Dis Ekke

My vreugdes en frustrasies

Dis Ekke, Genis

Sê groete aan die Knopbekke

Hierdie week se Toeka-Tokkel bydrae is Byname.

Ek het grootgeword in die hartjie van Namakwaland waar byname meer algemeen was as hare op ‘n hond se rug en almal het daarmee verlief geneem. Dit was immers die maklikste manier om te onderskei tusen familielede waar die nasate vir geslagte lank dieselfde familiename gedra het: grootoupa Petrus, oupa Petrus, pa Petrus en klein Petrus het later ‘n verwarring veroorsaak.

Natuurlik moes jy sorg dat jy die regte persoon op die regte bynaam aanspreek en een van die ou meisietjies wat destyds in die poskantoor gewerk het, kon net nie die kloutjie by die oor kry nie. So het sy oom Wiele Kotze altyd oom Ore genoem en die arme Spyker Pieterse het sy per ongeluk herdoop tot Skroef.

Ons familie was “vreemdelinge” daar (my ouers het net sowat 50 jaar daar gewoon) en buitendien was ons familienaam ook ietwat “vreemd”, dus was ons nie gedoop in die Namakwalandse bynaamfont nie. My pa en sy beste vriend wat mekaar reeds geken het nog lank voordat albei families in Namakwaland aangeland het, het dit egter goedgedink om mekaar en hulle gesinne die “Knopbekke” te noem. Ons kinders het grootgeword met hierdie manier van aanspreek, hoewel niemand tot vandag toe nog weet hoe en hoekom die naam nou juis ontstaan het nie.

Sondae en feesdae het al die Knopbekke saamgekuier om ‘n braaivleisvuurtjie of ‘n teetafel en ons kinders het mekaar later as familie aanvaar – deel van ons asof van dieselfde bloed. Hierdie bande is oorgedra tot in ons gryse jare. Wanneer ons mekaar toevallig in die dorp gesien het of nog later jare getelefoneer en op facebook raakgeloop het, was daar altyd die vreugde van die groet: “Hallo, Knopbek!” en met die totsiens: “Sê groete vir die ander Knopbekke!”

Ses dekades later is daar nog net die twee van ons oor, Knopbek. Jy bly nog steeds my Knopbek-suster en -vriendin en so groet ons mekaar nog altyd, selfs al is ons geskei oor groot afstande en deur baie jare. Maar ons kan nie meer groete oordra aan die ander Knopbekke nie, want dis net ons twee wat oorgebly het. Daardie besef het my eers vanoggend getref toe my seun ietwat verontwaardig vra hoekom ma se vriendin sê sy dogter het knopbekgene. Ek wou eers lag en toe wou ek huil oor alles wat verbygegaan het.

Toe ons later vanoggend op die strand gaan stap het met Genis, het ek aan jou gedink, aan ons kinderjare en ons familie wat ons vooruitgegaan het. Ek weet jy dink nog soms aan my.

Het ek jou ooit vertel hoe Genis sy naam gekry het? Hy is mos vernoem na die karakter in Koöperasiestories wat Jacques Loots destyds vertolk het, omdat die hondeGenis ook die vreeslike wenkbroue en snor het. Hy kan ook so diep beswaard raak soos sy naamgenoot. Nog ‘n era wat verbygegaan het.

 

 

Alles van die beste Knopbek. Geluk ook met jou eerste klein Knopbekkie. Ek weet sy sal ‘n plesier vir jou wees, soos wat my klein Knopbekkie vir my is, selfs al weet hulle dalk nooit hoeveel eer en respek geheg word aan hierdie naam wat nog net hulle oumas gebruik nie.

Groete van ‘n ander Knopbek.

 

Follow Dis Ekke

34 Comments

  1. Ai,pragtig,Hester!Ek sluk nou ‘n knop weg oor die Knopbekke…dis so besonders.

  2. Aah dis jammer dat daar net 2 oor is – is daar nie iemand wat die naam kan oorvat/aanvat nie. Die ou lewe, so gaan alles verby en word minder, met tyd.

    • Jongmense het nie erg aan sulke dinge nie jong. Ek begin ook maar nou eers op my oudag besef hoeveel sulke herinneringe werd is.

  3. Ontroerend…

  4. Dankie vir die deernisvolle skrywe

  5. Julle Knopbekke klink almal na dierbare mense en Genis is tog te dierbaar vir woorde. Pragtige foto’s Hester. 😀 ♥

    • Dankie, dis lekker om weer met jou te gesels. Genis is weer so lekker vet *sug*, dis hoekom hy moet gaan swem. Die fotos het ons sommer met ‘n selfoon geneem.

      • Altyd lekker om met jou ook te gesels Hester. Dankie. 😀

        hahah. Ag, hy is nie vet nie. Hy is net lekker gesond. Ek kan sien hy word lekker bederf en dis reg. Hy geniet sy swemmery seker vreeslik baie.

        Dis pragtig en ek is altyd verbaas oor hoe mooi selfoon foto’s uitkom. Wys jou net. Die tegnologie is darem verstommend.

        • Dit is. Die selfoon is boonop ‘n ou cheapie wat ons saamvat (ingeval daar ‘n ongelukkie is en dit in die see verdwyn).

        • Wys jou net. Cheap en oud en kan nog die ding doen né? 😆

        • Oukei, ek is net oud, nie cheap nie. haha – ek kon daai een nie weerstaan nie.

        • Whahahaha! Ek het gewag vir daai een. Ag, is ook okay om cheap te wees. Ons is ten minste nie kommin nie. 😆

  6. Hartroerend en tog prettig! Dis darem maar erg as mens begin dink dis nog net twee wat oor is. Daarteenoor is dit darem tog lekker herinneringe. Dankie vir hierdie pragtige skrywe en deel van jou ervaring. 😀

  7. Jy het darem maar ‘n gawe. Dit laat my ook dink aan die Nederlandse boek “Koning van Katoren” Dit gaan oor ‘n seun wat 7 take kry voor hy koning kan word, maar dit is ‘n allegorie vir dit wat op ons liewe aarde gebeur. So gaan die Draak van Smook oor lugbesoedeling, die Vogels van Decibel oor geraasbesoedeling en De scuifelende kerke van Uikumene oor kerk(on)eenheid. Maar daar is ook ‘n hoofstuk oor die knobbelneuzen ou Knopbek. Die mense in Afzette en Rije word deur muggies gebyt en dan swel hulle neuse vreeslik op, en die dokters regverdig waarom hulle so duur vir die salf moet vra. Die verskil julle is trotse knopbekke maar die knobbelneuzen word verguis, totdat salf (en deesdae ‘n mes) hulle ontguis (ek erken, ek weet nie of daar woord soos ontguis is nie).

    • Ek het gou die boek gaan soek (kan mos nie by ‘n storie verbyloop nie) en ek sien daar is ook ‘n fliek gemaak in 2012. Ontguis … wel, as daar nie so ‘n woord is nie, moet ons ‘n versoek rig om dit in die HAT te laat opneem. Dit vloei so lekker van die tong af ont-guis. Dankie vir die inloer.

      • Nie bewus van fliek nie. Dit was ‘n voorgeskrewe boek in Matriek many moons ago. Op daardie stadium nie geniet nie, maat het dit na skool 2 keer gelees. Daar hebben velen humor in te wees.

  8. drkottaway

    howl howl oooowwwwooo I can’t read it being lame and only able to read English and Danish and bits of latin hooowwwlwlwllllll

    • And google translate also doesn’t speak Afrikaans very well! 😀 I will be reverting to Afrikaans / English again next week. Hope to see you then.

  9. Dat die namakwalanders ‘n kans verby laat gaan het om mense te noem. As jy moet raai, watter naam sou hulle jou gegee het? In skoonfamilie was die name ook soveel kere recycle. Dit wemel van alle vorme van Hester ook. Om nie van die ander name te praat nie. Hulle het fam name tot op die letter recycle.

    • Jy bedoel my voornaam? My pa het my “Sussie” genoem en die hele gemeente het my ook so genoem. Gelukkig het sussie toe verdwyn nadat ek uit die skool is. My broer was nie so gelukkig nie – hy het “Boetie” gebly tot sy dood.

  10. Ai… jou woorde laat my diep dink…

    “Ek wou eers lag en toe wou ek huil oor alles wat verbygegaan het.”

    Ons vamilie gaan op die oomblik deur die Psalm 23 vallei en nou lees ek hoe daar net twee oor is… laat my dink!

  11. Dit voel soos nou die dag wat my ma vir my gesê het dit is ‘n moeilike tyd in hulle lewe want die bome val een na die ander om… bedoelende lewenslange vriende en familie. Nou is ek daar; ken amper meer mense in hemel as op aarde. Groete aan die Knopbek 🙂

    • Hoe word ‘n mens so blêrrie vinnig oud? Ons moet ‘n wet maak teen ouderdom.

      • As ‘n mens maar net kon. Sondag sit ‘n nuwe vriendin langs my in kerk, en vryf haar knie. Sy vertel sy het altyd gewonder hoekom haar ouma haar knie so sit en vryf, en nou weet sy. Oudword nie vir sissies nie sê sy toe. Lekker slaap!!!

  12. Daar waar ek vandaan kom was dit weer die Tjaart Daniels’e

    Daar was Ou Tjaart se Skeel Tjaart se Klein Tjaart

    • Jy’s braaf om die name te noem – ek is bang die mense sal my stenig, maar as jy vyf geslagte Van Wyks, almal met dieselfde voorname, in een dorp teëkom, dan moet jy maar ‘n plan maak om te onderskei. Maar weet jy wat het die oumense ook gedoen? Hulle het die boere op hulle plaasname aangespreek: Thys van Damplaas en Thys van Kloofplaas… Die plase was mos almal so onderverdeel dat dit later soos ‘n legkaart gelyk het.

Leave a Reply

Theme by Anders Norén

Back to Top
%d bloggers like this: