My vreugdes en frustrasies

Dis Ekke

2017: Ek gaan monumente oprig

Cotton boll weevil - kantoenkewer

Bedags, wanneer ek en my dogter op ons rekenaars swoeg en heel dikwels swets op die stadige internet / afgestorwe telefoonlyne / gebrek aan elektrisiteit wat ons harde werk in die wiele ry, luister ons gewoonlik na ‘n Britse radiostasie wat liedjies uit vergange se dae speel. Dan tik-tik ons vingers en klop-klop ons tone so op die maat van die crooners en die swingers se musiek, en die humeur-termometers bly onder die rooi streep.

Dis hoe ek toe kennis maak met die liedjie oor die boll weevil (katoenkewer) – sien die skakel na You Tube hier onder – wat groot rampspoed veroorsaak het in die suide van Amerika, tot so ‘n mate dat daar ‘n monument vir die kewer opgerig is. Hoe nou? ‘n Monument vir ‘n vervlakste brenger van rampe? Dit het my natuurlik dadelik laat gryp na mev. Google se boek van lewenswaarhede, en die storie loop nou so:

Daar in die laat 1800’s was daar ‘n klomp boere wat stinkryk geword het van die oeste op hulle katoenplantasies. Ongelukkig het die voorspoed verander in rampspoed toe die katoenkewer (foto hieronder) daar van Mexiko se kant af oor die grense gestap en die katoenplantasies opgevreet het tot daar net mooi boggerôl oorgebly het. Die bietjie boggerôl wat oorgebly het, moes hulle verbrand om ontslae te raak van die kewer, want vuur is die enigste ding wat hom kon doodmaak. Dis nou maar wat gebeur as al jou eiers in een mandjie gehou word, die hele ou spul breek wanneer die mandjie van die tafel af moer – vra maar die Suid-Afrikaanse volstruisboere.

Cotton boll weevil - kantoenkewer

In die staat van Alabama het die boere betyds besef dat hulle ‘n plan moes bedink om hulle plase te red, en dit het hulle gedoen deur afwisselende oeste en ‘n verskeidenheid van produkte. Die plan het gewerk en hulle het, veral met goeie grondboontjie-oeste, die skade herwin. Dit is toe dat die boere besluit het om ‘n monument op te rig vir die vervlakste kewer wat hulle so ‘n duur, maar waardevolle, les geleer het. Die Boll Weevil Monument staan vandag nog in Coffee County, Alabama.

Hierdie storie het my aangegryp, want heel dikwels het ek al die een of ander gebeurtenis of annis horribilis in my lewe verwens en in sak en as gaan sit, in plaas daarvan om die geleentheid aan te gryp en dit te omskep in ‘n sukses.

Dit is my voorneme vir 2017 – wanneer die lewe my ‘n snotklap gee, gaan ek na hierdie liedjie luister en leer uit my eie foute. Ek gaan monumente oprig vir my kewers … net nadat ek hulle gatte goed verbrand het.

‘n Vrolike en gelukkige 2017 word toegewens aan al die bloggers.

LYRICS

Let me tell ya a story about a boll weevil
Now, some of you may not know, but a boll weevil is an insect.
And he’s found mostly where cotton grows.
Now, where he comes from, hmm, nobody really knows.
But this is the way the story goes.
The farmer said to the boll weevil “I see you’re on the square”
Boll weevil said to the farmer “Say yep! My whole darn family’s here”
(We gotta have a home, gotta have a home)

The farmer said to the boll weevil “Say, why do you pick my farm?”
The weevil just laughed at the farmer ‘n’ said
“We ain’t gonna do ya much harm”
(“We’re looking for a home”)

And the boll weevil spotted a lightning bug.
He said “Hey, I’d like to make a trade with you.
But, ya see if I was a lightning bug, I’d search the whole night through”
(“Searchin’ for a home, I’d have me plenty of home”)

And the boll weevil called the farmer, ‘n’ he said
“Ya better sell your old machines,
‘Cause when I’m through with your cotton, heh,
You can’t even buy gasoline.”
(I’m gonna stake me a home, gotta have a home)
And the boll weevil said to the farmer, said
“Farmer, I’d like to wish you well.”
Farmer said to the boll weevil, “Yeah, an’ I wish that you were in s___”
(Lookin’ for a home, lookin’ for a home)
(Ahh, you have a home all right, you have a home)
(A real hot home, ahh)


Credits:

  1. http://www.encyclopediaofalabama.org/article/h-2384
  2. https://en.wikipedia.org/wiki/Boll_weevil

Follow Dis Ekke

Please find information about the coronavirus here SA Coronavirus South African Resource Portal

21 Comments

  1. Hester, hierdie skrywe van jou is werklik uniek! En ek gaan by jou aansluit, ek gaan ook leer uit my foute, hulle verbrand en dan iets oprig om my aan die oorwinnng te herinner.

  2. Ek hou darem baie van positiewe mense en jy is een van hulle

  3. Van deze geschiedenis kunnen we inderdaad allemaal leren.
    Ik heb soms ook kevers. Vaak in de nacht.
    Dan word ik wakker en ja hoor een spreekwoordelijke kever.
    Als het nog eens gebeurt zal ik aan deze geschiedenis denken .

  4. En so leer ek vandag in die Nuwe Jaar iets nuuts.

  5. ek “laaik” jou…. goed…

  6. klink vir my na die regte ding om te doen!!

  7. Nou kyk nou net! Lekker 2017 vir julle almal.
    Ek hoop jy deel terug SK’s uit… en trap die goggas plat!
    Net so by the way, ek sou my nou net noot kon indink dat jy ‘n moermeter het nie!
    (Dit laat my dink aan ‘n stooritjie uit my lugmag dae… ja, hulle het toe vir my ‘n rerige ‘moermeter’ gegee! Ek het hom nog!) 😉