My vreugdes en frustrasies

Ouderdom

Die Bril en die Ouderdom

Ek vind dat ouderdom ‘n ongewone impak op my daaglikse lewe het. Lyk my mos asof ek ‘n hele ander persoonlikheid en vaardighede ontwikkel het die afgelope twee of drie jaar. Onder meer het ek ‘n uitsteller van formaat geword; take wat voorheen baie belangrik was en stiptelik uitgevoer is, word nou sommer van die tafel af gevee om te wag tot môre. Of oormôre. Of die dag daarna. Dalk. Wat nou van meer belang is, is dat die son skyn en ek moet op die strand kom; of dis koud en mislik, wat beteken dat ek my verwarmer moet aansit en met ‘n goeie boek in die bed klim.

Een so ‘n belangrike saak is my bril, daardie waardevolle artikel waarsonder ek fokkolollie kan sien. Ek sit my bril op wanneer ek wakker word in die oggend en haal hom eers weer af wanneer ek vanaand gaan slaap. Ek dra van lankal af net multi focals waarvan die glase verdonker in die son. Op dié manier kan ek sien wat nodig is wanneer dit nodig is. Nog ‘n ding – ek kan ook nie hoor as die bril nie op my oë is nie. Dit kan iets te doen hê met die feit dat ek blykbaar lippelees aangeleer het as ‘n vaardigheid, want wanneer ek van aangesig tot aangesig met ‘n persoon is, kan ek hoor. Draai jou rug op my of gesels met my oor ‘n telefoon, dan hoor ek niks.

Ek dreig noual weke, of dalk is dit maande, om my oë te laat toets, want my bril is nie meer in so ‘n goeie kondisie nie. Nou nie dat ek my brilmaker kan kwalik neem nie, want die ander probleem van ouderdom is dat ek nie altyd my planne deurdink voordat ek oorgaan tot aksie nie. Ek het al vergeet om die bril af te haal voordat ek room aan my gesig smeer en dan is skottelgoedseep die enigste manier om hom weer skoon te kry. Dit het ook al ‘n paar keer gebeur dat ek en die bril saam gaan stort of in die seewater gaan swem het. Ek het gesê dat ek hom darem afhaal as ek gaan slaap? Dit sluit nou nie in wanneer ek voor die TV aan die slaap raak nie. Die gevolg is dat die bril blootgestel is aan wind en weer, die raam word soms effens gebuig en daar is al ‘n skraap of wat op die lense.

Dit het al vantevore gebeur dat een van die skroefies uitgeval het, en dan moer die lens natuurlik ook uit, maar gelukkig is hier ander mense wat goed genoeg kan sien om die fyn skroefie op die vloer op te spoor en weer in te draai. Elke keer as dit gebeur, neem ek my opnuut voor om by die brilmaker aan te doen.

Gister, vroegoggend, ‘n Sondagoggend natuurlik, maak ek weer bril skoon en bly met die een lens in my hand staan. Die skroefie word gesoek en na lange gesukkel word die koppie wat afgeroes het gevind; die ander deel sit vasgeroes in die bril se metaalraam en daar is beslis nie so ‘n klein boorpuntjie tussen ons gereedskap nie. “Dis wat gebeur as jy met jou bril in die see swem”, sê die mense wat van beter behoort te weet as om my nog verder om te sukkel.

Ek het gesê dit was op ‘n Sondagoggend, nè? So. Nou soek ons die voorganger van die eenlensige bril wat as tydelike plaasvervanger moet dien en wat veronderstel is om in die klein kluisie te wees. Dis nou die klein kluisie wat op die oomblik nog in die garage staan, leeg en sonder sleutel, want ek sou hom nog kamer toe gevat en sy belangrike goed weer ingepak het net nadat ons klaar getrek het …

Enniewoe, uiteindelik is die tydelike plaasvervanger opgespoor en ek kon voortgaan met dit wat gister die belangrikste taak in my lewe verteenwoordig het, naamlik om my nuwe Rubik Cube se algoritmes te ontsluit. Vanoggend halfnege was ons by die brilmaker. Dis toe ek die herstelde bril op my neus plaas dat ek iets eienaardigs agterkom: ek sien eintlik beter met die voorganger. Toe kon ek nou nie besluit nie, moet ek ‘n nuwe een laat maak of nie? Sulke gewigtige besluite raak al moeiliker met die ouderdom saam. Ek sal maar eers wag en sien. 😳

Ns. My HIV toets was negatief. Ek het my bloedtoetse al langer as ses maande uitgestel en daar was ‘n Clicks kliniek net om die draai van die brilmaker af 👼

Follow Dis Ekke

Please find information about the coronavirus here SA Coronavirus South African Resource Portal

27 Comments

  1. Vandat ek my nuwe bril het is daar baie meer karre op die pad.

    Vir groter veiligheid pak ek nou maar my bril weg as ek êrens heen moet ry …

  2. Ik ga meteen zoeken naar mijn reservebril.

    Bedankt voor de tip.

    Vriendelijke groet,

  3. Jy moet regtig ‘n spaar een hê Wat gebeur as die golwe hom afslaan en jy kom nie by die huis uit nie… angswekkend

    • Comment by post author

      Ek kan darem nog sien om rond te loop en my dogter kan bestuur; dis net by die lesery of fyn werkies wat ek vashaak, maar ek voel nie “veilig” sonder my bril nie. Ek hou altyd my ou bril wanneer ek ‘n nuwe een laat maak. Dis ‘n dure les wat ek jare gelede al geleer het.

  4. Ok, ek is nou nie by nie. Kruisig my maar. HIV toets? Was jy blootgestel aan bloed? Of is dit ń gewone mediese ondersoek? En hoekom is dit net ek wat daaroor uitvra???

    • Want dit is net jy wat nie bang is vir Hester nie. Dit spaar my ook om die vraag te vra want ek is bang vir Hester alhoewel ek vermoed ek wel sou gevra het maar dit dit in ‘n humoristiese stelling sou probeer wegsteek as ‘n retoriese opmerking, maar sulde goed is moeilik om uit te dink!

      • Comment by post author

        Bang? Ek gaan nou eers in die spieël kyk om te sien of ek so lelik is dat die kinders vir my skrik. Haha. Nee man, ek moet elke ses maande bloedtoetse laat doen – julle weet van my mediese geskiedenis. Ek maak altyd ‘n draai by Clicks, want hulle stuur die bloed vir die lab en dan e-pos hulle die uitslae aan die dokters en mediese fonds. Vanweë my mediese geskiedenis, is ek op ‘n spesiale gesondheidsprogram by my (uitstekende) mediese fonds en hulle doen die bloedtoetse gratis. As ‘n “bonus” word ek een keer ‘n jaar getoets vir VIGS ook. Nè? Ek dink hulle weet iets van my sekslewe waarvan ek nie weet nie.

        • Jy weet Hester, heeldag al draai my kop by slegte dinge…ek dink my eie storie en skok myself lam, en wil sommer met Bertus begin baklei omdat daar nie by al die vensters diefwering is nie…!!!🙈🙈🙈 En en en. Dankie tog. Ek ken nie jou mediese geskiedenis nie, gaan defnitief terugblaai op jou blog. Jy het my deur hengse stress gesit, nee man!🤔😭😭🙄

        • Comment by post author

          Ag sorrie man, dit was nie die bedoeling nie. Ek sal jou sommer vertel: ek het borskanker gehad (2001) en baarmoederkanker (2003). Die chemo het veroorsaak dat my “haastige” hart my twee keer in die hospitaal laat beland het met arterial fibrilation. Terselfdertyd is ek gediagnoseer met hoë bloeddruk, much too much cholesterol. Om my hart in toom te hou, moet ek beta blockers gebruik saam met my bloeddruk-medikasie. Dit kan jou lewer en niere aantas. Ek bly dus onder die vergrootglas om al my eendjies in ‘n ry te hou – vandaar al die bloedtoetse. Maar toemaar, dit gaan goed. Ek volg ‘n gebalanseerde dieet, doen baie oefening, hou my gewig op die ideale BMI, drink geen koffie, tee of gaskoeldrank nie (om suiker te vermy, want ek mag nie die kunsmatige versoeters gebruik nie). Ek eet darem so nou en dan niekerbôls! Geen alkohol (ofskoon ek baie lief is vir ‘n ligte bier, maar ek beperk myself tot ‘n paar slukke uit my man se glas so elke paar maande). Net water vir my. Eet hoender en vis, met baie groente en steel so nou en dan ‘n sny brood, maar vermy soetgebak. Daarsy, ek hoop Bertus is nou vrygespreek.

        • My oë is groot, Hester. Jou pad was nogal erg opdraende! Maar jy volg nou al die instruksies baie mooi, sien ek. Dankie dat jy kom deel het. Nou verstaan ek baie dinge beter.xxx

  5. Klink so bekend–van die uitstellery tot die gesukkel met die bril. En ‘n nuwe bril is eers ‘n uitdaging van formaat–dit het my drie maande geneem om die nuwe baiefokkol lense gewoond te raak, En nog steeds is ek nie oortuig dat ek beter sien met die nuwe bril as met die vorige een nie. My kleinkinders is darem in hul skik met die nuwe raam.

    • Comment by post author

      Ek het eintlik gedink om net ‘n leesbril te kry hierdie keer, want ek sukkel om fyndruk te lees, sy dit nou op die rekenaar of ‘n boek / koerant. Ek moet die font groter stel op die rekenaar en op my kindle. Andersins sien ek heel goed met die bril wat ek het. Ek het al kontaklense probeer en dit werk nie vir my nie. Dalk moet ek die laser-ding laat doen, maar ek is bang hulle brand my eingste breinsel dood.

  6. Jammer maar ek moet maar vir jou lag….. die gesigroom aansmeer met die bril op jou neus. Ek dink ek lag maar so uit meegevoel oor die ouderdom wat ons almal inhaal.

  7. Hmm, ja, en wanneer mens jou onmisbare bril op die bed neersit en dan daarop gaan sit…

  8. Ek het no gegil soos ek gelag het, ek sien myself raak hierin, nie nou op die oomblik nie, maar beslis is ek ‘n Hester inwording, en ek moet die dalk net bere om na terug te kan verwys….

  9. EK is ook ‘n uisteller. Noem my gerus Meneer Uitstel. Soms is ek Meneer Afstel ook. DIe nuwe gesogde titel het my bereik toe ek die jare van die 40-jariges ingeseil het hehehehehe

    O ja, pasop vir nuwe brille hoor, mens sien soms stof kolletjies wat mens gemis het en wonder dan of jou besoekers jou huis gesien het soos jy hom nou herontdek met die nuwe stofkolle…