My vreugdes en frustrasies

Dis Ekke

Sout van die aarde

Ek het daar doer in Namakwaland grootgeword waar daar ‘n oortollige hoeveelheid floried in die drinkwater is, as gevolg waarvan ek opgeëindig het met die kenmerkende klein tandjies, vuilgeel van kleur en deurspek met donkerbruin vlekkies. Vreemdes vra altyd hoeveel sigarette ek per dag rook om soveel nikotien op my tande te hê. Selfs tandartse trap in hierdie strik en elke keer voordat ek in die stoel neerval by ‘n nuwe tandarts sug ek eers: “Endemic fluorosis. Ek het in Namakwaland grootgeword.”

Hierdie stelling laat menige tandarts bleek word om die kiewe, want nie net is hierdie tande baie lelik nie, die mediese probleme wat daarmee saamgaan is legio. Die tandwortels is baie sterk, tenminste drie duim lank en onder omgeklink (ja, dis amper regtig so erg), maar die porselein-gedeelte is klein, skurf teen die tong en versplinter maklik. Sou die arme tandarts ‘n tand probeer trek, breek die porselein in fyn stukkies en die wortels laat hulleself nie trek nie – nee, hulle moet uitgeboor en opgelig word met ‘n tandarts se weergawe van ‘n koevoet – darem nou nie so groot soos die een waarmee klippe omgerol word nie, maar die aksie is een en dieselfde.

Deur die jare het elke tandarts maar wal gegooi teen die tandetrekkery en probeer om die “ou tandjies te red” deur krone, goud-omboorsels, blink stopsels en / of wit porselein-opvullings aan te bring. Hierdie tande laat nie met hulle speel nie en die krone val voortdurend af, die goud laat die spul tande swart word en verdwyn dan eenvoudig in die wasbak af, die blink stopsels gaan saam met die kos maag toe en die mooi wit opgevulde tand word geel en verbrokkel tot daar later niks van oor is nie.

Op hierdie hogere leeftyd kom ons toe op ‘n punt waar die tandjie links onder in die middel van my gebit sommer eendag net goedmoeds bo die tandvleis afbreek. Die tandarts (‘n baie bekwame man) het die kleine ou tandworteltjie uit die kakebeen uit-geswoeg, -gedreig en -gepleit. Toe is daar natuurlik ‘n gat reg onder in my mond en ‘n paar krone wat so skeef hang, al klouende aan die boonste tandvleis en ek praat met ‘n duidelike sisgeluid. Kry julle nou al die prentjie?

Vroeër hierdie week begin die tandjie net regs van die bestaande gat boosaardig sweer en pyn. Dis nou ‘n probleem, want ons het verhuis en nou moet ek soek vir ‘n nuwe tandarts.

Ek weet die tand moet getrek word en ek is baie ongelukkig, want hoe gaan ek nou lyk met die àl groter wordende gaping onder in my mond. “Toemaar,” troos my man, “Ons kan vir die mense sê dis die nuwerwetse passion gap.” Loop bars, ek het nie lus vir simpel grappies nie. Hierdie keer MOET ek die tandarts oorreed om al die tande te trek en my te voorsien met winkeltande.

Terwyl ek daar in die wagkamer sit en my aanslag beplan, onthou ek skielik die dag wat ek en my dogter in swaar verkeer by ‘n kruising ons rybeurt sit en afwag het. Die verkeersligte was (weer eens / nog steeds) buite werking. Die taxi’s ry soos hulle wil; die res van ons bid benoud vir ‘n gaping. Langs my staan een van daai lang slap motors wat in die jare sestig so in die mode was, nou nerfaf en amper opgeroes (behalwe vir die uitlaatpyp wat skitter in die son), maar die enjin brul nog dat hoor en sien vergaan.

Ek vang so uit die hoek van my oog sulke pikswart vingernaels op die stuurwiel, ‘n gesig vuil van ghries en stof, ‘n gekoekte haredos en verflenterde baard. Toe hy my belangstelling opmerk, glimlag hy oopmond en ewe vriendelik. Die zol hang uit die een mondhoek terwyl enkele tande onder en die kaal tandvleis bo ‘n curry bunny vetkoek ritmies fynmaal. Hy ry daai deeg so op die rim, soos ons altyd gesê het.

“Ma,” sê my dogter nog voordat ek ‘n skewe gedagte kan dink. “Ma, wees vriendelik. Voorkoms is nie alles nie en vuilheid getuig soms net van harde werk. Gewoonlik is hierdie mense die sout van die aarde.”

Ek glimlag dus vriendelik terug en dan kyk ons albei weer ongeduldig na die motorbestuurder voor ons wat kik en mik en nie kan besluit of dit veilig is om te ry nie. Na ‘n paar oomblikke leun die Sout van die Aarde by sy motorvenster uit en skreeu vir die huiwerige bestuurder: “Maar thal jy nou atheblief ry, jou thoepit pxxth?”

Toe ek neersak in die tandarts se stoel, vergeet ek skoon van my fluorosis-Namakwaland-rympie en sê met ‘n huilsug: “Dokter, ek wil assseblief nie ssooss die SSout van die Aarde praat nie.”

Follow Dis Ekke

Please find information about the coronavirus here SA Coronavirus South African Resource Portal

30 Comments

  1. Tandartse maak baie geld uit mense…

  2. Tannebek mêkanieks is slinkse goete. Ai maar hulle kan toor met tannepyn!

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Laat my amper wens ek het nog geleef in die dae waar die blacksmith of die barber jou ‘n halfbottel whisky ingejaag en die tande met ‘n tang uitgepluk het. 😀 hehe, maar dink net aan daai babelaas!

      • Natuurlik keer niks ons om vandag se Myprodols te sluk voordat ons daai bêk mekenieks gaan sien nie. Hulle snuffel whiskey oppie asem te maklik uit en loer vir mekaar grootoog oor daai simpel maskertjies.

  3. hahahaha jammer ek lag maar jy vertel dit so kostelik. Maar ek moet se ek voel jou pyn en leiding

  4. Ditto, ek wil nie lag vir jou ongemak en pyn nie maar jou humor is uitstekend en jy beskryf dit so goed!
    Christina

  5. Ag, hoe lekker lag ek nou vir jou ou Sout van die Aarde! 🙂

  6. Anonymous

    O vader. Dis moer snaaks. Wat issit dat ons alewig met ons tande sukkel? Ek en my kinders het weer mieliepitte. Ons dink nog aan ‘n grap dan steek ons tande ses sentimeter ver uit.

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Solank hulle kan kou en smaail is dit oraait – tenminste sal die tandarts hulle kan raakvat om te stop of te trek.

  7. Jinne jy het my nou laat skater…mens moet maar lag terwyl jy nog tanne het!

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Nou wat bedoel jy nou? Ek gaan mos winkeltande hê om te smile nes Tom Cruise – ek weet net nie of ek met hulle sal kan eet nie!! 😀 😀 😀

  8. Lekker gelees en weet waarvan jy praat oor die sterk tandwortels. Lees die odontologa. Daardie stryd om’n tand getrek te kry.

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Ek het jou blog destyds gelees en kommentaar gelewer en geweet hier is iemand wat verstaan. My tande is vanoggend onder narkose getrek en nou lê ek in die bed – as hierdie pynpille inskop gaan ek twee dae lank slaap. Wanneer ek bykom, sal vertel hoe dit afgeloop het.

  9. Ek voel vir jou want ek het soortgelyke probleem!! Nou weer ‘n tand middeldeur gebreek! Ek kry my tandarts ook maak jammer met al die gestoeiery met my tande!!

  10. Sterkte. Ek pyn saam met jou. Ek dink jy moet maar sterk staan teen die mediese fonds. Hulle skuil al te graag agter “goverment decree. F.k die goverment. Dis tyd dat die mediesefondse dit ook hard en duidelik sê.

  11. Mijn gebit is ook niet al te best.
    Zeker het heeft betere tijden gekend.
    Maar liever had ik betere tandartsen ontmoet.

    Vriendelijke groet,

  12. Lieg soos ‘n tandetrekker is ‘n gesegde vir ‘n rede.

    Implantings al oorweeg?

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      O nee – daar is nie ‘n manier wat ek myself nog pyn gaan aandoen nie. Ek sal maar net leer om die beste te maak van my winkeltande. My ma het amper 50 jaar lank vals tande gehad en sy kon ‘n appel met skil en al opeet, biltong kou dat die sop spat, braaivleis geniet. As ek nou nie so gelukkig is nie, is dit nou maar tot daarnatoe.