My vreugdes en frustrasies

Dis Ekke

Ek wil nou nie kla nie

Ek sien toevallig in hierdie tyd dat een van my mede-bloggers se facebook vriende sê, mense moenie so baie kla nie. (Oukei, dis nie toevallig dat ek dit gelees het nie – as jy met my facebookvriende is, lees ek al jou “status updates” en alles wat jy “like” en alles waarop jy “comment” ook. Wees gewaarsku!)

In elk geval, die bloggervriend se Facebookvriend sê toe almal moet onderneem om geen klagtes te lê nie tot na krismis. Om my meelewing met my bloggervriend se facebookvriend te toon, sal ek ook maar my klagtes bêre tot na krismis, maar ek hou ‘n lysie van dinge waaroor ek dalk sou gekla het as my mond nou nie so gesnoer was nie.

Die eerste ding waaroor ek wil bulk, is hierdie onopgevoede vakansiegangers wat gister hier by ons Cabanas aangekom het vir ‘n paar dae se ontspanning. Nou ontspan hulle heerlik en ek is soos ‘n gespanne veer wat dreig om te breek – en dit alles oor my kruietuin. Ek het al vertel van my tuin hier buite wat ek met groot moeite in hierdie winderige gat aan die gang hou, omdat ons so ver van die winkels af woon en omdat vars kruie en groente in elk geval onverkrygbaar is hier rond.

Ek kla nie oor die wind of die ver afstande of die gebrek aan groenigheid nie, hoor? Dis nie op my lysie nie.

So val die vent hier in met sy groot fô-baai-fô bakkie, kyk so ‘n slag om hom rond en rek sy spiere uit (seker maar lank gesit op daai paar boude) en toe zip hy oop en laat zip net daar oor my vars kruie. Hierdie cabanas het almal twee toilets, daar is ‘n groot grasperk en ‘n moerse groot kloof agter ons, maar hy ontzip oor my kruie! Ek kry môre ‘n huis vol mense en my dogter moes alles net so los om in hierdie verkeer saam met honderde  ander fô-baai-fôs (met Ventertjies aangehaak) Hibberdene toe te ry en in die Spar se moerse lang toue te gaan staan vir vars groente. Bliksem! Hy weet ons het hom gesien en hy weet ons het sy zipper goed bekyk. Niks besonders daar nie.

Maar ek kla nie. Ek sal niks kla tot anderkant krismis nie.

Mannekin

Ek gaan ook niks sê oor hierdie Sedoos wat nog steeds stormsterkte hier om die hoeke van die huis ween soos ‘n onstemde gees nie. Ek moes vanoggend wasgoed was en het die klereperdjie hier buite opgesaal. Sal die verdomde Sedoos nou nie wragtag ‘n spierwit t-shirt gryp en oor die muur gooi sodat hy binne-in die cabana langsaan se jakoesie gaan val nie? Dis einste hierdie jakoesie wat nooit skoongemaak word nie (nie deur die bure nie bedoel ek) en altyd lyk asof daar ertjiesop in gekook word. Ek weet, want ek en my dogter het al stilletjies daklangs gesluip (ons woon op die boonste verdieping, jy weet, nè?) en die ertjiesop gaan uittap om ontslae te raak van die muskiete wat daarin broei. Wonder of hulle ook ontzip in daardie bad? In elk geval, toe is my dogter in die Spar by Hibberdene en ek moes op die vlerke van die Sedoos daklangs vlieg tot anderkant die muur om die wit hemp uit die ertjiesop te red.

Maar dis nog nie tyd om te kla nie. Krismis kom nog.

Ennieway, omdat dit so vervlaks warm is (en ek kla nie daaroor nie, gehoor?), is ons besig om vleis gaar te maak wat ons koud kan voorsit vir ons kersmaal. Ek het die hele jaar lank gespaar vir ‘n skaapboudjie en dis ‘n mooie boudjie, maar dêmmit, die stoof is warm – nou nie dat ek wil kla nie, hoor? Ek maak ‘n hoendertjie ook, want ek en my nuwe kunsgebit het mekaar nog nie gevind nie en ek kan die skaapboude kou nie, maar ek kan darem ‘n saggekookte hoenderboudjie afsuig.

Maar ek kan darem nie kla nie. Ek kan tenminste mooi smaail.

Toe ek nou vir my nuwe tande gaan kry het, dog ek toe ek gaan vriendelik wees met my man (“vir ‘n verandering”, sê hy), want dit was so om en by sy verjaardag, en ek koop sommer toe vir hom ook nuwe winkeltande, want syne was al effens afgeslyt. So kan ons nou albei mooi smaail.

Ons het juis die afgelope paar maande gelewe van hoender – hoendersop, hoenderpaais, hoender in alle vorme wat sag genoeg was vir my om aan te suig. Toe raak my man so effens ongeskik, want hy sê hoender is nie vleis nie, dis plêstiek, ‘n namaaksel van vleis. Dis hoekom ek so gespaar het vir die skaapboudjie. Hy is gewoond aan mensgemaakte tande en het geen probleem om ‘n skaapboudjie te verorber nie.

Staan ons nou so in die kombuis, toe kom my man daar in en hy gee net een kyk: “Ag nee, hoender vir krismis!” Toe kyk hy ‘n tweede keer en sê: “O, en ‘n skaapboudjie ook!” en hy smaail breed vir my. So ‘n askiestog-smaail.

Ek het nie gekla oor sy houding nie, want dis nog nie krismis nie, maar mense wat vir my kners en dan vir my smaail met my tande wat ek in hulle monde geplaas het, moet net weet – krismis kom … en krismis sal gaan, en dan gaan ek ‘n paar dinge te sê hê.

Follow Dis Ekke

Please find information about the coronavirus here SA Coronavirus South African Resource Portal

18 Comments

  1. Ek moet sorg dat ek daardie Na Krismis uitgawe nie mis nie. Nee, wat, daardie dinge wat jy genoem het, is nie klagtes in die ware sin van die woord nie, net ´n goeie tema vir jou blog.

  2. Hehehe! Ten minste smaail julle mooi!

  3. Het jy darem daai wiepser vertel waar Dawid die wortels gegrawe het?

    • Comment by post author

      Man nee, onder sulke omstandighede bly ek liewer stil, want my humeur hardloop met my weg en sekere dinge is beter ongesê. Maar laat ek jou vertel, as my KYK ‘n boorpunt was, het hy nou soos ‘n sif gelyk.

  4. Oe ek hou van die beeldjie – Mannekin pis – natuurlik van jou mening wat jy so netjies lug sonder dat dit hoegenaamd soos kla klink, ek sien ook saam met Coetzee uit na die volgende blog.

  5. Jy het baie goed gedoen om jou mond gezip te hou oor jou kruietuin! Ek dink nie ek sou dit kon doen nie!

  6. Stuur vir daardie oopzipper die gesplashte blare met komplimente skoongewas deur sy eie water!. Nee wat, dis sommer nonsies.
    Sulke winkeltande is ook maar nie regte tande nie, al smile jy hoe mooi.

  7. Ai so gepiepie op enige plek is vir my regtig sleg… dis odf die bestawing ligjare terug skuif!

    Gelukkig deel ons nie die FB vriend nie of ek het dit misgelees. Ek kan darem al te lekker kla en kerm

  8. Sonel

    Gelukkig kla ek nie veel nie. Niemand worrie in elk geval nie en ek is nie ‘n groot Bragbook Fan nie, maar net om te sien waaroor jy altyd kla, het ek vir jou ‘n ‘friend request’ gestuur hoor. By my mag jy maar kla. Dit laat my beter voel oor my klagtes wat ek nie oor kla nie. 😆

    Daai stupid vent! Ek sal maklik daai tyd my kruie vat wat hy so omgeploeg het, en hom stop met dit en hom doer ver gaan gaarmaak. Sal hom ‘n les leer! Ons ken ook van daardie onopgevoede vakansiegangers, maar gelukkig kom hulle nie naby my huis nie. Hulle kom hier van die stad af, op soek na ‘rustigheid’ en kom raas en mors hier. Ons arme dam lyk altyd soos ‘n vullishoop as hulle hier was. Wens ek kon hul maniere leer.

    Genade! Ek het gedog mens kry net swembaddens wat so vuil kan raak? Die bure gebruik seker nooit daardie jakoesie nie of doen hulle? Gross!

    hahahahha! Ek lag nog al die pad hoor, maar die laaste een van die hoender vat die koek! Ek dink ek moet daar kom bly. Ek sal elke dag by jou hoenderpastei eet want ek is net so lief vir hoender. Dis g’n plestiek vleis nie. LOL!

    Ek is ook bly ek is nie daar na Krismis nie. Ek dink daar is ‘n paar mense wat gaan les opsê! 😆

    • Comment by post author

      Hi, dankie vir die lekker kuier. Ja-nee, wat sal ons lewens wees sonder diegene wat ons so vies maak – seker maar bra vervelig. Welkom op my Bragbook; jy moet net nie skrik vir my ongetemde en effe stout familie nie (veral my kinders; hulle ma het hulle nie goed opgevoed nie!)

      • Sonel

        Dis ‘n plesier en jy is doodreg. Dit sal vervelig wees. LOL!

        Whahahaha! Dis so snaaks, want dis presies wat ek altyd vir myne vertel = dat hul ma hul nie maniere geleer het nie. Die eerste keer toe ek dit sê kyk hulle my so aan en sê – maar ma is dan ons ma. Toe sê ek nee, nie as julle nie maniere het nie. Dan het ek julle opgetel iewers.

        Baie dankie vir die verwelkoming en dieselfde vir jou. 😀

  9. Ai jai jai ja jai
    so ‘n bleddie zipper! 🙁