My vreugdes en frustrasies

Dis Ekke

Kokkerot-sprokies

Ek let op dat baie van die besoeke wat ek op hierdie blog ontvang, verwys word deur die internet search terms “raad vir kokkerotte”, “hoe om kakkerlakke uit te roei”, “gif vir kokkerotte”, of soortgelyke terme. Ek loer so nou en dan na hierdie tipe inligting, net om te sien wat mense hier lees.

In Januarie verlede jaar het ek my stryd met kokkerotte in my nuwe woonplek bekla in ‘n blog met die naam van Kokkerot Konsternasies en Kakkerlak Kakkerasies.

Nou voel ek so half verplig om my ervaringe en raad te deel met diegene wat so raadop en gatvol klink wanneer hulle Dr Google raadpleeg oor hierdie probleem – nie dat die res van die wêreld se bevolking dit as ‘n probleem beskou nie: daar is al flieks gemaak en stories geskryf oor kokkerotte, hulle word aangehou as troeteldiere en sommige mense dra hulle soos juwele, maar meer hieroor later.

Hierdie is my bevinding en persoonlike ervaring waarmee ek die beste resultate behaal het om my huis kokkerot- (kakkerlak)-vry te hou. Tussen hakies, ek weet nog steeds nie of daar ‘n verskil is tussen ‘n kokkerot en ‘n kakkerlak is nie, maar toemaar.

Vrywaring: Ek neem geen verantwoordelikheid vir enige ongeluk of skade aangerig aan jou huis, jou persoon of enige inwoner of besoeker in en rondom jou huis, impak in die omgewing rondom jou huis of die res van die planeet as jy my 7-punt plan volg nie – dit werk vir my; dis al wat ek sê.

  1. Moenie die kokkerotte voer nie. Ek hou al my droë kosvoorrade wat nie in die yskas of vrieskas gebêre kan word nie, in lugdigte plastiese houers in my kombuiskaste. As jy dit op oop rakke kan bêre, nog beter, want kokkerotte hou van donker hoekies. Maak seker dat die deksels dig seël en hou hulle toe!
  2. Moenie jou troeteldiere se kos oornag, of selfs bedags, laat rondstaan nie. Wanneer jou kat en hond klaar geëet het, bêre die oorblywende kos in lugdigte houers en hou die diere se kosbakke skoon.
  3. Sorg dat daar nie krummeltjies kos of oop houers op die oppervlaktes en vloer in jou kombuis beskikbaar is nie, veral nie oornag nie. Span jou jammerlappie en stofsuier in om elke laaste krummeltjie op te ruim. Moenie vergeet om die krummels uit die broodrooster te skud nie en sorg dat jou vuilgoeddrommetjie dig is. Maak seker dat alle oppervlaktes droog is wanneer jy klaar skoongemaak het.
  4. Ons gebruik nie insekdoders of enige kommersiële gif nie, want ons maak nie graag dood nie. Ons gebruik “natuurlike” hulpmiddels. Kokkerotte hou nie van die reuk van peperment en/of naeltjie nie. Spons so eenkeer ‘n week alle oppervlaktes, die vloer, die kombuis-rakke en -laaie, en sommer agter die stoof, skottelgoedwasser, mikrogolfoond en so aan, af met ‘n mengsel van ‘n paar druppels peperment- en naeltjie-olie op ‘n emmer skoon water. Hierdie resep werk vir miere ook. Trek tog net handskoene aan anders sal mense jou snaaks aankyk op straat. As jou man begin kerm oor die reuk, skaf oorpluisies aan; ek hou nogal van die lekker vars reuk in die huis.
  5. Gebruik sommer hierdie mengsel in jou badkamers, storthokkies en toilette ook. Kokkerotte hou van klam, warm slaapplekkies en hulle vind maklik hulle weg tot in jou huis deur oop pype en gate in die badkamer en kombuis. Daar is so ‘n skuim-in-‘n-blik preparaat wat jy in onnodige gate rondom waterpype kan spuit; die skuim word hard en seël die gat effektief. Vra maar net by die naaste ysterwarewinkel.
  6. Moenie saamrypassasiers huis toe bring wanneer jy gaan kruideniersware, groente en vrugte koop nie. Skud maar daai koolblare uit in die winkel en maak seker dat alle ongewenste gaste in die winkel agterlaat word.
  7. Stel so nou en dan jou wekker vir middernag en sorg dat jy pantoffels met ‘n stewige sool aanhet. Loop saggies, in die donker, gang af kombuis toe (onthou my vrywaring hierbo as jy geneig is om te val of tone te stamp). Skakel die lig aan en trap voor die voet dood enigiets wat lyk asof dit nie een van jou troeteldiere is nie.

Hierdie resep werk nou al ‘n jaar lank vir my. Alles van die beste vir jou pogings.

Nou, om terug te kom by die konsep van kokkerotte wat uitgeroei word. Ek het so ‘n bietjie gaan navorsing doen oor die dierasietjies en wil jy glo, in ander wêrelddele word hulle juis geteel omdat hulle so oulik is en sulke nuttige gebruike het. Nou hoekom hulle dan nou wegjaag uit jou huis? Of nog erger … doodmaak *ril*? Sjympies man, dalk moet ons die alternatiewe oorweeg.

Eerste alternatief: Daar is volkere wat lewendige insekte in juweliersware omskep, ‘n mode wat oorgedra is deur die ou Egiptenare. Kyk dan nou hoe ougat is hierdie klonge in hulle diamante, robyne en ander edelgesteentes uitgedos.1 Jy moet dalk net seker maak dat jou borsspeld se leibandjie goed vasgespeld is.

kokkerot2

Haai nee, miskien is hierdie darem ook nou nie ‘n goeie idee nie, want hoe weet jy of hulle nie dalk pyn en lyding moet deurstaan om so mooi te lyk nie? Skrap hierdie een.

Tweede alternatief: ‘n Meer menslike oplossing is dalk om die kokkerotte aan te neem en groot te maak soos toeteldiertjies. Jy kan hulle selfs toertjies leer. Ja, daar is mense wat dit doen en wie kan dan nou hierdie oulike gevreetjie weerstaan?2

Kokkerotkop

Volgende keer gesels ons meer oor nog eienaardige search terms op my blog, soos byvoorbeeld “ek en my man soek ‘n threesome” (!) en “hoe gemaak met valstande wat geel geword het”. Tot dan, lekker bly.

Voetnotas

  1. Live Insect Jewelry
  2. Image “Cockroach head” by Sharadpunita – Own work. Licensed under CC BY-SA 3.0

Follow Dis Ekke

Please find information about the coronavirus here SA Coronavirus South African Resource Portal

25 Comments

  1. Ek kan nie hierdie post like nie, dood eenvoudig omdat ek my dood gril vir hierdie uitwerpsels van die hel. Het jy geweet hulle hou ook van palmbome as broeiplek?

    So het ek Dinsdag oggend weer moes opstaan vir my daaglikse gym sessie en dood onskuldig en baie deur die mis vir my tekkies gesoek onder in die kas… Toe een van die verdomde kakkarasies durf om oor my hand te hardloop! Ek maak toe soos enige 41-jarige man…

    Ek gil soos ‘n meisie, My vrou het haar wakker gelag vir my.

    Ek haat die pestelensies!! En JA! ek gebruik gif om die wetters uit te rooi!

    • Comment by post author

      Haha, ek verstaan presies hoe jy voel – ek gil gewoonlik vir iemand anders om die euwel te kom uitroei. Palmbome né? – ons het natuurlik baie daarvan (KZN) en sommer nog ‘n ander paar plae ook as gevolg van die digte plantegroei.

  2. Hulle oorleef al eeue en bly maar grillerige goetjies,veral daardie ou grotes in Natal!

    • Comment by post author

      Ek het nie so ‘n ernstige aksie teen die grotes nie, tel hulle sommer op en smyt hulle by die venster uit. Lanklaas een gesien. Wat my gril is die kleintjies wat so ongesiens in ‘n gaatjie inglip en dan is daar nog ‘n spesie wat kan vlieg ook.

  3. Yikes! Mooie kokkeroten en gigantische kokkerote hoof. 😆

  4. Beslis grillerig veral daardie antennas wat hul so beweeg om te kyk waar jy is!

  5. Grillerige karnallies. Het my oor ‘n mik gesukkel om hulle uit te roei en uitgeroei te hou. Ek sorg dat alle skottelgoed ook kurkdroog is voordat hulle gebere word.

    • Comment by post author

      Jy sien, nou probeer ek my man verduidelik hoekom ek die goed in die skottelgoedwasser so ‘n halwe dag lank laat staan nadat hy klaar gewas het en dan sê hy ek is net te lui om die goed uit te pak! 😀

  6. Wenk nr 7 tipeer jou as ‘n vrou van aksie!

  7. Nee ek gaan nie daai borspelde dra nie…
    Hulle se as n mens hulle doodslaan kom daar kleintjies uit… is dit waar? Bawhaaa

  8. Wha ha HA! Werk daai “vrywaaring” van jou ook as ek van my stoel af gemoer het omdat ek so lekker gelag het??
    Ek hoop so… anderste moet ek nou maar aan neuk dokter toe om salf en pille vir al die skete te loop kry! Blokolle van val… en seer spiere van op die grond rondrol oor al jou planne.
    Ek sal ook look soek na jou pos or daai ander soek terme… drie wat??
    😁🤣🤔🥴😂

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Die threesome? Hahaha. Ek dink nie ek het ooit daarby uitgekom nie. Maar hoekom het hulle op my blog beland? Heelwaarskynlik omdat ek geskryf het oor my man wat so graag saam met vroue kuier.

      • Die arme man… hy sal nooit vergewe word vir al sy streke nie! Laat hom weet ek ondersteun sy doen en late!! Shaaaimmm… ek worrie oor hom! 😁🥴🤔🤣

        • Comment by post author

          HesterLeyNel

          Hy ly ‘n heerlike lewe – not to worry!

        • Goed so… spoil hom… hy’s kosbaar!!

        • Comment by post author

          HesterLeyNel

          Ek bly vergeet om te vra – doen jy nog die radiouitsendings? Vir een of ander obskure rede kan ek nie meer inkom op die sbt-webwerf nie. Kry elke keer ‘n 404-error.

        • Lang storie… nee, daar was ‘n vuilspul in die agtergrond… maar, moenie worrie nie… ons beplan ‘n nuwe stasie… gemik tot Suidafrikaaners, wereld wyd!
          Ek gaan binne kort of LinkedIn groepe begin nuus/ artielkes plaas… om belangstelling aan die gang te kry! Hopelik! Dan wil ek ook in die nuwe jaar met ‘n maandelikse online mag begin… weereens gerig na SA mense, wereld wyd!

        • Comment by post author

          HesterLeyNel

          Oukei, dit klink opwindend. Hou ons op die hoogte! Ek vergeet skoon van LinkedIn – kom nie regtig daar nie. Hier rond “doen” ons meesal Facebook en WhatsApp.

        • Ek HAAT FB en doen nie watsap nie… SORRIE… maar, so gepraat van LinkedIn… ek gaan binne kort “promos” begin plaas… en, as alles gaan soos dit lyk… sal ons binne kort die radio weer aan die gang kry!!
          MAAR… hiers die ding… ons bespreuk al die trydskrif… en, ek soek bydraers!! Asseblief!! DANKIE!! Maandeliks… maar, dit sal eers die radio wees… Suid Afrikaaner spesefiek!!
          Raait… nou is die kat uit die sak uit!! WHOOPPEE!! 😁😁

        • Comment by post author

          HesterLeyNel

          Ek sal vir Karen sê om LinkedIn dop te hou.

        • 👍👍