My vreugdes en frustrasies

Reis, Travel

Vir Frannie: Hibberdene

Toeka Tokkel 24: Winter

Ek en Frannie gesels so nou en dan op ons blogs oor die plekke langs die Suidkus waar sy in haar kinderjare vakansie gehou het. Frannie sê dat Hibberdene vir haar besondere herinneringe inhou. Ek kan natuurlik elke dag, die hele liewe dag lank, gesels oor die see en die strande as iemand my die verskoning bied, maar hierdie keer is dit regtig Frannie se skuld dat ek nou weer eens strand-fotos op my blog gaan laai 😀

Ons is elke dag op die strand, maak nie saak hoe die weer lyk nie, want ek moet terwille van die liewe gesondheid elke dag so ‘n kilometer of drie stap. Om met die teerstraat af te loop, doen niks vir my gemoed nie, dus is dit strand toe, al gaan ons met reënjassies, watersteweltjies en gebreide mussies. (Ja, ek gebruik verkleinwoorde … om die impak van die winter op my emosies te probeer bekamp).

Verlede week Vrydag egter, het ons onverwags een van daardie heerlike somersdae in die middel van ‘n koue, windverwaaide winter gehad. Ons was vir ‘n vinnige heen-en-weertjie Hibberdene toe vir inkopies. Van die winkels af is dit net so ‘n spoeg ver tot op die strand. Wat eienaardig is, is dat ons in die agtien maande wat ons reeds hier woon, by amper elke strand langs die Suidkus vertoef het, net Hibberdene het nog nooit ‘n beurt gehad nie.Vir ons was dit altyd net die dorp met die winkels en die apteek.

Wag, ek moet nou eers myself in die rede val en die storie aanhaal wat my man so graag vertel van ‘n kollega wat desjare saam met hom gewerk het. Hulle het elke jaar Hibberdene toe gekom vir die skoolvakansie en sy het nooit ‘n geleentheid laat verbygaan om te spog oor haar seevakansies nie. Maar, sê hy, sy kon dit nou regtig aanplak: sy het nooit sommer net “Hibberdene” gesê nie, nee sy het gepraat van H-asemteugie-ibber-spasie-die..ENE, met so ‘n draai en ‘n aksent op die laaste lettergreep. Dus, wanneer ek en my dogter ons weeklikse inkopies op daardie dorpie gaan doen, ry ons nou deesdae ook “H.ghie.ibber.die.ENE” toe.

Hierdie keer het ons die inkopies op dubbelspoed afgehandel om gou ‘n draai by die strand te maak. En watter aangename verassing was Hibberdene strand nie vir ons nie. Ons het lank na middagete eers weer by die huis opgedaag, met ‘n kamera vol fotos en sonder brood of melk; laasgenoemde het sommer vergete gebly in die haas om op die strand te kom.

Ek hoop julle geniet die fotos.

Follow Dis Ekke

Please find information about the coronavirus here SA Coronavirus South African Resource Portal

24 Comments

  1. Korrelkop Kahuna

    Dit lyk nog nes ek dit onthou.

    • Comment by post author

      Daar is ‘n lekker eetplek net daar by die strand (Jolly Roger – jy ken hom seker) en ons was eendag daarin. Net so oor die treinspoor geloer na die strand toe en die geboutjies op die strandfront was maar baie verwaarloos. Ek was Vrydag bly om te sien hulle het begin opknapwerk doen en dit lyk beter. Die hele Suidkus is deesdae besig om ‘n facelift te kry. Het jy ook hier rond gewoon of vakansie gehou?

      • Korrelkop Kahuna

        Voor die van Helsdingen my vir die pot geskiet het was ons somermaande feitlik eenmaal per maand iewers langs die suidkus om te gaan duik. Toe die vryery nou ernstig raak was Scottburgh ons tweetjies se vakansieplek (ons het ook daar verloof geraak). Derhalwe het ons daardie kus vrot gery op soek na nuwe en interresante plekke om te sien

        • Comment by post author

          O lekker. Ons woon so tussen Scottburgh (30 km) en Hibberdene (8 km). Scottburgh is een van die strande waar nou weer baie werk gedoen word. Het maar sleg gelyk toe ons hier gekom het.

  2. OOO vrokkie… dis mooi… en lekker… en ek verland!! 😉 😛 😀

  3. Wow, dis prentjie mooi. Die Suidkus het sulke mooi, wit fyn sand strande

    • Comment by post author

      Die sand is eintlik ‘n meer goue kleur, maar in die sonlig lyk dit wit op fotos. By sommige strande is dit baie fyn en by ander is dit weer grof. Dis nogal ‘n mooi variasie.

  4. Wij genieten van je foto’s! Liefs mefrouw

  5. Ek gaan ook see toe. Ons ry Woensdag vir 5 weke Shelly beach toe…. gaan weer vir ons seun kuier. Verwag nie veel van die weer nie, want hy was vir die afgelope paar jaar ons glad nie goedgesind nie 🙁 Anders as jy gaan ek nie ‘n mussie op my kop sit en die weer trotseer nie. Sal sommer maar so van die stoep af die see bekyk.

    • Comment by post author

      Dalk is jy gelukkig. Die ouens hier rond sê almal dit gaan binnekort somer wees. Ons was in 2014 hier in laat Julie en ons het fantastiese weer gehad. Die fees het aangehou tot Junie 2015 en toe val die hele spul uitmekaar.

  6. Prantige foto’s soos altyd

  7. O, ek erken graag skuld (en neem sommer krediet ook!) vir hierdie lieflike foto’s en die interessante kommentare! Dankie, Hester, dat jy my gawe blogvriendin is.

  8. Oe dit lyk lekker….mooi geskryf Hester.

  9. Ek geniet see foto’s. Daar is altyd lewe.

  10. Ai maar jy is n gelukkige meisie om so naby die mooi see en strand te bly. Ek het een jaar saam met my suster in Heberdene vakansie gehou, ons het om die einde dit Bibberdene genoem. As ek reg onthou kon ons net een dag rerig op strand wees. Bygesê my suster se kinders was nog maar klein daardie tyd en mens kon nie rerig met hulle strand toe of see toe gaan nie. Ons het aan oorkant v treinspoor gebly.
    Baie dankie vir mooi fotos en die mooi vertelling.

    • Comment by post author

      Ja, by die see is dit nie elke dag mooi weer nie. Jy moet wag vir daardie heerlike dag en dan los jy alle werk, huiswerk, kosmaak en waai strand toe. Aan hierdie deel van die Suidkus is alle strande aan die anderkant van die treinspoor 😀 Dit moes ‘n baie mooi uitsig gewees het uit ‘n passassierstrein, maar nou hardloop hier nog net goederetreine.

      • Dis te lekker. Hier is die kus bietjie ver van my af en dis meestal te koud en winderig. Daar is egter gedurende die somer pragtige dae. Almal is dan op die strand. Wellington is bekend vir sy wind-nie altyd te plesierig nie.

  11. Pragtig, ek voel sommer die warm sand tussen my tone en die ruik die reuk van klapper.
    Vir Tannie Frannie en vir Tok ♥
    Oulk geskryf 😉