My vreugdes en frustrasies

Dis Ekke

‘n Soete Lentedag

Vanoggend, so met die wakkerwordslag, was my moer sommer klaar omgeslaan. Dit het deur die nag ligweg gereën, die mis hang laag oor die grou see, dis bibberkoud en die wind huil om die huis se hoeke soos ‘n boosaardige gees. Ja, natuurlik sê ek vir myself, dis mos die 1ste September en soos gewoonlik op enige Lentedag is die weer so mislik as wat kan kom.

Onmiddellik dink ek terug aan die Lentedag-vieringe van my kinderdae. Ons moes elke jaar op hierdie dag deur die dorp se strate paradeer in lenteklere: sulke geblomde kortmourokkies met uitskop-onderrokkies en sandaaltjies vir die dogtertjies, en wit kortmouhempies en kortbroekies vir die seuntjies. Dan het ons die pienk heiningrosies afgepluk (en onderlangs geswets oor die dorings wat ons gepiets het), voordat ons straataf gemarsjeer het van die skool af tot by die burgersentrum. Daar het die burgemeester se vrou en haar dames ons ingewag met koekies, koeldrankies en roomyshorinkies.

Klink heerlik nè? Daar was net een probleem: Lentedag was tradisioneel, sonder uitsondering, die koudste dag van die jaar in ons dorp. Die wind het dwarsdeur jou ribbes gewaai, en as dit die jaar gereën het was Lentedag die ideale tyd daarvoor. Daar staan al die dorpskindertjies dus in lang toue, uitgedos in vrolike klere, en wag vir ons roomys op ‘n dag wat eintlik bedoel is vir dik ertjiesop en vars plaasbrood, lippe en hande blou van die koue. Ons het elke oomblik daarvan gehaat, maar ons het geglimlag en kniebuiginkies gemaak om dankie te sê vir die lekker eetgoed, want ons was mooi geleer daardie dae.

Dit alles warrel deur my kop toe ek vanoggend hier deur die venster staan en kyk hoe die walvisse in die water speel daar ver op die horison. Simpel visse, dink ek by myself, dis ook net hulle wat hierdie soort weer sal waardeer. Verbeel jou, om so in die yskoue water te baljaar asof hulle vakansie hou op ‘n tropiese strand. Ek het sommer my gordyne toegetrek en geluister na my Harry Potter oudioboek (ja, jy’t reg gelees – Harry Potter; ek het nie opgehou om van feetjies en heksies te hou net omdat ek oud geword het nie).

Baie laat die oggend, wel dit was al meer by middagete se kant verby, het ek eers myself kon oorreed om pajamas uit te trek en te gaan stort. Net daarna bel buurvrou om te sê ons moet oorkom – hulle het ‘n byekenner daar wat ‘n swerm bye uit hulle dak gaan verwyder en sy het ‘n sjokoladekoek gebak vir Lentedag. Ag nee, net wat ek nodig het, brom ek by myself, nou moet ek weer my warm sweetpak uittrek en in die koue uitgaan.

Daar gekom, was ons net betyds om te sien hoe die swerm bye en heuningkoeke uit die dak verwyder word. Ons verwonder ons aan die bye se sosiale struktuur: terwyl die netjiese nes uit die dak verwyder word, sit die bye op die vloer in groepies bymekaar en my dogter wys daarop dat hulle besig is om mekaar te kalmeer. Dit is ook so, elke senuagtige by wat hom by die groepie voeg, word in die middel ingebondel en “gestreel” totdat hy kalm en tevrede is. Daarna is dit maklik om hulle te oorreed om in die nuwe korf in te trek.

Ons kry stukkies van die vars heuningkoek om uit te suig en agterna gaan drink ons koffie en eet heerlike sjokoladekoek met room. Dit word sommer ‘n heerlike Lentedag, die koue skoon vergete. Die wind het nou gaan lê, die skuifdeure staan oop en ek kyk uit oor ‘n kalmer see waar die son nou besig is om onder te gaan.

Ek hoop almal het so ‘n heerlike soet Lentedag geniet.


Lees ook Hol-la-dri-o-ha, hol-la-dri-o en Dis heerlike lente, die winter’s verby.

Follow Dis Ekke

Please find information about the coronavirus here SA Coronavirus South African Resource Portal

28 Comments

  1. Griet

    Nou het ek gelag dat die trane loop. Ek wou ‘n baie diep en innige lentedag verhaal skryf, maar aangesien ons deur die bank dieselfde moods en dae het, sal ek jou oor ‘n halfuur vergas met my shimmery twinkeldy storie….

  2. Hier staan die hitte walm kurk droog in die wind. Julle kan gerus bietjie die reën aanstuur

  3. Ons het dieselfde probleme met Lentedagweer gehad. Ek onthou my pa wat heel sinies opgemerk het: “As die skoolhoof se dis lente, dan IS dit lente.”

  4. It’s the Queen bee! Be kind to their Queen and her workers will love you. In Florida we are only coming to the end of summer … urgh! nog erg warm. I’m ready to experience Fall with open arms.

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      The beekeeper asked if he could put up six hives along the bank of the river. Their are masses of flowering trees in that area and the bees will be quite productive there. He is prepared to share the honey with the property owner, which means we’ll be learning a lot about beekeeping. We are super excited! You can have our cold weather – ek is ‘n somerskind en hou daarvan om warm te kry.

  5. Ons het net so koud gekry hier in die land doer onder gister. So ‘n regte suidpoolwind wat “deur jou ribbes waai” – hou daarvan! Dis net die bloeisels en botsels wat deurdruk met die lente-idee, die weer luister nog nie.

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      My gemoedstoestand word beheer deur die weer – hoe warmer hoe beter. Vanoggend is dit weer heeltemal oopgetrek en die son skyn. Ek dink ek gaan kwekery toe om plante te kry vir my kruietuin.

      • Griet

        Nee presies die teenoorgestelde geld aan my kant. Ja, my gemoedstoestand word deur twee bepaal: Of my maag leeg is en of dit warm is.Die koue weer het nou oorgewaai hientoe, vreeslik dankie!!!

  6. Dankie, ek het ook ‘n heelike lentedag gehad. By ons het die winter vanjaar laat gekom, so ons is uiters dankbaar dat die winter nog ‘n bietjie aanhou om die graan deur te help. 🙂
    Die natuur is darem net wonderlik, kyk nou net die bye! Daar is net een probleem, en dit is dat as bye eers in ‘n plek ingetrek het, jy sukkel om hulle uit te hou. Die heuningreuk bly mos daar. Ek hoop die mense het ‘n plan om hulle uit te hou.
    Dankie, lekker gelees. Vandag lyk darem of dit ‘n heerlike lentedag sal wees. 🙂

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Die natuur weet beslis wat nodig is, maak nie saak hoe ons weer-“bestellings” lyk nie. Ons het ‘n winderige dag hier, maar die son skyn, so die wasgoed is darem op die draad.
      Jy’s reg omtrent die reuk van die heuning. Die byekenner het sy toormiddels daar aangewend om die reuk te verdryf en die openinge waardeur die bye voorheen ingekom het, is ook toegemaak.

  7. Mens, nou is ek lus vir heuning! Ek het jou vertelling baie geniet! En luister jou Harry Potter en bly jonk hoor!

  8. Ek onthou daai lente dae uit my eie kinderdae… ook soos joune. Jou dag het lyk my heerlik uitgedraa – lekker!!!

  9. Jy het my nou lus gemaak vir plaastyd, en heuningkoeke uitsuig.

  10. Niks soos so lekker lentedag.

  11. Ons vier klokslag elke jaar by die werk lentedag. Ongelukkig nie met roomys nie, ons braai en trek laf aan. Helaas was ek die laaste paar jaar altyd land uit op lente dag.

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Ag wat, die res van die lente is nog op pad. Of praat ek nou onsin? – hier by ons verander ysige winter sommer net so in hetige sommer sonder enige oorgangstadium.

  12. Sonel

    Jy laat my omtrent lekker lag met jou manier van gesels. Ja, ek sou ook moerig gewees het dink ek. Lentedag is veronderstel om lekker warm en sonnig te wees. Gelukkig het jy vir Harry Potter gehad om jou besig te hou. Jy moes die Walvisse saamgenooi het. 😆

    Ek weet nie watter jaar laas ek heunkingkoek geëet het nie. Dit is tog so lekker en nog lekkerder om sien hoe dit gedoen word. 😀

    Ek is bly jou Lentedag het sommer lekker uitgedraai. ♥

  13. Ek kom loer, en loer, en loer, maar ons bly maar net om die heuningpot draai! 🙂