Dis Ekke

My vreugdes en frustrasies

Dis Ekke

Ek lus hom nie altyd nie

Foto met vergunning van Stan Shebs [GFDL, CC BY-SA 3.0 or CC BY-SA 2.5], via Wikimedia Commons

Ons het in Bloemfontein kennis gemaak met Naomi, ‘n vrou van die Oos-Kaap wat gehelp het om ons laatlam groot te maak. Naomi het nie net my dogter leer Sotho praat nie, sy het vir ons ook ‘n anderse soort taal aangeleer.

By haar het ons geleer dat, wanneer ‘n tand getrek word, voel jy nie die pyn nie; nee, jy hoor hom soos wat hy kraak en losbreek uit jou kakebeen onder die tandarts se tang. Van haar eerste seks-ervaring daar in Dordrecht se wêreld het sy vertel dat daai pad vir die man in my oopgemaak is toe sy nog op skool was.

Sò bring ons eenkeer ‘n sak vol turksvye saam huis toe na ‘n vakansie in die Baai. Naomi het geweier om haar mond daaraan te sit want, vertel sy, as kind het sy eenkeer so baie van die vrug geëet dat sy ge-verstop geraak het en die draad-klerehanger moes gebruik om oop te maak. Ek het liewer nie te veel uitgevra oor daardie ondervinding nie, maar onthou haar finale uitspraak: Nou lus ek hom niks meer nie.

Dis ‘n gevoel wat ek dikwels ondervind – ek lus hom nie. Wanneer iemand my kwaad maak lus ek hom niks meer nie. As die wind aanhoudend waai lus ek die lewe buite die huis glad nie. As die lewe my die dag kwaai druk, dan lus ek hom nie altyd nie.

Tog, daar kom altyd die dag wat die kwade gevoelens weggaan, wanneer die wind ophou waai en wanneer die lewe weer seepglad verloop, dan lus ek hom weer vreeslik. Dan spring die blygeit weer in my op en ek verwelkom die son wat oor my skyn en ek vergewe my vyande enigiets.

Ek lus hom nie altyd nie, maar die lus woon nog in my.

Follow Dis Ekke

29 Comments

  1. Jinne dis ‘n oulike stukkie!! Laat mens sommer weer lus voel vir lewe.

  2. Mooi!

  3. Wou nog díe sê. Een van die groot teleurstellings van ons lewe hier, die feit dat die turksvye níe dra nie. Groei ´n hond uit ´n bos uit, maar geen blomme en geen vrugte nie. Almal se goeie aanbevelings probeer, maar niks.

    • Ek het ook so een in my tuin gehad, toe sê my buurman vir my die grond is te ryk. As die blare so goed groei, bodder die boom nie om voort te plant deur middel van vrugte nie. Voordat ek hom kon oorplant in armer grond het my boerboel hom opgevreet – dorings en al.

  4. Oulik geskryf!Mens mag maar soms nie lusvoel nie.

  5. My ma het ook van daai lus (lust) gepraat. Verlang ek skielik! Mooigeskryf soos gewoonlik!

  6. Goeie vergelyking. Daardie verstopping is gladnie lekker nie. Maar n draadhanger… ek weet darem nie so mooi nie.

    • Ja, ek sou dalk maar liewer by die dokter langs gegaan het vir ‘n enema. Ek sien juis gister in die Chinese winkel hier by ons sulke oulike enema-pompies hehe

      • Ha ha, ek onthou hoe ons die boklammers gehelp het. Suk sunlight seep met n puntjie gesny. Kan onthou hoe my ma dan haar vingers nat gemaak het met spoeg en dit op sepie gesit het en dan ingesteek het. Ek moes meestal die lam vashou sodat my ma dit kon doen. Het ook die enema bol spuitjie gehad as die ander nie gewerk het nie!

      • Haha dit klink na pret. Ek het mos oppiedorp grootgeword – weet niks van sulke dinge nie.

      • Jong dit was n belewenis om as jong meisie te boer. Ek was maar altyd boere nooi terwyl my twee ander susters nie rerig belangestel het nie. Sal nie weet hoekom nie! Die geleentheid was daar.

      • Dis interessant hoe elke kind in ‘n gesin kan verskil van ‘n ander een. Hulle word tog grootgemaak met dieselfde waardestelsels, roetines en stimulasie, maar dan vat elke outjie ‘n ander pad. Ook maar goed, want anders sou die geselskap om die etenstafel maar bra vaal en vervelig wees!

      • Sal jou dit sê ons is al drie onderwysers. As ons vakansies huistoe gegaan het was dit n hele konsternasie want dis net skool praatjies.My pa het natuurlik met tye sommer kwaai geraak as ons vroumense so praat en hy nie deel van gesprek kan wees nie. Hy was enigste man tussen 4 vrouens, arme man! Ons het nooit aan eettafel mag gepraat het nie!

      • hehe Ek kan my net voorstel

  7. Jou optimisme is aansteeklik!

    • Dankie – ja ek kan ook maar goed jammer voel vir myself, maar daar is altyd ‘n rede om te lag ook.

  8. nou lus ek hom mos: ‘n turksvy….

    • Jy kry hom nogal nou en dan te koop in groentewinkels deesdae, teen onnoembare pryse. In die Ooskaap het ons hulle langs pad gekoop by die emmervol vir ‘n paar sente.

      • ek het nog mya se turksvylukker hier: ‘n lang stok met n lee kondensmelkblikkie vooraan vasgespyker. So kan jyy van verr aff by die turksvye kom sonderr om naby die dorings te kom, of naby die slange. Hier op naby ons , op die plaas Prinskraal, was ‘n groot turksvybos, met baie turksvye- en baie slange….!

      • Ja, dis presies net so ‘n plukker wat die kinders (klonkies in daai dae, maar ons is nou pc) gebruik het om die turksvye vir ons te pluk. Hulle het dit nie turksvye genoem nie, maar tollevia (spelling?) en gepraat van “tollevia afmaak” in plaas van turksvye pluk.

  9. Oulik geskryf! Niks so lekker soos ‘n yskoue truksvy vanuit die yskas.

    • Ja, ek slaan gewoonlik my oë op na die berge wanneer dit by afskil kom, maar my man is ‘n yster daarmee.

  10. Hierdie tyd van die jaar, net so voor die vakansie, wat alles moet klaar kom, lus ek baie homme nie … is my draadjie korter as gewoonlik … maar soos jy sê, ander dae lê die vergeef sommer naby en maklik. 🙂

    • Ja en dan na al die gewoel, kom daar die anti-klimaks wanneer die feesdae verby is en die kuiermense huis toe. Ek kan nooit besluit wat is die ergste nie – die week voor kersfees of die week daarna.

Leave a Reply

Theme by Anders Norén

Back to Top
%d bloggers like this: