My vreugdes en frustrasies

Dis Ekke

Kokkerot konsternasies en kakkerlak kakkerasies

Kyk nou net hoe ontpop ek in ‘n skepper van artistiese werke. Nooit geweet ek het dit in my nie. Ek reken dat hierdie stillewe van dooie kokkerotte wat ek met my ou mik-en-druk kameratjie geskep het, van so ‘n toereikende aard is dat dit in ‘n kunsmuseum bewaar moet word vir ons nageslagte. Nou DIT sit nie in elke huisvrou se voorskootsak nie, veral nie sulke onhandige, onwillige en ontoereikende huisvroue soos ek nie. Om die waarheid te sê, ek weet nie eens of dit regtig kokkerotte is nie. Is hierdie spul nie dalk kakkerlakke nie. Is daar ooit ‘n verskil?

Ons het so pas van die Vaaldriehoek daar in Gauteng af getrek om te kom aftree en ontspan in die skoon, verfrissende seelug wat die Suidkus bied. Ek was so in my noppies met my “apartment” wat daar teen ‘n hogere bult sit en uitkyk op die oseaan, waar ek die vars lug kan inasem saam met die asemrowende sonsopkomste. Ja, ek was baie in my noppies, totdat ek die laaie oopgetrek het om my kombuisware weg te pak. Die apartment het vir ‘n paar maande leeg gestaan terwyl daar opknappingswerk aan die gang was. Die sogenaamde opknapping het definitief nie die verwydering van opgehoopte kokkerotkarkaste en -kakkies ingesluit nie. Dié sou ek nou maar self mee moes plan maak.

Ons het dus kaste uitgeskrop en skoongemaak vir die vale. Nie gif uitgesit nie, nee, want ons is natuurbewuste tree huggers wat geen lewende gediertetjie sal skade aandoen nie en buitendien, die kokkerotte was mos dan nou klaar dood. Sê wie? In die middel van die nag arriveer Ma se Grootwildjagter met ‘n lewendige kokkerot wat sy saggies op my kussing neersit terwyl sy kordaat miaau om my te laat verstaan dat die buit aan my behoort. Die Grootwildjagter maak ook niks dood nie, speel net daarmee, en tot my afgryse sien ek dat die groot blinkbruin lyfie daar op my kussing twee baie woelige voelers het wat rondtas na … wat?

Teen dagbreek begin die groot jag na die woonplek van die kokkerotte, want Pa sê hulle hou gewoonlik in ‘n spesifieke plek in die huis waar daar hitte, vog en voedsel is. Ek hol winkel toe om gif te koop, echo friendly oftenot; ek voel beslis nie meer friendly nie. So, daar word uitgerook, uitgespuit en lyke weggedra. Kakkies ook, ja.

Toe vat Pa ‘n spuitkan en spuit ‘n klomp skuim in elke moontlike kokkerot-woning in. Die skuim rys soos ‘n oondkoek en word kliphard. G’n kokkerot sal weer by daai gaatjie uitkruip nie.

Sê wie? Die volgende oggend kom kry ek in my badkamer ‘n baba-kokkerotjie wat so dronk-dronk by die badkamerkas uitslinger en aanstap na die gang toe. Pa trap hom sommer sonder seremonie dood.

Haai siestog!, sê ek vir my dogter, as al die groot kokkerotte nou dood is, wat word dan nou van al die baba-kokkerotjies wat sonder kos daar onder in hulle gate bly sit? My dogter rol net haar oë en stel voor dat ek op die strand gaan ontspan. Ek het presies dit gedoen. Kyk dan nou net hoe geniet ek dit hier by die see!

By die see1

 Om kokkerotvry te bly: Kokkerot-sprokies

Follow Dis Ekke

Please find information about the coronavirus here SA Coronavirus South African Resource Portal

33 Comments

  1. hehehehe… voorwaar ‘n probleem Ek dink die klam seelug vind hulle nog meer aangenaam.

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Ja, ek moet sê die grootte van die monstertjies het my verstom. Maar elke landstreek het maar sy eiesoortige probleme – ons het al die land vol getrek en in alle woonplekke het ons goed gevind wat ons òf gehaat òf liefgekry het.

  2. Griet

    Kokkerot x Kakkerlak – Kakkerotte. En hier in Natal is die muskiete so groot soos helikopters in 3D movies. Wag dat die miere uitkom, Beelsebul ontwaak as die somer op sy hoogste is, en sy Brommervriende bring, en laaste maar nie die minste nie, ons absolute gunsteling. DIE VLOKKEN VLOOI. Dis as gevolg van respek vir jou status as familie dat ek die eerste woord misspel en met ‘n V. Kry ‘n wapenarsenaal gereed.

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Kakkerot 😀 Ek laaik. Ek het klaar kennis gemaak met die muskiete en die miere. Sal maar die ander vloeke hanteer soos wat hulle arriveer.

      • Vir die vlooie … vryf hond in met half koppie brandewyn en twee dubbelhandvol sand in {die vlooie raak gesuip en gooi mekaar met die klippe dood 🙂 🙂

        Ernstig nou
        Vim in die miergate hou hul so 3 maande weg
        Die maand-dosis goed op die hond werk vir vlooie solank jy dit ten minste drie keer agtermekaar doen. Die ouens wat met skape boer kan sommer die hond in die skaapdip gooi dit is uitstekend vir bosluise
        Wilde knoffel onder die vensters geplant hou muskiete uit en as jy sitronella olie saam met die parafien brand in jou lampe of in erge gevalle 50/50 meng met kanfer olie en op polse, kuiltjie enkels aanwend soos parfuum werk dit selfs langs die viswater

        • Comment by post author

          Brandewyn nogal 😀 daai reuk sal my laat hardloop en die vlooie agterlaat! Dankie vir die raad, ek hoop die ouens wat op die blog beland, sien dit raak. Daar is party peste wat my laat wonder wat hulle doel op aarde is, behalwe om die lewe moeilik te maak vir mens en dier.

  3. Die slegte nuus is, hulle is volop daar. Die goeie nuus, hulle smaak blykbaar soos spek. Jy kan geld spaar!

  4. Ek het weer ‘n spul miere wat nie hulle ry wil kry nie. Al agter my diere se kosbakke aan. Ek kan dus nie gif gooi nie. So ek probeer maar elke groen en boereraad. In die proses het ek al my eie rade ook opgemaak. Dit bly maar ‘n stryd. Die miere kry altyd ‘n deurkom kans.

    Van die os op die jas – my kat is volgens die teler nie veronderstel om ‘n jagter te wees nie. Sy was seker so 6 maande oud, toe sleep sy trots ‘n voëltjie wat sy gevang het huistoe.

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Ek sit my diere se kosbakke binne-in ‘n groot vlak pan (soos ‘n oondpan) vol water. Die miere bly egter ‘n pes; wee jou as daar ‘n ryskorrel op die vloer val. En ons bly op die 2de vloer!?

      Ek dink nie my kat “jag” regtig nie – dis vir haar ‘n speletjie. Ons moes alle menigte klein voëltjies en selfs vlermuise weer gaan terugsit in hulle neste. Sy maak hulle nie seer nie, wil net speel lyk dit my.

  5. spokiesnyspoor

    Hehehe. Oulike en grillerige besigheid! Hou so aan. (Dis nou met die doodmakery)

  6. Ek het al al wat groen en rooi raad is gevolg. Ek dink ‘n kombinasie het diet triek gedoen. Het egter die afgelope twee weke twee keer ‘n kakkerot gesien. :Hulle is soos, wel, die anc. Ek spreg geen spraag laat ta maar lekker sit en chill, dan doom ek die kak uit dit. As dit val maak ek seker dis tickets met ‘n vinnige trap.

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Hie hie, ek dink die goed kan vlieg (kakkerotte meen ek, nie seker of die ANC gaan vlerkies kry nie) en jy sal nooit regtig van hulle ontslae wees nie.

  7. Ek is ook ‘n “groen” mens,maar ek verkies om in my huis in die meerderheid te wees!Lekker gelag vir jou storie,dankie.

  8. Heerlik gelees nou Hester! ‘n Plekkie op die kus is heerlik, ja, ek het ook een gehad, verkoop! maar vir ons Gautengers bring dit allerhande snaakse dinge waaraan ons nie gewoond is nie – hitte, humiditeit, GROOT kakkerlakke! plat spinnekoppe wat soos skerpioene lyk, groen en swart “mould” wat op al wat ‘n leer-ding is groei, egte grasmatjies is ‘n groot no-no, springbok-velletjies vir dekor word so sag soos sakdoekies en pasop dat jy nie op die nat stoep gly wanneer jy in die oggende uitgaan om die ‘view’ te gaan bewonder nie! Maar my hart hunker nog steeds om eendag “by die see af te tree”, miskien in ‘n volgende leeftyd! Dankie vir die mooi skryf!

  9. Ek HAAT hulle. gril my dood.

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Mmmm veral as jy in die nag die kombuislig aansit en so ‘n blink vette verdwyn onder die mikrogolf in. Dis nou maar een van “Durbs” se nadele. Ek het gelukkig goeie raad gekry teen die wetters op Colyn se blogspot http://man-kos.blogspot.com/ voordat ons hierheen getrek het.

  10. Pas op vir die kakkerlakke daar op die strand… en die twee been haaie!! 😉

  11. Hi Hester(Ley)Nel. Indukwekkend – selfs jou kat is groen! Ley is sekerlik nie eufemisties vir lui nie, want dit klink asof jy entoesiastiese ongedierte jagter is.Hierdie is die eerste blog van jou wat ek gelees het (soos aanbeveel deur WordPress, n.a.v. die like – dankie). Ja ons almal het ons ervarings met die lekkerka… ag jammer ek is dislekties: die kakkerlakke. Herinner my ook aan Des Lindbergh se liedjie (die gezoem van die bye) en die kakkerlakke lak… Sal sekerlikLey nog loer

  12. Biedemm die VVO.die WHO en INTERPOL …… goggas in my huis word onderwerp aan die ergste chemiese oorlog moontlik, “room fogger” wafarin sprinkaangif dieldrin en chlorperifos net jammer ek sukkel om dichlorodiphenyltrichloroethane (DDT) in die hande te kry.

    • Comment by post author

      DDT haha, my pa het dit in die tuin gebruik en ek onthou sowaar nog daai reuk. Nee wat, dan sal jy nie sommer oorleef hier in ons oerwoud nie. My man sê dis die meeste goggas, ongediertetjies, insekte en die grootste muskiete wat hy in sy lewe teëgekom het.

  13. I like… en ek giggel omdat ek dit laaik…