My vreugdes en frustrasies

Reblogged

Maak groot oop en sê “aaah” – Lewies mymer

Lewies het gesê ek mag maar sy lekkerlag tongstorie reblog.

“Geografiese tong. Mnr Lewies, u het ‘n geografiese tong” konstateer die dokter ingenome.

“wha.. wha, ish..”

“Laat ek net eers my vingers uit u mond kry dan kan u praat. U wou sê?”

“Geografiese tong? Wat op aarde is dit?”

“Laat ek net gou een van my naslaanwerke raadpleeg dan vertel ek u in leke terme”

Die dokter swaai sy stoel om en krap in ‘n boekrak. Dan swaai hy terug met ‘n publikasie in sy hand wat ontstellend baie na ‘n ou Reader’s Digest lyk.  Hy lek oor sy lippe en met ‘n frons op sy voorkop lees hy. Dan sê hy, “Geografiese tong is ‘n  kondisie van die tong”.   Hy klap die publikasie toe en kyk triomfantelik na my.

“Uhhm ja, dokter, ek dink dis hoekom ek hier is.”

“Inderdaad. Die kondisie manifesteer as beduidende orale ulkusse aan die papillae binne die mond, veral op die linguale perifere en surfaas.  Die voorkoms van die kondisie vergelyk met die geografiese voorkoms van kontinente soos dit uitgebeeld word in wêreldkaart”.

“Dok meen my bek lyk binne soos ‘n atlas? Amper soos my oë wat Maandagoggende soos padkaarte lyk!” sê ek met familiêre gemeensaamheid.

Die dokter sit regop. Sy oë flits skerp na my deur sy swartraambril. Hy kyk lank en stip na my. Ek kriewel ongemaklik op die deurgeskifte stoel. Dan vra hy met afgemete artikulasie, sy stemtoon gemoduleerd, maar subtiel dreigend. Hy klink soos Riaan Cruywagen wat die luisteraars waarsku dat die volgende videogreep ontstellende beeldmateriaal bevat wat sensitiewe kykers mag, wel, ontstel.

“Presies hoeveel drink u, Meneer Lewies?” Die s-klanke seil sissende  tussen sy tande deur.

“Nee, nee, Dokter, ek drink nie eintlik nie. Ek drink net met Nagmaal en deesdae gaan ek nie juis kerk toe nie, so…” My stem raak weg as die dokter vooroor leun. Sy gesig is naby myne, sy oë is groot en wasig agter die dik lense van sy bril, dit lyk soos lasagne in ‘n Pyrex bak.*

“Meneer Lewies, lyk my u ligsinnige lewenstyl mag aandadig wees aan u kondisie. As u in liggaam en gees gesond wil lewe moet u hou by hierdie maksim: Corpus sanum in mente sana”

“O, ek ken daai een van my Standerd ses Latyn dae af, maar dit het anders gegaan, Mens sana…”

“Nee, die liggaam moet gesond wees, dan is die gees gesond” sê hy met driftige oortuiging. Sy vinger wat hy hier voor my neus rondswaai ruik na KY jellie.

“Ek sal u ‘n voorskrif gee vir die kondisie van die tong”

“Kan Dok my dalk so ‘n paar dae afboek, asseblief?” vra ek opprtunisties, die vooruitsig van ‘n paar dae weg van die werk uitlokkend in my gedagtes.

“Nee! U kondisie reverdig nie ‘n siekte nota nie!  Werk is die regte medisyne, dit sal u aandag van u kondisie aflei. Is daar dalk nog iets wat pla?”

“Ja wel, Dok, noudat jy dit noem. Man jy weet, hier op my jare begin dit mos lol as ‘n man, jy weet, as ‘n man nou …as dit nou hier by die huiswerk begin kom…”

“Wat bedoel u, Meneer Lewies? Wat se lollery praat u van?”

“Jy weet Dok, ‘n man se kragte begin afneem” sê ek veelbetekenend, “ Afneem, af. Jy weet mos”

“U sal meer spesifiek moet wees, ek weet nie wat u bedoel nie.”

“Nee kyk Dok, die kwessie van styfheid, dinge wat moet styf wees is nie styf nie en dinge wat nie moet styf wees nie, die is styf”

“O, ek begryp. Maak los u broek en buk vooroor”

“Vir wat?” wil ek onthuts weet.

“Ek gaan u ‘n Voltaren-inspuiting gee vir die styfheid”

“Fok Dok, verstaan jy nie? EK kla nie oor die styfheid nie…”

“Meneer Lewies, u roekelose taalgebruik is vir my voldoende bewys dat u kondisie te wyte is aan u onbeheersde lewenstyl”

“Jy meen my tong ontwikkel beduidende orale ulkusse aan die papillae binne die mond, veral op die linguale perifere en surfaas omdat ek so nou en dan kru taal gebruik?”

“Juistemint, Meneer Lewies. Na my medies-gefundeerde opninie is dit een van die primêre oorsake. Meneer Lewies, sit, ons het nog nie die oorsaak van die probleem van u styfheid bepaal nie! Waarheen gaan u?”

“Ek gaan ‘n ander dokter soek, toordokter Malema Mushiwari sal my beter kan help!”

“Meneer Lewies, moenie die deur so hard klap nie!”

  • Ek het hierdie vergelyking geleen (gesteel want ek gebryuik dit gereeld!) by ‘n blogger, ek kan nie meer onthou wie nie. Dus, met erkenning aan die anonieme blogger)

https://pasella2013pasella.wordpress.com/2010/04/11/maak-groot-oop-en-se-aaah/

Follow Dis Ekke

Please find information about the coronavirus here SA Coronavirus South African Resource Portal

17 Comments

  1. Regtig, ek het nou gehuil soos ek lag. En Bertus moes ook eers kom sit om te luister!!!

  2. Julle kan nou tonge vergelyk! Laat mens wonder nie waar nie 😀

  3. Ik lig dubbel.

    Vrolijke groet,

  4. Ik moet eerlijk zeggen dat ik het niet begrijp. Ik heb hardop gelezen, meestal helpt dat maar vandaag niet.😩

    • Comment by post author

      O ja, so ‘n woordespel sal moeilik wees vir ‘n nie-Afrikaanssprekende. Lewies het gespot met die groot mediese terme wat die dokters gebruik en die Afrikaner se indirekte manier van praat oor seks. Die dokter en die pasiënt kon mekaar ook nie verstaan nie! 😀