My vreugdes en frustrasies

Dis Ekke

Bok-bok staan styf

Hoe weet ‘n mens wanneer jy oud word? Jy weet presies hoe gefosilleerd jy reeds is wanneer onverwagse kleinighede op jou pad jou laat terugdink aan dinge wat dekades gelede gebeur het en diep begrawe was in jou geheue. Nie net bly dit by die herinnering nie, maar daar kom ook altyd ‘n storie daarmee saam.

Dis my persoonlike mening, die geleerdes hoef nie hulle koppe te skud nie.

Vandag se gebeure: Ons het teen ‘n stink spoed met die N2 langs gery, toe my dogter skielik skreeu: “Bok! Bok!” en net daar gooi die swart karretjie ankers, reg langs die hoofweg op die skouer van die pad, net so binne die geel lyn. Moet tog nie die padpolisie hiervan vertel nie asseblief; daar is reeds genoeg fotos van die swart karretjie in hulle rekords. Die feit dat die taxi’s dit ook doen, dra geen gewig by hierdie dienaars van die gereg nie.

Hier in die Koninkryk van Zululand, sien jy heel dikwels skape, bokke en beeste wei langs die grootpad. Hondmak staan hulle daar, vasgemaak aan hulle leirieme, al kouende aan grashalms en knip nie eens ‘n oog wanneer die swart karretjie net ‘n tree van hulle af verbyskiet (en soms stilhou vir ‘n foto) nie. Kyk nou mooi na die foto hieronder – die teerstrook daar onder regs is die buitenste rand van die grootpad se skouer, net so links van die geel lyn.

Goat grazing next to the N2 freeway KZN

Bekyk hom nou van naderby. Hoe kan jy nie hierdie gevreetjie waardeer nie?

Goat next to the N2 freeway KZN

… en die storie(s) wat daarmee saamgaan: Toe ek nou die foto so sit en bekyk, hol my gedagtes terug op ver paaie.

Die eerste gedagte was aan die speletjie wat ons so graag by die laerskool gespeel het: bok, bok, staan styf, hoeveel vingers op jou lyf? het ons die hele langpouse gedreunsing, terwyl ons gehardloop en wydsbeen oor die “bok” se rug gespring het. Met vlieënde vlegsels en geplooide navy blue jumpers wat ons navy blue bloemertjies tentoongestel het, het ons gespring totdat ons gô uit was. As ek dit deesdae moet doen, sal my gebeendere bly lê wanneer my lyf opstaan. Hoeveel mense onthou nog hierdie speletjie?

Die tweede herinnering was aan die dag toe ek en my (toe aanstaande) man ‘n besoek aan die Pretoriase dieretuin gebring het. Daar was ook ‘n bok met so ‘n kenbaardjie. Ek kan nou nie sê of dit ‘n boerbok was of dalk ‘n uitlandse soort bok nie, maar ek onthou wel die kenbaardjie wat so heen en weer gewikkel het soos wat sy eienaar, al kouende aan ‘n grashalmpie, die groep mense aan die buitekant van die draadhok kalmpies bekyk het. Skielik haak die (toe aanstaande) man af en sê kliphard: “Haai kyk, daar is Dr. Hertzog ook!”

Daar was eers so ‘n doodse stile en ek het benoud rondgekyk om te bepaal hoeveel HNP-aanhangers in die bondel mense staan, ook maar banggat en gereed om te vlug, want daardie dae was politiek ‘n ernstige aangeleentheid wat met die nodige respek en waardigheid behandel is. Toe lag eers een en later al wat mens is, terwyl ek staan en bloos oor al die aandag wat skielik op ons toegespits is. Ek was toe nog ordentlik en het gebloos wanneer vreemde mense na my gekyk het.

Sien jy nou waar ‘n bejaarde ou vrou se gedagtes kan gaan draai by die aanblik van so ‘n pragstuk van ‘n jong bok? En … ek bloos nie eens nie.

.

Follow Dis Ekke

Please find information about the coronavirus here SA Coronavirus South African Resource Portal

27 Comments

  1. hehehehe… lekker onthou

  2. Dis ‘n bielie van ‘n bok daai! By ons het net die seuns “Bok bok staan styf” gespeel, want hulle het nie bo-oor die gebukkende maat gespring nie, maar een na die ander bo-op hom gespring en vasgeklou, om te sien hoe sterk hy is! Wilde dae daai, Hester, wilde dae, seg ek jou…

  3. Dan is ek ook gefosilleerd. Onthou so goed hoe die seuns dit by ons skool gespeel het!

  4. Ek onthou Bok-bok, een ou was Die Paal, teen wie die eerste “bok”geleun het.

    • Comment by post author

      Daar is bykbaar heelwat variasies op die speletjie. Ek weet van die Paal of die Kussing. Ons het ‘n meer afgewaterde een gespeel waar jy oor al die “bokke” gespring het en dan het het jy die voorste bok geword. Die agterste bok het dan weer saamgespring. Ons was verbied om op die bok se rug te spring of te sit.

  5. Is dit ‘n geval van ou blaar,jong bok?😂

  6. Hulle sê ‘n man is soos ‘n bok en ‘n bok …. issi bliksem! 😉

  7. Dit herriner my nou aan skoolvakansies op my oom se plaas (waar die sonsopkoms “narrow”fotos geneem is. Op een dag het hy ‘n skaap en bok geslag. Die skaap het geruisluis sy lot aanvaar – nie die bok nie!

  8. Ai vat jy nou my gedagtes vêr terug Hester met al die speletjies wat ons as kinders gespeel het. Net nou die dag praat ek en my skoonsuster oor al die speletjies, onder andere ‘koning koning mag ek op reis gaan?’ Ons het ons kleinkinders dit laat speel wat baie gelag afgegee het

  9. Ken die bok-bok speletjie, en stem saam dat daar nie ‘n manier is waarop ek hom nou nog kan speel nie. Praat politiek in daardie dae en die vertrek word ‘n oorlogsveld. My pa was so ontstoke toe ek kon gaan stem en hy vra my wat gaan ek stem. Daar het toe net ‘n nuwe party by die Sappe, en Natte gekom, en ek sê so ewe ek gaan vir die nuwe party stem. Dit was die verkeerde ding om te sê.

    • Comment by post author

      Jissie, daai ou klomp Natte en Sappe was erg! Gelukkig was my ouers meer gematig.

      • My pa het my mos dood voor die oë gesweer sou ek ooit ‘n Engelsman oor sy drumpel bring. Toe het ek ook 🙁

        • Comment by post author

          Haha, hel daai dae se mense – die kêrel moes die regte taal praat, aan die regte kerk en party behoort, die regte kleur wees … ek was “gelukkig”, my pa het sommer alle kêrels verbied. Het jou pa darem toe vrede gemaak met die Ingelsman?

        • Ek is eers afgeskryf…. soos my ma gesê het as jy voortgaan met die verhouding is jy nie meer ons kind nie. Ek het toe in sonde saam met die Ingelsman gelewe… en sy kind verwag. Het toe vir my ma gesê dan het julle nie meer ‘n kind nie. Later is daar vrede gemaak, en hy is aanvaar. My ouers was baie life vir hom.

        • Comment by post author

          Dis soos dit gewoonlik uitwerk – die ongewenste man word die mees geliefde skoonseun.

  10. Hester, dis bo-baas vertellery die. Jy laat my nou terug dink aan die keer toe ek vir my beste vriend gaan kuier het toe hy op ‘n plaas in Babsfontein gebly het. Ons maak die een oggend reg om Pretoria toe te ry to ons afkom op ‘n troppie boerbokke, drie van hulle het parmantig op sy kar gestaan (op die dak en bonnet). Toe besluit ek net daar en dan dat die bokke wil hê ons moet bly hehehehehe Dis nie dat ek bang vir bokke is nie, hoe kan mens bang wees vir sulke cute gesiggies. Ek wou hulle net nie steur nie, hulle het die kar dan so geniet!

    • Comment by post author

      Eish en hoeveel skade was daar aan die kar se verfwerk? Nee, jy hoef nie bang te wees vir bokke nie – hulle is vreedsame diertjies … behalwe soms!

      • Dierbare goedjies ja… ek stem oor die ‘behalwe soms’. Glo dit of nie daar was nie skade aan die kar se verfwerk nie… dit is die freaky deel van die storie