My vreugdes en frustrasies

Dis Ekke

Rose

Toeka-Tokkel: ‘n Mens in elke blom

My oudste seun is gebore in die Marifont Maternity Hospitaal in Pretoria in September 1978. Dit was ‘n lang en moeilike geboorte wat die hele dag voortgesleep het van vroegoggend tot laatnag.

Daardie dae was dit nog nie algemene gebruik dat die mans bygestaan het by die geboorteproses nie, maar my man het in die gang voor die deur van die kraamkamer geboer om elke greintjie nuus te hoor. Ek onthou net ‘n waas van pyn, die sagte ruising van die nonnegewade wat die susters gedra het en elke nou en dan my man se stem wat kla dat hy wil weet wat aangaan. Hulle was baie geduldig met hom tot op die einde, maar net nadat hulle hom die nuus meegedeel het dat ma en seun nog albei asemhaal, het hy skielik verdwyn.

Bykans twee ure later, in die middernagtelike ure, het hy ewe skielik weer opgeduik, nie heeltemal vas op die voete nie, maar met arms vol rose. Dit het later geblyk dat hy net na die geboorte besef het dat hy met al die spanning en simpatiepyne wat hy die hele dag moes verduur, vergeet het om vir sy vrou ‘n ruiker te bestel.

Hy het in groot nood ‘n paar vriende gebel wat opgedaag het met die nodige nattigheid om die geboorte van sy eersteling te help vier en hulle het vinnig ‘n plan gemaak: daardie dae was daar die lieflikste roostuine by die ou Uniegebou (is dit nog daar?) en hier aan die einde van September was hulle vol in die blom. Hy en die vriende het met alle beskikbare hande wat nie bottels en glase vasgehou het nie, soveel rose gepluk as wat hulle kon. Ek was agterna nog lank bevrees dat iemand hulle gesien het en dat die gereg gaan opdaag om hom op te laai vir betreding en beskadiging van staatseiendom, maar dit het darem nooit gebeur nie.

Die rose het hy sommer begin uitdeel onder die nonne en die dokter het ook ‘n roos en ‘n drukkie gekry, sodat daar toe nie veel vir my oorgebly het nie, maar die bedoeling was seker goed. Hy het darem belowe om te sorg dat ek wel my rose sou kry, net soveel as wat ek wou hê, en hy het woord gehou – oral waar ons heen getrek en huis opgeslaan het, het hy vir my ‘n roostuin aangelê.

Hierdie fotos is geneem by ons huis in Gauteng waar ons twaalf jaar gewoon het voordat ons see toe getrek het. Die roostuin was weggesteek tussen die garage en die skeidingsmuur tussen ons en die bure, want ek was selfsugtig met die genot daarvan; dit was alles myne. Ek het nooit toegelaat dat die rose gepluk word nie, want ek wou hulle sien blom daar in die tuin. Net my ma het so nou en dan ‘n rosie gekry om saam te neem ouetehuis toe.

Nou weet ek nie eens of my roostuin nog bestaan nie, maar die fotos sorg dat hulle in my gedagtes bly.

Follow Dis Ekke

Please find information about the coronavirus here SA Coronavirus South African Resource Portal

25 Comments

  1. Mooi fotos – so daar is (of was) iets van die paradys in Guateng…
    My oom vertel van ‘n dominee wat onder die bergies gewerk het en toe beroep na ander gemeente kry. Op sy laaste dag kom die bergies en bedank hom plegtig vir wat hy vir hulle gedoen het en bring vir hom ‘n arm vol rose. Hy raak skoon aangedaan dat hulle hul karige geld daarop spandeer het toe besef hy dit is rose uit sy tuin 🙂

  2. Mooi storie!

  3. Dis nou toevallig…my eersteling ook ‘n seun,is ook in September 1978 gebore!
    Die rose is asemrowend mooi…jy mis dit seker baie daar by die see?

    • Comment by post author

      Weet jy, dis mooi herinneringe, maar elke plek het sy eie bekoring. Waar ons ookal heen getrek het, was daar altyd iets nuuts en moois en hier is nou weer ander soort blomme wat ek voorheen nie geken het nie – die hibiscus en bougainvillea byvoorbeeld, kon ek nooit aan die lewe hou daar in die koue Vaal Driehoek nie.

  4. Ai ek dink nou met nostagie al die roos bome wat ons gehad het in ons tuin in Glenharvie…. Dankie vir die deel Hester

  5. Sjoe dis mooi rose. Dis beslis iets om te onthou. Ek was self nooit n roos persoon nie maar my man was. Hy het stamrose geplant elkeen met n ander kleur. Elke oggend het hy my n koppie tee met n roos gegee as hy van nagskof tuis gekom het. Ook sommer net as liefdesbewys het hy my gereeld net sommer n roosknop uit die tuin gegee.

    • Comment by post author

      Dis lekker om so bederf te word. Ek hou nooit blomme in my huis nie; ek is nou weer lief daarvoor om ‘n blomplantjie en kruieplantjies in my kombuis te hê. My kombuis is nou net ‘n sakdoek groot, maar ek het nog steeds kruie in die vensterbank.

  6. Daar is min dinge so bekoorlik soos ‘n effens aangeklamde jong man met rose in sy hand! ‘n Wonderlike verhaal wat mens se hart sommer warm maak.

    • Comment by post author

      😀 solank dit net by “effens” bly, want anders sal hy met rose en al uitgeskop word. Dankie ja, dis nogal herinneringe wat jou bybly, selfs wanneer jy die dag smoorkwaad en g@tvol is vir die blomdraer!

  7. Ag dis baie pragtig

  8. Dis die mooiste roosstorie wat ek nog gehoor het.

  9. Vrek… hulle is mooi! Ja… Pretoria se tuine het baie gehelp met die rose vir die dames! Daai jongetjies daar by die universiteit se koshuise was baie lief vir ons jong troepies as ons rose gebring het! 😉
    Ek wonder of ‘n roos of twee daar onder by die see sal aard! Daai man van jou moet maar probeer! Plant ‘n paar bosse daar tussen die groents! 😀

    • Comment by post author

      Nee o vrek, hier is te veel goggas. Was jy ooit by Bloemfontein se roseskou? Daar was nou ‘n belewenis. Hulle het elke jaar ‘n braai aangebied op een van die roosplase en dan kon jy die dag daar spandeer om rose te kyk. Ludwig se rose (buite Pretoria op pad Pietersburg toe) is natuurlik ‘n absolute belewenis.

  10. Mooi roosstorie, en pragtige rose!!! Het nou aan my ruikers gedink en kannie onthou hoe hulle gelyk het nie. Jou gesteelde rose het groter indruk gemaak as my ruikers 😆 Nou wonder ek of ek ooit ruikers gekry het?