Dis Ekke

My vreugdes en frustrasies

Dis Ekke

… want ‘n ding het ‘n plek!

In ons huis het dinge en goete die manier om soek te raak. Dit bly soek totdat almal moed opgee en ‘n ander een gaan koop, wat die rede is daarvoor dat ons vyf pare naelknippers het. Dis ook maar goed so, want nou kan ons so hier en daar in elke kamer een aanhou, as ons nou net kon onthou in watter laai dit is …

Die probleem van die goed wat so soek raak het vele oorspronge, maar die grootste daarvan is die oorerflike verstrooidheid van mense wat so besig raak met werk, koskook, eet, vakansie hou of iewers heen op pad is. Almal praat gelyktydig, deure gaan oop en toe en die hotel se werkers staan en gil oor die draad wanneer hulle koffie / tee / suiker / siegrêts wil leen. Gooi ‘n paar troeteldiere wat miaau en blaf in die mieks en dan sal jy weet hoekom die koek flop. Daar is net te veel dinge wat jou aandag aftrek.

In ons huis is daar ook die een uitsondering wat almal mal maak – die man wat baie te sê het oor die “deurmekaarspul” waarin hy moet leef. Hierdie man raak ballisties as daar ‘n vuil teelepel in die kombuiswasbak lê, want die skottelgoedwasser staan net een tree regs van die wasbak. Is dit nou te veel gevra dat die teelepel in die skottelgoedwasser gesit word en nie in die wasbak nie?

Die man verwag dat die kleinste dingetjie, soos byvoorbeeld ‘n naelknipper, op ‘n bepaalde plek moet wees, enige tyd van die dag of nag, WANT ‘N DING HET ‘N PLEK. Elke artikel moet (soos nodig) skoon gewas, gestryk, opgevou, opgehang, toegemaak in ‘n boksie, binne-in ‘n spesifieke laai, agter ‘n toe kasdeur en altyd op dieselfde plek wees. Pure wensdenkery.

Ongelukkig beteken dit dat die man meer as een keer per ‘n dag uitbars:

  • “niks-in-hierdie-huis-het-’n-plek-nie” (want iemand het ‘n selfoon op die kombuistafel gelos)
  • “die goed lê weer die hele wêreld vol” (wat moontlik beteken dat daar twee selfone op die kombuistafel lê)
  • “die goed is in almal se pad” (menende dat een van die selfone op die broodplank op die kombuistafel lê; dieselfde broodplank waar die man nou graag ‘n toebroodjie wil maak)

Die huismense reageer voorspelbaar na elkeen se aard:

  • “Maximanus,” sê die dogter van die huis en maak haar slaapkamerdeur toe.
  • “Brommedaris,” sê die seun van die huis en loop uit met sy visstok in die hand.
  • Die vrou van die huis het nie ‘n wag voor haar mond nie: “Hierdie selfoon se plek is daar waar ek hom neersit!” of “Jou wêreld is ook maar weer klein vandag!” of “Watse pad? Is daar ‘n voetpad op die broodplank?”

Dan wip die man sy gat in ‘n krul en gee pad na die hotelgronde toe, sommer vir die res van die dag.

Dieselfde man het ook die gewoonte om alles wat volgens hom “rondlê”, onmiddellik te gaan bêre, nie noodwendig op die plek waar die eienaar van die voorwerp daarvoor sal soek nie. Ek bedoel, om watter aardse rede sal enige persoon nou verwag dat motorsleutels op die sleutelrakkie sal hang?

Dit beteken dat die geïrriteerde eienaar van die voorwerp wat “gebêre” is, moet gaan soek na die man om uit te vind waar die voorwerp nou weer gebêre is. Het ek genoem dat die hotel se gronde, heuwel op en heuwel af, groot genoeg is om in te verdwaal? Sy selfoon lê natuurlik permanent op sy lessenaar, twee duim regs van sy rekenaar af en raak nooit weg nie. Word ook nie saamgedra nie.

So ‘n gebeurtenis verskaf natuurlik groot genoegdoening aan die man wanneer daar aan hom hierdie gulde geleentheid gegun word om eers stoom af te blaas omdat “niks-in-daardie-huis-‘n-plek-het-nie”, voordat die verlangde inligting verskaf word.

Dit kan ‘n tydsame tydverdryf word as iets in hierdie huis soek raak. Dan koop ons maar liewer nog een.

Follow Dis Ekke

34 Comments

  1. Hehehehe! Ek is so bly om te hoor dis nie net my huis wat goed opeet en insluk nie!

    Ek is nog blyer om te hoor dat ek ook nie die enigste een is wat kla oor goed wat nie op hulle PLEK is nie! Ek het nou al moed opgegee met ‘n man en drie tieners in die huis. Ek sal van my kop af raak. Dit onstel my so dat dit voel of my hele roetine van sy geoliede wielietjie afgegooi is.

    Ek het nou al geleer om maar stil te bly en agter almal aan te loop en optel. My man gooi sy klere VOOR die mandjie, my kinders LANS die mandjie of selfs OP die mandjie, maar nooit IN die mandjie nie (om maar net een simpel voorbeeld te noem).

    Ek het ook gelukkig geleer dat mens tieners se kamerdeure kan toemaak en toehou, dis baie makliker vir my!

    En moet asseblief nie dat ek oor naelknippers en selfoon laaiers begin nie….

    • Haha julle presiese netjiese mense moet net leer om the “chill” soos die kinders sê. Ek raas altyd met my man as hy almal se beddens begin opmaak, want dan leer hulle nooit om dit self te doen nie.

      • Dis BAIE waar, ons moet net chill!

        Die ergste van alles is ek WEET ek is ‘n pyn in die gat, maar ek sukkel. Ek het darem al bietjie gekalmeer!

  2. Skoonlief in ons huis: Waar is my sleutels/waar is my selfoon/ek kan nie my hoed kry nie/waar is my beursie/waar is my whatever. Dan moet die almal alles net so los en help soek, anders is die duiwel los. As alles maar net op sy plek was, sou ons baie ure gespaar het en minder kere laat wees vir afsprake.

    • Ha! Nog een wat nie kan chill nie. Daar is mos belangriker dinge as afsprake en so aan 😀

      • Die woord is Chilli – red hot nogal. Nee, man dit gaan oor mý tyd wat ek moet afstaan om onnodiglik aan soektogte deel te neem. Sommer baie tyd. Jy sien, die wegsteekplekke is legio – en ons onthou soms nie almal van hulle nie – of wat wáár weggesteek is nie …

        • O ek ken daai gevoel so goed. So met die ouderdom saam word dit net erger, so ek is nogal gelukkig in die sin dat ek ‘n man het wat goed raaksien en ‘n vlymskerp geheue het. Ek wens net hy wil dit nie so invryf nie!

        • vuurklip vryf graag in! Hehe

  3. Bwahahaaa – hoe goed beskryf jy hierdie algemeen-menslike scenario!

  4. Ek en die man van die huis sal permanent soos die vet in die vuur wees. Iets hoort presies daar waar EK bepaal dit hoort TANS. Anders sal ek die goddellike dag omhardloop net om allerhande kakkies en fieterjasies op “plekke” te bere. Wat my nou laat dink: Karen baklei want sy se my pa is slordig. En my pa se weer net vuil mense proe aan kos en druk die lepel terug in die pot. Askies tog, kieme KOOK dood. En baai the way, ek het persoonlik gesien hoe proe hy aan ‘n ding en druk die lepel terug in die soppot. Sela.

    • Ja, maar hy glo aan die spreekwoord “doen wat ek sê; moenie doen soos ek doen nie”. Dis mos hoe dit werk in hierdie familie van ons.

  5. Selfs in ‘n huis met net een inwoner gebeur daai dinge!

  6. 🙂 Soos jy sê – W E N S D E N K E R Y !!!
    Mooi man

  7. Ek wil ook so kan skryf.

  8. Dit was nou n heerlike beskrywing van alledaagse gebeure. Sien die prentjie presies voor my!

  9. Ek is ook ‘n bietjie so! Ek verkies dinge op hulle plek. In ons huis is ek die een wat heeldag goed wegpak wat rondle! Miskien moet ek begin Chill! 🙂

    • Weet jy, ek was in my jonger (VEEL jonger) dae ook so, maar my man – o liewe aarde tog, hy’s nog steeds erg. Gelukkig blaf ons net so ‘n slag vir mekaar en dan is die bekgeveg eers weer oor. Dankie vir die saamgesels.

  10. Ek was nog nooit super-netjies, maar deesadae is dit ‘n moet, anders onthou jy nie waar om te soek nie.
    Oulik geskryf.

  11. Hahahahah Hester jy vertel dit so komieklik. Veral omdat ek my kan vereensewig met dit.

  12. Ooh nee… ek en dai man in een huis sal swaarkry 🙂

    • Ag ja, maar na 40 jaar word dit ook net agtergrondgeraas wat so nou en dan jou ore bereik. Hy het darem ander goeie karaktertrekke wat opmaak vir sy grille en geite. 😀

  13. ‘n Ding het sy plek…. klaar!!!! Ek vervies my sommer wanneer almal rondhardloop op soek na dinge wat hulle nie op sy plek gebêre het nie. Nee…. dit is te laat vir chill, het dit al probeer, werk nie vir my nie. Ek raak benou wanneer dinge om my deurmekaar begin raak.

    • Hehe, dan sal jy goed klaarkom met my man. Hoe was jou vakansie? Ek is jammer ons weer wou nie saamspeel nie, maar dit het ons tenminste gedwing om binne te bly en op te vang met agterstallige werk.

      • Ons is nogsteeds hier. My kostuum is gekoop vir die dag wanneer die weer ‘n oggend meer genadig wil wees sodat ek daai brander kan gaan ry. By die huis vergaan hulle van hitte, 40 grade sê my dogter. Bly ek was nie daar nie!!!
        Hopenlik is die agterstaĺige werk die wegpak van dinge op hulle plek 😆

        • Weet nie – lyk my die weer begin eers teen Sondag opklaar. Wegpak? Not on your life. Ons sit vasgeplak voor die rekenaars. Moet volgende week weer in JHB wees om kliënte te sien en voorleggings te doen.

  14. Lekker, lekker gelees. Ons net ons huis nou, soos ‘n vriend gesê het, spartaans gemaak. Min bêre plek, min wegsteekplek, maar dit gebeur tog nog, dat goed wegraak, hoofsaaklik my skuld, maar dit gaan baie beter, as mens elke ding op sy plek sit.

    • Ja, ons (ek) het ook probeer om ontslae te raak van meeste van die artikels wat niemand ooit gebruik nie, maar my man en dogter is verbete versamelaars. Ons het van ‘n groot huis af getrek na ‘n gerieflike 3-slaapkamer woonstel en het al klaar weer nog ‘n motorhuis bygehuur … ek het nou eenvoudig moed opgegee.

Leave a Reply

Theme by Anders Norén

Back to Top
%d bloggers like this: