My vreugdes en frustrasies

Dis Ekke

Het iemand my borste gesien asseblief?!

“My borste, ek kan nie my borste kry nie! Waar is my onderklere? Kan iemand asseblief vir my jeans soek? Gou! Gou!”, jaag ek my huisgesin aan. “Hemel tog Vrou, waarvoor het jy nou borste nodig? En ‘n langbroek? – dis warm!”, ontplof my ongeduldige man. “Ma, jy kan een van my onderbroeke leen”, bied my seun aan.

Hierdie gesprek kan natuurlik slegs in my huis plaasvind. Laat ek nou eers verduidelik:-

Eerstens: ek het ‘n paar jaar gelede ‘n mastektomie gehad en wanneer ek in ordentlike geselskap verskyn, dra ek die nodige (baie duur, ingevoerde) fyn onderkleertjies waarvoor my mediese fonds vriendelik betaal. Dis nou net om bietjie aan te vul waar ek nou ‘n tekort het, sien?

Tweedens: ons het so pas getrek en alles is nog in wanorde; tasse is nog nie uitgepak nie, en wat wel uitgepak is, is in die eerste beskikbare kas ingeboender in die hoop dat ons dit weer gaan opspoor.

Derdens: ons leefwyse het nou so toetentaal verander, dat borste geheel en al onbelangrik geword het. Fyn ondergoedjies en langbroeke ook. Wat NOU belangrik is, is om die omgewing te leer ken en soveel ure as moontlik op die strand deur te bring. Ons is geretaaier.

Dus is alle kantoorklere vir liefdadigheid geskenk, die meeste van die fênsie klere ook, en ons leef in “vakansieklere”. Man en muis loop heeldag rond met swembroeke, kortbroeke en oorhanghempies wat nooit ‘n strykyster sien nie. Ons weet nie eens in watter boks die strykysters ingepak is nie. Alles word net in die wasmasjien gegooi en drooggemaak en weer aangetrek. Ons noem dit re-saaiklieng. Ons trek sommer mekaar se klere aan, want die weer is van so ‘n aard dat alle klere nie elke dag gewas kan word nie.

Voete1Ma het baie lanklaas ‘n paar skoene gesien. Sy loop die hele dag in haar Liewe Jesus sandaaltjies rond; sy het darem verkeie pare daarvan en sorg dat sy elke aand met die dag se gedraagde sandale in die stort klim, dan kom hulle ook sommer skoon en word op die balkon uitgegooi om oornag droog te word. Die toonnaels is getjip en die tone self kom ook nie meer so lekker skoon nie. Newwermaaind.

VoetePa is ‘n man wat hom sy hele lewe lank nooit regtig met formele klere opgehou het nie, maar hy het elke oggend sy ghrênd tekkies met sy paar skoon sokkies aangetrek nog voordat hy sy tande geborsel het. Hoe Ma ookal voorspraak gedoen het vir sandale, het hy nooit byt gekry aan enige ander skoensoort nie. Dis nou tot ons nou die dag by ‘n restaurant op die strand gesit en pizza eet het (nog iets waaraan Pa nooit sy mond gesit het nie) en die nat sand tussen die tone hom begin pla het. Net daar op die strand het hy by ‘n vriendelike verkopertjie ‘n paar opregte plêstiek crocs gekoop en aangetrek. Daarmee loop hy nou elke dag, dorp toe, winkel toe, see toe en sommer in die see in ook.

Die ding met die borste en ongergoedjies wat soek geraak het, het ‘n probleem geword net omdat ons die nuwe huis se kontrak by die prokureur moes gaan teken. Gelukkig het my geduldige dogter vir my die borste met ‘n bont spanbroek en ‘n skelpienk (ongestrykte) hempie opgespoor om die kontrak te gaan teken. Ongelukkig was daar van skoene geen teken nie en die sandaaltjies moes doen. En ja, ek het een van Ouboet se broekies geleen – dit sit so lekker snoesig en wys nie lyne as jy ‘n spanbroek aanhet nie. Hierdie een kry hy nie terug nie; ek gaan hom hou en nog ‘n paar aanskaf.

Hierdie blog is geskryf na aanleiding van die uitdaging gerig in https://scrapydo2.wordpress.com/2015/02/05/toeka-tokel-7-kleremode/

Follow Dis Ekke

Please find information about the coronavirus here SA Coronavirus South African Resource Portal

22 Comments

  1. Griet

    Wat ‘n lekker gesin..En te moer weg alles wat soos strykysters lyk, se ek al jare. Hierdie is presies die soort lewe wat ek wil voer En wat ek in alle geval elke Desember voer. Met n paar verskille hier en daar. My man het nie snoesige span-broekies nie. So ek slaap sommer in ‘n lekker mansonderbroek met ‘n lang hemp. Kan ‘n mens miskien ‘n privaat foto kry van die broek, sodat die niggie ook van hulle kan aanskaf? Sy leef in g-strings, en mens kan nie daarmee slaap nie. En panties is ‘n pyn. O ja. Ek dink my gesig is nou swart. ek het so gelag al my maskara het afgesmeer. Hoera vir tottie pienk t-hempies.

  2. sjoe klink of julle die lewe geniet!

  3. WHAHAHAAHAHAHA!!! Borste soek! Dit is presies wat met my sal gebeur. As my kop nie aan my lyf vas was nie, sou ek dit alewig moet soek.

  4. Klink heerlik, ek is amper jaloers!

  5. O-la-la, dis nou n lekker lewe. Dankie vir jou deelname aan Toeka-Tokkel. Hoe meer siele hoe meer vreugde. Ek stem saam met jou oor die klere- dit moet gemaklik wees en minste moeite. Geniet die lekker los lewe verder. (die plasietse “skoene” en sandale is ideaal vir die strand)

  6. Dit klink soos die beste lewenstyl en dis wonderlik dat jy die humor kan sien in selfs moeilike situasies.

  7. My soort mense!

  8. Jou beskrywing van trek en uitpak is sooo in die kol! Geniet die see – ek beny julle!

  9. Oulik geskryf! Klink of jul heeldag op vakansie is. Te lekerrrrr

  10. Het rerig nou lekker gelag!

  11. Ek is bly ek het jou ontdek.Jou skryfsels is soos ‘n vars briesie!

  12. Hester, vandaag lees ik jouw blog erg langzaame. Hollands en Afrikaans zijn gelijk maar niet gelijk heb ik gevonden. Erg grappig. 🙂 als Indonesische Hollands.

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Dankie vir die kompliment. Ja, Afrikaans het seker weg gegroei van Hollands af oor 300 jaar en ‘n eie identiteit gekry.

  13. Hi Hester, laaaank laas gesels ne? Ek hou van die manier hoe jy skryf, dit is vreeslik humoristies. Hoop dit gaan goed, dit klink so, daar by die see.

  14. Wonderlik, wonderlik Hester! Het nou vreeslik jou deurmekaargeit geniet, bly ons gesin is nie die enigste nie! Ek kan met alles konnek (behalwe die mastektomie, nog nie daai ondervinding gehad nie!) en dit klink of julle dit vreeslik in jul nuwe plek gaan geniet!