My vreugdes en frustrasies

Dis Ekke

Geraamtes in my kas

“Ag nee, ffs “, sê my man wat aljimmer ‘n stuiwer het om in die armbeurs te gooi, “hierdie Amerikaanse politiek is nou besig om te ontaard in ‘n sirkus. Die enigste verskil is dat ‘n sirkus ‘n hoogs georganiseerde bedryf is. O ja, en moenie vergeet nie, g’n sirkus sal hom ophou met so ‘n ou klomp geriatriese narre nie. As hulle oor hulle eie voete val, sal jy ‘n oorverdowene gekraak van heupbene hoor”.

Ek is nou nie iemand wat my ophou met politiek nie, maar sodra iemand sy groot mond rek oor ouderdom en senior burgers, staan my ore onmiddellik op aandag. Natuurlik spring ek onmiddellik op Dr Google om te verneem waaroor die man praat, en wragtag, die kandidaat-presidente sal geen probleem hê met ‘n aansoek vir verblyf in ‘n ouetehuis nie. Bernie is 74, Donald 69 en Hillary 68. Sjoe! Die uittredene president is dan nou maar eers 56.

“Dit wys jou net”, sê ek vir my man. “Wat wys dit?” vra hy nog voordat ek kan verduidelik ougoed is hougoed … of so iets; ek kan nou nie eintlik onthou wat my oorspronklike argument veronderstel was om te wees nie. “Wys dit dat dalk die ouetehuise gaan leegloop; dat alle oumense nou Parlement toe gaan?” Nou nie presies so daaraan gedink nie, maar dit mag dalk ‘n goeie idee wees. Die ‘jongeres’ (onder 60) kan hulle basse lig en gaan werk, terwyl ons oues van dae (bo 60’s) die land ordentlik kan regeer en die belasting kan invorder. Ons het die kennis, die tyd en die geleerdheid ook (nie dat laasgenoemde ‘n probleem is nie – as jy nie die regte geleerdheid het nie, kan reëlings getref word vir ‘n eredoktorsgraad).

Daar is net een probleem: om vir president te staan, grawe almal ou koeie uit die sloot, gooi jou met die modder uit dieselfde sloot en basuin dan die sondes van jou huidige en vorige lewens uit op facebook en / of op televisie. As jy op daardie podiums wil staan en self modder gooi, beter jy sorg dat daar nie geraamtes in jou kas is nie, oftewel nie ou koeie in die sloot nie.

Vandag is ek dus besig om my familiegeskiedenis na te vors sodat ek kan weet waar die ratelende beendere gebêre word.

Is daar iemand wat bereid is om finansieel by te dra tot my veldtog? (*Fluister*: ek het al baie tenderdokumente opgetrek in hierdie leeftyd, e-pos net vir my jou naam en id nommer saam met die bydrae.)

Follow Dis Ekke

Please find information about the coronavirus here SA Coronavirus South African Resource Portal

40 Comments

  1. Jy het vergeet dat ’n mens eers in Suid-Afrika vir president kan staan as jy al ’n rukkie tronkstraf uitgedien het, of minstens een kriminele klagstaat teen jou het…:)

  2. Zuma is 74, en Mugabe 90 (so ook Liesbet van Brittanje)

  3. Vrot vuil velle! Gaan jy staan vir oompie Zuma se stoel!! Whooppee hoeraaaa!! Dan kom ek terug! Ek sal jou kar bedruif… en bestuur! Ek sal seker maak al die stink beendere in die boot toegegooi word met al die see se skulpe! En as jy my ‘n ou paar duisend randjies stuur vir resettlement dan kan ek nog gouer daar uitkom!
    Dink net… julle het nie ver om te trek na daai grasdak perseel daar noord van Durbs nie!! 😈

  4. Arm mense kom nie in die parlement nie… en die meeste ouer mense hierrond is maar armerig

  5. That does it – ek volg jou. Jy het ‘n ontwikkelde humorsin (jou kollega met klienkind tesis ook – die een in Gogo). Ek werk in die finansiële bedryf en ‘n kliënt (82 jaar oud) skryf vir ons ‘n brief waarin hy ‘n sin aanhaal uit ‘n staat wat hy ontvang het: “Inkomsteverklarings bestaan uit rente, dividende, REIT inkomste en Ander Inkomste”. Op sy beurt vra hy dat ons die WBK formule op die REIT moet toepas en hom dienooreenkomstig inlig. Ek (en my vriend google) ken nie die WBK formule nie en ek besluit om hom te bel. Meneer kan u ons meer inligting gee oor u versoek. Hy antwoord met ‘n kraakvars stem (nie met potensieel krakerige stem van 82 -jarige nie): Julle het ‘n stelling gemaak wat ek nie verstaan het nie, toe besluit ek om ‘n stelling te maak wat julle nie sal verstaan nie 🙂

    • Comment by post author

      A, ‘n senior burger so na my hart! Ek haat akronieme met ‘n passie. Dankie vir die kom lees, ek gaan beslis by jou ook ‘n draai maak. Ek het nie besef hoeveel Afrikaanse geselskap op WordPress rondbeweeg nie – dis ‘n aangename verassing.

  6. monicahaddad01

    Ek sal jou ‘n gesonde bord kos gee as jy hier verby ry oppad parlement toe.
    Terwyl jy so besig is google sommer waar op aarde kom die woord parlement vandaan…..

    • Comment by post author

      My pa het hierdie een vir my uitgelê: ‘n parlement het ontstaan uit oeroue Frans iewers in die Middeleeue en beteken “plek waar jy kan praat”. Dis mos wat hulle doen in die parlement, hulle praat. Die boere het ook hulle buitehuisies parlemente genoem en as jy die twee nou saamvoeg, kom dit neer op die “plek waar jy k@k praat”. Dis mos wat hulle in die parlement doen.

    • Comment by post author

      O ja, ek hou baie van vars groente, jy hoef nie ‘n skaap te slag nie, maar dankie 😀

  7. Ag, maar jy is tog te skerp vandag! En so van geraamtes gepraat, People who lives in glass houses … should not undress themselves! 😉

  8. Nou het ek darem lekker aan die kommentaar gelees ook. Jul is almal darem so bekkig oor die oues en die regeerders. He, he ek lag nog steeds.

  9. Hoeraaa…Hester vir hoër dinge!!

  10. Griet

    GELD vir ONS FAMILIEWORTELS NAVORS??! Nee nee stop asseblief dadelik. Ek kry koue rillings by die gedagte aan wat al die voorsate kon-en aangevang het. As jy daardie rigting wil inslaan, sal ek vir jou kalmeerpil voorskrifte aanstuur…. verniet…..:D

  11. Moenie geld betaal vir familienavorsing nie – staan net vir die een of ander politieke posisie en die oposisie doen dit vir jou gratis en verniet…

    • Comment by post author

      Ja, maar jy sien, ek wil juis seker maak daar is NIE skandalige stories in my verlede wat deur politici opgerakel kan word nie. Ek wil tog nie in verleentheid gestel word nie 😀

  12. lol… Hester, jy het my stem 🙂

  13. Ek hou niks van politiek nie…. dus jammer Hester, maar ek gaan nie vir jou stem nie, ook wil ek nie ‘n posisie in die parlement hê nie. Wil nie in die koerant kom waar ek in die parlement sit en slaap nie.

    • Comment by post author

      The Honorables wat in my parlement slaap, word summier uitgejaag. Ek stel ook geensins belang in politiekery nie (hoewel ek die belange van die land en mense op die hart dra), maar so nou en dan gee ek nie om om bietjie die draak te steek met die soort van sirkus nie.