My vreugdes en frustrasies

Dis Ekke

Moenie jou tong uitleen nie. Hoofstuk 1

Dog watching a butterfly sitting on the tip of its tonque

Image obtained from Pixabay

Hierdie verhaal moet in episodes afgelewer word, maar nie noodwendig in chronologiese volgorde nie – meer soos in ‘n Quentin Tarantino moewie – om al die drama en lyding tuis te bring. Dus val ons weg met:

Episode 4: Vroegoggend staan ek voor die badkamerspieël en borsel my winkeltande, terwyl ek die kiemdodende mondspoelmiddel in my mond rondswoesj. Tande geborsel, steek ek my tong uit … en gaan aan die gil soos ‘n banshee. Die priemende geluid wat ek voortbring, laat die water in my ore rondskommel en my neus gaan aan die loop. Daai verkoue wat net nie wil weggaan nie.

My dogter storm in my badkamer in, vaalgeskrik, en probeer vergeefs om my stil te kry sodat sy kan verneem wat die probleem is. Ek beduie na my mond en sy word nog bleker; my hele tong is oortrek met ‘n groen harige mat, amper soos die dashboard fur wat daar iewers in die 70’s so gewild was by eienaars van ‘n sekere motorfabrikaat.

“Trek aan!” “Doktor toe.” “Nou.” My persoonlike sersant-majoor blaf haar bevele uit.

“En onthou om die hare te kam”, sê sy.

“Ek kam elke dag my hare!”

“Ek meen daai hare op Ma se tong,” sê sy.

Episode 2: Ek het so ‘n paar dae gelede ‘n wit sproei (thrush) op my tong ontdek. Ek en Donald Trump het een ding in gemeen: ons ly albei aan kiemafobasie (germophobia). Ek het iewers gelees dat hy ook ‘n badkamer- of toiletdeur met sy elmboog oopmaak. Selle hier. Ek vat nie aan handrelings nie (ek val veel liewer by die trappe af en breek ‘n paar bene). Ook nie aan winkeltrollies se handvatsel as daar nie van daardie ontsmettende lappies aangebied word om dit eers ‘n bietjie skoon te vee nie; dis hoekom ek graag by PnP inkopies doen. Ek verval in ‘n toestand van apopleksie as iemand rondom my nies of hoes, veral as hy of sy nie ‘n sakdoek gebruik nie. En ek raak moorddadig as iemand met my wil bladskud; jy mag my druk en air kiss soos wat beroemde mense doen. Ek behoort dus nie sproei op my tong te hê tensy daar ‘n ander onderliggende siekte aan die broei is nie.

Ons almal bespiegel oor wat die probleem kan wees en my man reken dit kan net die Jik wees wat dit veroorsaak het: “Jy het jou taste buds laat afsterwe”, sê hy.

Episode 1: Die dag voor die ondekking van die tongsproei was my verjaardag en ‘n paar vriende het gebel vir ‘n persoonlike gelukwensing. Een persoon het vroegaand gebel toe ek in die stort was. So ‘n oproep wil jy nie mis nie en ek het met die een hand gegryp vir die selfoon, en die ander hand vir my winkeltande wat ek in ‘n Jik-oplossing gesit het vir die duur van my stort. Ja, ek het van daai pille wat ‘n mens oplos om jou tande in te week, maar Jik maak 99% van alle kieme dood, nie waar nie? Mens weet nooit watter kieme aan winkeltande klou nie, veral nie met al die eetgoed wat hulle vandag moes verwerk nie.

In die haas om selfoon by die oor en tande in die mond te kry, het ek vergeet van die Jik. Die reuk en die brand het my gelyktydig geslaan, maar toe kon ek mos nou nie die oproep kortknip om eers tande uit te haal nie en buitendien, hoe praat jy sonder tande? Ek het maar net agterna weer geswoesj met die mondspoelmiddel om van die reuk en die brand ontslae te raak.

Episode 3: Ek maak ‘n draai by die apteek en kry ‘n botteltjie Nystatin; dis nou daai geel mondspoelmiddel wat jy vier keer ‘n dag in jou mond rondswoesj om die fungus in jou mond te vermoor. Dit maak die fur op jou tong so ‘n siek geel, maar dis darem beter as die pers  gentian violet wat ek nog destyds vir my babas gebruik het. Verbeel jou om met ‘n pers tong in die openbaar te loop!

Episode 5: Ek is bang vir dokters, inspuitings, bloeddrukmasjiene, spreekkamers, hospitale, x-strale, eintlik enige vorm van mediese behandeling. Daarvan het ek genoeg gehad. My huisdokter noem dit die white coat syndrome. Sodra ek in hierdie omgewing instap, gaan my bloeddruk oorboord, my hartklop word onreëlmatig, my longe wil nie asemhaal nie, my brein vries en my liggaam wil graag hardloop, maar word met lamheid geslaan.

My dogter forseer my in die spreekkamer in en die dokter vra uit na vandag se klagtetjie.

“Ek groei groen hare op my tong”, sê ek, nors en kortaf.

Hy lyk ietwat verdwaas: “Groen hare?”

“Ja, dit was eers wit, maar ek het gisteraand niekerbôls geëet wat die hare so blouswart gemaak het en vanoggend het ek Nystatin gebruik wat geel is. Blou en geel word groen.”

Ek het eers hierdie feite eers onthou toe ons reeds in die motor op pad na die spreekkamer toe was, maar teen daardie tyd was my dogter reeds sienende blind en horende doof vir my koppigheid.

Toe moes ek natuurlik eers my klere uittrek sodat die dokter na my tong kon kyk. Ek wonder hoeveel keer in my lewe het ek al my klere uitgetrek vir vreemde mans? Seker nie ‘n onredelike versoek nie, want daar was darem ook die bloeddruk-toets, kliere bevoel, stetoskoop op die bors en rug – alles wat gewoonlik onder klere verberg is.

Opvolgprosedures word bespreek en nog medikasie voorgeskryf. Ek kners op my tande. Hoe het ek geweet dat hier ‘n hele battery toetse op pad is? Ek byt my groen tong vas, want ek weet, met my mediese geskiedenis is dit nodig.

Dit verhoed my nie om vuil kyke in my dogter se rigting te gooi nie. Sy ignoreer my en vra net kalm: “Dokter, is dit aansteeklik? Ek wil net weet, want ek het nou-net ‘n bottel Coke met my ma gedeel.”


Hierdie verhaal sal vervolg in Hoofstuk Twee.

Follow Dis Ekke

Please find information about the coronavirus here SA Coronavirus South African Resource Portal

46 Comments

  1. Hester. Veral toe ek die laaste sin lees…toe proes ek van die lag…Alle grappies op ń stokkie, is jy nou ok?

    • Comment by post author

      Die ontsteking het begin opklaar en ek neem medikasie vir die chroniese hoesie wat ek ontwikkel het. My longplate is skoon, ek het vroeër die jaar bloedtoetse vir thyroid, lewer, niere en cholesterol laat doen (dit was bevredigend). Die proses is onderbreek toe ons getrek het, maar ek sal nou die res van die kaboedel ondersoeke ondergaan oor die volgende paar weke. Ek haat dit om alles op een slag te doen.

  2. Ik begrijp dat je in de problemen zit.

    Toch kan ik het leachen niet laten bij het lezen van jouw verhaal ….

    Beterende groet,

  3. Jou dogter klink vir my na ‘n ware steunpilaar – meer nog, ‘n heldin, omdat sy ten spyte van die groen hare ‘n koeldrank met jou gedeel het.

  4. Ja, dis nou n storie! Ek ken ook die jik vir winkeltande. My Man was altyd so deeglik. Hy het altyd twee glase in badkamer gehad. Een vir sy jiktande en een vir myne. Hy het altyd myne kom kry as hy syne gejik het en dan na die tyd netjies afgespoel met warm water vir my per hand aangebied. Ai nou mis ek die ou darem baie. (18 Aug is 24 jaar terug wat hy slefmoord gepleeg het! Aug is maar n slegte maand ) Jou dogter het darem goed haar man gestaan teen jou. Ek wonder ook soms hoekom mens so moet uittrek vir al die apparate. Vandag se drs luister sommer oor jou klere! Wonder of hul dan net die helfte kan hoor, ha ha.

    • Comment by post author

      A jinne, ek het nie geweet van jou man nie. Ek kan glo al die wonde wat jaar na jaar weer oopgaan by die onthou van slegte herinneringe. Ja, ek kan seker nie die dokter kwalik neem as hy my wil uittrek nie, want hulle doen darem ‘n volledige ondersoek na die kliere elke keer as ek daar opdaag (ek het mos borskanker gehad) en daarvoor moet ek maar uittrek.

      • A aa Dis n ander storie! Hul moet deeglik wees daarmee. Ek het so twee jaar op n Afrikaanse dr afgekom. Sy is nog een van die deeglike ou soort. WAt lekker is is dat as ek dit nie in engls kan sê nie verstaan sy die Afrikaans. Dit maak n groot verskil. Sy is al jare in NZ en het steeds haar Afrikaans bygehou.

  5. Wat ‘n gedoente! Ja, ek hou ook glad nie daarvan om dokter toe gaan nie, maar party keer moet mens dit doen! Sterkte!

  6. Hester, te veel kieme doodmaak, is ook gevaarlik. Die kinders het so sproei gekry van Milton waarmee ons die bottels skoongemaak het. Daar was so ‘n botteltjie wit goed wat ek by die Lennon botteltjies gekoop het, maar ek kan om de dood nie onthou wat nie. Ek gaan netnou gou kyk by Checkers.

    • Comment by post author

      Ja, ek onthou die Milton en dat die dokter vir my gesê het ek moet die bottels behoorlik afspoel met gekookte water voordat ek die formules voorberei. So dit kan dalk die Jik wees wat ‘n rol gespeel het? My man sal nooit toelaat dat ek dit vergeet nie. Laat weet bietjie as jy op iets afkom in die Lennon-rak.

  7. Glycerine! Dit werk fantasties. Google het gehelp.

    • Comment by post author

      Regtig? Ek moet weer gaan kyk. Ek het regoor google gekruip en dis hoe ek by die Nystatin uitgekom het. Partykeer werk die boererate net beter. My gestel is ietwat af nadat ek maaggriep opgedoen het en daarna ‘n chroniese hoesie en lopende neus. My dogter neul noual weke lank dat ek moet dokter toe gaan en die fur tongue was vir haar net eens te veel.

      • Ek het eers net sproei gegoogle, maar kry toe nie wat ek soek nie. Toe probeer ek boereraat vir sproei.

  8. Hahaha! Dis baie snaaks! Maar ek het simpatie met jou, ek het ‘n soortgelyke kwaal wat kort-kort kop uitsteek, dan gebruik ek Candida Formula wat ek by ‘n gesondheidswinkel koop.Dit werk vir my. So gaan my storie: https://pasella2013pasella.wordpress.com/2010/04/11/maak-groot-oop-en-se-aaah-11-apr-2010/

  9. Neeeeeeee hehehehe daardie Jig sal jou dood maak!

  10. Skreeusnaaks 😂

  11. Lekker lag ek vir jou… moet asb nie vergeet vd opvolg nie!!!

  12. Nou die dag gehoor koeksoda en sunlight liquid werk wonders vir die tanne …

    • Comment by post author

      My dokter beveel ook aan dat jy net met sunlight moet borsel, maar die flippen tande is so glad, jy moet vashou of jy staan met ‘n handvol niks. Dalk moet ek die koeksoda probeer, want ek sien dis sommer een van die boererate vir sproei ook.

  13. Hester asseblief kan ek die regte kry die movie – regte. Mens kan verskeie hoeke aan die film gee. Een moontlike titel:
    The Rainbow tongue nation
    of
    The colourful crater hater
    of
    The naked tongue
    of
    Be wary of the hairy fairy.

    Die creative juices vloei soos mondspoel! Kan nie wag vir hood stuk 2 nie

  14. O ja wou nog sê Trump wil die Koreaanse kieme met atoombomme opblaas ek stel voor jy gebruik nie dieselfde remedie nie

  15. So n gogga maak vir baba bang storie. Jy kan net tong uitsteek. Haha. Lekker gelag vir die verhaal

  16. Sal nog hoofstuk twee moet lees….. jou tong nou weer sy natuurlike kleur? Praat maar volgende keer sonder tande Hester…. en nou gaan ek altyd aan jou dink wanneer ek ‘n toiletdeur oopmaak.

    • Comment by post author

      My tong is amper reg; die dokter sê dit vat nogal lank, maar ek voel heelwat beter. Natuurlik gaan ek nou jou woorde onthou elke keer as ek in ‘n openbare plek moet gaan piepie!.

  17. Mal oor jou pulp-ficton-styl storie vertelling hiehiehie… ek is gelukkig, want aan gesien ek skaars was kan ek nou dadelik hoofstuk 2 gaan lees en hoef nie te wag nie.

    Puik geskryf, by die weg (By the way)

    • Comment by post author

      Dankie Wolfie. Ja, jy was regtig stil. Ek hoop jy het weer vir ons ‘n ietsie geskryf. Ek het drie dae se blogs gemis, want ek was weg vir besigheid en het vandag laatmiddag eers weer teruggekom. Nou kan ek begin inhaal op my agterstallige leeswerk.

      • Toemaar as September weg is sal ek nie meer so skaars wees nie. Ek het wel ‘n paar goedjies geskryf en is besig om van hulle op te sit

  18. Aaai, ek het dit nou geniet, ek het ook white coat syndrome. 😉