My vreugdes en frustrasies

Reis, Travel

Water net waar jy kyk

Die watervlak in die strandmeer is laag in die droë seisoen

Dis reëntyd hier by ons. Dit donder en blits nou elke nag en die water stroom teen die heuwels af. Bedags skyn die son so floutjies, maar meesal is dit dig bewolk en die water hang letterlik in die lug rond. Nie dat ons kla nie, want ons het die water bitter nodig gehad.

Ons strand is letterlik tussen die see en die rivier geleë. Die grootste deel van die jaar lê die waters in die riviermond en die oseaan vreedsaam langs mekaar. Vakansiegangers het ‘n groot stuk strand om rond te lê in die son, terwyl die walskippers hulle bote van die strand af in die water laat gly.

Gedurende die droë seisoen, is die water in die riviermonding vlak, maar wanneer dit hard begin reën en die see ontstuimig word, stoot die branders die sand hoog teen die wal uit sodat die riviermonding verberg is as jy op die strand staan.

Mtwalume river mouth in the dry season

Die watervlak in die strandmeer is laag in die droë seisoen

Sandbank in front of Mtwalume river mouth

Die branders stoot die sand uit sodat ‘n hoë sandduin die riviermond verberg

Dan skielik, op ‘n dag, sien jy sommer hier vlak in die branders waterskilpaaie en rogvisse baljaar en jy begin saam met hulle wag vir die groot deurbraak, sodat die riviermond vir hulle toeganklik is. Dis broeityd.

Vanoggend vroeg kom die roep van die balkon af: “Hy’s oop!” en niemand twyfel oor die strekking van die woorde nie. Met kameras wat rondswaai om die nek, storm ons af strand toe om te gaan kyk. Ons staan lank en verwonder ons aan die krag van die water wat die sandbank wegkalwe sodat die rivier sy oorvloed in die see kan stort.

Mtwalume river breaking through to the ocean1

Met die sandbank weggekalwe, ontmoet rivier en see mekaar

Mtwalume river breaking through to the ocean2

Die rivierwater bruis deur die opening

Die water in die see is nou tweekleurig. Voor is so ‘n modderbruin streep (heerlik vir haaie om in te baljaar en klein vissies wat van die rivier af deurgespoel het, te vang 😀 ) en aan die agterkant tot teen die horison is die see grys, die waters ontstuimig van die wind wat opgesteek het.

Buite spat die reën teen die vensters en ons is dankbaar.

Follow Dis Ekke

Please find information about the coronavirus here SA Coronavirus South African Resource Portal

16 Comments

  1. Dit lyk baie goed.

  2. Ek is so dankbaar hieroor!Pragtige foto’s.

  3. Wat ‘n belowende tyd! (broeityd)

  4. Laat my dink aan daardie jaar op Banana Beach. Dieselfde ding het gebeur, en ons sit ewe bly in daardie lopende water….. die volgende oomblik kom daar ‘n krap verby… wat ons almal strand toe laat spat. Nooit geweet krappe word so groot nie.

    • Comment by post author

      Ek het al vir my familie gesê hierdie plek is net soos wat hulle sê van Texas – altyd groter, meer en beter. Jy moet sien hoe lyk die tuinslakke wat hier rondgly in hulle slym.

      • As jy nou ons Hongaarse buurvrou was van jare terug, het jy daardie slakke gevat, hulle gepamperlang tot hulle ingewande skoon is, en dan gaargemaak, en geeët. Dit was darem een manier om van ons tuinslakke ontslae te raak.

  5. Sjoe, dis mooi foto’s en ‘n mooi storie. Dit laat my dink aan Maankind wat altyd vertel van Kleinmond se oopbreek. 🙂

    • Comment by post author

      Dankie. Snaaks, die mense wat hier grootgeword het, aanvaar maar die see en sy dinge so vanselfsprekend. Dis net ons “binnelanders” wat op en af spring as so iets gebeur.

  6. Mooi foto’s. Laat my sommer verlang.

    • Comment by post author

      Dankie. Ja, hierdie is die lekker tyd van die jaar hier – heerlike weer, doodstil op die strande en ons het nou-net teruggekom van die getypoel af. Net ek en my dogter met die hond het die hele poel vir onsself gehad. Nou weet ek hoekom die rykes vir hulleself sommer eilande koop! 😀

  7. Sonel

    Jy is omtrent bevoorreg om hierdie tyd van die jaar te sien Hester en ek is dankbaar dat jy dit met ons deel deur jou pragfoto’s. Is dit Genis wat die water so geniet?

    • Comment by post author

      Jy bedoel “Is dit Genis wat so wegoes van die water af?” 😀 Ja, dis hy, maar hy haat die branders en lopende water uit die riviermond. Hy swem baie graag as die lagoon stil is of in die getypoel.

      • Sonel

        hahahahah! Ag, hy is te pragtig vir woorde en ek neem hom nie kwalik nie. Ek is ook maar lugtig vir branders. Ek raak dronk as ek te lank staan en dit spoel oor my voete. LOL!

        Ja, ek dink ek sal ook geniet om saam met hom in die stil lagoon te swem. Genis is baie slimmer as julle! 😆

        • Comment by post author

          Ek het gister karplaks neergeslaan daar in die water wat deurgestroom het van die lagoon af na die see toe. Daai klein stroompie is verbrands sterk. My dogter moes my kom uithaal (en dis nie die eerste keer wat ek per ongeluk amper see toe spoel nie!). Dit is ‘n nare gevoel as die water so verbystroom en die sand onder jou voete uitkalwe.

        • Sonel

          Dit is ‘n nare gevoel ja en ek is bly jou dogter was daar. Ek het nog net gehoor van mense wat ingetrek is deur die sterk getye en verdrink het. Defnitief nie iets wat ek sal van hou nie. Dis hoekom Genis dit ook nie naby waag nie. Jy moet hom maar volg. Hy sal jou uit die moeilikheid hou. 😆