My vreugdes en frustrasies

Dis Ekke

'n Toilet met 'n uitsig

Uitsig vanaf die toilet

Hierdie storie is geskryf na aanleiding van Scrapydotwo se Toeka Tokkel 8 – Stoepstories uitdaging. Ek het nou nie juis eerstehandse ondervinding van stoepe en hulle stories nie, maar toe sien ek Herriemerrie sê in haar blog oor hierdie onderwerp, dat ‘n balkon net ‘n stoep in die lug is. Toe weet ek, oor hierdie soort stoep kan ek saamgesels.

Die storie is nou sò: Alles het begin by die man van my se beheptheid met sy buitetoilet. Hy droom sy hele lewe lank nog oor so ‘n sinkplaat- of hout-kleinhuisie op sy eie erf. Ongelukkig word so ‘n toilet nie verduur op ‘n stads-erf nie. Toe gaan ons ‘n kompromie aan en ons stadshuis se buitetoilet word gebou met ‘n uitsig op die vrugteboord en groentetuin. Daar het hy heerlike en gelukkige ure deurgebring en … maar wag, hierdie is nou nie ‘n toiletstorie nie; dis ‘n stoepstorie.

Ek, aan die ander kant, het my hele lewe lank gedroom van ‘n ou plekkie langs die kus met ‘n uitsig oor die see. Ek is mos ‘n binnelander van geboorte, sien? Ek wou ook ‘n beurt hê om langs die water te sit en droom.

Na my aftrede word ek en my dogter afgevaardig om na die droomplekkie by die see te soek. Die oomblik toe ek hierdie huis in die lug sien waar jy so ver oor die oseaan kan kyk, was ek verlore. Ek het net gevorder tot op die balkon voordat ek besluit het – dit is hierdie, die huis wat ek wil hê. Daar is ‘n yslike groot balkon doer bo in die lug, met glasdeure vanaf die sitkamer en die hoofslaapkamer, en die uitsig, o die uitsig wat my amper daartoe dryf om te begin dig.

Die één groot probleem wat my laat vrees het dat my man hierdie huis nie sou goedkeur nie, is juis die feit dat dit doer bo in die lug is. Daar is ook nie ‘n private tuin nie. My dogter lag egter al my bekommernisse weg: “Ma, gaan kyk na die hoofslaapkamer se toilet”.

Sò trek ons toe sowat ‘n maand gelede in by hierdie huis met die balkon. Die balkon wat uitkyk oor die see. En die hoofslaapkamer wat uitkyk op die balkon èn die see. En die toilet wat uitkyk oor die slaapkamer èn die balkon èn die see.

Uitsig vanaf die toilet

Uitsig vanaf die toilet

Mens, sowat het ek nog nooit gesien nie! Daar sit die man van my tydig en ontydig en uitstaar na buite; vandat die son opkom totdat die maan skyn, mag niemand die blindings in die badkamer of die gordyne voor die glasdeure toemaak nie. Wie wil slaap in daai kamer, of wie wil braai op daai balkon, moet verlief neem met die koppie wat uitloer oor die badkamer se vensterbank.

Terugblik vanaf die balkon - die foto is gesensor om net die stort-gedeelte te wys

Terugblik vanaf die balkon – die foto is gesensor om net die stort-gedeelte te wys

Nou wonder almal van ons oor die vragbote wat gereeld daar op die horison verbyvaar. Wanneer ons hulle bespied deur ons kameralens, sien ons soms ‘n verkyker daar op die boot en een of twee keer het van die bemanning al vir ons teruggewaai. Nou wonder ek Mens, wat sien hulle deur daai verkyker se lens?

Follow Dis Ekke

Please find information about the coronavirus here SA Coronavirus South African Resource Portal

20 Comments

  1. Hehe,kostelik!Ek sou ook sorgelose ure daar wil deurbring.

  2. Hoekom dan nou nie?? Kan darem die uitsig geniet terwyl jy daar sit!! 😀

  3. hehehehe ek sal ook maar daarna moet kom kyk! 😀

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Ek wonder of dit ‘n nuwe mode is, want hier rond vind mense dit nie vreemd nie. Ek is is nou seker weer oudedoos.

  4. Dis nou n sitplek na enige man se hart! Jy het die uitsig vanuit drie verskillende hoeke. Dit klink te heerlik. Ek wonder ook of hul diep in die kamer kan inkyk vanaf n skip? Baie dankie vir jou lekker vertelling dis n fees

  5. Mooi man. Die verkyker mense ken nie jou naam nie. 😉 So wat maak dit saak wat hulle gesien het?

  6. Griet

    Jinne dis sommer wonderlik. Ek wil ook eendag so ‘n toilet he. Se nou net iemand kan fotos neem daar van die skip af van die die gesiggie wat so oor die muurtjie loer?? Hie hie ek lag my pap…. Jy weet, die toilet met die uitsig gee aan die frase “Ag gaan *** man” ‘n fantastiese nuwe betekenis.

  7. Dit is lekker! Ek is skoon jaloers

  8. Klink goed. Oulik geskryf.

  9. Ek het lekker gelees! “Stoepstories” het my laat dink aan Köoperasiestories – ek dink dis tyd dat ek dit weer ‘n slag kyk.

  10. Hiehiehie kostelike storie 🙂

  11. Jy sê die mense op die bote waai terug?
    Rosyntjies… 😉

  12. Dit is wat die Hollander noem Heimlike Gemakken!