My vreugdes en frustrasies

Dis Ekke

2016 Waar lees jy lekker? Hester se keuse

Toorts, ek sal myself nou nie ‘n “uitstekende skrywer” noem nie, maar as jy dan nou so wil dink, sal ek jou nou maar nie reghelp nie. 😀  Dankie vir die benoeming en ter wille van die Taal, speel ek graag saam.

Hierdie is ‘n blogspeletjie wat ten doel het om ons blogs, verkieslike Afrikaanse blogs, ‘n bietjie blootstelling te gee.

Hoe dit werk:

  1. Dis totaal vrywillig. Jy hoef net deel te neem as jy regtig wil.
  2. Dit sal baie lekker wees as jy deelneem.!!!!
  3. Word jy benoem? Hartlik geluk! Dit beteken iemand lees graag by jou!
  4. Noem jou bloginskrywing: 2016 Waar lees jy lekker? (jou naam) se keuse.
  5. Bedank die persoon wat jou benoem het en tag die bloginskrywing waarin jy benoem is. (Omdat soveel mense vra: Kliek op bloginskrywing se opskrif, kleur die URL in, regskliek, copy; Dan in jou beheerpaneel waar jy die bloginskrywing skryf, kleur die woord in wat verwys na die persoon wat jou benoem het, regskliek en paste.)
  6. Herhaal die eerste sin in hierdie bloginskrywing, asook die reëls, sodat die volgende persoon ook weet waaroor dit gaan.
  7. Benoem 3 tot 5 bloggers/blogs waar jy graag lees en sê ook hoekom jy graag daar lees. Onthou om elkeen op dieselfde manier te tag. Kliek op ‘n bloginskrywing, kleur URL in …
  8. Jy mag iemand benoem wat alreeds benoem is, maar veral nuwe name is ook altyd welkom.

Hester se keuse:

  • https://abriejoubert.wordpress.com/ Abrie het ‘n heerlike sin vir humor en laat nie toe dat die lewe hom onder kry nie. Hy lag ook nie vir my pogings om hiking trails te volg of my bene lam te loop nie – ouderdom ten spyt. Hy moedig my aan.
  • https://pasella2013pasella.wordpress.com/ Lewies het ook ‘n fyn sin vir humor en kan lekker stories uit sy duim suig. Ongelukkig skryf hy deesdae net nie genoeg nie. Kom ons protesteer teen sy luiheid.
  • https://coetzeeblog.wordpress.com/ Coetzee skryf hierdie heerlike insiggewende stukkies oor boerdery en die lewe in die algemeen daar in Paraguay waar hulle woon. Ek vrek oor sy fotos van eetfeeste – daardie mense kan lekker eet! – en dan beskryf hy sommer hoe die kos verbou word ook.
  • https://frandr.wordpress.com/ Frannie gesels heerlik saam oor die peste en frustrasies van die ouderdom, hoewel sy nog jonk van gees is en lekker staaltjies oor haar jongdae en haar kleinkinders kan vertel.
  • https://vuurklip.wordpress.com/ Vuurklip moet meer skryf. Ek dwaal so elke nou en dan af na sy ou blogs toe en lag hartlik vir sy vlymskerp kommentaar, maar as mense nou lui geword het vir blog, hoe maak jy dan?
  • https://toortsie.com/ Natuurlik lees ek graag hier by Toortsie en Kameel. Beide skryf op dieselfde blog, wat ek nou as kroekery sal bestempel, maar dit maak nie saak nie, want ons kuier lekker.

Oeps, nou het ook al agt genoem, maar dis Toortsie se slegte voorbeeld wat sy gestel het. Maak nie saak nie, ek het diepe waardering vir almal wat skryf en saamgesels in Afrikaans EN as die ouens wat ek hierbo genoem het nou kwaad is omdat ek hulle naam misbruik het – julle weet tog nie waar ek bly nie, so ek is veilig. Beskou dit asseblief as ‘n pluimpie van my kant af.

Follow Dis Ekke

Please find information about the coronavirus here SA Coronavirus South African Resource Portal

29 Comments

  1. Jou oulik! Dankie vir die saamspeel! Jy is die EERSTE een. Jy wen die PRYS! 🙂 En dankie dat jy ook vir my en Kameel benoem het. Ek hoop Kameel sal ook saamspeel.

    • Comment by post author

      Is ek? Ek het nounet teruggekom van ‘n daglange uitstappie af en het nog nie eers die bloginskrywings vir die dag gelees nie – net gou die kommentare deurgehardloop en toe sien ek raak hoe komplimenteer my nou so. Ydelheid!

  2. En ja, omtrent almal wat jy nou genoem het, wou ek ook nog noem … as ek net kon! 🙂

    • Comment by post author

      Ek weet – ons het ‘n paar oulike nuwe skrywers wat ek ook wou noem, maar toe besef ek dat ek nou nie selfsugtig mag wees met die name nie. Iemand sal wel met die name te voorskyn kom, anders begin ons weer van voor af!

  3. My gunstelinge ook!

  4. Baie dankie, Hester! Veral daai opmerking oor “jonk van gees” – die tannie blom waar sy hier sit!

    • Comment by post author

      Ek is nie so seker dat die “tannie”-deel van jou naam toepaslik is nie; in die ou dae sou hulle ons klomp tannies toegesluit het om die familie die verleentheid te spaar haha. Mag ons saam-saam disgracefully oud raak.

  5. Hester jy inspireer en intimideer my. Het jy al weer gaan stap – ek voel bedreig!!! Doet so voort.
    Iemand wat my humor waardeer is uit die aard van die saak intelligent 🙂
    Daar is dinge wat ek al oor geskryf het maar ook ander dinge wat dreig om my en my blogbootjie te sink, maar met mense soos jy en ander skep ek moed.

    • Comment by post author

      Ek weet jy gaan deur ‘n baie moeilike tyd en jy weet ook dat ek gedurig aan jou dink nè? Maar jy sal daardeur kom en dan kan jy vir ons verder vertel van jou klimmery en toere. Ja man, ek het gister hier in die Oribi se kom ingevaar en AL wat ek jou nou gaan vertel is dat ek SEER tone het en dorings in my … wel, oral. Jy moet maar terugkom en kom lees.

  6. Baie dankie, Hester! Dít is nou ‘n baie groot kompliment en behoort as aansporing te dien om meer gereeld te blog en saam te speel. So asof daar ‘n vaalte oor my gekom het.

    • Comment by post author

      Mens voel soms so asof jy nou “uitgesels” is en wens die familie wil nou huis toe gaan nè? 😀 😀 Maar dan gebeur daar weer sulke lekker dinge waaroor jy net MOET saamgesels.

  7. Lekker man, ek hou hiervan! Solank dit Afrikaans is!

  8. Almal wat jy genoem het is ook van my gunstelinge!Ek is natuurlik mal oor jou blog ook.Ek mis net vir ou Genissie!

  9. Jy verdien die benoeming! Jou skerp sienswyse en humor maak my baie dae laat lekker lag! Dankie!
    Ek geniet my besoeke daar na julle deel van die wereld en ook jou ondersteuning vir my blog! Weereens dankie!!! 😉

    • Comment by post author

      Dankie vir die kompliment en jy moet nou begin Afrikaans skryf! Ons het jou al mooi geleer die afgelope paar maande en om Afrikaans te praat is soos baaisiekel ry … seker nie die regte metafoor hier nie, maar jy weet wat ek bedoel.

      • Ek weet ja!! My probleem, soos ek al voorheen gemompel het… ek sukkel met die lees… en my spelling is power!
        Ek dink my lisdexia en die geskrewe Afrikaanse Taal werk nie lekker saam nie. Daar’s ‘n “disconnect”, soos die Ingelsman sou sê!!