My vreugdes en frustrasies

Dis Ekke

Vra vir Hester

Mense, het julle al ooit gekyk deur middel van watter search terms (soekwoorde / frases) lesers op jou blog uitkom? Dis nou daar die ouens wat Dr Google en sy ander soekenjin kollegas raadpleeg en dan op jou blog te lande kom. Wel, ek het dit vandag gedoen en ek slaan my hande saam oor die onderwerpe onder bespreking wat na my blogs verwys word!

Die snaakse ding is nie dat ek soveel navrae oor ‘n spesifieke onderwerp kry nie (WordPress se metadata en soekenjin optimalisering is besonder goed), maar die eienaardige terme wat mense intik, is genoeg om my bek te laat oophang.

Kokkerotte / kakkerlakke. Ek het in Januarie verlede jaar Kokkerot konsternasies en kakkerlak kakkerasies geskryf net toe ons in Natal aangekom het. Natal – genoeg gesê. Daarna het ek soveel verwysings van kokkerotte ontvang dat ek ‘n jaar later ‘n tweede keer oor dieselfde onderwerp geskryf het: Kokkerot-sprokies. Nou kry ek daagliks kokkerot besoeke in die kuberruim en ek dink ek moet sommer ‘n paar vrae antwoord.

  1. het ‘n kokkerot ‘n hart  – Antwoord: Wel, hulle bloei as jy hulle raaktrap…
  2. hoe lyk ‘n kokkerot – Antwoord: Asemrowend grillerig.
  3.  kokkerotte soek raad – Antwoord: Sê vir die kokkerotte hulle moet dit op skrif sit.
  4. kakkerlap-resep – Antwoord: Is jy seker jy wil nie liewer hoender eet nie?

Tande. Na aanleiding van my blogs Sout van die Aarde en Antie, hoe gaan dit met Antie se tande? was daar ‘n stortvloed navrae oor die koste van valstande, hoe om geel tande weer wit te kry, of dit seer is om valstande te kry en nog meer, maar die een wat die mees treffendste was: hoe kry ek ‘n kiestand met die hand getrek? Antwoord: Erm … ek sal navorsing doen en laat weet.

Hare. Na my laaste rampspoedige besoek aan ‘n haarkapper (nou meer as ‘n jaar gelede) het ek ‘n woedende tirade aangehef in ‘n Ope brief aan haarkappers en daar was ‘n paar vrae wat antwoorde verdien:

  1. wat doen ‘n haarkapper – Antwoord: Hulle verwoes jou selfbeeld?
  2. my hare is baie dik wil graag dun hare hê hoe maak ek – Antwoord: As jy ‘n vrou is, verander van geslag en groei ‘n pankop

Die blog  Om te hond of nie te hond nie is die een wat ek verbind met die vraag waarvoor gebruik ‘n mens dassiepis. Antwoord: Dassiepis word gebruik om parfuum te maak.

Met verwysing na Beurtkrag en praaimus stoufies kom die vraag wat is moeite van beurtkrag – Antwoord: Jy woon duidelik nie in Suid-Afrika nie.

My man kuier by ander vroue … en ek keur dit goed het baie reaksie uitgelok, maar ek en my man hou van threesomes was ‘n verrassende mededeling. Antwoord: Geen kommentaar.

Jy maakies my naarkies kry nog elke dag besoekers, heelwaarsklynlik omdat die prentjie baie gedeel is op die internet (ek het dit ook “geleen” destyds), maar daar was net een besondere vraag wat my lagspiere gekielie het: hoe lyk ‘n agterbakse mens – Antwoord: Ek weerhou my kommentaar.

Dan was daar die een vraag (Oor sake van die hartklop my hart onder narkose – Antwoord: ek hoop van harte so.

Daar was ‘n paar verwysings wat my koud gesit het, byvoorbeeld: medies grys in die gesig, verstaan tog – ek groei!, storie die dag toe ek groot geskrik het, dis moer koud, die dag toe ek op faceboek geskryf het vertel iets snaaks, imegas of hoer. Ek weet nie aan watter blogs om hierdie klomp te koppel nie en jammer, ek het geen antwoorde nie

Op ‘n ernstiger noot; daar was een tipe navraag wat my baie bekommerd gemaak het. Ek het soveel besoeke aan ‘n Toilet met ‘n uitsig gekry, dat ek begin wonder het of toilets ‘n besondere deel van die Afrikaner-kultuur vorm. Ek het self vir Dr Google gaan raadpleeg or die soekterm “outoilet uitsig”. By die intik van die soekterme, beland ek toe op ‘n webtuiste waar Suid-Afrikaanse skoolkinders op uiters aanstootlike wyse onderwerpe aanspreek wat sonder enige twyfel suiwer pornografies van aard is. Gelukkig is my virus-program slim genoeg om hulle weg te keer, maar dit laat ‘n mens met ‘n nare smaak in die mond. Dit het my weer bewus gemaak daarvan hoe maklik ‘n mens in ‘n strik kan trap met die keuse van jou onderwerpe, kategorieë en etikette op jou blog.

Outoilet [is] the infamous online forum where school pupils meet to make sexual assignations, describes itself innocuously as the “original gossip site”. Lees meer hieroor in die artikel Gossip site ‘a horrific concept’. Hierdie webtuiste is, ten spyte van pogings om dit te sluit, nog steeds op die internet is meer gewild as ooit tevore.

Laat jou dink, nè?

Follow Dis Ekke

Please find information about the coronavirus here SA Coronavirus South African Resource Portal

20 Comments

  1. Mnr Google gee mens so buite liggaamlike ondervinding. Ek vors nie einlik my brousel goed na nie en dis meer menings en ‘n tjommel … maar genoeg van my Joune is altyd die moeite werd om te lees

  2. Dis seker oor jy sulke treffende opskrifte gebruik,dat jy op google kom.Is daar nie ‘n stelling waar jy dit kan keer nie?..ek dink amper dit sê “allow or don’t allow other search engines”.Ek het dit toevallig vanaand raakgesien toe ek my blog bietjie wou opkikker.

  3. Ek is ook heeltemal onbewus van al hierdie dinge. Sekerlik nie genoeg tyd om dit te ondersoek nie, maar dit is interessant.

    • Comment by post author

      Dis in my lyn van werk wat maak dat ek dit raaksien. Ons bou webtuistes vir besighede en dit is baie belangrik vir hulle bemarking om soveel “exposure” as moontlik te kry op die internet, terwyl jy terselfdertyd poog om “spam” te keer. Baie interessant en ek wou net kyk hoe WP dit hanteer.

  4. Ha ha, daar is darem maar kostelike antwoorde wat jy gee. Jy het my dag sommer opgekikker!

  5. “kokkerotte soek raad – Antwoord: Sê vir die kokkerotte hulle moet dit op skrif sit”

    Of sê die kokkerotte moet soos die res van ons maak en die probleme Google …

  6. Eendag as ek groot is gaan ek ook so ‘n blog skryf! Boring searches tref my blogs (uh nee mens kan nie iets daaruit aflie nie!). Baie goed Hester!