My vreugdes en frustrasies

Dis Ekke

Ek is ‘n halfeeu te vroeg gebore

Scrapydo se Toeka-Tokkel: Boeke

Ek is ‘n gebore boekwurm. Ek het geleer om lees nog voordat ek skool toe is en het nog nooit weer opgehou nie. Die dag toe ek boeke ontdek het, was die heerlikste dag in my lewe en my eerste biblioteekkaartjie was die grootste geskenk van my kinderjare.

Toentertyd was daar net ‘n klein verskeidenheid boeke beskikbaar in die biblioteek en winkels. Die winkelboeke was te duur (ons was maar arm) en die biblioteekboeke was merendeels horingoud, het uitmekaar geval en gewoonlik was daar ‘n lang waglys. Dan, as jy uiteindelik die boek kry, was daar duidelike tekens van die preutse tante wat alle gewaande vloekwoorde met ‘n pen uitgekrap het en soms was die hele bladsy sommer uitgeskeur, omdat die storielyn as te gewaagd beskou is.

Nogtans het ek gelees, van die oggend tot die aand, enigiets waarop ek my hande kon lê: biblioteekboeke, fotoverhale (Mark Condor, Ruiter in Swart, Die Swart Luiperd en so aan wat daardie jare groot aftrek gekry het), tekenprentboekies, die destydse hygromans waar die heldin gehyg het na haar asem op die laaste bladsy wanneer die held haar uiteindelik gesoen het, en as daar niks anders beskikbaar was nie, het ek sommer die etikette op bottels en blikke gelees.

My ouers het nooit enige verbod geplaas op wàt ek gelees het nie, maar die tystip wànneer ek gelees het en die plek wààr ek gelees het, het ‘n voortslepende oorlog veroorsaak. My pa wou stuipe vang as ek in die kerk gesit en lees het (jammer, die preke was vervelig), maar hy was die hoofouderling en ek het hom in die skande gesteek. My ma het haar doodgeskaam as ek huisvriende en ander besoekers geignoreer en my kamerdeur gesluit het om private leestyd te verseker (jammer, hulle geselskap was vervelig). By die skool was dit ook ‘n storie. Ek het gewoonlik die boek wat ek besig was om te lees in die omslag van een van my skoolboeke probeer wegsteek, maar onderwysers van daardie jare was uitgeslape en detensie na skool was my voorland – nie dat ek omgegee het nie, want in die detensieklas kon ek in elk geval rustig voortgaan om my boek te lees 😀

Toe word ek groot en ek kry my eie huis waar ek kon boeke lees waar en wanneer ek wou. Wel … nie heeltemal nie, want boeke het die manier om vol botter en meel te word in die kombuis, of nat te word wanneer jy die baba bad. ‘n Boek, veral die hardeband soort, is ongemaklik om te hanteer wanneer jy in die bed (of bad) lê. As jou plekmerker uitgeglip het, moes jy soek vir die hoofstuk waar jy laaste gelees het. Boonop moes ek, uit die aard van my werk, baie vakboeke lees en ek moes kort-kort die boek neersit om die woordeboek te raadpleeg of naslaanwerk te doen. Die ergste van alles was wanneer ons met vakansie gegaan het en daar nie plek was in my tasse vir klere nie; te veel boeke ingepak, sien?

Toe, soos manna uit die hemel, kry ek ‘n Kindle by my man. (Nee, hierdie is NIE ‘n debat oor die keuse tussen eboeke en “regte” boeke nie, Liewe Leser. Hierdie is my storie oor boeke wat ek kan lees waar en wanneer ek wil.)

Dalk die voorloper van die Kindle? sê-vra iemand op Pinterest

Dalk die voorloper van die Kindle? sê-vra ‘n spitsvondige siel op Pinterest

Met my Kindle kan ek meer as ‘n duisend boeke saamvat op vakansie, ek kan ‘n woord opsoek op die Kindle se ingeboude woordeboek of aanlyn as daar ‘n WiFi naby is, ek kan in die bad of in die bed lê en lees met die grootste gemak.

Ek kan my Kindle in my een hand vashou en met die ander hand koffie maak of die pap roer, vetkolle of waterspatsels kan jy net afvee en beste van alles, ek kan “skelm” lees, sommerso in die geselskap, want die Kindle kan so maklik agter ‘n koekbordjie of onder ‘n tafel versteek word. 😀 Daar is so ‘n groot verskeidenheid boeke beskikbaar wat ek sommerso kan aflaai; g’n gesukkel biblioteek toe of winkel toe nie en die preutse tannie met haar pen kan nie my boeke sensor nie. Ek kan werk saamvat op vakansie en nog plek hê vir klere ook.

Nou sien ek vandag ‘n advertensie vir egte leer-omslae wat nie net jou Kindle beskerm nie, maar wat ook volgens jou voorkeure ontwerp kan word. Toe dink ek nou so terug aan al die gevegte wat ek met my ma en onderwysers gehad het oor geskikte boeke, geskikte leestyd en geskikte leesplek: as ek nou daardie jare al my Kindle gehad het en ek het vir vir hom so ‘n mooi leerjassie laat maak wat gelyk het soos my Psalms en Gesange boek, of dalk een wat my voorgeskrewe boek se omslag nageboots het, kon ek darem baie meer leestyd en minder probleme gehad het.

Ek is net te vroeg gebore om in te haal op al die duisende boeke se lees waarvoor daar nooit tyd of plek in my lewe was nie.

Follow Dis Ekke

Please find information about the coronavirus here SA Coronavirus South African Resource Portal

31 Comments

  1. Ek hoop jy tag vir Scapydo sodat sy ook hierdie kan lees. 🙂 Dis mos juis die uitdaging van die week.

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Ja ek het ‘n pingback gedoen bo-aan die bladsy

      • Ag, ekskuus, steek ek my neus waar hy nie hoort nie!

        • Comment by post author

          HesterLeyNel

          Nee wat, ek leer ook nog maar hoe die ding gedoen word. Ek is net ‘n bietjie tydsgebonde op die oomblik met die nuwe kontrak wat ek aanvaar het. Lees net so hier en daar aan die blogs en kry nie tyd vir skryf nie, maar toe dog ek, oor boeke moet ek daren ook ‘n eiertjie lê.

  2. En dankie, ek het lekker gelees!

  3. Dis nou heerlik gewees om jou boeke episode te lees. Wat sal mens sonder boeke maak. Het ook vegeet van die prente verhale wat ons ook verslint het. Toe ek in die bib gewerk het het ek al die nuwe tiener en kinderboeke soort van gelees. Dit was te heerlik. Ek het ook nou met my verjaarsdag n kindle gekry en oooo dis heerlik om Afr te lees sonder omboek te koop en hom nooit te ontvang nie weens pos nie.
    Jou pieng het gewerk. Baie dankie vir deelname waardeer dit baie

  4. Ek is net so mal oor lees! Ek moet dalk ook in ‘n Kindl bele!

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Jy sal nie spyt wees nie. Daar is natuurlik ook maar beperkings aan en sekere boeke wil graag kan blaai, maar dit is ‘n fantastiese alternatief om plek te spaar. E-boeke is oor die algemeen ook goedkoper as “regte” boeke en daar is ‘n groot verskeidenheid wat jy gratis kan aflaai.

  5. Dit alles klink sooòooo bekend vir ‘n boekwurm. Die groot baklei was as ek in ‘n huis met net een toilet nie ‘n saak gehad het oor ander se “behoeftes” nie. Dankie, lekker gelees 🙂

  6. Dis darem altyd so lekker om jouself te verloor in ‘n goeie boek, ek is skoon teleurgesteld wanneer die boek klaar is en ek dit neersit. En die “skelm” lees wat jy gedoen het is mos “skoon” stout, dit het niemand seergemaak nie. Ek het onder my bed weggekruip en Knikkie gelees in Sub-A, sodat my ma my nie moet kry en in die werk steek nie! Toe raak ek te groot om onder my bed in te pas! Geniet al die lesery!

  7. Wie het nog nie ‘n storieboek in ‘n handbook probeer wegsteek nie. Het dit ook al probeer in st 2. Teen st 3 was ek darem al verantwoordelik genoeg om self te besluit hoeveel ek vir ‘n toets gaan leer (of nie).

    Kan ‘n mens bad sonder ‘n boek?

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Ek vermy dit deesdae om te bad (die in en uit is baie moelik), maar ek onthou nog die dae, veral in die winter, as jy so in die warm water gelê het tot jou vel gelyk het soos ‘n gedroogde pruimedant.

  8. Oulik geskryf Hester. Mens kan voorwaar jou liefde vir boeke hierin sien. Net jammer ons het nie almal meer tyd gehad om te lees. Dit sou heerlik gewees het. Wel tenminste is dit ‘n teken dat indien ons gaan oud word, ons nooit verveeld sal leef nie. Hoop net ons oë hou tot dan …

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Of ons ore dan – daar is nog altyd audio boeke. My man vererg homself gruwelik vir my as ek buite in die son sit met oorfone in my ore en ‘n boek oop voor my. Ek noem dit multi tasking; hy noem dit ongesellig 😛 Dankie vir die inloer.

  9. Kostelik geskrywe!Ek lag veral oor die tannies wat die boeke so gesensor het.Ek het soms gewonder hoekom bladsye uitgeskeur is.Noudat jy daarvan praat,besef ek dit eers .. 😆 ook maar lekker dof gewees!

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Ek wonder of die ou tannies besef het dat hulle juis ons nuuskierigheid aangewakker het deur die “banale” inligting van ons te weerhou. Dankie vir die kompliment.

  10. Deesdae maak ek maar seker die boek en bril word saam gebêre.

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Ja die liewe bril. Daaroor kan ek boeke skryf op my ouderdom. Myne bly vasgeplak op my gesig die hele dag lank – word laaste ding in die aand afgehaal as ek in die bed klim en is terug op my oë nog voordat ek mooi wakker is.

      • Ek het eenjaar bril laaat maak en kon aparte lees of sonbril ‘gratis’ kry. Ek het n leesbril gekies. Was die beste belegging nog. Bifokaal en veral die duur mulifokaal werk nie vir my nie. Ek opas my leesbril soos goud op.

        • Comment by post author

          HesterLeyNel

          Ek moet uit die aard van my werk die hele dag lank op die rekenaar lees en ek vind dit nou weer baie makliker om met multifokale oor die weg te kom; gebruik dit al jare lank.

  11. Erg mooie voeten!! Kindle en koffie veel goede combinatie zij maken 🙂

  12. Hierdie elektroniese lesers is inderdaad baie gerieflik. Die enigste ding wat ek daarteen het, is die feit dat ‘n mens dit nie kan DEEL soos met ‘n boek nie. Ek voel so ‘n klein bietjie selfsugtig wanneer ek ‘n e-boek koop. MAAR, as ‘n mens so in die boendoes bly soos ek en jy soek DADELIK ‘n boek, is dit darem maar heeeeeerlik om oë toe te knyp (begroting in sy peetjie in) en DADELIK te kan lees. Nogtans is dit lekker om elke nou en dan ‘n regte-egte gedrukte boek te koop….. Eish, ek is verskeurd tussen die twee tipes… Which reminds me… ek soek ‘n boek! (En ek gaan gou ene koop, so terwyl ek met my skootrekenaartjie en beker koffie hier in die bed sit!)

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Ek is ook besig hier op Amazon om te sien waarmee ek myself kan bederf hier oor die langnaweek. Geniet jou boek!

      • Ek lees op die oomblik ‘n boek uit ons bibliotekie hier (baie baie goed toegerus!) ‘n boek van Wally Lamb “I know this much is true”. Dis ‘n lywige ene en ontstellend, dus gaan ek vir my ‘n lekker ‘whodunit’ soek om tussendeur te verslind. (En ek moet dit soggens doen wanneer almal nog rustig is, die seuns nog slaap, anders skeep Mammie hulle af!)

  13. karen

    Ek kan net met jou saamstem – daar is nie genoeg dae om al die boeke te lees wat gelees moet word nie. Maar ons moet probeer, né?

  14. In mijn jeugd las ik alles wat los en vast zat.
    Nu tuur ik meer naar mijn computerscherm op het internet.

    Ja, lezen is plezier!

    Vriendelijke groet,

  15. Ek en my kindle is ook onafskeidbaar!! Ek het nou so lekker gelees.

    • Comment by post author

      Dankie, Christa. Ek kry nie op die oomblik so baie tyd vir lees nie, maar gelukkig is audioboeke nou geredelik beskikbaar. Ek dra deesdae my ipod in my sak saam net waar ek gaan. Tegnologie is darem wonderlik!