Dis Ekke

My vreugdes en frustrasies

Dis Ekke

Kommin is mooi, kommin is goed

Wild strelitzia

Vandat ons hier in die Koninkryk van Zululand ingetrek het, het ek baie nuwe dinge geleer. Ek het geleer hoe dit klink om elke oggend wakker te word met die klap van die branders wat hulleself te pletter loop op die rotse, om daglank oor warm sand in die son rond te loop en dan in die koel water rond te dryf totdat my vingers en tone verpruim, om vrede te maak met die apies wat my brêkfis so voor my neus van die tafel af steel, om blare uit te sit vir die mak wildsbokke wat hier op die rand van ons grasperk wei, om rys en broodkrummels oor die balkonmuur te gooi vir die kwetterende wewervinke wat nes maak in die palmbome, om te gaan slaap met die slag van donderweer en bliksemstrale oor die see of die gekwaak van paddas hier onder in die dam.

Dit was ‘n heerlike klaskamer waar ek baie lesse geleer het en die meeste daarvan was goed. Daar was ook die minder goeies soos my kennisname met die Natalse muskiete, duwweltjies en slange in die lang gras. Maar hierdie is nie ‘n storie oor muskiete, duwweltjies en slange nie; dis ‘n storie oor piesangs. Kyk, ek vrek mos oor piesangs, so ek was behoorlik in my noppies om die klomp piesangbome orals hier in die omgewing te sien.

Die eerste jaar wat ons hier gewoon het, was nie ‘n goeie reënjaar nie en die piesangbome wou maar nie piesangs oplewer nie, maak nie saak hoe ek hulle dopgehou het nie. Hier onder by die hek was daar darem so een of twee trossies, maar dit het die blouape opgevreet toe hulle nog grasgroen was en niks langer as my vinger nie. Dis nou dieselfde vinger wat ek vir hulle rondswaai wanneer hulle my vrugtebak leeg steel.

Ek gaan bekla my lot by my wederhelf en hy lag vir my. Hy LAG vir my. Man, die meerderheid van hierdie bome is nie regte piesangbome nie. Huh, daar is verkeerde piesangbome ook? Nee, dis wilde piesangbome en hulle dra nie piesangs nie. Nuh? Nee, jy het reg gehoor, geen piesangs nie. Wel dis nou vir jou ‘n simpel boom wat lyk soos ‘n piesangboom, maar geen piesangs voortbring nie; die wildevyboom dra tenminste darem sulke harde vrank vruggies wat lyk na vye … wat die ape opvreet. Hulle vreet ook die mangoes, koejawels en grenadellas wat hier onder in die kloof groei. En my gekoopte vrugte.

Wat ek nie kon kleinkry nie, is die feit dat ons nie toegelaat word om die wilde piesangbome uit te haal nie. Daar staan hulle, lewensgroot, dra geen piesangs nie en versper boonop die uitsig op die strand en die rivier ook. Hulle dra glo wel die een of ander soort vrug met sade wat … wag hiervoor … baie voedingswaarde het vir die ape. Dus moet ek hulle nou maar verdra.

Hierdie jaar was tot dusver ‘n goeie reënjaar, ‘n baie goeie reënjaar; om die waarheid te sê: as dit ‘n beter reënjaar was, het ons al almal al aan vrotpootjie gely. Maar toe die son weer een dag sy kop uitsteek, gebeur die wonderwerk – die simpel faux piesangbome begin blom so op ‘n streep. My bek hang oop van pure verwondering. Die blomme is mooi en hulle lyk net soos ‘n strelitzia, behalwe dat hierdie blom sulke persblou kroonblare het en spierwit kelkblare, waar die strelitzias wat ek ken se blomme blou en oranje is (of blou en geel as hulle baie grênd is en Madiba se naam dra).

Nouja, sê my alwetende wederhelf, dit is mos ‘n strelitzia, hulle noem hom die kommin strelitzia. Ekskuus tog, maar ek het seker nie reg gehoor nie, eers het jy gesê dis ‘n wilde piesangboom en nou is dit ‘n kommin strelitzia? Toe wip ek my gat in ‘n krul en gaan vra vir Mevrou Google en ja, hierdie boom wat lyk soos ‘n piesangboom, staan ook bekend as die Common Strelitzia / Strelitzia Nicolai / Natal Wild Banana). Die vrug bestaan uit drie lobbe in ‘n houtomhulsel wat oopbars om die swart saad in die oranje wollerige bedekking vry te stel. Die saad is baie gewild onder soogdiere en … wag vir dit … veral die blouapies.

Hoe dit ookal sy, dit was ‘n baie aangename kennismaking met die kommin strelitzia en kommin is mooi, kommin is goed. Ek wil ook so mooi kommin wees.

 

Follow Dis Ekke

18 Comments

  1. Is ek reg, soos ek dit ken is dit die Giant Strilitzia? Het ‘n groot bos voor my voordeur gestaan en vir 15 jaar het pappa gekerm hy moet uit. Wel, hyis nou uit. Hoekom, weet ek steeds nie.

  2. Hier leer ek nou ook iets!

  3. Hulle groei verskriklik maklik en is ‘n lushof vir suikerbekkies ook…darem nie net vir apies nie!Oulik geskryf.Ek geniet jou humorsin!

  4. Baie mooi common! Ek hou daarvan.

  5. Interessant! Ons het werklike wilde piesangs op Magoebaskloof wat vrug dra. Dis ‘n kleiner piesang, met ‘n ryk frank smaak, aangeplant vir die ape. Nou wonder ek of dit nou weer ‘n ander soot is?

    • Dit lyk my daar is verskillende soorte; hierdie een word aangedui as “coastal dune and forest vegetation, as well as inland forests, along the east coast of southern Africa ” en is blykbaar volop in Oos-London, KZN en Mosambiek. Dit kan dan wees dat daar nog variëteite in ander streke is. Vir my was dit natuurlik heeltemal vreemd, want ek het in Namakwaland grootgeword 😀

  6. Nou leer ek op’n lekker manier ‘n feit of twee.

  7. Ja-nee kyk… daar is baie lesse om te leer in daai klaskamer! Kommin lesse ook! Voer die ape… dis belangrik!
    Ai… dis so lekker om jou poste te lees en nou om te dink julle moet trek!
    BTW… as ek lees van blouape wonder ek oor die tuin op die balkon? 😉
    Nou wonder ek oor die goeie wederhelf… is daar toe erkenning gegee vir sy verbysterende piesang kennis? In my huis sou so ‘n ding nie maklik gebeur nie! Wha ha HA!! 😛

    • Nee, die leier van die trop wat altyd so by ons kom maaltye nuttig het, is dood in ‘n leierskapstryd. Hulle kom nou glad nie meer hier nie en voorlopig is ons groente veilig. Die wederhelf … wel, ek het hom darem in die blog genoem; dis mos nou genoeg, of hoe?

  8. leer ek nou ook iets!!!!! EN ek is net so lief vir piesangs…. niks lekkerder as piesangs en mayo op ‘n sny bruinbrood nie (ek het dit so leer eet in Magoebaskloof toe ek vir 8 maande op ‘n piesang plaas gebly het)

    • Piesangs en mayo! Nog nooit van gehoor nie 😀 En ek het gedink Elvis se piesangs saam met peanut butter was eienaardig. Ek sien dat baie mense hier rond groen piesangs in die pan braai en dan ‘n knypie sout oorgooi – ek wil dit nog probeer.

      • Piesangs en sout…. interesant. Ek wil dit ook probeer. En ek dare jou om ‘n toebrootjie te maak met pisang, cross & Blackwell mayo en margarine… probeer dit. Die ergste wat kan gebeur is dat jy dalk nie daarvan gaan hou nie. Maar dalk verras die smaak jou

  9. Ek het nou ook iets geleer!!

Leave a Reply

Theme by Anders Norén

Back to Top
%d bloggers like this: