My vreugdes en frustrasies

Dis Ekke

‘n Ope brief aan haarkappers

Hierdie is ‘n ope brief aan alle haarkappers wat dink ek het geen reg om te besluit wat op my eie kop moet aangaan nie. Of diegene wat nie in die minste omgee wat ek dink van dit wat wel op my kop aangaan nie.

Ek het nuus vir jou: dis MY kop, dis MY hare en dis MY besluit hoe ek my hare wil dra. Ja, ek weet daar is goeie haarkappers wat uitstekende verhoudings het met hulle kliënte.

Hierdie brief is net bedoel vir daardie haarkappers wat dink al hulle kliënte is idiote en as die kliënt bo sestig is, moet hy of sy noodwendig aan dementia ly. Dis gewoonlik ook daardie haarkapper wat met sy of haar selfoon teen die oor staan en reëlings tref vir die kinders se nuwe skoolklere, of wat bo-oor my kop staan en skinder met ‘n ander kliënt, terwyl die besige skêr deur my hare zip.

As die skoen pas, trek hom aan, andersins … hou op met lees. As jy aanhou met lees, neem ek aan die boodskap is van toepassing op die manier wat jy jou kliënte bedien:

  1. Ek wil nie my hare kort gesny hê nie. Ek wil dit laat groei. Daar is ‘n verskil tussen kort en lank. Gaan soek dit op in die woordeboek as jy nie die verskil verstaan nie. Ek weet in elke geval nie hoe dit moontlik is dat jy dit NIE kan verstaan as ek vir jou wys PRESIES hoe lank ek my hare wil hê nie. Ek wil nie kort hare hê nie. As my hare kort is staan hulle regop en dan lyk ek soos Rod Steward. Ek wil lang hare hê. Sny net die gesplete en skewe punte af. NET die punte. Ek wil nie my hare een sentimeter lank hê nie; ek wil hê jy moet een sentimeter afsny en dit laat netjies lyk. Kort versus lank. Dis albei kort woordjies, maar het verskillende betekenisse. Verstaan jy nou die verskil of kan ek vir jou ‘n Afrikaans Verklarende Woordeboek koop? Of die Oxford Dictionary? Of praat jy ‘n ander taal wat nog nie geboekstaaf is nie?
  2. Nee, ek wil nie my hare kleur nie. Ek het grys hare, in my opinie ‘n baie mooi kleur grys hare waarvan ek baie hou. Ek wil nie ‘n ander kleur hê nie en ek gee NIE om wat jy daarvan dink nie. Die antwoord is NEE. Watter deel van nee verstaan jy nie – die n, die eerste e of die tweede e? Of is dit die kombinasie van die drie letters wat jou brein uit rat uit skop? ‘Nee’ is daai een waar jy jou kop heen en weer skud (nie die een waar jy jou kop op en af knik nie). Is dit nou duidelik?
  3. Die hare agter my kop groei dikker as die hare bo-op my kop. Dun asseblief die agterste deel uit, daar waar ek vir jou met my vinger wys – op my agterkop. Moenie bo-op my kop uitdun nie; dis NIE waar ek met my vinger gewys het nie. Agter en bo-op is twee verskillende begrippe. Jy moet dalk net vra as jy nie verstaan of nie langer as drie minute kan onthou nie?
  4. Ek leef al meer as sestig jaar saam met my hare en ek weet presies hoe ek wil hê my haarstyl moet lyk. Ek stel nie belang in jou opinie nie. Hou dit vir jouself. Ek wil nie weet wat jy dink nie. Ek wil net hê dat jy my hare sny in die styl wat ek jou gevra het. As jy nie bereid is om dit te doen nie, sê so en dan sal ek jou betaal vir jou tyd wat ek gemors het en ek sal jou nie weer kom pla nie.
  5. Ek weet jy probeer om jou werk na die beste van jou vermoë te doen en dat jy trots is op wat jy doen. Dis goed so. Die probleem is egter: dit wat jy dink is goeie werk en dit wat ek graag wil hê, is twee verskillende dinge. Ek wil hare hê. Ek wil nie lyk soos ‘n volstruiskuiken nie. Ek wil nie ‘n wandelende art piece wees nie. As jy dink ek lyk sleg met die haarstyl waarop ek aandring, hou dit vir jouself; ek sal vir niemand vertel waar ek my hare laat sny nie. Dis ons geheim.
  6. Ek wil nie lak op my hare hê nie. Die feit dat die wind daar buite waai en dat my hare deurmekaar gaan raak, is my probleem, nie joune nie. Deurmekaar hare is nie die grootste probleem in my lewe nie. Ek hou van die wind deur my hare. Ek haat taai hare.
  7. Ja, ek weet hare wat te kort gesny is, groei weer. Dit groei egter nie terug binne een dag nie, ook nie een week nie, ook nie een maand nie. Ek moet in die spieël kyk elke dag van my lewe totdat my hare weer die lengte is wat ek dit wil hê. En dan? En dan begin hierdie gesprek weer van voor af.

As jy my opinie sal respekteer, sal ek joune respekteer en dan sal ek nie aan jou ‘n ope brief skryf nie; ek sal vir jou ‘n boks tjoklits koop vir Krismis.

Met respek van daai ou tannie met die grys hare wat vanmiddag ‘n vloermoer in jou salon gegooi het en wat nooit weer haar voete daar sal sit nie EN wat al haar vriende, kennisse, kollegas en sake-vennote sal afraai om hulle hare by jou te laat doen.

Follow Dis Ekke

Please find information about the coronavirus here SA Coronavirus South African Resource Portal

29 Comments

  1. Griet

    Jy het nie gevloek, lelik gepraat, dreigemente gemaak of vieslike persoonlike opmerkings nie!! Ek is SO trots op jou, want hierdie is ‘n verskriklike professionele brief. Mens kan se dis ‘n UITKAKBRIEF MET SMAAK. Ek is beindruk. Baie, baie beindruk. Kan ek van hulp wees en hierdie vir die haarkapster ter spraak mail???

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Dankie vir die kompliment en die aanbod om namens my op die front te gaan veg, maar ek het dit self opgeneem met hulle. Dis net, hierdie is nie die eerste keer nie en as ‘n mens aanhoudend sukkel, verloor jy vertroue in die professie. Ek sal nou maar my hare laat groei en weer vlegseltjies dra.

  2. Griet

    Reblogged this on Klip Klipper Klipste.

  3. Ek is gelukkig, myne luister mooi na wat vra en doen presies so.

  4. Ai ek is so bly ek het jou hier raakgelees. Ek het ‘n jaar gelede hier by ‘n aftree oord inhgetrek en hier kom sulke haarkappertjies Donderdae om hare te versorg en dit gaan presies soos jy verduidelik.

    Dis of hulle dink jy het die hele plot van die lewe verloor het!

    Ek sal beslis weer hier by jou kom lees

    • Comment by post author

      Ag dankie vir die kompliment en jy’s reg – ek is nie 60 nie, nie in my hart nie, maar my ID boek sê ek is 63 en ek het hierdie jaar afgetree. Ons woon saam met my dogter en ons bedryf so ‘n internet aftree-besigheidjie, maar die dag as ek besluit om na ‘n aftree-oord toe te verhuis … ag siestog, ek kry hulle jammer!

      Ag en natuurlik sien ek nou eers jy reken Carol is nie 60 nie, bedoelende dat sy nie hierdie probleem ken nie! Haha. Dit is so, gee dit maar net ‘n paar jaar en sy moet maar liewer aanhou om haar hare te kleur.

      • Hehehehe … ja ek en Carol is al lank blog-vriende Sy hou nog skool.

        Ek het einde 2013 in ‘n aftree oord kom bly omdat ek nie 2 keer wou trek nie, maar ek moet jou sê ek kan jou nie vertel hoe lekker dit is nie. Ek het nooit kon dink dat my lewe so lekker draai kon maak nie
        .

    • Comment by post author

      Ek dink nie ek sal ‘n probleem hê om aan te pas in ‘n aftree-oord nie en baie mense het my al vertel hoe lekker hulle daar saamkuier. Dis my man wat vasskop soos ‘n donkie (oor sy troeteldiere) en hy mag dalk nie hou van die dissipline wat noodwendig toegepas moet word nie. Ons is albei ietwat …. wel, ongedissiplineerd. Ek lees en geniet al ‘n rukkie Carol se blogs oor haar klassie. Dis werklik ‘n riem onder die hart om te weet dat jy nog sulke klas onderwysers kry.

      • Hier by ons is daar huise ook en mens kan heeltemal onafhanklik wees tot dit nodig is Ek verstaan heeltemal die diere ding. Dis baie tragies, ons het egter hier ‘n diereliefhebber suster wat gesê het as sy in die sorgsentrum lê moet hulle elke dag haar hond bring sodat hy hom kan sien.

        Ek verstaan egter almal se omstandighede is anders. Vir my was dit die beste ding om te doen

  5. spokiesnyspoor

    Hiehiehie. Oulik en reguit geskryf!

  6. So bly eks nie ‘n haarkapster nie so ek kon die hele brief met smaak lees.
    Wat ek nie kan verstaan nie, is as dieselfde haarkapster my hare keer op keer sny, hoekom is dit soms lekker gesny en ander kere sleg?

  7. Lekker om jou raak te lees–ek het die inskrywing geniet.

  8. Wil jy nie weer vir ons ‘n stukkie skryf nie?

    • Comment by post author

      O ja, ek wil en ek gaan beslis, maar o hemeltjie tog, ek is in midde-in die Groot Trek van Gauteng na die Suidkus. Vandag is die laaste pakdag en môre word alles opgelaai. Ek bid dat Telkom my lyne sal reg hê aan die ander kant en dat ons volgende week sal terug wees op die lug. Ek kom nou ten enemale nie reg met ‘n skootrekenaar nie. Maar ek maak darem tyd om julle griffels te lees. Lekker bly tot ek weer kan saamklets!

      • Oeee dit klink rof. Sterkte met die trek, en kom vertel vir ons hoe het dit gegaan. 🙂

  9. Ek wens ek kan ‘n haarkapper kry wat my kan vertel wat ek met my hare moet doen. Ek het geen idee nie. 😉 Solank dit net nie pers is nie.

  10. Lekker sit ek nou hier en giggel.
    Ek voel jou frustrasie so tussen jou woorde aan. Soos iem wat in bolmis getrap het en niemand kry die stink nie. Hie-hie-hie. My Moeder het fyn en dun hare en al die jare se wip-plank tussen kort en lank en grys en kleur het beslis bygedra tot my besluit om iets in die betrokke industrie te doen. Ek het jare lank ‘n Salon bedryf en geeien. Daars allerhande soort haarkapsters en goeies is skaars soos hoendertanne. Ek myself het een woeste boshare, en ek dryg eenvoudig die haarkapster met geweld as ek rondkyk en ietsie langer as wimpers-se-lengte op die vloer sien le. Ek is daaardie ene wat stoele omstamp en tantrums gooi in die salon. Wat kliphard uitbars in trane en teekoppies in frustrasie stukkend gooi. Net een so voorvalletjie en hulle is lewenslank op warm kole as ek in die salon instap. Nee, ek is nie skaam oor my gedrag nie. Glo my – dit het presies die uitwerking wat ek wil he! Ek sit gedwee in kerkstilte en sy waag nie om aan daai selfoon te raak nie. Ek “loose” dit eenvoudig want as ek in haar stoel sit, betaal ek mos vir haar vernuf, tyd EN onverdeelde aandag. Miskien is dit tyd vir so “voorvalletjie” van jou kant af…

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Hierdie laaste een was ongelukkig ‘n nuwe haarkapper op die dorp en boonop een wat geen taal verstaan wat ek praat nie. Hy is aanbeveel deur een van my vriende en ek moet sê, hy het my hare baie mooi gesny, maar ek wou dit nie laat sny nie – net ‘n “trim” nodig gehad. Ek het nie ‘n dooie woord gesê nie, maar my gedagtes sou ‘n oorlog in die Midde-Ooste veroorsaak het as ek dit uitgespreek het. Toe bly ek maar liewer stil!

      • Iets waaran ek heeltemal vergeet het…en nou weer dink ek sy was op ‘level genius’! Een van my kliente het ‘n was en droog bespreek en betaal tydens die bespreking, wanneer sy opdaag, het sy eenvoudig gesê, sy het haar beursie tuis gelaat want die afspraak is reedsbetaal. Sodoende is sy nooit oortuig om iets ‘anders’ te doen nie. x

        • Comment by post author

          HesterLeyNel

          Ek moet dit onthou. Natuurlik het ek nou weer getrek en moet (weer eens) ‘n nuwe haarkapper gaan soek. Ek het sommer lus om een van daai skeermasjiene te koop en myself poenskop te skeer.

  11. Hehe! Die storie van my lewe…sterkte met jou soektog na die regte haarkapper.

  12. Wat een open, eerlijke en openhartige brief!
    Met respect gelezen.

    In de bijna 60 jaar dat ik met mijn hoofdhaar rondloop verdwijn er alleen maar steeds meer haar.
    Korter dan kort vraag ik dan ook steeds.

    Vriendelijke groet,

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Hehe, ek probeer nou maar weer my hare groei. Ek dink die brief was geskryf meer uit ergerlikheid omdat mense dink as jy oud word, is jy te dom om vir jouself te dink. My hare mag dalk grys wees, maar my brein is nog helder genoeg!

  13. Velen vergeten dat met de jaren de wijsheid groeit.

    Zonnige groet,

  14. Lekker lag ek nou vir jou alhoewel ek jou ergernis goed verstaan. My suster het in swart koki op haar teëls in die kombuis geskryf ‘moet NOOIT weer haarkapper toe gaan nie’ na soortgelyke episodes. Het jy al n goeie plaasvervanger gevind?

    • Comment by post author

      Weet jy, ek het, twee maande gelede *jubel en dans*. Ek het hier by Scottburgh Mall ingeloop met ‘n vag hare wat my beskaam het en verdomp ongemaklik was, toe sny hierdie engelvrou my hare terug in ‘n beheerbare posisie in. Dalk moet ek vir haar ‘n dankie-sê brief skryf in hierdie blog.