My vreugdes en frustrasies

Dis Ekke

Jy maakies my naarkies

Jy maakies my naarkies

Die woord-prentjie hierbo laat my brul van die lag elke keer as ek dit sien, en dis heel dikwels, want dit het soos ‘n aansteeklike siekte versprei oor die internet en sosiale media.

Ek kon nie die oorsprong daarvan vasstel nie en dus kan ek nie die nodige erkenning gee aan die kunstenaar nie, maar hierso my pêl… vat vyf! Dit dra die boodskap nommerpas uit.

Ek het ‘n broertjie dood aan die vriendelike dokter wat vir my ‘n stropie voorskryf vir die seer mangeltjies en my daarvoor ‘n rekeninkie gee wat my bankrekeninkie is sy maai stuur. Of wat van die die tandarts wat ‘n klein inspuitinkie gaan toedien (met ‘n naald so dik en lank soos sy voorarm), om my kiestandjie te trek? Dan breek hy nog amper my kakebeentjie in die worsteling om die tandjie uit te kry. Is die verkleinwoordjies veronderstel om my te troos? Dit werk nie hoor, hierdie manier van praat maakies my net naarkies.

Lank, lank gelede, op die plattelandse myndorp waar ons gewoon het, het ek ‘n spierwit pokkel van ‘n Persiese kat present gekry. Dit was ‘n meneer van ‘n kat wat elke tweede dag ‘n pond (sowat 450g vir die gedesimaliseerdes onder ons) tenderised steak opgevreet het. Jip, daai jare was vleis spotgoedkoop en net die kat het beesvleis geëet, die res van ons het skaaptjops verkies. Nou wanneer hy so op die tweede dag sy pond vleis ingeasem het, gaan sit en slaap hy die res van die dag om op my vensterbank, in die middagsonnetjie. Son dêmmit, son! Nie sonnetjie nie! Daai Namakwalandse son was ‘n vreeslike son, selfs in die winter.

In elk geval, so staan en gesels ek eendag met die buurvrou oor die draad en skielik verstar sy, in die middel van die skinderstorie wat sy besig is om te vertel. “Kindjie”, sê sy vir my, “nou het ek my gatjie afgeskrik. Ek dog nog allie tyd daai katjietjie in jou vensterbank is ‘n porseleinkatjietjie. Nou sien ek dis ‘n regte katjietjie.” Daai verkleinwoordjies het my verstom gelaat, maar darem nie naarkies gemaakies nie.

Wat my vreeslik naarkies maakies is daai verkleinwoordjies wat as aanspreekvorm gebruik word: “My Tantetjie” of “My Oompie”. Hierdie benaminkies word gebruik òf om neerhalend te wees òf om toegeneentheid te betoon (werk maar self uit watter een is toepaslik by welke geleentheid), maar wat ookal, dit maakies naarkies.

Ag tog, en moenie vergeet van die liefdeswoordjies waarmee ‘n agterbakse jakkals sy “lieflingetjie” probeer oorreed om haar “bekkie” te tuit vir ‘n “soentjie” nie. Dis so stroopsoet dat jou kiesies eintlik op ‘n knop trek soos dié van ‘n Graad Eentjie wat pampoentjies het. Dit maakies naarkies. Jirre, dis om van te kotsies.

Follow Dis Ekke

Please find information about the coronavirus here SA Coronavirus South African Resource Portal

7 Comments

  1. klip

    Pragtigies. Die mooiste storietjietjie wat jy jou kan indink. Vir een keer verstaan ek so bietjie hoekom my mammietjie my pappietjie so galsterig kon maak as sy so liefdetjies by hom gesoek het….. URGH!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!

  2. Ek het so Tannie gehad wat so als in die verkleining gesels het, en syself was lewens groot met so makalani-suiker-miertjie-lyfie. Sy het haarself witgepoeier en lipstick gebruik vir blos op die wange. Haar kos was als vaal opgekook in waterjies en vandag nog spook haar kerkkoorstemmetjie by my. Ai, hoe diep onthou ek nou nie als in verkleining nie…Jig…

    • Comment by post author

      Haha, haai en weet jy, sulke mense het gewoonlik ‘n hart van goud. Maar nou moet jy eers vertel of wys hoe lyk ‘n makalani-suikermiertjie, want my groot swakheidjie is dat ek vrek nuuskierig is.

  3. Ek het ‘n pel wat ‘n vuurtjie opsteek wat hy gaan nou ‘n vleisie braai en ‘n wyntjie drink. Snaaks al wanneer hy “tjie” is as hy gaan braai. Dalk is dit die geselligheid daarvan.

    Een ding wat my ietwat vies maak is mense wie met hulle kinders in die “tjie”formaat praat en groot maak. Genade as ‘n treintjie eers ‘n tjoekoe raak….

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Ag ‘n ou “wyntjie” of ‘n “biertjie” klink seker meer beskaafd! 😀 So dink hulle. Ek moet saamstem met die kindertjies en die hondjies / katjies geselskap – dis sieldodend.

  4. Ik heet Rob, maar toch word ik soms Robbie genoemd.
    Ik verbaas me er nog steeds om.
    Meer dan 100 kilo en bijna 2 meter?

    Zonnige groet,

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Dis mos nou maar die soort troetelnaampie wat jy gebruik as jy van iemand hou 😀 Ek haat dit weer as iemand my Hessie noem, want Hessie was my ouma, so ‘n klein ou vroutjie, maar so kwaai soos die duiwel.