My vreugdes en frustrasies

Cancer

Die gelukkige ek

English version here

Met my eerste besoek aan die chirurg twee weke na die mastektomie, was hy baie in sy skik met my vordering. Nadat die dreineringspype verwyder is, was ek reeds in staat om my arm bo my kop te hou en my hare self te borsel. (Ek het nietemin aangehou om die battery-aangedrewe tandeborsel te gebruik terwyl ek gelees of televisie gekyk het, tot groot irritasie van my familie!)

Goeie nuus was dat hulle geen teken kon vind dat die kanker begin versprei het nie, maar dit was nie ‘n honderd persent waarborg dat daar nie abnormale selle teenwoordig was nie en hy het my verwys na ‘n onkoloog. Dit het beteken dat ek nog ‘n verdere paar uur by die kliniek moes deurbring vir bloedtoetse, x-strale van my longe, sonar-video-opnames van my hart en ingewande – dit het gevoel asof my binnegoed uitgedop is om inspekteer te word. Dit was vir my, ‘n ware control freak, ‘n nare ondervinding om so hulpeloos en blootgestel te voel. Gelukkig was al hierdie fasiliteite beskikbaar onder een dak.

Nog ‘n geluk was dat ek al jare lank lid was van ‘n uitstekende mediese fonds. Daaroor was ek baie dankbaar, want al die mediese kostes is deur die fonds gedek, van begin tot einde.

Kort daarna het ek my eerste besoek aan die onkoloog gebring en hy het die uitslae van die toetse met my bespreek: my hart, niere, longe, lewer en nog ‘n paar ander organe waarvan ek nog nooit gehoor het nie, was in goeie orde, bloeddruk, suiker en cholestrol normaal. Goeie nuus dan.

Ek sou egter wel chemoterapie moes kry as voorkomingsmiddel, omdat borskanker vroeg reeds begin “uitsaai” en die behandeling is gemik op die vernietiging van enige kankerselle wat dalk nog in my liggaam teenwoordig mag wees.

“Maar”, sê die wyse man, “jy is eintlik baie gelukkig”. Net voordat my onderkaak die mat slaan, verduidelik hy dat ek ‘n hormoonverwante kanker het, wat maklik behandelbaar is, met goeie resultate. “Bowendien, as ek nou moes kies watter soort kanker ek wou hê”, sê hy, “sou ek borskanker kies, want die navorsing in daardie rigting het al so ver gevorder, dat die kanse op oorlewing en volkome herstel soveel groter is as by ander tipes kanker”.

Dankie Dokter, nou voel ek so gelukkig.

Siende dat daar niks met my verkeerd was nie, by wese van spreke, kon ons die volgende week reeds begin met die voorgeskrewe behandeling. Die onkoloog het verduidelik dat my behandeling oor ‘n tydperk van ‘n paar maande sou geskied en dat ek elke drie weke moes aanmeld vir chemo. Hy het gesê dat elke toediening my sou laat siek voel vir ‘n paar dae, maar dat ek sover as moontlik “normaal” moes voortgaan met my lewe tussen behandelings. Daarna het hy my voorgestel aan sy bekwame mediese assistent wat my gaan wys het waar ek die volgende week moes aanmeld.

Daar was ongeveer tien pasiënte besig om chemiese middels binne-aars te ontvang, vanuit die gemak van leerstoele in ‘n kring gerangskik – daardie soort wat jy agteroor kan stel om ‘n uiltjie te knip, wat sommige pasiënte ook gedoen het, tot my stomme verbasing. Party van hulle het onder mekaar gesels en sjokoladekoek geëet wat een van hulle gebak het. Ek is ook koek aangebied, maar my binnegoed het gereed gestaan om weg te hardloop en ek het die aanbod bedank.

Die mediese assistant het tussen die stoele rondbeweeg vir ‘n geselsie hier en daar en dis toe dat een van die pasiënte haar uitvra oor die rooi merke op haar hande. “O”, sê sy ongeërg, “dis waar ek myself verlede week gebrand het toe ek besig was om een van die pasiënte se drup gereed te kry”. Ek verneem versigtig en kry bevestiging dat dit die chemiese middels is wat aan pasiënte toegedien word waarna sy verwys. Dis nou die blêrrie soort gif wat hulle in my liggaam wil inpomp, het ek gegril, terwyl die ander pasiënte gelag het oor my verwilderde uitdrukking.

Gelukkige, gelukkige ek.

Daardie aand, terug by die huis, het ek probeer om ‘n brawe front voor te hou, maar dit was nie juis ‘n geslaagde poging nie en ek het maar in die bed geklim, waar Oliver my kom troos het. Oliver was Karen se majestueuse dik wyfiekat – sy het ‘n onverwagte geslagsverandering ondergaan ‘n paar weke nadat ons haar gekry het, maar sy het die naam behou – wat toe reeds vir agt jaar lank elke aand by Karen in haar bed geslaap het. Die eerste oggend terug by die huis na die mastektomie, het ek wakker geword met ‘n kat in my bed. Daarna het Ollie by my geslaap elke keer as ek siek gevoel het na ‘n chemo-sessie. Sy het pal by my in die kamer gebly op my “slegte” dae, totdat ek uiteindelik goed genoeg gevoel het om op te staan en dan het sy weer haar intrek in Karen se bed geneem. Dit het ‘n patroon geword gedurende die tydperk dat ek behandeling moes ondergaan en dit was ‘n vreemde troos om elke keer as ek wakker geword het, die plomp, warm lyfie teen myne te voel.

Oliver

Ek het nie kans gesien om by die huis rond te sit en naels kou terwyl ek die behandeling ontvang het nie en het die enigste uitweg geneem wat vir my sin gemaak het in ‘n wêreld wat skielik onderstebo gekeer is – ek het weer begin werk. Dit het ‘n mate van normaliteit verleen aan ons lewe en Karen het begin voorberei vir haar eindeksamen. My seun het my elke oggend werk toe geneem en in die middag weer kom haal, want hoewel ek net 20 kilometers van die middestad af gewoon het, was die verkeer ‘n nagmerrie. Dit was in die dae net voordat alle motors vanselfsprekend uitgereik is met kragstuur en ek sou gesukkel het met die stuurwiel en die ratte.

By die kantoor het net die kollegas in die afdeling waar ek gewerk het, geweet van die mastektomie en ek het dit so verkies. Ek was nie lus daarvoor om vrae te beantwoord of om my prognose, waaroor ek in elk geval nog self nie klarigheid gehad het, te bespreek nie. In my binneste het ek nog self nie die begrip van “ek het kanker” verwerk nie; boonop was ek een van daardie mense wat dit haat om my swakhede te bely en vertoon. Al wat ek wou hê, is dat my lewe sou gou as moontlik sou terugkeer na normaal. “Normaal” het vir my ‘n uitdaging geword, ’n mylpaal wat ek so gou as moontlik wou bereik.

Dit was die regte besluit om terug te gaan werk toe en het wondere gedoen vir my gemoed. My kollegas wat almal met ‘n goeie skeut humor geklap is, het nie gehuiwer om dit op my van toepassing te maak wanneer my humeur opgevlam het nie. Die episode van die ketting-e-pos was duidelik ‘n bewys daarvan. E-pos kommunikasie was ‘n nuutjie daardie tyd en in die korporatiewe omgewing is dit onmiddellik omhels as die ideale vorm van kommunikasie wat die gebruik van geskrewe memorandums uitgeskakel het. Ongelukkig het die werkgewers destyds nog nie die nodige reëls en regulasies in plek gehad om simpel grappies, kettingbriewe en al daardie euwels te beperk nie; die e-posse vanaf ander afdelings en selfs eksterne bronne het vrylik gevloei. Dis veral daardie ketting-e-posse wat jou beveel het om die “goeie boodskap” of gebed binne sewe dae aan sewe verskillende persone te stuur om groot ongeluk te vermy, wat my bloed kon laat kook.

Toe ek op ‘n dag weer een van daardie ketting-e-posse ontvang het, het ek luidkeels ‘n vloermoer gegooi. Die hoë afskortings tussen ons lessenaars het verhoed dat dat ons mekaar kon sien, maar my kollegas moes my wel deeglik gehoor het, want net oomblikke daarna het daar nog ‘n ketting-euwel in my inboks beland, hierdie keer van ‘n spanlid wat net aan die ander kant van die afskorting gesit het. Die boodskap was kort en kragtig: “If you do not pass this message on to seven people within seven days, your other tit will also rot and fall off”. Ek het histeries begin lag en almal het oor die afskortings geloer om saam te lag oor die poetsbakkery.

Dankie tog vir hierdie mense wat my sin vir humor kon opdiep uit ‘n donker gat. Ek het in die volgende paar maande telkens hulle ondersteuning nodig gehad en hulle het my gedra op daardie dae wat ek nie die krag gehad om myself voort te sleep nie.

Follow Dis Ekke

Please find information about the coronavirus here SA Coronavirus South African Resource Portal

38 Comments

  1. Dat is een heel verhaal… Hoop dat je je beter voelt en dat het allemaal de goede richting mag uitgaan. Sterke!

    • Comment by post author

      Dankie. Daar het al vyftien jaar verloop sedert hierdie dae, maar dit is nou die eerste keer dat ek werklik daaroor praat. Tydens die behandeling en vir ‘n lang tydperk daarna, het ek dit steeds baie moeilik gevind om oor my gevoelens te praat. My dogter het my aangemoedig om hierdie blog te skryf as ‘n soort terapie.

      • Ja dat begrijp ik zo goed. Ik kon er ook helemaal niet over praten en ontweek alle vragen van mensen.
        Het is nu acht jaar geleden en toevallig heb ik erg gisteren pas echt met mijn kleindochter over gepraat.
        Het is goed om het van je af te schrijven, je dochter is een wijs mens.

  2. Bemoedigende verhaal.

  3. Vrek… ek het nou lekker gelag!! Moer… dit was snaaks. Ek moes vertaal vir my vroe want sy’t amper van die bed af geval toe ek uitbars van die lag!!
    Ja… ons het ander nodig om te help met die las… al wil ons dit nie altyd herken nie! Ek is seker daai goeie mense het ook inspirasie getrek uit jou deursettings vermoe!
    Dankie vir die lag… tussen die verhaal en die dassiepis het ek nou ‘n goeie klomp beelde in die kop om my deur die dag te help!! 😛 😉 😀

    • Comment by post author

      Ek is bly ek maak jou dag beter! Ons was gou af strand toe, want my dogter wou haar spinner gaan toets. Geen vis nie en die wind begin nou opsteek, so ons sal maar werk in die hoop dat ons later in die week ‘n beter dag gaan hê.

      • Geniet! Het Karen die spinner gemaak? Ek het my eie gemaak!
        So by the way… ons het gister na die huis gaan kyk. As dinge reg werk trek ons! Maar… daar moet ‘n paar dinge gedeur… so, hou duim vas en ons kan ook see toe!! 😉

        • Comment by post author

          My seun koop al haar visgereedskap vir haar – hy “koop” sy vissersmaatjie sê ons altyd. My vingers is nog steeds gekruis vir jou groot trek.

        • Ja… hou hulle gekruis aseblief! Ons wil die wa pak en trek! Ek sal die sweep se voorslag sny!
          Lekker visvang! My bek water vir ‘n ou vissie op die kole!! 😉
          Ek is bly om the hoor jou seun doen ander goeie goet behalwe sy uitstekende taal gebruik! Lakker vloek… sorrie… ek meen lekker “koop”!! 😀

        • Comment by post author

          haha, hy het lekker gelag omdat jy sê ek moet seep in sy bek smeer; hy reken ek sal hom eers moet vang … 😀

        • Bind hom vas met vislyn! Karen kan help vang! Ek sou dink sy streng ma sou sy probleme vir hom kon uit sorteer! 🙂 (Maar ek dink ma en seun kan so nou en dan lekker kompiteer met die woorde!!) 😀

  4. Ek het ‘n ou vriend wat met prostaatkanker gediagnoseer is. Sy prostaat is verwyder en hy kry tans chemo. Toe ek Woensdag met hom praat was hy baie depresief. Gesê hy voel hy is nie eers goed genoeg om vir ‘n “door stop” gebruik te word nie. Ek wens hy kon met jou praat.

    • Comment by post author

      Ek weet presies wat hy bedoel. Dis nie net die gedagte van die siekte waarteen jy moet stry nie; die medikasie self put jou uit en maak jou uiters depressief. Dis die gevoel van magteloosheid waarteen jy moet stry. Beide my gehoor en my telefoonontvangste is baie swak, maar ek kan privaat met hom gesels op whatsapp, facebook of e-mail as hy daartoe geneë is.

  5. Katte het ‘n besondere gawe om te vertroos.

  6. Sjoe Hester!Jy het dit so goed vertel,dat dit mens moed sal gee as die groot K jou tref.Uit jou skrywe kom mens agter dat daar hoop en herstel is en dat mens anderkant kan uitkom!Baie dankie hiervoor.

    • Comment by post author

      Dankie vir die kompliment. Dis ‘n moeilike ver pad, maar ek dink dit sou baie beter met my gegaan het as ek dit van die begin af met die regte houding aangepak het. Humor is omtrent al wat my gered het van pure waansinnigheid.

  7. Toe ontdek die Afr een nadat ek klaar die Eng weergawe gelees het!

  8. monicahaddad01

    Diere is beter genesers as dokters glo ek…..

  9. Die dag toe Oliver in ‘n vrou verander het…

    Hester ek haal hieronder aan uit my blog Van Kilogramme tot mammogramme want ek weet jy het dit geniet:

    My suster se skoonpa (in 70+ kategorie), wat ‘n kranige tennisspeler is, vertel dat hulle dubbels wou speel en kon aanvanklik nie ooreenkom wie teen wie gaan speel nie. Toe besluit hulle maar dat die met die prostate gaan speel teen die sonder die prostate!

    thttps://abriejoubert.wordpress.com/2016/05/27/dont-quit/

    • Comment by post author

      Haha, ja ek het lekker gelag hieroor. Ek het groot waardering vir mense wat in alle slegte dinge ook iets vind om oor te lag.

      • Ek waardeer ook jou “gelukkige ek” ironie – alhoewel dit nie snaak is nie. Klinies vanuit sy perspektief (wat in elk geval nie borste het nie) is dit seker “gelukkig” want dit is behandelbaar, maar vir iemand wat pas deur so iets gegaan het sal die opmerking bepaald wrang klink (soos absolute onverstaanbare opmerking van die onderwyser teenoor jou dogter toe sy haar vertel het van die kanker!)

        • Comment by post author

          Mmm, maar soos een van die ander bloggers opgemerk het, mense bedoel dit goed. Dis net dat mense so onbeholpe kan wees en mekaar bangmaak / seermaak sonder om dit te weet. Dit is een van die groot redes waarom mense (ek ook) heeltemal wegskram daarvan af om oor hulle siektes en gevoelens te praat.

  10. Die fyn aanvoeling van diere ne. Twee van my vriendinneist in dieselfde tyd metv borskanker gediagnoseer. Net daar was omtrent tien jaar ouderdomsverskil tussen hulle. Een het summier ‘n mastektomie gehad, gevolg deur bestraling. Sy is nou al sestien jaar in remissie. Die ander een het die een kursus chemo na ‘n ander gehad. Eers was dit elke vyf weke toe elke drie weke. Niks wou werk nie. Toe hulle uiteindelik ‘n mastektomie gedoen het, was sy al deurtrek van kanker. Dis die verskil tussen mediesefonds en staatshospitaal.

    • Comment by post author

      Dis ongelukkig dat daar so baie plekke in ons land is waar die gesondheidsorg so swak is.Die ander sy van ‘n mediese fonds is natuurlik daardie dokters wat onnodiglik elke moontlike sent uit jou mediese fonds sal squeeze.

  11. Hillechien

    Wauw, ben weer even terug 5 jaar geleden. Heel herkenbaar. Een dikke knuffel voor jou, houd moed en ik geef je kracht.

  12. Het Afrikaans lezen doe ik hardop zodat ik het goed kan begrijpen.
    Je verhaal is zo herkenbaar en grijpt me erg aan. Ook de geschiedenis met je moeder.
    Ik heb ook kanker gehad, operatie en bestralingen, gelukkig geen chemo en ben gelukkig dat ik er nog ben.
    Lieve groet, Eveline

    • Comment by post author

      Dankie vir die lees Eveline, ek is bly dat dit goed gaan met jou gesondheid. Ek dink dit help mense in soortgelyke omstandighede as hulle weet daar is hoop. Ja, Afrikaans is nie maklik nie en ons is baie geneig om liewer in Engels te kommunikeer, maar ‘n taal moet gepraat word om lewendig te bly.