Dis Ekke

My vreugdes en frustrasies

My eiers

Lê-Jou-Eier: Die gene lieg nie

Our 3-year-old granddaughter

Our 3-year-old granddaughter

Ek dink dit was Abrie wat my onlangs gevra het waar ek aan my idees kom vir die uitdagings. My antwoord was dat ek dophou waaroor bloggers gesels en kommetaar lewer, wat heel dikwels uitloop op ‘n onderwerp vir die week. Siende dat dit so mooi inpas by hierdie week se Lê-Jou-Eier uitdaging, kan ek seker maar ook uitlaat dat ek soms onderwerpe gebruik wat ander mense op sosiale media bespreek. My kinders byvoorbeeld.

Ons het ‘n private familie-groepie op Whatsapp en vanoggend ontdek ek toe hierdie juweeltjie van ‘n gesprek tussen my twee seuns. Die jonger boetie het begin deur te vertel dat hy en sy vrou vanoggend uitgegaan het vir ontbyt (klaarblyklik het hulle spruit by haar ander ouma en oupa agtergebly). Hier is die res van die gesprek:

Lexi1

Die rede vir die moeë ore is ons pragtige drie-jarige kleindogter op die foto hierbo. Sy is ‘n besige mejufroutjie wat van alles wil weet en oral wil opklim, inloer en bekyk. Haar pa vertel dat sy mal is daaroor om boeke te “lees” en aanhoudend vrae vra. Nuuskierigheid is natuurlik ‘n oorerflike geen in ons familie (sal nie sê waar dit vandaan kom nie) en wat my aanbetref is dit ‘n goeie teken van ‘n gesonde belangstelling in haar omgewing.

Maar dié storie gaan eintlik oor die ouers se ore wat nooit rus kry nie.

Haar pa was drie-en-‘n-half jaar oud voordat hy begin praat het. Ons het geweet hy is nie doof nie, want hy het goed verstaan wat ons vir hom gesê het en hy het wel woorde gevorm soos byvoorbeeld “myne!”, maar andersins het hy verseg om te praat. Op die dokter se aanbeveling het ons hom geïgnoreer as hy aangedui het dat hy iets wou hê deur daarna te wys. Ons moes wag tot hy daarvoor vra. Die gevolg was dat hy liewer sou doodgaan van die dors as om te vra vir water. Koppig.

Dit was ‘n koue winter daardie jaar en ons het vir hom en sy boetie elkeen een van daardie groot asbesverwarmers (Capil heaters) in hulle slaapkamers gesit. Ek het baie duidelike instruksies gegee om nie met die knoppies te peuter nie. Oudste het verkies om dit te vertolk as dat hy nie met sy eie verwarmer mag peuter nie en die jongste het my onmiddellik kom inlig: “Mamma, C peuter met my heater”. Volsin. Kapow. Mamma het amper neergeslaan van pure verbasing en kleinboet het vir nog ses maande opgehou met praat.

Ten einde raad het ek hom ingeskryf by die Nasionale Hospitaal (Bloemfontein) se arbeids- en spraakterapie-afdeling en gehoop hulle kan help. Hulle kon en hulle het. Binne ses maande het hy gepraat, in volsinne, en die woorde pragtig gemoduleer soos wat hy tot vandag toe nog doen.

Toe hou hy nooit weer op met praat nie. As ons televisie wou kyk, het hy gepraat. As ek vir hulle ‘n storie wou lees, het hy gepraat. As ons by die oumas en oupas gaan kuier het, het hy gepraat van Bloemfontein tot in die Baai of van Bloemfontein tot in Durban, sonder ophou. Hy het land en sand gesels sonder om ooit asem te skep. Sy algemene kennis was verstommend (wat ‘n bewys was dat hy goed geluister in die dae toe hy niks wou sê nie) en hy het sonder skroom alles herhaal wat hy gehoor het. So het hy eendag vir die buurvrou gevra: “Tannie, hoekom noem my pa jou Liewe Heksie?”

En na nog ‘n jaar of twee het ons ore moeg geword. Daar moes ‘n plan gemaak word. Eers het ons probeer verduidelik waarom hy nie moet praat tydens ete, tydens fliektyd op televisie, of wanneer mamma en pappa op die telefoon besig is nie. Tevergeefs.

Ons het ten einde raad besluit om hom om te koop – vir elke vyf minute wat hy nie gepraat het nie, sou ons hom 50c betaal. Dit was nogal baie geld daardie dae, maar my seun sou nooit op so ‘n manier ryk geword het nie; hy het nie ‘n enkele 50c muntstuk losgeslaan nie en dié plan is ook later laat vaar. Op die een of ander tydstip het ander dinge wel sy aandag begin vereis en ons ore het begin rus kry.

Dus het ek maar net gelag vandag oor die geskiedenis wat homself herhaal.

Soos Toortsie tereg sê: gene lieg nie.


Om die inskrywings van verskillende bloggers in Lê-Jou-Eier te geniet of om self ‘n eier te kom lê wat ons kan uitbroei en grootmaak, klik op die volgende InLinkz skakel:

Vir die reëls van hierdie eier-boerdery, om raad te kry oor hoe om deel te neem en om elke week se aankondiging van die nuwe onderwerp te sien, besoek die volgende skakel by Dis Ekke. Onder hierdie kategorie, kyk na die blogposte Lê-Jou-Eier: Reëls (2017-08-22) en Lê-Jou-Eier: Hoe neem ek deel? (2017-08-22).

 

Follow Dis Ekke

35 Comments

  1. Hy sou nogal kon deug as ‘n rugbykommentator!

    • 😀 Behalwe vir die feit dat geen persoon in hierdie familie enige belangstelling in sport het nie.

  2. Sy is so pragtig!! Ek het gehoor hierdie een van ons onderbreek die Juffrou tydens storie voorleestyd..Exuse me, Teatcher !’ en dan vra sy eers haar vraag… Het jou skrywe geniet.

  3. Hehehehehe lekker gelees dankie.
    Ek wonder watter beroep het hy toe op besluit ?

  4. Presies ja, gene lieg nie! 🙂

  5. Oulik, die kleine babbelbekkie. Hoop groot babbelkous gee haar kans om te praat.

  6. ore rus – ja-nee, ek ken daai hunkering na ore rus die oomblik wat my Laineye en die aanstaande stiefsussie vir ‘n wyle in my geselskap is. Te oulik met gesk wat dit self oor en oor herhaal.

  7. Jou kleinkind is pragtig…. sien jy haar darem gereeld? Ek het die skrywe geniet 😀
    Jou seun het sekerlik sy praatvernuf as chef nodig. Hoor dit gaan maar dol in restaurante se kombuis (as ‘n mens dit ooit ‘n kombuis noem. )

  8. Interesant

  9. Ek ken daardie gevoel…hier is twee kletskouse in ons gesin,wat nooit asem skep nie.Ons steek lettelik hand op om ook ‘n beurt te kry!
    Kostelik geskryf,Hester.

    • Dankie By. Hier gaan dit ook maar swaar om jou storie klaar te vertel voordat iemand jou in die rede val om die namens jou te doen. Ek vererg my sielig as iemand MY storie wil klaar vertel.

  10. Aaag te oulik! Haar foto is pragtig.

  11. Is ek nou bly jy het hierdie storie geskryf. Kleinman hier by ons is nou 17 maande, en ek is al doodbenoud omdat hy nie praat nie. Wel sy eie brabbeltaal. Jou kleindogter is pragtig, Hester. Wonder wat het sy van haar ouma oorge-erf?

    • Hoor skoonheid uit die aard van die saak en haar stil ge-aardheid

    • Elke kind ontwikkel teen sy eie pas, jong. Karen het nie eens probeer om te loop voordat sy 18 maande oud was nie. Beide sy en hierdie boetie het hul eerste tande gesny op 11 maande. Ek het later gedreig om vir hulle valstande te kry. Die oudste was weer vreeslik voorbarig met alles.

  12. Sy lyk op ‘n druppel water soos my skoondogter, behalwe dat sy ligbruin hare het – haar ma s’n is rooi. Ek is bevrees van haar ouma af het sy nie geërf nie – die baie praat kom eintlik van oupa se kant af 😇

  13. Jou kleindogtertjie is allerpragtigs!

  14. Ag jy het n pragtige klein meisiekindjjie. Kan my voorstel dat sy baie kan vra en vertel. Dis nou n goeie voorbeeld van erfenis. Jy kan dit nie rerig ontsnap nie.

Leave a Reply

Theme by Anders Norén

Back to Top
%d bloggers like this: