My vreugdes en frustrasies

Dis Ekke

Toeka Tokkel: Huis

Scrapydo se Toeka-Tokkel: Huis

Ek raak nie gebonde aan ‘n tuiste waar ek woon of voorheen gewoon het nie. Iewers in my voorgeslagte moes daar ‘n trekker gewees het – Voortrekker, bedouin, wêreldreisiger, kruisvaarder of seevaarder – want ek het geen probleem daarmee om my tentpenne uit te pluk en ‘n nuwe huis te gaan opslaan nie.

Ja, ek dink soms terug aan mooi vlaktes, berge en bergstrome, plantegroei, oseane en (minder dikwels) aan mense wat agtergebly het. Oor die algemeen is ek egter baie gemaklik daarmee om na ‘n nuwe omgewing te trek, MITS:

  1. My gesin en troeteldiere kan saamgaan
  2. My rekenaarstelsels, telefone en alle elektronika ordentlik kan werk
  3. Daar ‘n Pick ‘n Pay iewers in die omgewing is, en
  4. Die weer warm is en die son skyn.

Wat ek wel mis, is my tuin. Waar ek ookal kom, moet ek my hande (of my man se hande dan) aan die grond kan slaan. Dit hoef nie ‘n groot tuin te wees nie; ek het al tuin gemaak op ‘n balkon 1 meter wyd en 2 meter lank en drie verdiepings in die lug. Snaaks, ek hou niks van huisplante nie. Ek hou ook nie van blomme in my huis nie. Plante en hulle blomme hoort buite.

Ons het ‘n paar maande gelede ‘n groot huis met ‘n groot tuin verkoop en hier bo die see kom bly. My man was boos oor die tuin wat hy met soveel sorg uitgelê en versorg het (met my as bekdrywende voorman), maar ek het ewe windgat vertel dat die omgewing by ons nuwe huis een groot deel van die Skepping is: wyd uitgestrek, welige plantegroei, waterryk, feitlik op ‘n stil strand – die Paradys self en MOOI. Ons sou nie ‘n tuin nodig hê nie. Ons kan terugsit en die Skepping geniet.

Ja.

Baie gou het ek agtergekom dat die Pick ‘n Pay ver is; dat vrugte en groente en vars kruie nie lank hou as dit van die winkelrak af kom nie; dat my balkon met die fantastiese uitsig mooi is, maar baie leeg. So mettertyd het ek ‘n ou patio-stelletjie met sambreel aangekoop, ons ou tuinbankie reggeskuif, ons ou braaivleisstelletjie en houttafeltjie ‘n plek gegee, maar die plek bly LEEG.

Hier naby ons is ‘n kwekery en my dogter het vir my pietersielieplantjies daar gaan koop, siende dat haar ma so ‘n vreeslike vloermoer kan gooi oor aartappelslaai met gedroogde pietersielie in. Toe gaan koop sy slaaiblare, basiliekruid en wilde uie. Dis nou vir die mengelslaai sien? Toe kon my hart dit nie meer hou nie en ek is saam kwekery toe. Nou het ek tamaties ook, en soet pepers, oreganum, “water cress” (bronkorsslaai in Afrikaans dink ek?) en ja, ‘n paar goudgeel Afrikanertjies en ‘n pienk malva en my hart se punt – ‘n rooipienk bougainvillea. O ja en die kaktus wat saamgekom het van Gauteng af. Nou kan ek slaai maak en my siel kan saam eet.

Tuin1 Tuin2

Die ou plantjies is nog klein en jonk, maar hulle sal groei en gedy in die oggendson. Namiddag staan hulle in koelte. Daar op die houttafeltjie lê ‘n versameling skulpe, neutedoppe, klippe en dryfhout wat nog “iets” kan word in my tuin.

Dis net ‘n ou klein tuintjie, maar ek het weer ‘n behoorlike tuiste. Met ‘n tuin.

Buitendien het ek ‘n baie groot balkon en daar is nog baie leë plek oor.

Follow Dis Ekke

Please find information about the coronavirus here SA Coronavirus South African Resource Portal

18 Comments

  1. Ek is ook so, kan maklik verhuis, maar mis my kruietuin gou-gou die meeste!

  2. Ag dis te pragtig … en jy sien die see!

  3. Mooi so. Mens se hande wil mos plant.

  4. En waai die wind by die see aan daai kant? Ek voel net soos jy, ek het in 22 jaar reeds 19 keer rondgetrek oor verskillende lande. Orals in frika al gewoon. Ek skuif nie huisraad nie. Ek verkoop als en koop nuwes in die volgende plek. Ek pak kiekies en my mense en diertjies en toer. So het ek al leerstelle, glas tafels, marmer, hout, staal, antieke goetjies en dies meer gehad…ek bly my huis verander. Op die oomblik is ek bont. Baie Afrika bont…hoera vir mooi bont goeters. En plantjies – orals is ietsie besig om wortels te groei – net nie ekke nie…

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      O jy doen ook die nuwe meubels ding? Ek bewonder mense wat sulke fyn eetstelletjies en teestelletjies het, en bonkige ou meubels wat oupa nog gemaak het. Ek besit net Pick ‘n Pay koffiebekers en my diere mag maar op my sitkamerstel spring. Die wind waai elke dag hier (dankie tog, anders sal ons doodgaan van die hitte), dis hoekom ons balkonmure so hoog opgebou is. 19 keer in 22 jaar – phew! dis erg.

  5. Ek bewonder jou want ek groei diep wortels en raak geheg aan my “comfort zone” maar ‘n mens doen seker maar wat jy moet en maak die beste daarvan. Die gebrek aan lewe rondom jou wat ‘n tuin gee sal my ook vang, dis darem bevredigend om iets te groei so wel gedaan met jou alternatief!

  6. Griet

    Swerwersgees, noem mens dit. 🙂 En ja. My sentimente juistemint. In my ganse lewe het nog nie een potplant dit oorleef in my huis nie. Ek dink net hierdie keer slaan ek nou maar tentpenne in. Goeie genade, as ek weer dink aan trek, gooi ek sommer als weg en begin met niks op ‘n nuwe plek. My man gaar tot lee vuurhoutjieboksies op. Pragtige storie.

  7. Dit is tog aan die eenkant lekker om n kleiner plek te hê want die versorging bly tog maar altyd daar. Hier het ons geen hulpe nie. So hoe kleiner hoe beter! Dit is maar n aanpassing om van grot na kleiner te gaan Dankie vir die deelname(Tyd het my gevang ek moet nou eers almal sn lees voordat ek kan aangaan!)

  8. Daar moet ‘n tuin wees, maak nie saak hoe groot nie…. maar daar moet net iets kleurvol vir die oog wees!!!

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      My man stem nie saam nie; hy sê hy wil niks plant wat nie geëet kan word nie. Maar jy kan roosblare eet, en kappertjies, en …, en … 😀

      • Ai toggie, die Here het dan vir ons soveel mooi dinge gemaak om na te kyk…. en jou hart te verbly. Sou ek in die oggend by my slaapkamervenster uitkyk, en ek sien net eetbare dinge sal ek voorwaar nie so verheug oor die lewe voel nie. Jy kom seker agter ek is nie so baie lief vir kos nie 🙁