My vreugdes en frustrasies

Dis Ekke

Liewe Telkom: Deel 2

telkom2

Liewe Telkom, ek vertel hierdie storie sodat ander mense kan leer uit my foute en sodat ek kan beter voel wanneer ek klaar stoom afgeblaas het. Daar gaan ‘n hele paar aflewerings wees en as jy by magte is om dit te lees, is jy welkom MAAR weet asseblief dat ek geen begeerte het om verder met jou besigheid te doen nie – nie dat jy by magte is om diens aan my te lewer nie (soos wat ek met skande en skade uitgevind het).

Kom ons kyk gou na die gebeure van die afgelope tyd:

3 Jan: Ek probeer om ‘n aanlyn-versoek te doen op jou webtuiste vir die verskuiwing van my telefoon- en DSL Faster lyn na my nuwe adres. Aanlyn gebeur daar niks wat ek kan waarneem nie, dus bel ek die Call Centre, waar ‘n mens slegs bedien word in delicious english. Wat het jou laat besluit op Engels as ‘n spreektaal, want sover ek kon vasstel is daar baie min mense in die Call Centre wat Engels, Moors, Mohammedaans of Moers@#%taal verstaan en praat? Ennieway, dis ‘n retoriese vraag, ek skryf sommer my storie in Afrikaans; moenie worrie om te antwoord nie.

Ek hou toe aan vir een uur en sestien minute (sien hieronder die foto wat ek geneem het op die foon wat ek op jou aanbeveling gekoop het en wat nooit ‘n ordentlike ontvangs verskaf het nie), terwyl ek heen en weer verwys word van een persoon na ‘n ander, selfs die amper onbereikbare “Supervisor”, altyd met die versekering dat my versoek geprosesseer word. Ek wag geduldig totdat die oproep skielik net uit die kuberruim verdwyn. Heel voorspelbaar.

Ek wag vir my confirmation SMS, bel weer die Call Centre, maar hierdie keer kom ek nie eens deur nie. Dus wend ek my tot jou Facebook bladsy en verduidelik my kant van die saak. Net om te wys dat ek nie lieg nie – ek het elke gesprek wat ons op jou sosiale media gehad het, afgelaai (ge-download in jou taal) en plaas die uittreksels met spelfoute en al. Ter wille van my veiligheid, ingeval iemand besluit om ‘n prys op my hoof te sit, het ek my adres verbloem. Moet dus nie worrie om die rekords van jou facebook af te verwyder as jy vir my kwaad raak nie – ek het alle bewyse aan hierdie kant.

telkom3

Let op dat ek baie spesifiek gevra het vir verskuiwing van my DSL Lyn. Wonder bo wonder kry ek reaksie:

 

telkom4

19 Jan: Toe wag ek. Nie geduldig nie, maar darem. En ek bel weer die Call Centre. Niks gebeur nie. Toe bel ek die tegnikus wat voorheen aan die lyne gewerk het die keer toe die lyne afgebrand was deur ‘n oorywerige tuinier (dis nou weer ‘n ander storie) en ‘n paar keer ook gesny / gesteel was gedurende die vorige twee jaar (nog ‘n ander storie) en hy belowe om ondersoek in te stel. En voila, daar kry ek die langverwagte SMS op 19 January. Hêppienis.

telkom

24 Jan: My telefoon by die ou adres is afgesny op 19 Januarie en ek wag geduldig vir die nuwe lyn wat op 20 Januarie sy verskyning moes gemaak het. Toe gesels ek weer met jou facebook span.

telkom6

So het ek gespring van die klerk na die Supervisor, na die Fulfillment Team, na die “section that deals with the transfer”, weer na die tegnikus en terug na die Fulfillment Team.

Teen hierdie tyd het ek gevoel soos ‘n blêddie alien wat op aarde geland het en hard probeer om kop of gat uit te maak van wat aangaan. PLEASE TAKE ME TO YOUR LEADER.


Hierdie verhaal vervolg in aflewering 3.

Follow Dis Ekke

Please find information about the coronavirus here SA Coronavirus South African Resource Portal

19 Comments

  1. Dat jy nog ordentlike woorde het om neer te skryf, is ń wonderwerk.

  2. Die Man met die Hoed

    Wat Una gesê het. Jou selfbeheersing is wonderbaarlik

    • Comment by post author

      Ek het darem myself ‘n periode gegee om ietwat af te koel en dit is wat bewonderingswaardig is, want gewoonlik reageer ek soos ‘n kobra in sulke situasies. Soos ek vir Una gesê het – die gras sal nooit weer groei daar waar ek spoeg nie.

      • Die Man met die Hoed

        Die van Helsdingen poppie sê altyd vir my “As jy jouself nou raakbyt, vrek jy daarvan”
        My persoonlike voortslepende Telkom treurmare is ook steeds nie opgelos nie, ten spyte daarvan dat daar nou al bakkies van 3 verskillende maatskappy in my oprit parkeer was. (Telkom se landlyne word nou onder BCX bestuur)
        Ek het gedink ek is slim en gaan die hele petalje omseil deur hulle te stuur om hulle lyn, paal en al, te loop opdruk waar die son nie skyn nie en die LTE roete te gaan. Nodeloos om te sê, ek het daarmee ook bitter min sukses gehad. Ek konsentreer nou biteer hard om myself nie raak te byt nie

        • Comment by post author

          😀 😀 ek gaan daai uitdrukking onthou “As jy jouself nou raakbyt, vrek jy daarvan”. Ek sal nie met ‘n lang tang aan LTE raak nie – kyk maar op Telkom se facebook hoe kerm en kla die mense.

  3. Hier "blok" Elanè

    Ja-Nee…

  4. Neeeeeeeee waarom kan hulle nie verstaan nie.

  5. Hello Hester ek is terug. Ek het ‘n kortsluiting gehad tussen my blog en my lus om te blog. Dit is amper erger as ‘n afwesige Telkom. Bly jy het lus en kan nou weer blog.

    • Comment by post author

      Hi Abrie, ek is baie bly om jou weer hier te sien en hoop dit gaan goed met julle. Ek het nou internet so vir ‘n gedeelte van die dag – wanneer ek op “kantoor” is, maar dis net vir beperkte ure. Beter as niks.

  6. Dit klink so bekend!Ons het twee jaar terug ses weke gewag voordat n bestaande lyn reggemaak is na ‘n woeste reënbui.Ek dink die naam moet Telgaan wees!

  7. Agtoggie. Sterkte!

  8. By Helkom is die enigste ‘Fulfillment’ telefoon hel op aarde…

    *sug*

    Ek hou duim vas vir ‘n wonderwerk vir jou.

    *Drukkie*

  9. Ik heb ook ooit een probleem gehad met mijn provider. Uiteindelijk heb ik een bericht geplaatst op Twitter en Facebook. Met een # . Nou, je wilt niet weten hoe vlug ons probleem toen opgelost werd.