Dis Ekke

My vreugdes en frustrasies

Dis Ekke

Fundamentele egtheid

Hierdie week se Discover Challenge Radical Authenticity het my laat nadink oor die dinge wat ons skryf, fotos wat ons neem en inligting wat ons deel op sosiale media. In die openings-inskrywing word onder meer menings aangehaal dat dit by sommige mense ‘n gevoel van onsekerheid skep wanneer hulle op sosiale media sien hoe perfek ander mense hulle eie persoon en lewe voorstel. Nog erger, persone wat so ‘n oënskynlike feëverhaal leef, begin ly aan identiteits-uitputting: ons is so besig om onsself as suksesvol en gelukkig voor te stel, dat ons terselfdertyd besig is om onsself uit te put.

Die idee agter die uitdaging, soos wat ek dit verstaan, is om ons aan te moedig om met volkome eerlikheid te lewe en jou ware self vir die wêreld te wys. Ek het hierdie soort van eerlikheid laas ondervind toe ek in ‘n baie klein dorpie gewoon het en die skinderbekke alles van my af geweet het, meer as wat ek self ooit van myself kon weet.

Nou toe, hier is my eie, opreg eerlike bydrae tot die debat:

Ja, eerlikheid en opregtheid is ‘n baie goeie ideaal. Emosionele, akademiese, politieke, seksuele en … en … probleme en triomfantlike oorwinnings moet bespreek word sodat die inligting daar buite beskikbaar is vir diegene wat dit kan en moet gebruik. Ons moet debat voer daaroor en profesionele menings daaroor bekom. Probleme van openbare belang moet aangespreek kan word, want onregmatighede mag nie onder die dekmantel bly nie. Ons eerlikheidheid en opregtheid moet sodanig wees dat ons saam kan soek na oplossings vir probleme en almal saam die voordeel kan trek uit oplossings en goeie raad. Ons moet nooit ophou kommunikeer en soek na ‘n beter lewe nie, want dan stagneer ons gemeenskaps- en spirituele lewens. Ons moet ook nooit ophou om mekaar te ondersteun in ons dae van nood (tasbaar en emosioneel) nie.

Hierdie openlike gesprekvoering en ondersoeke moet plaasvind op geordende wyse en met die doel dat dit die ore bereik van die gemeenskap in die algemeen, insluitende die persone en instellings wat ons verwag betrokke moet raak. Dit beteken dat hierdie soort sake aangespreek moet word op die regte platforms. Dis die rol wat in die verlede vervul was deur koerante (nie die Son nie), tydskrifte (nie die Huisgenoot nie), die kerke (wat self nie altyd te seker was van die boodskap wat hulle moes uitdra nie), die Parlement (uhm … ja). Sosiale media het die debat van die lewe oopgestel vir almal wat belang het daarby en dis goed so.

MAAR (daar is altyd ‘n maar, nè?), kom ons kyk nou na die ander sy van die saak ook:

Facebook word altyd voorgehou as die groot sondebok, so kom ons haal sommer die latte uit en help slaan. Daar word nou groot gewag gemaak van die feit dat mense net die goeie deel van hulle lewens op facebook vertoon – die luukse vakansies, die fotos van hulle nuwe motors, hulle kinders se prestasies, hulle oulike selfies en profielfotos wat so ‘n bietjie onder Photoshop deurgeloop het. Daar word niks gesê wat die facebooker in ‘n slegte lig kan stel nie.

EN? Wat daarvan? Ek gaan beslis nie ‘n foto van myself op facebook plaas met my vroegoggend-deur-die-slaap gesiggie, toegevou in my pienk kamerjas nie. Ek sal mos nie so op straat verskyn nie; hoekom dan op facebook? Ek gaan nie hier oorvertel dat ek en my man ‘n luidkeelse meningsverskil gehad het oor die kleur van die nuwe gordyne nie; dis nie die soort nuus wat ek eens sal oorweeg om langs ‘n braaivleisvuur tussen vriende op te haal nie, hoekom dan op facebook? Gaan ek ‘n foto opsit van die pot rys wat ek aangebrand het of my sjokoladekoek wat platgeval het? Nee! Spaar my van sulke eerlikheid oor my onbeholpenheid! As dit die soort openbare eerlikheid is wat jy verlang, gaan woon op ‘n klein dorpie. Opregte eerlikheid word soms in elk geval net ‘n verskoning daarvoor om Jannie Jammergat of Willie Weetbeter te speel en in beide gevalle is dit ‘n pyn in die gat.

Daar is vir die facebook-leser ‘n baie maklike manier om haar-/homself te beskerm teen die uitputting wat ander mense se nie-opregtheid meebring: druk die scroll sleutel en rol verby die beriggie wat jou so uitput. As jy moeg is vir my vakansiefotos en kiekies van my kinders/kleinkinders, hou verby. As jy regtig gatvol raak, unfriend my asseblief; die kanse dat ek dit sal agterkom is op ‘n skaal van een tot 10 iewers tussen zilch en zero.

Dit bring my by die vraag: watter soort media is die beste wyse van kommunikasie om daadwerklike openhartige gesprekke en debatsvoering te handhaaf? Daar is klaarblylik ‘n behoefte aan so ‘n gespreksplatform wat nie sal ontaard in ‘n moddergooiery, ‘n monduitspoel-sessie of ‘n bespreking van my buurvrou se sekslewe nie.

Hoe sif ‘n mens deur die magdom inligting wat skielik beskikbaar geraak het op die internet? Wat lees julle?

 

 

Follow Dis Ekke

36 Comments

  1. Menz kyk prentjies op FB vir entertainment. Menz lees blogs om MENSE raak te lees.

    • Soos ek ook. Ek kyk sommer prentjies op blogs ook, maar nie van so ‘n persoonlike aard dat ek daaroor bloos nie 😀

  2. Jou inskrywing het my weer laat dink aan die ou waarskuwing: Moenie jou eie “behind the scenes reels” vergelyk met ander se “after the cut” produksies nie. Ons ken die binne warboel en chaos van ons eie lewens maar probeer almal tog maar om ‘n meer aanvaarbare gesensorde getrimde weergawe vir die buitewêreld te wys. Nie altyd omdat ons iets probeer voorgee wat ons nie is nie – dikwels omdat ons onseker is van onsself en hoe ander ons ervaar dalk?

    • Ek reken dit verskil van persoon tot persoon. Ek sal nie daarvan hou as iemand heeldag lank in my psige wil rondkrap nie, maar ek het ook nou nie regtig lus om my derms uit te reik vir ‘n ieder en elk nie. Dit doen ek verkieslik op my blogs, soos Poerdez sê, daar praat ons met mense.

  3. Het ek nou lekker gelees en heeltyd instemmend geknik! Vind ook die blogs ‘n heel ander omgewing as fb, op my Leser is meestal geesgenote doenig.

    • Presies! Op die blogs vind jy ‘n spesifieke gehoor wat jy gaan volg. Gedeelde belangstellings en sentimente.

  4. Ek weet omtrent soveel van kommunikasie soos ek weet van kernfisika maar ek weet daar bestaan so ‘n ding soos information overload.
    Ek weet ook dis maklik om op media platforms met gelykdenkende mense debat te voer, maar wanneer daar sterk opponerende opinies bestaan is ‘n aangesig tot aangesig gesprek steeds koning.

    • Ek dink ook so. Sosiale media, en meer spesifiek artikels en joernale waar die doelstelling bewusmakend is, vervul ‘n belangrike doel, maar bewusmaking alleen is nie genoeg nie – ons moet aanbeweeg en oplossings soek. Die aanhoudende k@k en kerm wat lei na niks, kan redelik vervelig raak. Debat doen jy aangesig tot aangesig, want dis nie so maklik om modder te gooi of ‘n paar f-woorde in te voeg wanneer jy jou opponent in die oë kyk nie. (Tensy jy natuurlik nou deelneem aan die Amerikaanse presidentsdebat!).

      • Daardie maak n bespotting van die woord debat. Sirkus is meer beskrywend.

      • Maar so entertaining. Ek weet nie waar lê die toekoms van ‘n volk wat dit goed vind om vir narre te stem nie.

      • Wanneer die politikuste vermaak, en die vermaaklikheidsmense politiek; dit is wanneer jy weet ons is in diep doodoo. Amerikaners vind nou ook uit wat Suid Afrikaners al geruime tyd weet.

      • Die meerderheid moet mos regeer. ? Daardie model werk lankal nie meer vir my nie, want die meerderheid is meer in kwantiteit en minder in kwaliteit.

  5. Ekself woel nie baie rond in FB nie, daar is te veel mense met jou ge-friend is, wat verwag dat jy heilig moet wees (dis nou as jy ‘n heilige werk het)
    Op die blogs kan ek ontspan. Ek lees baie keer sonder kommentaar lewer. Dis soos om agteroor te sit, en net die artikels te geniet. … en lees al jul doen en lates … dis vir my lekker, en het meer vleis as FB.

    • Facebook is vir my meer onpersoonlik – ek gaan beslis nie daar sit en trane stort nie. Dis wel ‘n maklike manier om ou vriende op te spoor en by te hou met hulle doenighede. Ek verkies ook die blogs waar ‘n mens met “like-minded” bloggers kan gesels.

  6. Ek weet darem nie so mooi nie … ek hou daarvan om te sien/hoor dat dit goed gaan met mense/oud-leerders/vriende… dis goed dat mens soms kan saam feesvier /huil/bemoedig. As mense onwaarhede verkondig is dit tog vir hulle eie boekie?
    Die blogs is goed maar dis glad nie soos dit op Litnet en Mweb .. hier is glad nie sulke intensiewe gesprekke nie.
    Ag miskien is ek net dwars vandag

    • Dis hoekom ek sê ‘n mens moet die regte platform vind en dan daar deelneem aan die gesprekke. Ek dink hierdie uitdaging het gegaan oor hoe eerlik jy bereid is om te wees oor jou persoonlike gevoelens. My standpunt is dat ek nie vir myself lieg nie, maar dat daar sekere onderwerpe is wat ek weier om in die publiek aan te spreek – ek hoef niks aan ander mense te bewys nie.

      • Dis waar en daar is onderwerpe waar daar nooit ‘n wenner is nie so waarom dit dan doen

      • Dis waar. As ek meer “ernstige” onderwerpe wil aanspreek, sal dit wees met die doel om oplossings te probeer vind vir sosiale probleme. Ek kan nie die alewige gepieker oor hoe alles skeefgeloop het verdra nie – niks word bereik deur daaroor te sit en kla nie.

      • Grinnik… ek hou ook van kla, maar ons doen dit elke middag op my buurvrou se stoep … Nee ek lieg ons het baie pret ook

  7. Voor mij is FB een fijne manier om contact te houden met andere natuurfotografen . Ik ben niet geïnteresseerd in mislukte baksels en ook hoef ik niet te weten of je in een restaurant zit, wat je eet en of het lekker is. Er word zoveel onzin gedeeld.

  8. Ek stem saam,mens pleister nie al jou skandes in die openbaar nie en tóg is dit positief om mense se allerdaagse vreugdes op FB te geniet.So het ek baie van julle leer ken,sonder dat ek julle ooit ontmoet het.Wat ‘n lekkerte!

    • Heerlik om so met ander mense te gesels op fb en die ander bloggers ook so te leer ken. Ons het ‘n private familiegroepie oopgemaak in fb waar net die gesin kan lees – dis nou wanneer ons nuus het wat te persoonlik is om te deel.

  9. Ek atem 100 % met jou saam. Op my blog en sosiale media sit ek op wat ek graag wil. Op my blog skryf ek wel soms dat ek ook al deur die meule is en dis dan gewoonlik met die doel om iemand anders op te beur en dis dan die boodskap wat daarmee saam is.
    Ek sien faceboek en my blog as presies dieselfde as kuier tussen vriende. My blog is soos my sitkamer. Op jou blog respekteer ek jou soos ek jou in jou eie sitkamer sou respekteer het.

  10. FB staan my nie rerig aan nie want daar word volgens my meer oë verblindery gebruik om ander te beindruk dan om eg en werklik te wees/ meer spog as werklik wees. Die blogs is meer ingerig vir rustig en gesellig wees. Mens kies ook maar uit waarvan mens hou. Interessante bespreking wat jy hier uitgelok het.

  11. Fb is vir my lekker in die sin van op hoogte van bly met wie is waar en is daar ‘n nuwe kleinding ens. Maar stel niks belang in uitreig en slegsê stories nie. Was lekker toe ek ‘n vriendin van 50 jaar gelede nou die dag op Fb opspoor. Maar ons private gesprekke doen ons oor die telefoon.

    • Ek praat nie graag op ‘n telefoonlyn nie, want ons ontvangs is swak – jy loop met die handstuk van stoep tot stoep om ‘n sein te kry. Ek hou van fb inboks of whatsapp as ek privaat wil gesels. Dis vreeslik lekker as jy ou skoolmaatjies raakloop nè?, maar diegene wat politieke memes of “chain letters” aanstuur word summier ge-unfriend.

  12. FB hou mens op hoogte van verjaarsdae, babas en ook foto’s van vriende wat al ‘n lang pad saam met jou loop. Ek lees net wat ek wil en teur my ook nie aan al die skinderstories nie! Share net waarmee jy gemaklik voel. Op die blog is daar beslils meer persoonlike goed wat mense meer van jouself vertel!

    • Dis waar, want jy kuier gewoonlik op die blogs van mense wat dieselfde belangstellings deel as jy. Dankie vir die inloer!

  13. Hoekom, het ek die blog gemis? Baie waarhede hier. Wat my pla van Fb, nie my persoonlike een nie, maar by ander groepe, die kwessie van respek. Mense wat mekaar slegsê, omdat jy, dit durf waag, om van hom te verskil. Ken mekaar nie eers nie.

    • Ja dit raak soms lelik persoonlik en vulgêr. Ek is nie nougeset nie, ver daarvandaan, maar party mense ken net nie hulle perke nie.

  14. Faceboek hou jou darem op hoogte van wat in jou dorp aangaan en hier by ons kry baie diere bv goeie base omdat hulle op facebook geplaas word. Ek lees graag, maar sit baie min op. Blog is ‘n ander storie. Dis skryf. ( soms persoonlik, soms nie,) maar dis ‘n oefening in goed skryf omdat jy iets wil se of vertel wat ander dalk interessant of van hulp sal vind.

    • Ek hou van die blogs omdat ek baie leer daaruit en ander persone se opinies kan kry. Dan ook, dis ‘n goeie media om ‘n storie oor te vertel of aan te hoor. Dankie vir die inloer en saamgesels.

Leave a Reply

Theme by Anders Norén

Back to Top
%d bloggers like this: