My vreugdes en frustrasies

Dis Ekke

Vakansie by die see

Cattle alongside the N2

Die skoolvakansie het aangebreek. Die eerste stroom 4×4’s, met Ventertjies op die stert, sleep al van vroegoggend af  hier op die N2 verby. Dit is tyd vir die inheemse bevolking van hierdie kusdorpie om stil-stil weg te raak – alle inkopies vir die volgende paar weke is reeds afgehandel, die nodige rye klaar gery en oorpluisies aangeskaf.

Nou kan ons terugsit en dophou wat gebeur wanneer twee wêrelde mekaar ontmoet op die strand om te swem of te hengel:

Aan die een kant is daar die inwoners wat met min (of geen) klere aan nie op die strand rondlê en wat almal neutbruin is; die sonbrand maak dat jy op ‘n afstand nie kan onderskei tussen die rasse nie. Nie dat ras saak maak nie, almal woon maar so op ‘n bondel hier, sommiges in groot huise en ander in meer nederige wonings. Hier vang hulle vis met onbeduidende visstokkies wat al ‘n bietjie verlep lyk, of meer as een keer reeds herstel is, en in sommige gevalle is die stok net ‘n stuk suikerriet met ‘n vislyn en hoek aan. Die vis, saam met brood, dien in baie gevalle as die enigste ete vir die dag.

Die besoekers smeer sonbrandolie aan en lê onder groot sonsambrele rond met ‘n koelsak vol bottels en blikkies byderhand. Hulle gebruik blink visgerei en groot katrolle en baie van hulle het kano’s of jet skis waarmee hulle tot agter die branders ry om te hengel. Hulle kla oor die plaaslike kerk wat hulle gemeentelede kom doop in die rivier, die tradisionele rituele wat uitgevoer word langs die strand, die kinders wat kaalgat swem of die opgeskote jongetjies met (of sonder) onderbroekies wat tussen die rotse rondduik op soek na mossels en krewe. Saans klim hulle met seer gebrande rooi lywe in hulle groot bakkies en gaan soek vir vermaak in die groter dorpe. Of anders ontspan hulle op die vakansiehuis-balkonne met ‘n dop, ‘n braaivleisie en klipharde musiek.

Wanneer dit nie anders kan nie, durf die inwoners in vakansietyd ook die N2 aan, maar hulle ry versigtig, want hulle weet daar is mense wat langs pad staan en wag vir hulle taxis. Daar is ook beeste en bokke wat langs die pad wei, vasgemaak aan hulle leirieme om te sorg dat hulle nie voor die motors inloop nie. Die tropwagters staan heeldag saam met die diere in die warm son om toe te sien dat hulle genoeg vreet en saans loop hulle al langs die grootpad af huis toe.

Die besoekers? Hulle jaag teen ongelooflike spoed verby mens en dier, sien hulle heelwaarskynlik nie eens raak nie. Die tolgelde wat hulle betaal is immers genoeg vergoeding om die paaie te gebruik soos wat hulle wil. Hulle meen die bottels, blikke, plastieksakke en ander gemors wat op die strande rondlê na die vakansie, is ‘n vorm van werkskepping. Die geld wat hulle in die winkels en vakansieoorde bestee, moet goedstaan vir die ongerief wat die inwoners verduur, nie waar nie?

Jy sien, hier is die lewenswyse maar laid-back en niemand is opstêrs nie. Dit het niks te doen met geld, goedere en opvoedingspeil nie, dis net dat daar in hierdie geweste so ‘n mengelmoes van kulture, tradisies, tale, gelowe, kleure, beginsels, modes, aanwendsels en kossoorte naas mekaar bestaan, dat die kuiergaste ons samelewing as ietwat, wel … vreemd, ervaar.

Om hier geestelik te kan oorleef, moet jy bereidwillig wees om die bestaan van menings of gedrag waarmee jy nie noodwendig saamstem nie, te aanvaar. So, koop maar vir jou ‘n tikka chicken bunny chow en chill, my ou. Die see en die natuur is hier vir almal van ons se genot. Stel tog net jou haai-faai se klank ‘n bietjie sagter, asseblief.

Follow Dis Ekke

Please find information about the coronavirus here SA Coronavirus South African Resource Portal

14 Comments

  1. Anonymous

    Lekker gelees dankie!

  2. Dit klink vir my presies soos dit hier op ons rustige kus dorpie met vakansie tye gaan!

  3. Dis nou sekere vakansiegangers wat jy hier beskryf.Hulle moet so vinnig as moontlik alles probeer geniet in ‘n kort tydjie,met heelwat gevolge vir die plaaslike inwoners.Daar is darem die baie goeies ook wat hulle gedra.Die impak van die massa instroming is net soms te veel!

  4. Ek lees jou kommentaar aan Perdebytjie want ek wou darem ook sê almal doen nie so nie. Met al die slegte goed wat aankom is daar darem ook welkome geldjies wat inkom? .

    • Comment by post author

      Ek reken so, ja, dis hoekom ons nie te veel lawaai nie (en buitendien, die see behoort aan almal), maar so nou en dan moet ons darem ‘n beroep doen op ordentlike samesyn? Goeie gaste en goeie gashere maak ‘n lekker kuier vir almal.

  5. Mooi geskryf! Ek het nou so ‘n prentjie in my geestesoog van die gejaagde lewe. Jaag om by die vakansieplek te kom en dan hulle manier van doen op ‘n plek afdwing. Dit gebeur seker maar in alle plekke waar mense gaan vakansie hou. Ek hoop ek en ons gesin wys meer respek vir die omgewing en plaaslike inwoners as dit wanneer ons gaan vakansie hou! Sterkte, ek kan my indink so ‘n indringery is nie goed vir die siel nie.

  6. Dis seker hoekom ek Struisbaai baie meer geniet deur die jaar as in die seisoen!

    • Comment by post author

      Seker – ek was jare laas in Struisbaai (1998/99) maar ek verstaan van die inwoners dat veral oujaarsaand se partytjies toe al soms handuit geruk het. Dis mooi wêreld daardie!

  7. Heheheh – dis die naaste aan kwaai wat ek jou al ooit hoor skryf het… Ek’s mal oor jou beskrywing van die samelewing van jou geweste – kon ons tog maar almal so vredig naas mekaar bestaan…

    • Comment by post author

      Kon ons tog maar! Hier is ook maar misdaad en soms onmin, maar ek het nog nie ‘n enkele aanstootlike aanmerking gehoor in my daaglikse wandelinge nie. Ons word net eenvoudig aanvaar.

  8. monicahaddad01

    Op alles kan ek ja en amen sê. Ek verstaan maar net te goed!