My vreugdes en frustrasies

Dis Ekke

My man kuier by ander vroue … en ek keur dit goed

No doubt you will regard this as rather unorthodox

My man is mal oor vroue (en hulle oor hom) en hy het nooit ‘n gebrek aan vriendinne nie. Hy is ‘n vreeslike sosiale wese, maar hy kuier hy nie graag in ‘n bondel of by ‘n partytjie nie. Te veel mense bymekaar werk op sy senuwees. Hy is glad nie ten gunste van deelname aan threesomes en moresomes nie en hy hou nie van inmenging met sy vriendskappe nie. Hoewel ek dus weet van sy vriendinne, hulle almal by die naam ken en vriendelik groet in die straat, kuier ek nooit saam nie.

No doubt you will regard this as rather unorthodox

So put that in your pipe and smoke it

Nie dat dit ‘n verskil maak nie, want ek weet altyd in detail presies wat gedurende die kuier gebeur het. Ek weet wat hulle geëet en gedrink, oor wie hulle geskinder het, en glo my, as dit by skinder kom, sing my man voor in die koor – hy kan dit sappig oorvertel. Ek weet wat hulle geplant het of gekook het, en na elke kuier kry ek my potjie konfyt of ‘n plantjie of ‘n tuisgebakte broodjie. Dis my aandeel in die vriendskap en dis goed, want ek maak nie konfyt nie, ek plant nie plantjies nie en ek bak nie broodjies nie. Hy doen vir hulle “man”dinge – help met die tuinwerk, verf ‘n tikkie hier, hamer ‘n spyker daar in.

In die dorp waar ons voorheen gebly het, het hy straat op en straat af gekuier. Soms het hy die motor gegryp en weggeraak vir ‘n paar uur; dan het ek geweet hy kuier by ‘n vriendin wat nie in dieselfde straat as ons woon nie. Hy het darem nie buite ons dorp gekuier nie, so ek het nooit nodig gehad om bekommerd te raak omdat hy op die langpad ry nie. Hy was altyd tuis voor donker.

Toe ons nou onlangs verhuis het, was ek bekommerd dat my man eensaam gaan wees, dus, toe ek en my dogter ons nuwe buurvrou ontmoet waar sy in haar tuin staan en werk, het ons nie ‘n sekonde verspil om my man aan haar voor te stel nie. Hulle het onmiddellik gekliek en ‘n hond uit ‘n bos gesels. Binne minute was dit duidelik dat die vriendskap sou blom. Na enkele weke loop hy deesdae sommer weg na haar toe vir middagete. Daarmee is ek heel gelukkig, want ek kry ook my bakkie kos.

Baie mense het my al gevra hoekom ek my nie steur aan sy vriendskappe nie. Pla dit my nie? Ja, soms. Hy het boesemvriendinne in Noorweë, in Holland en in Gauteng. As sy vriendin baie ver woon, in ‘n ander dorp of landuit, kuier hy ‘n dag lank oor facebook en per telefoon. Dit is baie steurend, glo my, want ek werk van die huis af en elke dan en wan roep hy my ewe opgewonde om op facebook te kom kyk na die vriendin se fotos. Of hy gesels bulderend met hulle oor die huistelefoon, en ek moet alles aanhoor, want ons studeerkamer het nie ‘n deur nie. (My man haat toe deure, maar dis ‘n storie vir ‘n ander dag).

Andersins is die antwoord: nee, ek keur sy vriendskappe goed. Jy sien, my man hou van vroue en hy hou van vroue se geselskap. Hy hou van die dinge wat hulle doen en die praatjies wat hulle praat. Dit maak hom meer ontvanklik vir en geduldig met die probleme waarmee ons sukkel.

O ja, en dit hou hom besig en uit my hare.

Follow Dis Ekke

Please find information about the coronavirus here SA Coronavirus South African Resource Portal

27 Comments

  1. 😀 hoe lekker lag ek nou!

  2. Haai, spandeer hy darem tyd met jou???!!!! Moet nie dat hy sy Koningin vergeet nie!

  3. Is jy nou ernstig Hester? Ek weet nie – miskien is daar nie gevaar by jou man nie, maar die ander dametjie verwag dalk net meer. Andersins moet daar werklik ‘n goeie ooreenkoms tussen jul aangegaan wees.
    Maar ja, jy sal weet wat vir jou sal werk …

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      My man het werklik goeie vriendinne, maar jy moet onthou, hy is huisgebonde as gevolg van die feit dat hy krukke gebruik om te loop. Selfs om net langsaan by die buurvrou tee te gaan drink, is vir hom ‘n oorwinning op sy “goeie” dae en hy gesels tog so graag. Onthou ook dat ons ouderdom en ons dekades-lange samesyn heelwat meer gemoedsrus besorg in ‘n verhouding (omdat jy jou vennoot ken) as wat die geval sou wees met jonger mense.

      • Ja – jare se samesyn maak tog ‘n verskil …

      • O jitte, julle klink regtig soos ons!

        • Comment by post author

          HesterLeyNel

          Ja, maar hier kan die krukke nie dien as verskoning om ‘n argument te wen nie 😂 Die vonke kan ook maar spat by tye.

        • my kierie ook nie, ek is nie eens 60 nie maar my beroertes het my stap gesteel. ek het twee mansvriende en sker dertig of meer dames.

        • Comment by post author

          HesterLeyNel

          My man sê dames is goeie geselskap (hy is ‘n regte skinderbek!), maar ek gesels nou weer lekkerder met die mans. Ek het egter nie so ‘n besige sosiale lewe soos hy nie. Ek verkies my eie geselskap – me-time noem ek dit.

        • hoe ouer ek word, hoe meer geniet ek afsondering

  4. Ek dink jy het ‘n wenresep vir afgetredenes.

  5. Ek het nog altyd gedink dat as ek die dag trou, my man verkieslik op ‘n ander planet – ek bedoel vasteland – moet woon. Ek sal mal raak met iemand onder my voete. Veral as daar van my verwag gaan word om verslag te doen van my doen en late.

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Ek sou ook. Mens kan nie so ingehok leef nie en asseblief tog, ek kan nie al my tyd en aandag aan net een persoon spandeer nie. Dis belangrik dat elkeen van ons ons eie tydverdrywe en belangstellings kan uitleef.

  6. Klink vir my baie gesond. En goed dat elk sy/haar eie vryheid het om vriendskappe te hê. Plus dis ‘n bonus om sodoende ook tyd vir jouself te kry, dis vir my net so belangrik.

  7. Ek moet erken… ek is te jaloers. My senuwees sou dit nooit hou nie. Jy is ‘n goeie vrou.

  8. Nope, dit is nie ek daardie nie. Ek hou nie van vasgekeer wees nie, en my man laat my toe om vir twee, drie weke by familie te gaan kuier. Maar net so min soos hy daarvan sal hou dat ek saam buurman kuier, net so min sal ek daarvan hou as hy saam buurvrou kuier…… krukke of te nie 🙂

  9. Lekker man, as dit werk, werk dit. Ek sien op teen die dag dat Homer op pensioen gaan. Die man is behoeftig, Hy sal heeldag, aldag “oppas” vereis wat ek nie gaan gee nie.

    • kielie-kielie lag ek nou lekker, dit gaan jou teen die mure uitdryf, ek het glad nie die krag daarvoor nie.

  10. Skryf vir ons nog ietsie. 🙂

  11. Orange Blue

    My man kuier nie juis nie, werk net en tog het hy meer vriendinne as ek. En ek is nie bang nie want ons kom al 34 jaar saam. Het hierdie stukkie baie geniet.

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Baie dankie vir die inloer. Party mense het net die slag om ander na hulle toe aan te trek. Ek het al dierbare mense ontmoet deur middel van my man se sosiale geaardheid.

  12. Wat een liefdevol verhaal.

    Vriendelijke groet,

  13. Dit gaan beslis my man wees as ons in die Kaap is… en ek? Ek sal doodgelukkig wees veral omdat hy gelukkig gaan wees. Vrouens fassineer hom ook , maar huidiglik is hy opgeskeep met sy eie vrou oor die ure wat hy werk.

    • Comment by post author

      Soos jy sê, net solank hy gelukkig is. Ek bly nog steeds die enigste een wat sy gesig kan laat blom van blydskap as ek in ‘n kamer instap, hoewel ons ook lekker bekgevegte het.

  14. Nee heng ek weet darem nie so mooi nie – alles met n TE…
    Maar as dit vir JULLE werk dan is dit goed so.