blokkeer sodat mense nie eens by die werk kan kom nie, en nòg produksietyd dus verlore gaan, so ‘n goeie idee is nie, veral nie in hierdie finansiële klimaat nie. Sou ‘n blote saamtrek van mense in dorpsgebiede en by regeringsgeboue om memorandums te oorhandig nie dieselfde uitwerking gehad het nie? Nou het diegene wat voorheen gekla het oor die protest marches ook na daardie vlak toe gedaal, maar darem met die verskoning dat dit ordelik verloop het en geen looting plaasgevind het nie. Nee, dit was seker nie nodig om buitebande te verbrand nà die openlike magsvertoning nie, maar gaan dit altyd so bly as daar verdere proteste beplan word?

En so pas het ek gelees van nòg ‘n plaasmoord vandag in Gelukstad. Is dit toeval of dalk bedoel as vergelding, ‘n teenaanval net om “julle te wys”, want dìt is presies wat ek in gedagte gehad het toe ek gesê het ek is onrustig. Nou is ek meer as onrustig; ek is vir die eerste keer regtig bang.

Baie mense het die afgekope paar dae uitgewys dat die blanke Afrikaners ‘n lui nasie geword het, dat ons rondgesit en niks gedoen het of nie eers opgelet het hoe ons gemarginaliseer word nie. Onwaar, ons het dit opgelet en menige het daaroor gepraat, maar niks is gedoen nie, want sonder ondersteuning van jou eie landgenote kom jy nie ver nie. In al die verkiesings van 1994 tot nou het daar stemme opgegaan wat daarop gewys het dat die blankes ter wille van hulle eie behoud moet saamstaan saam met mense van alle kleure wat dieselfde oortuiging handhaaf, naamlik dat daar ‘n sterk opposisie gevorm moet word om die nodige checks and balances te verkry wat nodig is om die regering in toom te hou. Wat gebeur egter met elke verkiesing? Splintergroepies word gevorm en elkeen hardloop agter ‘n ander leier aan (die geskiedenis van die Groot Trek herhaal homself), sodat daar nooit ‘n behoorlike party gevorm kan word as teenstander vir die regerende party nie.

Mag ons nooit vergeet nie dat daar altyd diegene is wat meer hulp nodig het as wat ons op die oomblik kan verskaf. Ook hulle ly onder die regering se wanbestuur en ook hulle gaan die ergste geraak word wanneer daar nie meer in kosbehoeftes voorsien kan word nie. Wanneer gaan ons besef dat slegs deur almal saam te staan, ons onsself kan beskerm en meer kan doen vir ons landgenote?

Ek het groot simpatie met die families van die vermoorde boere en ek hoop werklik dat ek verkeerd bewys gaan word – dat vandag se aksies positiewe resultate sal oplewer. Ek het ook simpatie met vrouens, kinders en oumense wat mishandel word, met mense wat nie werk, geld of kos het nie en ook nie die nodige middele het om na hulleself om te sien nie. Kom ons steek elkeen net ‘n hand uit na een ander persoon vandag en moedig mekaar aan om sterk te staan.

 

Follow Dis Ekke

Please find information about the coronavirus here SA Coronavirus South African Resource Portal

35 Comments

  1. Amen, amen. Ek het sooibrand, maar dankie tog jy het eerste geskryf. Dankie

  2. Ek stem 100% saam. Eintlik 200%. Het sopas ‘n tantrum gegooi en my vriendelys op facebook dramaties uitgedun want ek is SAT vir mense wat in vieslike, verkeerd-gespelde taal aantygings en beledigings vol haat rondslinger. Dit maak my moeg. En skaam! So dankie!

  3. Storieklong

    Dinge gaan met rasse skrede verbeter sodra Suid Afrikaners besef dat ons probleme niks, of bitter min, uit te waai het met wit en swart nie, en alles te doen het met ‘n korrupte groepie sogenaamde leiers wat niemand anders se belange behalwe hulle eie op die hart dra nie.
    Aksies soos vandag s’n sal ook aanhoudend gekaap word deur groepe of persone wat dit gebruik om hulle eie agendas te bevorder, en sal daarom ook aanhou om die teenoorgestelde uitwerking te hê as wat die intensie was.

  4. Ek stem saam

  5. Hester ek sekondeer, ek het vandag vir ‘n kollega gese dat hierdie tipe aksie baie maklik duer ver-regses gekaap kan word. Wat my pla is dat baie van dit in die naam van geloof gedoen word, maar jou reaksie van hoe jy optree indien iemand anders nie van jou siening hou nie spel nogal iets uit van die geloof wat jy beweer jy dit vanuit doen. Ek glo dat baie van hierdie vir die regte redes gedoen word maar die ekskluwisiteit daarvan pla my.

    • Comment by post author

      Dis die probleem met ons ou volkie. Ek het vandag ‘n paar keer raakgelees dat “die Here aan ons kant is” en ek laat my gewoonlik nie uit oor geloof nie, vir persoonlike redes, maar ek het darem gedink dat die godheid dalk nie net Afrikaans praat nie. Dis tyd dat ons ook meertalig word sodat ons die woorde van naasteliefde beter kan oordra.

  6. En ek het in my hoek gaan sit en myself Rome toe laat gaan. Vir my eie ‘sanity’, want ek sukkel. Genoeg was vandag vir my te veel.

  7. Ek stem so so so baie saam Hester. En dat al hierdie dinge moet gebeur onder Christenskap maak my skaam.

    • Comment by post author

      Dit maak my bang Mignon, want dit is oor en oor in die geskiedenis bewys dat geloof een van die grootste dryfvere tot oorlog, vervolging en uitwissing kan wees. Dit behoort juis mense nader aan mekaar te bring.

  8. Nadat ek jou skrywe gelees het moes ek eers my lang lopie met Trompie doen voordat ek kan antwoord. Ek voel soos jy. Wat bereik hulle? Plaas net die klem op gebeure wat almal raak maar dan word dit afgewater tot net die of daardie. Klompie jare terug het ons twee vakbonde gehad. Een wat meer gematig was en wat wou onderhandel. Ek was die verteenwoordiger en my groep met wie ek saam gewerk het was almal gematigd wat denke en handel betref en het mekaar ondersteun. Daar teenoor was die ander vakbond wat gebruik gemaak het van intimidasie, opruiery en betogings wat meestal heel onplesierig was. Die tweede groep het my groep gedreig dat as hul nie saamdoen nie dit en dat aan hul gedoen word. As daar n betoging iewers was is daar net n bus gestuur en almal is gedwing om in te klim. Hul mog nie gaan werk nie. Dis waar die groot weerstand vandaan kom. Gewone mense kan nie teen die boelies optree omdat hul bang is en ook soos jy meld(veral wittes) nie kan saamstaan as een front nie.
    Dis werklik tragies dat alles so afwaarts gaan.

  9. Hoekom is dit “swart” en nie “wit” Maandag nie? Sou beter gewees het as dit “donker” Maandag was. Of wat sê ek?

  10. Fantasties geskryf,Hester! Ek kon dit nie beter stel nie.Die polarisering van mense is ons grootste vyand en elke keer met so ‘n geleentheid is daar ‘n klomp gekke wat presies dit doen. Hulle doen sommer toe oë die joppie,wat sekere faksies in hierdie land voor wens…onmin saai tussen rassegroepe….dom,dom,dom!

  11. Jy dink soos ek gedink het, ek het beslis die inisiatief ondersteun, want twee boere wat ons ken is laasjaar erg grusaam vermoor, mense wat goeie werkers gehad het wat nou sonder werk is – maar vir my het ek gevoel dit moet vir alle tipe misdadigheid in ons land wees – met die boere as die vb van hoe sleg dinge in ons land lyk. Wat my die ergste gegrief het is die Oranje, Blanje, Blou vlag, wat oral kop uitgesteek het – dit is swak smaak die vlag word nes Hitler se swastika-vlag met onderdrukking vereenselwig en ons het dit juis nie op hierdie plofbare tyd nodig nie. Dit mag plaasmoordenaars motiveer om net meer bloeddorstig te raak. Ons land as siek en ek voel rerig dat gelowige mense ersntig moet intree vir ons land en haar stukkende mense – en dat ons omgang met mense om ons kan wys dat ons rerig die reënboognasie droom kan laat werk, ongeag ‘n handjievol mense wat ons land “ransom” hou.

  12. Dankie Hester. Ek het dit volmondig ondersteun, maar het ook stilweg ‘n benoudheidjie in my hart omdat die dam op party plekke onder die eend uitgeruk is.
    Mag ons mense kop hou.

  13. Ek stem saam oor die vlag, alhoewel ek ‘n tyd kan onthou wat dit my ook erg trots gemaak het.

    Ek het egter ‘n ou se kommentaar gister gelees wat my laat dink. Hy begin om te sê dat hy GLAD nie die waai van die ou vlag ondersteun nie, maar hy kan ook verstaan dat die nuwe vlag ook maar verdrukking en moord en als wat sleg is ook maar simboliseer.

    Ek stem met altwee sienings. Niks voel net meer reg nie.

    Ek staan egter vir dit waarin ek glo, ek het gister saam ons land (wit bruin swart wat ookal, ons LAND) gerou oor die moorde op ons boere. Iets moet gedoen word, ek weet net nie wat nie. My opinie gaan ook beslis nie iets verander nie, so ek bid maar eerder saam die wat bid. Ek voel net soos ons nie mag veralgemeen dat ALMAL dieselfde is as die wat brand en plunder en afbreek nie, mag niemand veralgemeen dat die wat Swart Maandag ondersteun ou landsvlae laat wapper en ver regs (is dit nou een of twee woorde? Lol!) is nie. Ek dink ook nie dit moet sommer goedsmoeds aangeneem word dat ALMAL wat die Swart Maandag geondersteun het dit ‘n ras ding gemaak het nie. Daar is baie wat van die kantlyne sit en kyk en dit ‘n ras ding maak.

    Wat my egter meer hartseer maak is dat ek NOOIT my opinie oor politiek en/of godsdiens gee nie, my kop is te plat daarvoor. Maar wanneer ek wel, soos nou in hierdie tyd, ook graag ‘n klein ou stemmetjie wil hê, voel ek te bang om iets te sê. Mense se reaksies is vreeslik as mens nie hulle opinie respekteer of deel nie. En ek dink dis wat eerste moet verander, ONS BEHOORT RESPEK TE Hê VIR MEKAAR, ONGEAG RAS, GELOOF, GESLAG EN OPINIE.

    • Comment by post author

      Alles waar. Ek het nie eens gister die vlae raakgesien nie en vanoggend sê iemand dis ou fotos war weer geplaas is. Die probleem is altyd, by so ‘n geleentheid, dat daar net daardie paar mense is wat die dam onder die eend se gat moet uitruk. Ek het aanmerkings gesien (sommige deur vroue!) wat my laat bloos het – en ek bloos nie maklik nie. Ek het ook nooit voorheen oor politiek gepraat nie, maar nou begin politiek my persoonlik aan die gat byt (hierdie waterkrisis van ons) en so bang soos ek is, dink ek dat stilbly nou nie meer ‘n opsie is nie.

      • Ja dis ongelukkig dat daar hierdie paar wilde dinge by hierdie belangrike goed moet wees Hester, hulle maak ons almal se name sleg. Ek wil glo dat dit die minderheid van ons is, anders is ons in die moeilikheid.

        Ja ek bly ook maar gewoonlik stil, ek het nie sulke slim opinies soos ander mense nie. Maar ek voel hierdie ding aan my hart. Mense in ons gemeenskap wat ek ken word vermoor, en dis nie reg nie.

  14. Ek stem saam met jou Hester. Baie nugter kommentaar. Ek hoop egter dat die meer militante betoging die poltici sal noop om kennis te neem van die geweld in die land, plaasmoorde ingesluit, en dat daar positiewe reaksie sal wees.
    Tweespalt is ons volk se ondergang. Die Voortrekkers kon maar die Dwarstrekkers gedoop gewees het.

  15. Comment by post author

    Ek dink hulle is heeltemal bewus van die geweld, maar vee hulle doodeenvoudig daaraan af, want hulle dink hulle is onaantasbaar. Nogtans bly ek ook maar hoop.